’n Bespreking van die appèlhofuitspraak in Minister van Polisie v Frederik Barend van der Vyver

  • 3

’n Bespreking van die appèlhofuitspraak in Minister van Polisie v Frederik Barend van der Vyver1 en kommentaar op die Konstitusionele Hof se bevel in Frederik Barend van der Vyver v Minister of Police2

1. Vooraf

In hierdie bespreking van bogemelde uitspraak van die hoogste hof van appèl (Brand, AR), die daaropvolgende bevel deur die Konstitusionele Hof, asook die vroeëre uitspraak van die hof a quo (Veldhuizen, R. van die Wes-Kaapse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof, Kaapstad) word alle vermeldings, kommentare en persoonlike menings met verskuldigde respek gedoen.

Ek sal na die hoogste hof van appèl bloot as "die appèlhof" verwys en gaan, steeds respekvol, merendeels na appèlregter Brand en regter Veldhuizen op hul gedistingeerde vanne – dus bloot as Brand en Veldhuizen – verwys.

Daar is twee dramatis personae wat in hierdie teks uitgesonder word: die eiser/respondent, Fred van die Vyver, en adv. Christenus van der Vijver, die minister van polisie (verweerder/appellant) se vernaamste getuie in Van der Vyver se skadevergoedingseis. Omdat ek besef dat die twee vanne – hoewel verskillend gespel, nl. Van der Vyver en Van der Vijver – verwarring mag skep, verwys ek vervolgens na die die eiser eenvoudig as Fred en na die vervolgingsadvokaat as Christenus.

In hierdie bespreking bepaal ek my slegs by die betrokkenheid van superintendent Bartholomew – hoofspeler in die sogenaamde "bloedspoor"-getuienis – by die vervolging van Fred, asook die betrokke howe se uitsprake in daardie verband.

Ek het toegang gehad tot die enorme rekord (ongeveer 7 500 bladsye, ingebind in 39 volumes) wat voor die appèlhof gedien het en sal plek-plek daarna verwys.

Hierdie teks word in my hoedanigheid as vryskut-regsjoernalis gelewer, en nié as niepraktiserende advokaat van die hooggeregshof nie.

Ten einde die inhoud hiervan vir minstens sommige nieregspraktisyns enigsins toegankliker te maak, sal ek hier en daar die toepaslike regsposisie – waarmee die opgeleide juris-leser vertroud sou wees – kortliks verduidelik.

 

2. Inleidend

"Ek moet dadelik sê dat ek sy getuienis verstommend vind."3

Dié woorde van die Kaapse regter van die hooggeregshof, Anton Veldhuizen, gaan dalk nog vorentoe weerklink in nabetragtings van Fred se vrugtelose regstryd met die Staat in sy eis om vergoeding weens kwaadwillige vervolging voortspruitend uit die moord op sy Stellenbosse vriendin, Inge Lotz, op 16 Maart 2005. Veldhuizen het gereageer op die getuienis van Christenus, ’n lid van die Staat se gedugte regspan wat Fred in 2007 onsuksesvol vervolg het. Christenus was klaarblyklik die Minister van Polisie se vernaamste getuie voor Veldhuizen in Fred se skadevergoedingseis teen die Minister wat oor etlike dae in November 2011 in Kaapstad aangehoor is.

 

3. Ter geheueverfrissing

Niemand het gesien wie Inge Lotz gedurende die middag van 16 Maart 2005 vermoor het nie. Haar erg verminkte lyk is daardie aand in haar woonstel in Stellenbosch gevind, nadat – onder meer – Fred bekommerd geraak het toe sy nie op sy SMS- en telefoonboodskappe van die betrokke laatmiddag en vroegaand gereageer het nie.

Fred sê hy was ten tye van die moord by Ou Mutual se hoofkantoor in Pinelands, Kaapstad. Hy het dus op ’n alibi gesteun.

Om enigiemand weens die moord op Inge aan die pen te laat ry, sou die Staat dus suiwer op omstandigheidsgetuienis moes steun.

Die Staat moet in enige strafgeding sy saak bo redelike twyfel bewys.

Mense is al dikwels in ons regsgeskiedenis aan moord skuldig bevind op grond van slegs omstandigheidsgetuienis.

Ons reg skryf egter duidelik voor aan welke vereistes omstandigheidsgetuienis moet beantwoord alvorens dit deur ’n hof aanvaar sal word.

Fred is oplaas – na ’n verhoor wat 66 hofdae in beslag geneem het – onskuldig bevind. Aan die einde van sy lang uitspraak het Van Zyl, R die volgende opmerking gemaak:4

In die onderhawige geval was daar kennelik nie genoeg getuienis om die beskuldigde tot verantwoording vir hierdie afskuwelike daad te bring nie. In die proses het ook hy en sy familie ’n uitgerekte tydperk van swaarkry beleef. Die vraag ontstaan onwillekeurig of daar in die eerste plek genoegsame gronde was om hom voor hierdie hof te daag. Hoe traag ek ook al is om die polisie se funksionering te bevraagteken, wil dit voorkom of daar in die saak se beginstadium ondoeltreffende en soms onbeholpe ondersoekwerk plaasgevind het.

In die besonder het die regter se kritiek geslaan op die getuienis wat in die strafsaak gelei is rondom die vermeende moordwapen (’n ornamentele hamer), Fred se vermeende vingerafdruk op ’n DVD-houer wat na die moord op Inge se koffietafel gevind is, en ’n vermeende bloedspoor wat op die vloer van ’n badkamer in die woonstel aangetref is. Al drie hierdie elemente het skouspelagtig gesneuwel as getuienis om Fred se alibi ongedaan te maak.

Fred van der Vyver
Foto: Henk Kruger
Fred se verweer teen die polisie se "ondoeltreffende en soms onbeholpe ondersoekwerk" het hom etlike miljoene rand uit die sak gejaag en hom ook in ander opsigte erge persoonlike leed besorg. Daarvoor het hy ’n skadevergoedingseis teen die polisie ingestel. 

Hoewel Fred onskuldig bevind is, moes hy in sy siviele eis teen die polisie bewys dat hy op ’n kwaadwillige wyse vervolg is. Anders gestel: hy moes die sogenaamde animus iniuriandi – die bedoeling of opset om te benadeel – aan die kant van die polisie bewys. Bewys van nalatigheid – selfs growwe nalatigheid – sou dus nie voldoende wees nie.

Die reg erken verskillende verskyningsvorme van opset: oogmerkopset, opset by noodwendigheidsbewussyn en opset by moontlikheidsbewussyn. Laasgenoemde (dolus eventualis) is van besondere belang in Fred se eis. Dit word gewoonlik omskryf as die subjektiewe bewussyn by die dader dat sy handeling ongunstig vir sy slagoffer mag verloop, en ’n versoening by die dader met so ’n moontlikheid.5

Sentraal tot hierdie bespreking is die bedrieglike getuienis van polisie-superintendent Bruce Bartholomew in verband met ’n bloedvlek wat op Inge se badkamervloer aangetref is (ek laat dus die omstrede kwessie van vingerafdruk-fabrikasie buite rekening). In paragraaf 5.3 van sy besonderhede van vordering beweer Fred in verband met Bartholomew:

5.3.1 On the 22nd August 2005 and in Cape Town, Captain Bartholomew stated in an affidavit that he was a shoeprint analyst and concluded as follows:

“... Betreffende die soort, grootte, plek, posisie en verhouding van die unieke kenmerke tot mekaar, stem die skoen-afdrukke se klas ooreen met die regter-skoen wat aan ene Frederick Barend van der Vyver behoort.”

5.3.2 The said statement referred to a mark on the bathroom floor of the deceased, and was false in that the mark on the bathroom floor could not have been identified as having been made by any shoe, let alone the right (Hi-Tec sport) shoe of the plaintiff.

Indien die hof die opinie van meneer Bartholomew sou aanvaar, sou dit tot die onvermydelike gevolgtrekking lei dat Fred by die oorledene se moord betrokke was; dit sou, met ander woorde, sy alibi kelder.

Bartholomew se opinie was gegrond op die klaskenmerke van die skoen wat – volgens hom – met die bloedsmeer ooreengestem het. Later, tydens sy ondersoek, het hy ook drie wit kolletjies wat op die foto van die bloedsmeer voorgekom het, verbind met sandkorreltjies wat in die hak van die een skoen teenwoordig was. Kort voor die strafverhoor het dié drie kolletjies vier geword.

