![]() |
|
Jakes Gerwel
|
![]() |
|
Neville Alexander
|
![]() |
|
Steve Hofmeyr
|
Skeptisisme – gedrywe deur bitter (soms) oppervlakkige joernalistiek en (hoofsaaklik) bitterbekkige lesersbriewe in die Afrikaanse media – het ongelukkig die oorblywende besadigde denke en gesprekvoering tot nou toe oor die voorbestaan van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika, veral as universiteitstaal, oordonder.
Die nederige, nie-rassige en helderdenkende stemme van Jakes Gerwel, Frederik Van Zyl Slabbert, Gerrit Brand en Neville Alexander word in dié verband gemis.
Nie dat skeptisisme in beginsel ’n verkeerde verskynsel behoort te wees nie. Onder intellektuele behoort bedenking as ’n aanvaarbare eerder as ’n aanvegbare fenomeen verwelkom te word. Die gevaar egter is dat aanhoudende modieuse sinisme tot ’n toenemende sinsverbystering kan lei. Nie net onder Afrikaanssprekendes in die algemeen nie, maar ook onder ’n broodnodige Afrikaanssprekende intellektuele klas wat uiteraard nodig is vir volhoubare volwassewording van die sogenaamde hoër uitdrukkingsvorme van Afrikaans.
Baie jare gelede het Rob Antonissen die toon van die “skollie”-spreker in ’n gedig van Adam Small beskryf as “tot apatie verdofde sinisme”.
Miskien sou dit heel veilig wees om nou te noem dat die toon en aard van die openbare gesprek oor die voorbestaan van Afrikaans erger klink as die “skollie”-spreker in Small se gedig. Toegegee, ek hoop van harte dat ek in dié verband verkeerd is of verkeerd bewys kan word.
Dit sou nalatig en onverantwoordelik wees om nie erkenning te gee aan alle Afrikaanse stemme vir hul verfyndheid en beskaafde nederigheid waarmee hulle aan dié openbare gesprek deelneem nie.
Dit voel egter dat dié nugtere stemme deur die oordonderende bittere stemme verdring word en dat dié bitterbekke in die algemeen as woordvoerders vir die Afrikaanse-saak beskou en aanvaar word.
Miskien is dit reeds dit – en die heersende persepsies dat Afrikaanssprekendheid agterlik en remmend voorkom – wat Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, genoop het om te dreig om Solidariteit se “eksklusiewe” Afrikaanse universiteit, Akademia, toe te maak.
Dit is noodsaaklik om te noem dat die minister se redes hoekom hy dreig om Akademia toe te maak, nie lekker sin maak nie. Alhoewel daar rede tot kommer is vir Solidariteit se motief vir die stigting van ’n “eksklusiewe” Afrikaanse universiteit, moet ook genoem word dat die grondwet ruimte bied vir ’n instelling wat net in een landstaal onderrig.
Die publiekeregskenner, Marinus Wiechers, is in die kol wanneer hy sê: “Taal is nie ’n grondslag vir ras-eksklusiwiteit nie. Taal is ’n kulturele grondslag wat uitdruklik deur die grondwet toegelaat word.”
Hoe Solidariteit dié grondwetlike ruimte gaan benut, hopelik om te help dat Afrikaanssprekendheid die stem en draer van liberaliteit word, gaan interessant wees. Ek's nuuskierig om te sien hoe die debat tussen die minister en Solidariteit hom gaan uitspeel.
Ook hoop ’n mens dat minister Nzimande – en ook Solidariteit – die toon en aard van hul stemme sal verander, sodat hy en Solidariteit binne hoorafstand van mekaar begin beweeg om volhoubare oplossings vir hul klaarblyklike misverstand (?) – so hoop ’n mens – kan kry.
Ek is van mening dat veral die minister met sy politieke ervaring en akademiese geskooldheid dié situasie veel beter kon hanteer het.
“Die geskil” tussen die minister en Solidariteit en die openbare gesprek oor die voortbestaan van Afrikaans is ongelukkig tekenend van hoe die openbare gesprek ongelukkig geskoei is op oppervlakkige joernalistiek – wat in die meerdere gevalle deur die toenemendwordende-konserwatiewe Afrikaanse-media gedryf word.
