Titel: I am a man
Skrywer: Jerry Mofokeng wa Makhetha
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 978-0-7963-2258-6
’n Paar jaar gelede ontdek ek die digter en burgerregteaktivis Maya Angelou se debuutboek I know why the caged bird sings (1969). Die woorde betower my so, ek begin ’n skattejag vir die ander ses juwele. Net soos Maya se sewe outobiografiese werke is Jerry Mofokeng wa Makhetha se boek I am a man ’n aanwins vir die siel.
Jerry het geen bekendstelling nodig nie. Hy is ’n deurwinterde akteur wat in bekroonde films soos Cry, the Beloved Country, Mandela and de Klerk en die 2005 Academy Award-wenner Tsotsi gespeel het.
In I am a man skilder hy in ’n priesterlike stem vir ons sy kinderlewe so kleurvol, dit voel amper of die leser saam met hom in die stofpaaie van Orlando West na Belle Primêre Skool toe loop. Proe saam met hom sy eerste soen. Vlug saam met hom soos rotte uit huis 8298 nadat die polisie traangas deur die vensters geskiet het. Ons ontmoet ook beroemde politieke figure soos aartsbiskop Desmond Tutu, Walter Sisulu en Phillip Matthews deur kinderoë, en sokkersterre soos Kaizer Motaung. Die teaterlewe in Soweto tydens die revolusionêre bloeitydperk van die vroeë 1960’s word ook aan ons blootgelê.
Hy deel sy wonde eerlik, sonder veroordeling. Van die seuntjie wie se identiteit vir 58 jaar deur beeste bepaal is. Sy ouman wat in sy gesig gespoeg het. Die hongerte en gebarste voete toe hy as klein seuntjie beeste in Lesotho opgepas het. Van die STD nadat ouer meisies saam met hom “huis-huis” gespeel het. Die brutale mishandeling. Ons lees ook hoe sy selfbeeld geknak het nadat ’n klasmaat sy oog met ’n gebreekte bottel oopgegooi het en hoe hy daarna in die Student’s Christian Movement aanvaar is.
Terwyl soveel tieners ná die Soweto-slagting op 16 Junie 1976 gekies het om as militêre operateurs vir die ANC en PAC opgelei te word, kies Jerry drama. Sy roemryke loopbaan word in nederigheid vertel asof dit deel van hom is, maar nie aan hom identiteit gee nie. Londen. New York. Sy doktorsgraad en talle toekennings. Maar selfs hierdie roem verseker nie ’n lewe van maanskyn en rose nie.
In 1994 vertolk hy die rol van Duma Nkosi in die politiek-geïnspireerde mini TV-reeks The Line. Die reeks handel oor ’n jong ANC-aktivis en digter van Soweto wat die enigste ooggetuie in die brutale treinslagting deur Inkatha-militante is. Ontstoke Inkatha-Vryheidsparty-militante het mense in KwaZulu-Natal vermoor wat hierna gekyk het en Jerry moes vir sy eie veiligheid na Tzaneen vlug.
Maar Jerry neem ook die lesers agter die skerms, binne die intimiteit van sy huis. Hy deel, half verskonend, hoe sy beste vriend sy posisie met sy vrou misbruik het. Sy liefde vir haar en God is tasbaar. Sy seer pynlik. Ons lees ook van sy “tough love” teenoor sy dwelmverslaafde seun. Sy twee dogters se buite-egtelike kinders en hoe hy sy ware identiteit in ’n winkelsentrum ontdek wanneer ’n vrou hom groet: “I am saying to you, hello, my brother.”
In hoofstuk vier – getiteld The discovery. My journey to becoming me – deel hy sy reis na sy ware identiteit. Dit is sonder twyfel die hartseerste dog mooiste hoofstuk in die boek. Hoe ’n man op 58-jarige ouderdom uitvind wie sy pa is en hoe dit aan hom ’n nuwe identiteit besorg. Maar selfs dit sluit op ’n hartseer noot af.
Die slothoofstuk is die fondament van die boek en dit verklaar die titel: “I am a man”. Dié kitshoofstuk draai rondom die vraag waaroor hy vir die laaste 25 jaar met mans gesels: waar is die mans? Sy oproep tot manwees delf in onderwerpe soos humeur, gewoontes en die huwelik. Dit laat my dink aan Maya se Letter to My Daughter vir seuns.
Ek beveel die boek vir enige man aan wat met vrae soos “wie’s ek?” en “wat’s ’n man?” worstel. In die openingshoofstuk noem Jerry dat Bantoeonderwys verwag het dat hulle slegs een boek per jaar lees; as jy net een boek die jaar wil lees, dan is I am a man my keuse. Dit sluit die Lux Verbi-temas oor vaderwonde, wat by die Desmond Tutu-Gerrit Brand-pryswenner Ivor Swartz se Die verlore seun vannie Gaatjie en Julian Jansen se Seuns sonder pa’s begin het, op ’n hoogtepunt af.
Maar die boek is meer as ’n pelgrimstog tot manlikheid, dit is ’n nasionale skat vir enige leser – manlik en vroulik – wat in kulturele, politieke en kunsgeskiedenis belangstel.


Kommentaar
Die waarde van die boek lê vir my veral ook by die ontdekking van manlikheid wat in die titel uitgedruk word: 'I am a man'. Benewens gender, kan dit ook op selfaanvaarding en trots wys en gee dit erkenning aan mans (mense) wat soek na hulle identiteit en wat gestereotipeer word as deel van ʼn minderwaardige en/of chauvinistiese geslag. Mens hoef nie apologeties wees net omdat jy ʼn man is en/of deur die samelewing gestereotipeer en selfs geostraseer word nie.
Ek het amper die boek gekoop 'n tyd gelede. Maar ek het eenvoudig te veel ander leeswerk. Het sommer net geweet dis 'n spesiale boek hierdie. Dankie vir jou gedagtes, Stefaans.