Oor hierdie sleutel-aspek van Fred se saak beslis Veldhuizen soos volg:6

Mnr Bartholomew se opinie het soos ’n seer vinger uitgestaan. Plaaslike lede van die PKRS het nie met hom saamgestem nie. Hy is na die forensiese labaratorium in Pretoria. Daar het kommissaris Piet du Toit, direkteur Vorster, en kaptein Ziets Alberts ook van hom verskil. Hulle was almal van mening dat die skoen nie met die bloedsmeer verbind kan word nie ... Einde ten laaste is kaptein Bartholomew na Amerika om een van die wêreld se voorste deskundiges op die gebied van skoenspoor-identifikasie, meneer William John Bodziak, te raadpleeg. Die ooreenkoms met meneer Bodziak was dat hy in ’n adviserende hoedanigheid sou optree en nie na Suid-Afrika sou hoef te kom om te getuig nie.

Later het Bodziak wel van besluit verander en – teen groot koste vir Fred – na Kaapstad gereis om in sowel sy strafsaak as die daaropvolgende siviele geding te getuig. Oor sy getuienis in laasgenoemde saak beslis Veldhuizen soos volg:

William Bodziak

Meneer Bodziak het getuig dat merke of spore by ’n toneel vergelyk word met ’n voorwerp, byvoorbeeld ’n skoen, om eerstens vas te stel of daar ooreenstemmende klaskenmerke soos skoengrootte en patrone, teenwoordig is. Indien daar klaskenmerke teenwoordig is, word die voorwerp daarna ondersoek om vas te stel of dit unieke kenmerke toon wat met die spoor by die toneel verbind kan word. Tydens meneer Bartholomew se besoek is sekere toetse gedoen en hy het aan meneer Bartholomew uitgewys dat die vuiligheid in die hak van die skoen te diep is om die kolletjies, wat op die foto's van die bloedsmeer verskyn, te gemaak het. Hy het nie meneer Bartholomew se opinie ondersteun nie. In hierdie hof het meneer Bodziak volledig verduidelik dat die bloedsmeer op die badkamervloer van die oorledene se woonstel geen klaskenmerke of unieke kenmerke toon wat dit sou moontlik maak om dit met die eiser se skoen te verbind nie. 

By sy terugkeer het meneer Bartholomew te kenne gegee dat meneer Bodziak hom ondersteun. As gevolg van sy mededelings het brigadier Trollip ’n verslag opgestel wat meneer Bartholomew onder oë gehad het. Ek is tevrede dat die verslag vals en misleidend was. Meneer Bodziak het hoegenaamd nie met hom saamgestem nie. Ek vind dit nie nodig om meneer Bodziak se getuienis in enige detail te behandel nie. Ek wil dadelik sê dat hy nie net ’n indrukwekkende getuie was nie, maar ook duikelik ’n kenner op sy gebied. Waar sy opinie en sy getuienis oor wat in Amerika gebeur het met dié van meneer Bartholomew bots, aanvaar ek die getuienis van meneer Bodziak sonder aarseling.

Die appèlhof het in sy verwerping van Bartholomew se getuienis met die verhoorregter saamgestem dat dit nie "die papier werd was waarop dit geskryf is nie". Die appèlhof stel dit nogal sterk: selfs ’n leek sou reeds vóór die verhoor besef het dat daardie getuienis niks werd was nie.

Fred se saak was dat dié bedrogspul instrumenteel was tot die vervolging wat teen hom ingestel is.

In ’n verbasende wending ná ’n vergadering op 17 Januarie 2007 (dit wil sê kort voor die verhoor ’n aanvang geneem het) waartydens Fred se regspan Barholomew se oneerlikheid ontbloot het, het Christenus nogtans besluit om daardie bedrieglike (soos dit oplaas inderdaad bevind is) getuienis aan te bied. Veldhuizen verwoord dit só:7

Hoewel hy (Christenus) sy bedenkinge oor meneer Bartholomew se opinie gehad het, was hy van mening "... hy is seer sekerlik geregtig op sy opinie en dat die opinie getoets word deur die Hof, en kom ons sit dit dan maar in die skaal." Die DOV het dus duidelik in ’n meerdere of mindere mate op die opinie van meneer Bartholomew gesteun om die staat se saak te bewys. (My kursivering.)

Christenus het nogal ’n interessante metafoor gebruik: Bartholomew se getuienis is "in die skaal" geplaas. Wat die effek dáárvan was, is van meer as verbygaande betekenis: was dít oplaas nie maar die getuienis wat die spreekwoordelike skaal in die rigting van die Staat se vervolging van Fred laat oorhel het nie?

Ter illustrasie: tydens Fred se aansoek om ontslag na sluiting van die Staatsaak het Christenus onder meer op Bartholomew se getuienis in verband met die bloedspoor gesteun in die Staat se opponering van die aansoek. Die hof het ook, in sy weiering van Fred se aansoek in ’n lang geskrewe uitspraak van 7 Augustus 2007, daardie getuienis as prima facie-getuienis bevind en beslis “dat die beskuldigde ten opsigte hiervan op sy verdediging geplaas moet word”.8

Tot op daardie stadium het Bartholomew dus klaarblyklik nie alleen vir Christenus nie, maar ook die verhoorregter, spreekwoordelik aan ’n sleeptou gehad.

Bartholomew se getuienis het weer in die hof se uitspraak van 29 November 2007 – toe Fred onskuldig bevind en ontslaan is – ter sprake gekom. Dat dit vir die verhoorregter gelyk het of die staat erns met dié polisieman se getuienis gehad het, blyk uit die volgende passasie van Van Zyl, R se uitspraak:9

Ter weerlegging van die beskuldigde se alibi het die staat aangevoer dat ’n bloedmerk wat op die vloer van die gastebadkamer in die oorledene se woonstel gevind is, met die skoensool-loopvlak van een van die beskuldigde se sportskoene vergelyk is en bevind is ooreenstemmend te wees. In hierdie verband het die staat veral gesteun op die getuienis van Superintendent Bruce Bartholomew … (My kursivering.)

Wat Fred in sy skadevergoedingseis moes bewys, is dat as dit nie vir Bartholomew se bedrieglike getuienis was nie, die staat nie met die vervolging teen hom sou voortgegaan het nie. Hy moes dus ’n kousale verband tussen dié getuienis en die besluit om met die vervolging teen hom voort te gaan, bewys.

Kousaliteit het twee elemente: feitelike en juridiese kousaliteit (laasgnoemde is nie nou ter sprake is nie). Die feitelike element word ondersoek met behulp van die conditio sine qua non-, of die sogenaamde "but for"-toets, wat die appèlhof by herhaling soos volg in International Shipping Co (Pty) Ltd v Bentley10 verwoord het:

In order to apply this test one must make a hypothetical enquiry as to what probably would have happened but for the wrongful conduct of the defendant. This enquiry may involve the mental elimination of the wrongful conduct and the substitution of a hypothetical course of lawful conduct and the posing of the question as to whether upon such an hypothesis plaintiff's loss would have ensued or not. If it would in any event have ensued, then the wrongful conduct was not a cause of the plaintiff's loss; aliter, if it would not so have ensued.

In Minister of Safety and Security v Van Duivenboden11 het die appèlhof die volgende praktiese riglyn neergelê van hoe bepaal kan word of ’n eiser hom van die las om ’n kousale verband te bewys gekwyt het:

A plaintiff is not required to establish the causal link with certainty, but only to establish that the wrongful conduct was probably a cause of the loss, which calls for a sensible retrospective analysis of what would probably have occurred, based upon the evidence and what can be expected to occur in the ordinary course of human affairs rather than an exercise in metaphysics.

Fred het die meriete van sy eis voor Veldhuizen gewen. Daarteen het die Minister van Polisie na die appèlhof geappelleer – en ook maar eers nadat hy verlof daarvoor deur Veldhuizen geweier is en hy hom tot die appèlhof moes wend om verlof te bekom.

Die appèlhof het op 28 Maart 2013 by monde van appèlregter Brand eenparig ten gunste van die polisie beslis. Fred word terselfdertyd met ’n kostebevel met klaarblyklik verbysterende implikasies vir hom persoonlik belas.

Brand is na my beskeie oordeel een van ons voorste appèlregters. ’n Voorbeeld is sy betreklik onlangse kristalhelder uitspraak in Jacob Humphreys se appèl teen sy skuldigbevinding op tien klagtes van moord voortspruitend uit ’n botsing tussen sy minitaxi en ’n trein in die Wes-Kaap.12 Ek vind egter sy uitspraak in Fred se saak bitter moeilik om te volg. Hoe ook al: Brand het bevind dat, hoewel Bartholomew onteenseglik bedrieglik opgetree het, Fred nie daarin geslaag het om te bewys dat die staat oplaas nie tóg sónder Bartholomew met sy vervolging sou voortgegaan het nie. Die appèlhof het Christenus se getuienis (wat Veldhuizen "verstom" het) dat daar voldoende ánder getuienis – omstandigheidsgetuienis – was wat ’n vervolging regverdig het, as "geloofwaardig" aanvaar.

Fred se daaropvolgende aansoek om verlof om na die Konstitusionele Hof te appelleer, is met die spreekwoordelike enkele penneveeg van die hand gewys. Die hof het geen aanduiding gegee waarom hy tot dié omstrede besluit gekom het nie.