Die amper doelbewuste ongenuanseerdheid met hoe ’n sekere Afrikaanse koerant oor die geskil tussen minister Nzimande en Solidariteit berig het, getuig van die heersende openbare idioom van disrespek teenoor diegene wat innig gekrenk is deur die verskansing van Afrikaanssprekendheid as “almal se identiteit” in 1976.
In ’n ander konteks het Gerwel hom jare gelede tot bekommernis gestem oor die beeld van Afrikaanssprekendheid. Met verwysing na die Nzimande-Solidariteit-geskil, is dit miskien veilig om te sê dat Gerwel se bekommernis nog vandag relevant is.
“Daar is ’n onverfynde brutaliteit, amper ’n agterlikheid aan die gedurige aggressiewe bitterbekkigheid en kleinlike keffery wat ongelukkig nog deur te veel toonaangewende en beeldvormende Afrikaanse forums gevoer word”.
Die minister se argument het miskien erg emosioneel en polities geklink, wat nie heeltemal op gesofistikeerde denke geskoei is nie, maar teen die agtergrond van die 1976-Soweto-opstande moet ons egter stil word. Kom ons word stil, spits ons ore en luister na die pyn en woede wat vlak opgesluit lê in Blade Nzimande se stem en woorde wanneer hy dreig om Akademia toe te maak. Kom ons leen onsself tot nuanses en ’n diep historiese-ingesteldheid wanneer ons oor Afrikaans en taal in die algemeen praat en ook verslag doen in die nuusmedia. Dit sal meehelp om mekaar met beter begrip en respek te hanteer en te aanvaar.
Die “seer” – ons almal is gelyke draers hiervan – van die verlede behoort as morele kompas te dien om te verseker ons verval nie weer in historiese “taal-foute” nie.
Dit is vir my ’n eksotiese aantreklikheid oor hoe die taalkwessie sedert die dood van Russel Botman, eertydse rektor en visekanselier, tans by die Universiteit Stellenbosch hanteer word. Eers het die US sy taalbeleid – gelyke status vir Afrikaans en Engels – aanvaar. Dit is ’n besonderse mylpaal vir die US omdat die taalstryd altyd in ’n debat wat in engheid en slegsêery gedompel was, verval het.
Die aanvaarding van die taalbeleid is ook ’n besonderse eer aan die nalatenskap van Botman vir sy versoenende, akkommoderende en transformerende rol en ook liefde vir Afrikaanssprekendheid. Dit is ’n mooi afsluiting van die “hoofstuk van woede en pyn” na die skielike afsterwe van Botman.
Om verder impetus te verleen aan die besonderse mooi-seisoen wat onlangs by die US begin het, is Wim de Villiers as opvolger vir Botman aangewys. In media-onderhoude na sy aanwysing as rektor en visekanselier, het De Villiers ’n spesiale nederigheid en ’n diepmenslikheid wat geskoei is op die hele beginsel van transformasie en respek vir alle mense geopenbaar.
Hy klink en lyk na die regte man (liewer “persoon”, omdat “man” so seksisties klink) om die komplekse uitdagings van die US die hoof te bied. De Villiers se houding en positiewe uitsprake is ’n betekenisvolle dekonstruksie van die tot onlangs-heersende konstruksie van die debat na Botman se dood dat die dae van ’n Afrikaner-rektor (wat die “ou dae” sou terugbring) aan die US verby is.
’n Mens hoop dat De Villiers se positiewe-ingesteldheid en medemenslikheid kruisbestuiwend sal wees tot die skeptisisme in die Afrikaanse media, Steve Hofmeyr, Dan Roodt en ander regsgesindes wat Afrikaanssprekendheid wil verskans as spesiale identiteit van net Afrikaners.
Afrikaanssprekendheid behoort met die betree van andere se leefwêreld net soos in die verlede by te dra in die konstituering van Suid-Afrika en ook van Afrika en verder globaal. Dit hoef nie altyd gesien te word as die draer en bevorderaar van skeptisisme en “verstarde” Afrikanerdenke en -identiteit nie.





Kommentaar
Nog nooit is so min in so baie woorde gesê nie (met erkenning aan die ou [kan nou nie onthou wie nie] wat Churchill se beroemde woorde so omvorm het).
Wonderlike skryfstuk Jason!