’n Akkerboom deur Nico Scheepers: ’n resensie | Momentum Beleggings Aardklop 2023

  • 0

 Titel: n Akkerboom
Genre: Drama
Met: De Klerk Oelofse en Rolanda Marais as gasspeler
Teks: Nico Scheepers

’n Akkerboom is deur Nico Scheepers uit Tim Crouch se An oak tree vir die Afrikaanse gehoor vertaal. Buiten die aangrypende teks en bekende De Klerk Oelofse as hoofspeler is daar ’n tikkie “andersheid” aan hierdie vertoning. Die gasspeler van elke vertoning word anoniem gehou totdat die vertoning reeds aan die gang is – selfs vir Oelofse!

Met ’n Akkerboom se eerste vertoning, op 4 Oktober 2023, tydens Momentum Beleggings Aardklop is dit Rolanda Marais wat by De Klerk Oelofse op die verhoog aansluit. Soos met die vorige vertonings vind Oelofse op dieselfde tyd as die gehoor uit wie die gasspeler vir die aand is en Rolanda Marais, op haar beurt, maak tydens hierdie vertoning vir die eerste keer met die teks kennis.

Ten spyte van die feit dat Rolanda Marais nie ’n woord van die teks vooraf gelees het nie, embody sy haar karakter asof hulle ou vriende is – ongeskeerde baard, vuil vingernaels en al. Marais speel ’n 46-jarige man, André, wat ’n hipnotiseur (De Klerk Oelofse) se vertoning bywoon. Die gehoor word toegespreek asof hulle op die tweede verdieping van Strandstraat ’n jaar van nou af die vertoning aanskou. Oelofse noem hierdie gehoor gereeld “die sterre van die show”. Tussendeur die dramatiese musiek en skaterlag van die gehoor word die verhaal uitgepluis: Die hipnotiseur het André se dogter, Clara, ’n tyd terug doodgery en André het na antwoorde en hulp kom soek. Hierdie toneelstuk verskuif vanaf ’n komieklike voorstelling van karakters na ’n tranetrekker in ’n oogwink.

Die kommunikasie tussen De Klerk Oelofse en Rolanda Marais vind op verskeie maniere plaas: Partymaal dra Oelofse hardop aan Marais instruksies oor, ander kere hou die twee met geboë koppe ’n gesprek en andersins word Marais oorgelaat om met vryheid haar karakter uit te leef. Marais se rou emosie wat met die uitspeel van die verhaal ontlok word, laat die gehoor woordeloos en die chemistry wat tussen Marais en Oelofse tydens die vertoning ontdek word, spoel oor tot in die gehoor. Die gehoor vang soms vir Marais giggelend aan die kant van die verhoog staan.

’n Akkerboom vertel ’n verhaal van trauma en verlies en hoe twee mense wat aan weerskante daarvan staan, probeer sin maak daarvan. Hierdie trauma word besoek en herbesoek deur die herlewing van teenoorgestelde perspektiewe op ’n gedeelde trauma. Die hipnotiseur lyk of hy deur die vyf fases van rou in ’n bietjie meer as ’n uur beweeg en André, as pa en man, deel die seer wat hy en sy gesin verduur het deur middel van tydspronge tussen tonele. Soos die verlede, die hede en die toekoms bymekaarkom, sit die gehoor met meer vrae as antwoorde.

Die narratief van ’n familie se verlies en die prossesering van hierdie trauma is iets waarby die meeste lede van die gehoor kan aanklank vind. Dit is wel nie ’n vertoning wat “swaar” gaan lê nie. Oelofse val homself soms in die rede en sê vir Marais dat hulle nou na ’n ander toneel gaan beweeg. Hierdie onderbreking van emosionele tonele verleen ’n ligter toon aan die verhaal sonder om die gesprek wat aan die gang is, af te maak. Die ingeperkte gebruik van vloekwoorde word ook aangewend om te karakteriseer eerder as te vervreem.

Die verhoogstel bestaan uit niks meer as ’n flenters klavierbankie en ’n stapel houtstoele nie. Hierdie minimale uiteensetting verseker dat die gehoor se aandag nie van die karakters afgelei word nie en dra net soveel meer tot die talent van die spelers by. Die gebruik van klassieke én dramatiese musiek as oorgang tussen tonele is toonaangewend en speel inhoudelik ook ’n belangrike rol.

As gehoorlid bevraagteken jy die werklikheid van gebeure in die verhaal en probeer sin maak van die verhaal se tydlyn. Die meeste van hierdie vrae word onbeantwoord by jou gelos om die verhaal self in jou kop klaar te skryf.

Hierdie toneelstuk, volgens die beskrywing in die feesgids, verteenwoordig “die ligheid van die ligheid (en) die swaarheid van die swaarheid”.

’n Akkerboom én De Klerk Oelofse hipnotiseer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top