Hoe mens ook al daarna kyk, is dit ’n verontrustende uitkoms vir ’n volkome onskuldige landsburger wat in erge graad deur die Staat in sy vele gedaantes verontreg is; méér nog: dat die Staat – én ’n bedrieglike funksionaris soos Bartholomew – ongedeerd daarvan afkom, en die slagoffer die een is wat met ’n kostebevel gestraf word.

Die vraag ontstaan onwillekeurig: Hoe rym dié resultaat met die “Basiese waardes en beginsels wat openbare adminstrasie beheers”, soos vervat in artikel 195 van die Grondwet? In die besonder: Hoe rym dit met art. 195(1)(f): “Openbare administrasie moet verantwoordingspligtig wees”?

 

4. Die hof a quo

Hier bo het ek reeds aangetoon dat Veldhuizen op die feite – d.w.s. op sterkte van Christenus se getuienis – soos volg bevind het:

Die DOV het … duidelik in ’n meerdere of mindere mate op die opinie van meneer Bartholomew gesteun om die staat se saak te bewys.13

Dit is voorts duidelik uit Christenus se getuienis dat Bartholomew se getuienis aangebied is slégs op sterkte van die betrokke polisieman se eie, subjektiewe, geloof in die bewyswaarde van die betrokke bloedspoor-getuienis; die aanklaers sou hom na bewering self nie geglo het nie. (Oor die geloofwaardigheid van Christenus se getuienis in dié verband hang daar egter vraagtekens, soos ek hier onder sal verduidelik.).

Dit behoort ook duidelik te wees dat indien Fred hom nie met mening en teen enorme kostes teen Bartholomew se getuienis sou verweer het nie, dit na alle waarskynlikheid sy alibi sou laat sneuwel het – met potensieel vernietigende gevolge vir hom.

Tot sover behoort niemand ’n probleem te hê met die stelling dat Fred stewig op pad was om ’n kousale verband te bewys tussen Bartholomew se getuienis en die besluit om hom te vervolg nie.

Daar is egter ’n verdere fase van die ondersoek: die conditio sine qua non- of "but for"-toets waarna in International Shipping Co (supra) verwys is. Regter Veldhuizen se uitroep dat Christenus se getuienis hom "verstom" het, hou met hierdie "but for"-been van die ondersoek verband.

Veldhuizen se opmerking spruit voort uit ’n taamlik driftige woordewisseling tusssen hom en Christenus tydens laasgenoemde se getuienis in hoof. Dit het gehandel oor die vraag of die Staat met die vervolging sou voortgaan indien besluit sou word om nie Bartholomew se bedrieglike getuienis aan te bied nie.

Christenus het bevestigend geantwoord.

Veldhuizen som Christenus se antwoorde op die hof se indringende vrae oor die aard en omvang van die relevante getuienis soos volg in sy uitspraak op, en lewer terselfdertyd kommentaar op die onderskeie aspekte:

(a) Daar was geen tekens dat gedwonge toegang tot die oorledene se woonstel verkry is nie. Ek gebruik die woorde “geen teken” doelbewus want die blote feit dat daar geen teken van gedwonge toegang was nie beteken nie dat die oorledene haar aanvaller ingelaat het nie. Toegang kon op ’n ander wyse verkry gewees het sonder om tekens daarvan te laat.

(b) Behalwe vir die feit dat ’n mes en die oorledene se afstandbeheerder weg was, is niks uit die woonstel vermis nie. Dit sou dui daarop dat die motief vir die moord nie roof was nie. Dit is na my mening spekulasie. Niemand weet wat presies voor of na die aanval op die oorledene gebeur het nie.

(c) Die wyse waarop die oorledene op die rusbank gevind is, is aanduidend daarvan dat sy haar aanvaller geken het. Ook dit is spekulasie.

(d) Daar was die vorige aand ’n struweling tussen die oorledene en die eiser. Hierdie feit is gemene saak. Die volgende dag het sy egter in ’n brief die eiser lof toegeswaai en haar ewigdurende liefde vir hom beloof. Alle aanduidings is dat die struweling nie baie ernstig was nie en sekerlik nie van so ’n aard dat dit ’n motief vir moord daarstel nie.

(e) Ene Swart, wat by ’n meubelwinkel in Stellenbosch gewerk het, het verklaar dat die eiser om en by middagete in die winkel was om ’n kassie op te tel. Die tyd van dié besoek, selfs al sou dit aanvaar word, sou glad nie die staat se saak bevorder het nie. Die tyd het nie ingepas by die staat se eie weergawe oor wanneer die oorledene aangeval is nie.14

Dit is nodig om daarop te wys dat ’n aansienlik vollediger lys van die betrokke omstandigheidsgetuienis in die appèlhofuitspraak opgeneem is.15 Ter sprake is die bra weifelende viva voce-getuienis hieroor van Christenus self,16 want – soos hieronder betoog sal word – dit is dáárdie getuienis wat oplaas uit ’n geloofwaardigheidsoogpunt beoordeel moet word. Die vollediger en opvallend eleganter bewoorde lys in Brand se uitspraak is nie sy eie skepping nie: dit is – op enkele geringe uitsonderings na – woordeliks (maar sonder erkenning) geneem uit die appèllant se betoogshoofde.17 Én dit lê Christenus woorde in die mond …

Veldhuizen se beoordeling van Christenus se getuienis tydens die "but for"-ondersoek klop met die locus classicus in verband met omstandigheidsgetuienis, R v Blom.18 In daardie saak het appèlregter Watermeyer twee reëls geformuleer wat gehoorsaam moet word wanneer ’n hof afleidings uit omstandigheidsgetuienis wil maak:19 Die eerste is dat die afleiding wat die Staat die hof vra om te maak – byvoorbeeld, in casu, dat Inge deur Fred vermoor is – bestaanbaar moet wees met ál die feite wat bewys is. As dit nie bestaanbaar is met áldie feite nie, kan die hof nie die afleiding maak dat die moordenaar Fred is nie. Die tweede reël is dat die feite wat bewys is, van só ’n aard moet wees dat dit enige ander redelike afleiding wat ’n hof van daardie feite sou kon maak, uitskakel, behalwe die één besondere afleiding, en dit is – in casu – dat die moord deur Fred gepleeg is.

Ná sy beoordeling van die klaarblyklike skraal oes aan omstandigheidsgetuienis wat "oorgebly" het toe dit eens vas gestaan het dat Bartholomew se bedrog die Staat nêrens gaan bring nie, vervolg Veldhuizen:

Teenoor die omstandigheidsgetuienis moet die eiser se alibi, wat te alle relevante tye aan die DOV bekend was, opgeweeg word. Daar is geen aanduiding dat die eiser sy werkplek verlaat het nie. Die sekuriteitstelsel is van so ’n aard dat ’n mens sou verwag dat die eiser se bewegings vasgelê sou gewees het, dit is indien hy sy werkplek verlaat het en weer teruggekeer het. Ook die eiser se selfoonrekord het sy weergawe, dat hy die middag by Ou Mutual was, gesteun. Volgens die staat se eie weergawe was die eiser om 15h29, toe hy sy selfoon gebruik het, en weer om 17h14, toe hy sy rekenaar aangeskakel het, by sy werkplek. In die tussentyd het sy selfoon ook boodskappe ontvang terwyl dit in Ou Mutual omgewing was. Die tyd om vanaf sy werkplek na Stellenbosch te gaan, die moord te pleeg, van klere te verwissel, en weer na sy werkplek terug te keer was eenvoudig nie genoeg nie. Die staat het op geen stadium enige getuienis, behalwe dié van mnr Bartholomew, gehad om die eiser se alibi te weerlê nie. Om te sê dat sy alibi nie waterdig was nie, baat eenvoudig nie. Die staat het die bewyslas gedra om sy alibi te weerlê en daarvoor was mnr Bartholomew se getuienis onontbeerlik. Sonder sy getuienis kon die DOV nie die eiser se alibi weerlê nie.20

Die regter beslis dan soos volg:

Na my mening was daar, indien mnr Bartholomew se opinie buite rekening gelaat word, op die stadium toe daar besluit is om met die vervolging voort te gaan, nie ’n prima facie saak teen die eiser nie. Die waarskynlikheid is oorweldigend dat ’n redelike lid of lede van die DOV, in die afwesigheid van mnr Bartholomew se opinie, nie met die vervolging sou voortgegaan het nie.21

Veldhuizen se verwysing na "’n redelike lid … van die DOV" en die konteks waarin hy dié opmerking gemaak het, verdien aandag.

