
Foto: Canva
My skemertyd
my skemertyd het nou ru aangebreek
en ek – ék spartel
tussen die doodstyding en die nistuine
van my kronkelende lewenspad
daarom bid ek my vergifnisbedes
in letselwoorde – strofes met swak
oopgespalkte woorde wat bly huiwer
in onthou tussen die gisters en die nou
na die tye toe my trane blyplek gesoek het,
toe my hosannas plek-plek weerklink het
en die dae toe ek sondeloos, perfek wou leef
maar my gees net deurgeskaaf bly hang het
nou braak die doodsengel sy gal oor my
en dit wat moes, is nou wat was;
my lewensspore lê nou vasgeskroei
in duisend bloedmane gelede
want my skemertyd het nou ru aangebreek
en ek – ék spartel
tussen die doodstyding en die nistuine
van my ámper vergete lewenspad


Kommentaar
Sielswoorde
Ongelooflik !!
Ja hierdie is diep, ons moet daar gaan want hier verander baie waardes gewoonlik vir die beter, die stiller en die dieper en hierdie is dieper grond wat nou omgespit word om ons dieper te laat verstaan, baie mooi vers Anze.
Ek vereenselwig my heerlik met die inhoude wat met bekende woorde geskep word en dan telkens ook met die verrassend ongewone.