In Minister of Safety and Security and Another v Carmichele22 (hierna Carmichele) moes die appèlhof beslis oor die vraag of die Staat aanspreeklik was vir die skade wat die eiser gely het aan die hand van ’n klaarblyklik gevaarlike misdadiger wat ’n paar maande vantevore deur ’n landdros op eie verantwoordelikheid vrygelaat is, hangende sy verhoor op ’n aanklag van die verkragting van ’n 17-jarige skoolkind. Die eiseres se saak – en ek verkort die feite drasties – was dat die polisie die aanklaer se aanbeveling dat die misdadiger op eie verantwoordelikheid vrygelaat word, moes teengestaan het; hulle was immers op die hoogte van die tersaaklike feite. Die appèlhof het oplaas beslis dat as die betrokke getuienis voor die landdros geplaas sou gewees het, hy die beskuldigde waarskynlik nie op eie verantwoordelikheid sou vrygelaat het nie; hy sou waarskynlik minstens borgvoorwaardes gestel het.

Appèlregter Harms beslis soos volg oor die waarde van die betrokke landdros se ex post facto-getuienis (hy het inderdaad getuig):

It ... would be inappropriate for a particular judicial officer to testify in relation to the hypothetical question of how he or she would have decided a particular case. The solution ... appears to be this: The inquiry is subjective in the sense that a court has to determine what the relevant magistrate on the probabilities would have done had the application for bail been opposed. In this regard the ex post facto evidence of the magistrate would generally amount to an inadmissible opinion as to what his or her state of mind would have been at some time in the past. To the extent that the evidence is admissible it would generally be unhelpful because it would be speculative.

Courts of appeal are often called upon to decide what a reasonable judicial officer should have done and this they do by establishing what a reasonable judicial officer would have done. It may be presumed factually that judicial officers conform to that norm and it is fair to deduce that any particular judicial officer (even if his or her identity cannot be established), on the probabilities and as a matter of fact, would have so acted. The proper inquiry is, thus, what the relevant judicial officer, who is factually assumed to make decisions reasonably, would, on the probabilities, have done.23 (My kursivering.)

Regter Veldhuizen was dus myns insiens korrek met sy verwerping van Christenus se ("verstommende") ex post facto-getuienis as "hoogstens ’n opinie van wat sou gebeur het indien mnr Bartholomew eerlik was".24

Dit word aan die hand gedoen dat die regter ook – in die lig van die bovermelde passasie uit Harms, AR se uitspraak in Carmichele – korrek was met sy konklusie dat "’n redelike lid of lede van die DOV, in die afwesigheid van mnr Bartholomew se opinie, nie met die vervolging sou voortgegaan het nie."25

Immers: die redelike lid van die DOV – soos Christenus – sou met wat "oorgebly" het van die Staatsaak (d.w.s. minus Bartholomew se bedrieglike getuienis), die twee kardinale reëls by die oorweging van omstandigheidsgetuienis – wat in R v Blom (hier bo) geformuleer is – in gedagte gehou het. Dit is die minste wat van die redelike staatsadvokaat verwag kan word; onderrig in die beginsels van Blom vorm immers deel van sy opleiding in die spreekwoordelike "Bewysreg 101".

Persoonlik kan ek dus nie regter Veldhuizen se beslissing in Fred se guns enigsins fouteer nie – dit strook in wesentlike opsigte met die appèlhof se uitspraak in, onder meer, Carmichele.

 

5. Die appèlhof oor Fred se eis

In sy uitspraak in die Minister se appèl teen Veldhuizen se beslissing in Fred se skadevergoedingsaksie wyk appèlregter Brand oënskynlik af van die appèlhof se beslissing in Carmichele. Brand se redenasie is soos volg (en ek neem, bondigheidshalwe, die onderskeie stappe in die appèlregter se argumentasie onder oorweging, met verwysing na Fred se eis):

In die Carmichele-saak, sê Brand,26 bly die vraag steeds: "Wat sou die betrokke landdros waarskynlik doen indien die polisie hulle plig nagekom het?"

Ditto vir Fred se saak: Wat sou die redelike staatsadvokaat gedoen het as Bartholomew die waarheid gepraat het – "sy plig nagekom het"?

Brand:27 "Die betrokke landdros was egter nooit in die posisie waar die polisie hul plig nagekom het nie."

Ditto vir die betrokke staatsadvokaat (Christenus): Bartholomew het versuim om volledig "oop kaarte" met onder meer Christenus te speel.

Brand:28 “Sy (die landdros se) getuienis oor wat hy waarskynlik sou doen, kom dus neer op blote spekulasie."

Ditto die getuienis van Christenus. Veldhuizen stel dit immers uitdruklik: Christenus se ("verstommende") ex post facto-getuienis is "hoogstens ’n opinie van wat sou gebeur het indien mnr Bartholomew eerlik was".29

Brand (steeds par. 27):

Meer betroubaar in die omstandighede, sê Harms AR, is om by wyse van logiese afleiding te bepaal wat waarskynlik sou gebeur het. As vertrekpunt vir hierdie proses van logiese afleiding gebruik hy dan die fiktiewe redelike landdros. Wat sou die redelike landdros waarskynlik gedoen het? Die volgende stap in die proses is dan die aanvaarding dat die betrokke landdros waarskynlik dieselfde sou doen.

Tot sover appèlregter Brand se uiteensetting van die toets wat die appèlhof in die Carmichele-saak aan die dag gelê het. Dit word aan die hand gedoen dat hy die riglyne van Carmichele korrek weergegee het.

Die appèlregter vervolg dan:

Wat Bartholomew in hierdie saak ten laste gelê word, is positiewe optrede of ’n commissio. Ons weet dus, aan die een kant, presies wat die aard van Bartholomew se getuienis was en, aan die ander kant, wat van die Staat se saak sou oorbly indien ons hierdie getuienis sou elimineer. Ons weet ook dat die betrokke staatsadvokaat, volgens sy uitdruklike getuienis, geglo het dat daar selfs sonder Bartholomew voldoende getuienis was om met die vervolging voort te gaan. Die hof a quo bevind dat hierdie standpunt geïgnoreer kan word omdat dit nie sou strook met die optrede van ’n redelike staatsadvokaat nie.30

Om mee te begin: in Carmichele het die landdros ten behoewe van die Minister getuig dat, al sou die polisieman vir hom gesê het van die gevaarlike misdadiger se vorige veroordelings (m.a.w., al het die polisieman hom nie aan ’n late, ’n omissio, skuldig gemaak nie), sou hy (die landdros) steeds borg toegestaan het. Dít het die appèlhof as ’n ontoelaatbare opinie verwerp.

In Fred se saak het Bartholomew nie vir Christenus gesê dat hy nie vertroue in sy eie opinie het nie. Dit is ’n late, ’n omissio (Brand bestempel dit – na my respekvolle mening, verkeerdelik – as ’n commissio). Dáároor was Christenus se getuienis dat, sou Bartholomew eerlik met hom gewees het i.v.m. sy opinie, dan sou hy Bartholomew weliswaar nie geroep het nie, maar nog stééds met die vervolging teen Fred voortgegaan het. Ek vind dit onbegryplik dat daar aangevoer kan word dat daar in beginsel ’n verskil is tussen die landdros in Carmichele se opinie (wat die appèlhof as ontoelaatbaar bestempel het) en Christenus se opinie in Fred se saak (wat Brand egter klaarblyklik toegelaat het).

Veldhuizen het nié Christenus se getuienis "geïgnoreer" omdat dit nie sou strook met die optrede van ’n redelike staatsadvokaat nie. Wat die regter verwerp of "geïgnoreer" het, was Christenus se ex post facto-getuienis dat hy persoonlik met die vervolging teen Fred sou voortgegaan het indien Bartholomew se bedrieglike getuienis nie gelei sou word nie. Nêrens vind ek in sy getuienis dat hy gespekuleer het oor wat die denkbeeldige redelike advokaat in daardie omstandighede sou gedoen het nie. Hy het sy getuienis op hom persoonlik van toepassing gemaak. Dáárdie brokkie getuienis het Veldhuizen verwerp, gewoon omdat hy die man nie geglo het nie. Immers: onmiddellik nadat hy ’n uiteensetting gegee het van die omstandigheidsgetuienis wat – volgens Christenus – "oorgebly" het nadat Bartholomew se bedrieglike getuienis uit die spreekwoordelike skaal gehaal is, merk Veldhuizen in verband met Christenus se konklusie op: "Ek moet dadelik sê dat ek sy getuienis verstommend vind."31

Die regter bedien hom van ’n sterk woord:

VAW (Verklarende Afrikaanse Woordeboek):32

"Verstommend: verbluffend ... oorbluffend, wat uit die veld slaan, in hoë mate verbasend."

En in HAT (Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse Taal):33

"Verstommend: Wat ’n mens stom van verbasing laat."

Dit is duidelik dat die verhoorregter nie Christenus se opgaaf van die "oorblywende" omstandigheidsgetuienis as sodanig verwerp het nie. Wat Veldhuizen as "verstommend" verwerp het, is Christenus se eie, persoonlike, konklusie dat dít sterk genoeg sou wees om steeds met die vervolging teen Fred voort te gaan.

Anders as wat appèlregter Brand klaarblyklik elders in sy uitspraak beslis (ek sal nog daarby kom), het die verhoorregter dus wel ’n geloofwaardigheidsbevinding téén Christenus gemaak.

Sonder om Veldhuizen woorde in die mond te lê, is dit uit sy ontleding van die betrokke omstandigheidgetuienis duidelik dat hy dit beoordeel het teen die agtergrond van die twee kardinale reëls wat in R v Blom (hier bo) neergelê is. Die redelike staatsadvokaat sou gewoon besef het dat daardie skraal oes aan omstandigheidsgetuienis oplaas nie die toets van Blom sou slaag nie – die feite het immers vir hulself gespreek.

Ek kan dus nie met appèlregter Brand saamstem waar hy in par. 29 van sy uitspraak aanvoer dat die verhoorregter die redelike staatsadvokaat as "vertrekpunt" geneem het nie. By herhaling: die vertrekpunt was die ongeloofwaardigheid van Christenus dat hy sélf – nié qua ’n "redelike staatsadvokaat" nie – met die vervolging sou voortgaan. Om te beslis wat die redelike staatsadvokaat sou doen, kyk Veldhuizen na die stel omstandigheidsgetuienis self en kom op grond dáárvan tot die konklusie dat die redelike advokaat nie met die vervolging sou voortgegaan het nie.

Maar Brand sien dit anders. Hy sê:

Wat die hof se redenasie (d.w.s. dat Christenus onredelik sou opgetree het) egter buite rekening laat is die ander kant van die munt, synde of die redelike advokaat na 17 Januarie 2007 met die vervolging sou voortgaan op sterkte van Bartholomew se getuienis.34

Dit is ’n eienaardige argument wat gebou word rondom Veldhuizen se "redelike advokaat”-postulaat as sy veronderstelde "vertrekpunt". Soos ek reeds aangetoon het: dit is nie hoe ek die hof a quo se uitspraak begryp nie.

Brand se redenasie – dat Veldhuizen die "ander kant van die munt" geïgnoreer het – word verder gekompliseer deur sy gevolgtrekking dat die aanwending van die "redelike advokaat"-toets in casu ’n "netelige probleem" skep.35 Hoe rym dit: hy kritiseer enersyds Veldhuizen se versuim om oorweging te skenk aan die vraag "of die redelike advokaat na 17 Januarie 2007 met die vervolging sou voortgaan op sterkte van Bartholomew se getuienis", maar dan bevind hy dat die redelike-advokaat-postulaat problematies is?

’n Verdere – en dalk die vernaamste – probleem met Brand se "die ander kant van die munt"-redenasie is dat, sou Fred se regspan nie op 17 Januarie 2007 Bartholomew se bedrog rondom Bodziak onder die aanklaers se aandag gebring het nie, daar dan geen kritiek kon wees teen regter Veldhuizen se hantering van die "but for"-toets nie. Dit is erg ironies: Fred verloor sy saak teen die polisie en word met miljoene rand se regskoste belas net omdat sy regspan kort voor die strafverhoor vir Christenus-hulle meegedeel het dat Bodziak nog nooit met Bartholomew saamgestem het nie. Hul oogmerk was om vir die staat te sê: “Kyk kêrels, jul gaan nêrens met Bartholomew kom nie; staak liewers die vervolging”. Sou daardie gesprek nié plaasgevind het nie (sou Fred se regspan met ander woorde die waarheid rondom Bartholomew se besoek aan Bodziak vir hulself gehou het), sou die Staat voluit voortgegaan het met Fred se vervolging, veral steunend op Bartholomew se getuienis. Dan – en dít lyk vir my na die logiese uitkoms van die geleerde Appèlregter se “die ander kant van die munt”- argument – sou Fred die nodige kousale verband tussen Bartholomew se bedrog en die ingetrede skade bewys het en sou hy met sy skadevergoedingseis geslaag het.

Dit lyk vir my asof daar een van drie moontlikhede bestaan:

  • die appélhof het die "but for"-toets ver verby die toepassingsveld wat in Duivenbodengeformuleer is, "gerek"
     
  • die "but for"-toets in casu behoort as ontoepaslik verwerp te word (hoewel ek van mening is dat Veldhuizen dit juis korrek toegepas het)
     
  • die "but for"-toets behoort nie in isolasie as die enigste toets vir kousaliteit te geld nie, veral nie as daar sprake is van die pleging van ’n onreg uit verskillende oorde nie, wat klaarblyklik Fred se saak is: hy voer immers aan dat ook die kwessie van vingerafdrukfabrikasie (wat ek nie hier bespreek nie) aanleiding tot sy kwaadwillige vervolging gegee het.

Ek kry die indruk dat minstens laasgenoemde standpunt steun in akademiese kringe geniet36 – naas klaarblyklike steun daarvoor in die onlangse uitspraak van die Konstitusionele Hof in Lee v Minister of Correctional Services.37

Appèlregter Brand – so kom dit my voor – is van mening dat die riglyne wat appèlregter Harms in Carmichelegeformuleer het,nie genoegsaam voorsiening maak vir die onderhawige feitestel nie. Hy maak gevolglik ’n (met respek gesê) eienaardige sprong:38

Op die ou end, so wil dit my voorkom, is die deurslaggewende vraag dus of Van der Vijver se getuienis oor wat hy in die afwesigheid van Bartholomew se getuienis sou doen, as geloofwaardig aanvaar moet word. Indien wel, het die respondent, na my oordeel, nie die oorsaaklike verband tussen Bartholomew se onregmatige optrede, aan die een kant, en die voortsetting van sy vervolging, aan die ander kant, bewys nie.

Om die geloofwaardigheid van Christenus se ex post facto-getuienis as uitgangspunt te neem lyk vir my direk in stryd met Carmichele te wees. Tereg kan gevra word: Laat Carmicheleruimte daarvoor dat die soort getuienis wat Christenus gelewer het (ek verwys nie na sy opgaaf van "oorblywende" omstandigheidsgetuienis nie), enigsins oorweeg moes word? Behoort ’n hof hom hoegenaamd te steur aan ’n staatsgetuie soos Christenus se taksering van die waarde, al dan nie, van die omstandigheidsgetuienis? Behoort die opgaaf van sulke getuienis nie vir sigself te spreek in die beoordeling van die vraag wat ’n redelike staatsadvokaat daarmee sou maak nie?

Die appèlhof kom oplaas onafwendbaar tot die gevolgtrekking dat Christenus se getuienis as geloofwaardig aanvaar moet word. Appèlregter Brand redeneer soos volg:

In wese het die argument ter ondersteuning van hierdie betoog (d.w.s. dat die verhoorregter Christenus se getuienis as ongeloofwaardig betrag het) weereens berus op die inherente onwaarskynlikheid dat die Staat sonder Bartholomew se getuienis met die vervolging sou voortgaan. Weereens is my probleem met hierdie betoog egter dat dit die onwaarskynlikheid buite rekening laat dat die Staat op sterkte van Bartholomew se getuienis met die vervolging sou voortgaan. Uiteindelik strook die waarskynlikhede dus eerder met Van der Vijver se getuienis, naamlik dat hy sonder die voordeel van ’n terugkykende oordeel, nie die vervolging sou staak as Bartholomew se getuienis sou wegval nie.39

Soos ek reeds betoog het, het ek ’n ernstige probleem om die appèlregter se redenasie te volg. Christenus hét immers ex post facto getuig. Watter oortuigingskrag het dít om die appèlhof te laat glo aan sy weergawe dat hy "sonder die voordele van ’n terugkykende oordeel" ’n regverdigbare besluit i.v.m. die voortsetting van die vervolging geneem het? So ’n bevinding is mos gans onmoontlik: Christenus se ex post facto-getuienis is mos juis om dáárdie rede "gekontamineer". Anders gestel: Wat sou die gevolge vir die Minister se saak gewees het as hy nié aldus sou getuig het nie?

Dit bring my terug by die geloofwaardigheidskwessie rondom Christenus: die vraag moet gevra word of Veldhuizen inderdaad ’n ongunstige bevinding i.v.m. Christenus se geloofwaardigheid gemaak het. Die kort antwoord is: Wat ánders verstaan ’n mens onder ’n uitlating soos: "Ek moet dadelik sê ek vind sy getuienis verstommend"?

Die appèlhof se aanvaarding van Christenus se ex post facto-getuienis dat hy – in die afwesigheid van Bartholomew – steeds met die vervolging sou voortgaan, is dus direk in stryd met die verhoorregter se klaarblyklike verwerping daarvan. Is dit nie by dié punt waar die uitsprake van die hof a quo en die appélhof in twee rigtings begin loop nie?

Die redes waarom die appèlhof in die onderhawige appèl inmeng met Veldhuizen se taksering van Christenus se getuienis, is nie duidelik nie. Een verklaring is dat die appèlregter, soos reeds vermeld, op twee gedagtes hink:

  • sy beskouing in die "but for"-ondersoek van die "ander kant van die munt" (dat Veldhuizen moes besluit het of die redelike advokaat na 17 Januarie 2007 op sterkte van Bartholomew met die vervolging sou voortgaan), gevolg deur
     
  • sy latere verwerping van die einste redelike-advokaat-toets as ’n "netelige probleem".

Brand se uitweg uit dié "probleem", so kom dit my voor, is die geloofwaardigheid, al dan nie, van die staatsadvokaat en ’n daaruit voortvloeiende beoordeling van die waarskynlikhede. Hy kies oplaas om die advokaat te glo.

Die omstandighede waaronder ’n hof op appèl met ’n laer hof se feitebevindings sal inmeng, word bondig – en by herhaling – soos volg deur die appèlhof in Santam Bpk v Biddulph40 saamgevat:

Whilst a Court of appeal is generally reluctant to disturb findings which depend on credibility it is trite that it will do so where such findings are plainly wrong ... This is especially so where the reasons given for the finding are seriously flawed. Overemphasis of the advantages which a trial Court enjoys is to be avoided, lest an appellant's right of appeal 'becomes illusory'... It is equally true that findings of credibility cannot be judged in isolation, but require to be considered in the light of proven facts and the probabilities of the matter under consideration. (My kursivering.)

Die vraag is dus: Was die verhoorregter – wat die voordeel gehad het dat hy Christenus se vertoning vir twee dae lank in die getuiebank kon betrag – "plainly wrong" in sy taksering van Christenus se getuienis as "verstommend"? Kan ’n mens met stelligheid verklaar dat die regter se redes waarom hy Christenus se getuienis as sodanig bestempel het, "seriously flawed" was? Tog nie.

Vir my lyk dit of die appèlhof ’n baie streng, onbuigsame, erg hipotetiese benadering gevolg het in sy verwerping van die hof a quo se beslissing i.v.m. kousaliteit. Só gesien, is dit na my mening in stryd met die betreklik onlangse uitspraak van die Konstitusionele Hof in Lee v Minister of Correctional Services (supra) waarin ’n buigsamer benadering tot hierdie dikwels komplekse element van deliktuele aanspreeklikheid toegepas is.

Die feite in die Lee-saak is kortliks die volgende: Die eiser was lank in ’n maksimumsekuriteitsgevangenis aangehou. Tydens sy aanhouding – dit het vier jaar en ses maande geduur – het hy ongesteld geraak en is hy oplaas met tuberkulose (TB) gediagnoseer. Na sy vrylating het hy ’n aksie om skadevergoeding teen die staat ingestel. Hy het sy eis daarop gegrond dat die gevangenisowerheid deur nalatige optrede veroorsaak het dat hy TB opgedoen het. Die kousaliteitsvraag was ’n sentrale geskilpunt tussen die partye.

Regter Nkabinde

Regter Nkabinde,41 wat die meerderheidsuitspraak gelewer het, het die meerderheid van die hof se siening só gestel:  

(T)he rule regarding the application of the [but-for] test in positive acts and omission cases is not inflexible. There are cases in which the strict application of the rule would result in an injustice, hence a requirement for flexibility.

Is laasgenoemde nie presies juis die uitkoms van Brand se benadering nie?

Vanselfsprekend had Brand nie juis ’n ander keuse as om te argumenteer dat sy uitspraak inderdaad in ooreenstemming met Leeis nie. Ek vind, met respek, die appèlregter se redes onoortuigend.

Ek kom dus respekvol tot die gevolgtrekking dat die appèlhof gefouteer het in sy handhawing van die Minister se appèl.

 

6. Die Konstitusionele Hof

Na die appèlhof se uitspraak van 28 Maart 2013 het Fred hom na die Konstitusionele Hof gewend. Sy beëdigde verklaring ter motivering van sy aansoek om verlof om te appelleer is – betyds – op 19 April 2013 ingedien. Dit het 61 bladsye beslaan.

Fred het, wyslik, besluit om hom in Engels tot die Konstitusionele Hof te wend: ’n mens wonder immers hoeveel van dié hof se regters werklik Afrikaans magtig is. Dit geld ook sekere appèlhofregters. (Sover ek kan onthou, word ’n aspirantregter se vaardigheid met enige ander taal as Engels nie deur die Regterlike Dienstekommissie getoets nie.) So gesien, was die feit dat Fred se strafsaak van 65 dae, asook die daaropvolgende verhoor van sy siviele eis, grotendeels in Afrikaans gevoer is, stellig nie bevorderlik vir hom toe sy saak oplaas voor die appèlhof en, daarna, voor die Konstitusionele Hof gedien het nie. Hoe onaangenaam dit ook al mag wees: laat dit ’n les wees vir toekomstige litigante.

Maar terug na Fred se vertoë tot die Konstitusionele Hof: Met betrekking tot Bartholomew se bedrieglike getuienis voer hy aan dat Brand se uitspraak sy grondwetlike regte in die volgende opsigte geskend het (ek haal direk uit die inhoudsopgawe tot die dokument aan):

  • The SCA’s but-for test fails the principle of accountability under the Constitution, and ensures no attribution of responsibility to the State;
     
  • The SCA’s insistence on applying the but-for test to the facts existing in January 2007, was misplaced, as confirmed by this Court in Lee;
     
  • The SCA failed to recognise that its but-for test applied to January 2007, was wholly unsuited to a case involving multiple causes of the prosecution;
     
  • Even assuming that the SCA’s but-for test was applicable, it was applied incorrectly and without proper regard to the evidence;
     
  • The SCA failed to answer the common-sense question: did Bartholomew’s conduct set the law in motion as one of the probable causes leading to prosecution;
     
  • In summary: the SCA used the legal tool of the but-for test to secure an unconstitutionally perverse result.

Die Minister se opponerende verklaring is op 6 Mei 2013 ingedien. Dit het 79 bladsye beslaan. Soos te verwagte, word daarin redes aangevoer waarom Fred se aansoek om appèl nie ’n “grondwetlike” aangeleentheid is nie. Daar word ook sterk klem daarop gelê dat dit die Direkteur van Openbare Vervolging was wat instrumenteel tot Fred se vervolging was, nié die Minister van Polisie (Bartholomew) nie.

By die regsargumente van die twee strydende partye moet gevoeg word Veldhuizen se aanvanklike uitspraak in Fred se guns, wat 19 bladsye beslaan het, en Brand se moeilik verstaanbare uitspraak – die Afrikaanse teks daarvan ten spyt – van 28 Maart 2013, wat 26 bladsye beslaan het.

Die tien regters van die Konstitusionele Hof wat oor Fred se aansoek moes beslis, het dus minstens 185 bladsye van gesofistikeerde regsargumente gehad om te bestudeer en te oorweeg. Nogtans het die betrokke regters nie gras onder hul voete laat groei nie: op 20 Mei 2013 – d.w.s. dag en datum twee weke nadat die Minister se opponerende verklaring by die Hof ingedien is – het hul Fred se aansoek eenparig verwerp, sónder opgaaf van redes.

Die spoed waarteen korte mette gemaak is met Fred se laaste poging om geregtigheid te laat geskied in sy opsienbarende regstryd met die Staat, laat minstens hierdie waarnemer nogal frons. Ons howe – nie eens die Konstitusionele Hof nie (kyk maar op die hof se webwerf) – is immers nie toonbeelde van die flinke afhandeling van sake nie.

Die Konstitusionele Hof het weliswaar in Beyers v Elf Regters van die Grondwetlike Hof42 – met ’n beroep op, onder meer, “vergelykbare jurisdiksies” – beslis dat howe van finale instansie (waarvan die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika een is) “’n mate van beheer uitoefen oor hul eie sakelyste”. Die oogmerk, sê Kriegler R., is dat “waardevolle tyd ... nie met onverdienstelike appèlle verbeusel word nie. Deur middel van die siftingsproses van verlof tot appèl word dié in die kiem gesmoor.”

Dié siftingsproses is “noodsaaklik”, verduidelik regter Kriegler. Dit is verstaanbaar: die hof se jurisdiksie is immers beperk tot grondwetlike sake “en daarmee in verband staande kwessies”.

Dit gesê, laat die volgende klaarblyklik goedbedoelde opmerkings waarmee regter Kriegler die uitspraak afsluit, sekerlik ’n wrang smaak in Fred se mond:

Ons wil benadruk dat die maatstaf wat aangelê word by die beoordeling van so ’n aansoek betreklik toeskietlik is. Die betrokke Hof loop nie ’n beslissing aangaande die deugde van die voorgenome appèl vooruit nie, maar kyk slegs of die appèl lewensvatbaar is. As daar maar net ’n redelike vooruitsig op sukses is, word verlof tot appèl toegestaan.

Die onontwykbare gevolgtrekking is dat Fred se appèlaansoek dus in die oë van die Konstitusionele Hof volkome “onverdienstelik” was, wat – sou dit aangehoor word – waardevolle tyd sou “verbeusel”. Só “onverdienstelik” is Fred se aansoek dat ’n mens vergeefs verdere inligting daaroor op die Konstitusionele Hof se webwerf probeer vind: tik maar “Frederik Barend Van der Vyver” in op die toepaslike soekfasiliteit – dis asof hy nooit bestaan het nie!

Prinsipieel is dit gans onbegryplik waarom die Konstitusionele Hof sou toestem om die appèl van Lee(waarin juis die kousaliteit-kwessie sentraal was) aan te hoor, maar nie ook Fred s’n nie. (Dit lyk immers of die appèlhof in Fred se saak Lee probeer systap het.) Die Konstitusionele Hof se weiering om sy verreikende uitspraak in Lee teen Brand se aanvegbare uitspraak in Fred se saak as’t ware te “verdedig”, laat ’n mens nogeens die wenkbroue lig. Wat veral verbasend is, is dat regter Nkabinde – wat die meerderheidsuitspraak in Lee gelewer het – se naam aangeteken staan naas dié van die nege ander lede van die regbank wat Fred se aansoek om verlof verwerp het.

Daar is ’n verdere kwessie: die Konstitusionele Hof het Fred se aansoek om verlof om te appelleer met ’n enkele sin spreekwoordelik van die tafel geveeg. Daar is geen opgaaf van redes nie. Die hof het weliswaar in Beyers (supra) beslis dat daar nie meriete steek in argumente dat ’n hof van finale instansie verplig is om redes aan te voer waarom ’n aansoek om verlof om te appelleer geweier word nie. Daarvoor beroep die hof hom onder meer op soortgelyke praktyke in “vergelykbare jurisdiksies”. Die waarheid is egter dat die hof dikwels sy weiering om verlof te verleen uitvoerig motiveer – taks om taks in sake waarin die “openbare belangstelling” ignoreerbaar kleiner as dié in die Van der Vyver-sage is.43 Dit lyk asof die hof arbitrêr besluit in watter gevalle hy redes sal verstrek en in watter gevalle nié. Dit bevredig allermins die grondwetlike vereiste dat mense gelyke behandeling voor die reg moet geniet.

Die gebrek aan redes vir die verstommende verwerping van Fred se aansoek om verlof om te appelleer, prikkel ’n mens se nuuskierigheid: Presies wat het die “siftingsproses” wat – blykens Kriegler, R. se uitspraak in Beyers (supra)– die besluit moes voorafgegaan het, behels? Ek het gevolglik probeer om meer inligting insake dié proses van die Konstitusionele Hof te bekom. Oplaas is ek na een van die Griffiere van die hof, Delano Louw, verwys. Ek het op 3 Junie 2013 die volgende brief op my persoonlike briefhoof aan hom gerig:

Geagte Mnr Louw

INSAKE: Frederik Barend van der Vyver and Minister of Police – Konstitusionele Hof saaknr. CCT 49/13 (Uitspraak gelewer op 20 Mei 2013)

Ek verwys na ons telefoongesprek van vroeër vanmiddag.

Die bekende Afrikaanse literêre webwerf, LitNet (Akademies), het my versoek om ’n vonnisbespreking te doen van die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak in bogemelde aangeleentheid onder saaknr. HHA 861/2011 (gelewer op 28 Maart 2013).

Ek is versoek om ook aandag te skenk aan die Konstitusionele Hof se weiering om aan Mnr Van der Vyver verlof te verleen om teen die HHA-uitspraak te appelleer, soos blyk uit die Hof se bovermelde beslissing van 20 Mei 2013.

Met verwysing na die Konstitusionele Hof se uitspraak in die Beyers-aangeleentheid – 2002(10) BCLR 1001 (CC) – verneem ek graag watter “siftingsprosedure” gevolg is in die Hof se oorweging van Mnr Van der Vyver se aansoek om verlof om te appelleer. U sal verstaan dat dit in openbare belang is dat geweet word presies wat dié “siftingsprosedure” behels – hoe daar, met ander woorde, te werk gegaan word om te besluit of ’n saak oplaas voor die Hof sal dien, al dan nie.

In die besonder verneem ek graag:

1) Of ’n “siftingsverslag” of enige soortgelyke verslag bestaan en, indien wel –

2) deur wie en op welke datum dit saamgestel is.

3) Indien ’n verslag wel bestaan, sal ek dit waardeer as u vir my ’n afskrif daarvan per e-pos sal stuur.

4) Indien ’n siftingsverslag nie bestaan nie, sal ek dit waardeer as u vir my in besonderhede sal verduidelik hoe die “siftingsproses” spesifiek in bogemelde aangeleentheid verloop het.

5) Indien ’n verslag wel bestaan: op welke datum is die verslag aan die betrokke 10 Regters voorgelê?

6) Is die aansoekstukke – ondersteunend sowel as opponerend – aan élk van die indiwiduele Regters voorgelê en, indien wel, op welke datum?

7) Het die Regters gesamentlik vergader om die aansoek te beredeneer en, indien wel –

8) op welke datum sodanige vergadering plaasgevind het; wie teenwoordig was en hoe lank die vergadering geduur het.

9) Indien die Regters nie gesamentlik vergader het om die aansoek te beredeneer nie, welke proses gevolg is om tot die beslissing van 20 Mei 2013 te kom. Het elk van die Regters, byvoorbeeld, skriftelik aangedui wat sy/haar sienswyse van die aansoek is? Indien laasgenoemde: sal u so vriendelik wees om aan my afskrifte te stuur van elk van die Regters se skriftelike kommentare?

Let asseblief daarop dat bogemelde vrae en u antwoorde daarop vir publikasie-doeleindes bedoel word.

Die uwe

(Adv) Gustaf Pienaar

Vleesbaai

Daar was geen antwoord van Mnr Louw nie; nie eens ’n ontvangserkenning nie. Gevolglik het ek op 6 Junie 2013 vir hom die volgende e-pos gestuur:

Beste Mnr Louw –

Het u my e-pos van 3 Junie 2013 ontvang? Indien wel, erken asb ontvangs en gee asb ’n aanduiding van wanneer ek u antwoord kan verwag. Ek wil graag my artikel vir LitNet finaliseer.

By voorbaat dank vir u samewerking.

Groete

Die uwe

Mnr Louw het daarna – en wel op 7 Junie 2013 - kort en kragtig soos volg geantwoord:

Best (sic) Mnr Pienaar

Hierdie hof gee nie redes hoekom n saak van die hand gewys nie. (sic)

Groete

Delano Louw

G’n joernalis wat sy sout werd is, sal met so ’n antwoord tevrede wees nie. Ek ook nie. Gevolglik het ek op 10 Junie 2013 die volgende opvolg-e-pos aan Mnr Louw gestuur.

Geagte mnr Louw –

Dankie vir u e-pos van 7 Junie 2013.

Ek dink u verstaan my verkeerd: ek het nie die redes aangevra waarom Mnr van der Vyver se versoek om na u Hof te appelleer van die hand gewys is nie. Ek tree vir geeneen van die partye in daardie saak op nie, en het gevolglik in elk geval nie locus standi om redes aan te vra nie; ek is bloot ’n regsjoernalis wat werk aan ’n akademiese artikel oor die Van der Vyver-sage.

Waarin ek belangstel is die “siftingsproses” waarvan Kriegler, R melding maak in die Beyers-saak waarna ek in my skrywe aan u van 3 Junie 2013 verwys het. Vir u gerief heg ek weer gemelde brief hierby aan.

Indien u ongemaklik voel om op my vrae te antwoord, versoek ek u vriendelik om my navraag te verwys na iemand by u Hof wat wel so volledig moontlik mag antwoord. Het u Hof nie, byvoorbeeld, ’n woordvoerder wat navrae deur die pers beantwoord nie?

Dit sal gaaf wees as ek spoedig van u – of dan die “regte” persoon – sal verneem.

Ek het sedertdien géén verdere reaksie van die Konstitusionele Hof gehad nie (mnr. Louw is immers genooi om die navraag na die “regte” instansie by die hof te verwys; sy stilswye word dus nou aan die hof as sodanig toegedig).

Wát die Konstitusionele Hof se “siftingsproses” behels wanneer ’n landsburger soos Fred van der Vyver – wie se grondwetlike regte op ’n skokkende wyse deur die owerheid aangetas is – hom tot die hof wend in ’n laaste poging om geregtigheid te laat geskied, is dus in ’n waas van geheimhouding gehul. Net so ’n geheim is die redes waarom die hof geweier het om Fred aan te hoor. ’n Mens wonder hoe so ’n benadering bevorderlik is vir die volgende lofwaardige oogmerk wat in die Aanhef tot die Grondwet vermeld word:

“... ’n demokratiese en oop samelewing waarin ... elke burger gelyk deur die reg beskerm word.”

Die geheimhouding rondom die Konstitusionele Hof se besluit om die deur spreekwoordelik in Fred se gesig toe te klap, sal stellig vorentoe – namate die implikasies daarvan begin insink – die aandag van skerpsinniger ontleders as die uwe geniet. Dit behoort niemand te verbaas nie as daar ook mettertyd in buitelandse regskringe hieroor gefrons sal word. Straks sal die klaarblyklike haas waarmee die aangeleentheid afgehandel is en die gepaardgaande vraag of die betrokke tien regters régtig – te midde van al hul velerlei verpligtinge – behoorlike aandag aan die aangeleentheid kón gee, ook welverdiend ter sprake kom. So ook die taalkwessie. En dan: ás die tien regters die byna bomenslike reggekry het om in die twee weke tot hul beskikking deur Brand se moeilike (Afrikaanse) uitspraak te worstel en die daaropvolgende betoë deur van ons land se voorste senior advokate te verdiskonteer, waarom dan hul deurlugtige beskouings geheim hou? Die praktyke in “vergelykbare jurisdiksies” behoort immers hier te lande gevolg te word slegs as dit bevorderlik is vir “’n demokratiese en oop samelewing waarin ... elke burger gelyk deur die reg beskerm word”; nié as dit remmend inwerk op die ontwikkeling van daardie ideaal nie.

Hopelik sal die hof iewers in die nabye toekoms sy gebruik om arbitrêr – soos in Fred se geval – sekere beslissings in geheimhouding te hul (maar in ander nié), vervang met ’n beleid om in álle gevalle genoegsame redes te verstrek.

Die era van geheimhouding van owerheidsoptrede – en dit sluit die regterlike been van “die owerheid” in – is wêreldwyd aan die verbygaan. Gedenk maar plaaslik die voortslepende wapenaankope- en Nkandla-skandale en, buitelands, die Assange-(Wikileaks-) en Snowden-sages oor geheime owerheidsoptrede waardeur burgers se regte aangetas word. Dit laat demokrasieë dwarsoor die wêreld regop sit. Kyk mooi, hier is ’n ding aan die kom: nie alleen is owerheidsgeheimhouding – in gevalle waar staatsveiligheid kwalik ter sprake is – se dae getel nie; dit geld ook dié van talle heilige koeie in moderne, demokratiese samelewings.

Een so ’n heilige koei wat vir seker verdien om in die nuwe, demokratiese Suid-Afrika geslag te word, is dié een, waar die griffier van ’n hof opdrag gegee word om hovaardig vir ’n landsburger te sê: ag nee wat, jy hét nie ’n saak nie en ons gaan ook nie vir jou sê wáárom nie.

Eindnotas


1 Hoogste hof van appèl saaknr. 861/2011, gelewer op 28.03.2013. By die skryf hiervan in Julie 2013 nog ongerapporteer.

2 Onder saaknommer CCT 49/13 uitgereik op 20 Mei 2013.

3 Wes-Kaapse Provinsiale Afdeling, saaknr. 7875, gelewer op 15.08.2011: par. 32 (bl. 16). (Ongerapporteer.)

4 Wes-Kaapse Provinsiale Afdeling, saaknr. SS 190/06 gelewer op 29.11.2007: par. 184 (bl. 75).

5 Vgl. in die algemeen Snyman, C.R. 2007. 5de uitgawe. Strafreg. Durban: LexisNexis.

6 Vgl. paragrawe 22–25 (ble.11–13) van die uitspraak.

7 Par. 29 (bl. 15) van die uitspraak.

8 Par. 22 (bl. 8) van die uitspraak van 7.08.2007. (Ongerapporteer.)

9 Par. 59 (bl. 26) van die uitspraak van 29.11.2007.

10 1990 1 SA 680 (HHA) te 700E–G.

11 2002 6 SA 431 (HHA) op 449.

12 Humphreys v The State 2013(2) SACR 1 (SCA). Sien egter ook Andrew Paizes se getemperde kritiek op dié uitspraak in “Criminal Justice Review No 1 of 2013” (Jutalaw, 2013). Hy voer aan dat die Hof dolus eventualis “ongenuanseerd” beoordeel het, maar kom tot die gevolgtrekking dat die eindresultaat (dat Humphreys oplaas onskuldig bevind is aan moord) desnieteenstaande korrek is.

13 Par. 29 (bl. 15) (15.08.2011).

14 Par. 33 (ble. 16–7).

15 Par. 18 van die uitspraak.

16 Vgl. bl. 1795 e.v. van die rekord van die verrigtinge voor die hof a quo.

17 Vgl. par. 37.17 daarvan.

18 1939 AD 201.

19 Op 202–3.

20 Par. 34 (ble. 17–8) (15.08.2011).

21 Ibid, par. 35 (bl. 18).

22 2004 3 SA 305 (HHA).

23 Paragrawe 59–60 (bl. 328–9) van die verslag.

24 Par. 32 (bl. 16) (15.08.2011).

25 Ibid, par. 35 (bl. 18).

26 Par. 27 (bl. 17) (28.03.2013).

27 Ibid.

28 Ibid.

29 Vgl. nota 21 hier bo.

30 Par. 28 (bl. 17) (28.03.2013).

31 Vgl. nota 2 hier bo.

32 Labuschagne, F.J. en L.C. Eksteen 1993 (jongste, hersiene uitgawe). Pretoria: J.L. van Schaik.

33 Odendal, F.F. en R.H. Gouws (reds.) 2005. Kaapstad: Pearson Education.

34 Par. 17 (bl. 28) (28.03.2013).

35 Par. 29 (bl. 18) (28.03.2013).

36 In die besonder: Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2010. 6de uitgawe. Neethling-Potgieter-Visser deliktereg. Durban: LexisNexis.

37 2013(2) SA 144 (KH)

38 Par. 29 (bl. 18) (28.03.2013).

39 Par. 31 (bl. 19) (28.03.2013).

40 2004(5) SA 586 (HHA).

41 Paragrawe. 42–3 van die uitspraak, asook die interessante bespreking daarvan deur proff. J.M. Potgieter en J. Neethling in LitNet Akademies (Regte).

42 1999(2) SA 667 (KH).

43 ’n Goeie voorbeeld is die hof se onlangse uitspraak in eThekwini Municipality v Ingonyama Trust 2013(5) BCLR 497 (CC). Talle verdere soortgelyke voorbeelde kan nagespeur word op die hof se amptelike webwerf by www.constitutionalcourt.org.za.

  • 3

Kommentaar

  • Dit blyk uit hierbo dat dit 'n goeie ding is dat die doodstraf in ons land afgeskaf is. Fred is glad nie "los" nie, en dit als weens ongeloofwaardige getuienis van een polisieman.

    Dis vreesaanjagend

    Kon meineed nie bewys word nie ? Het die staatsgetuie werklik geglo wat hy getuig die waarheid is?

    Raed-na-Gael

  • Avatar
    Francois Theunissen

    Met verwysing na Adv Pienaar se analise van die hofsake rondom die moord op Inge Lotz (wat duidelik die aanvangsperspektief het dat Fred van der Vyfer níé die moord gepleeg het nie), wil ek vir Fred van der Vyfer vra:  Sou die saak teen hom ooit naby die Hof gekom het as dit waar was dat hy op die middag van die moord by 'n "werksessie t.o.v. sy eerste projek" (soos die pers dit gestel het) was?    As ek (onskuldig) beskuldig sou word van 'n moord wat tydens 'n werksessie van 'n projek van my, gepleeg is, sou ek die Polisie voorsien het van 10 of 20 beëdigde verklarings van onberispelik-betroubare kollegas en hoofde wat onder eed sou getuig het dat ek hoogs-sigbaar teenwoordig was dwarsdeur die werksessie.  Die polisie sou my as 'n verdagte moes uitskakel gegewe die onbetwisbare beëdigde verklarings.   As Fred dít gedoen het, sou die saak teen hom nie naby die Hof gekom het nie, en bowenal sou 3 plase nie gespandeer gewees het om Amerikaanse ekspert-getuienis te koop nie.  Maar volgens persberigte het slegs een getuie getuig dat Fred by die werksessie was, en het dié onder kruisverhoor gevou.   Kan Fred vir ons sê hoekom hy nie die bogemelde baie-maklike weg gevolg het om die saak vroeg uitgegooi te kry nie, maar eerder duur Amerikaners laat kom het?  

  • Avatar
    Gustaf Pienaar

    Beste Francois - dankie vir jou nota.  Stuur asb vir my jou e-posadres by [email protected].  Op my beurt sal ek vir jou Regter Deon van Zyl se uitspraak in die moordverhoor van 65 dae stuur.  Mnr van der Vyver se alibi-verweer word uitvoerig daarin behandel. Groete - Gustaf

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top