Ouers en predikante speel volgens ’n onlangse navorsingstudie die grootste rol in Afrikaanse kinders se geloofsvorming. Volgens navorsing wat pas deur die NG Kerk onderneem is, speel predikante vandag ’n groter rol in kinders se geloofsvorming as hulle ouers. Maar wat van kinders wie se pa’s self dominees is? Jean Oosthuizen het met ’n paar uiteenlopende pastoriekinders gesels om te hoor watter invloed die pastorielewe op hulle geloofsvorming gehad het.
Volgens die NG Kerk se navorsing dra predikante nou 48% by tot jongmense se geloofsvorming, teenoor ma’s se 47% en gewone pa’s se 38%. Dit verskil aansienlik van vroeër, toe ma’s meer as 80% bygedra het tot hulle kinders se geloofsvorming.
Terwyl predikante en lewensmaats of vriende se rol in jongmense se geloofsvorming skynbaar toeneem, neem dié van ouers af.
Vir sommige pastoriekinders, soos Marc Wehncke, wie se ouers albei predikante was, maar wat vandag self agnosties is, was die Christelike leefwyse en geloof van ’n predikantsouerpaar inspirerend, al dink hy vandag anders oor geloof as sy ouers.
Vir ander was dit ’n riller. “Na al die jare is dit vir my en my kinders wat in ’n pastorie grootgeword het, nog steeds te traumaties om oor te praat,” vertel ’n vrou wat later ook met ’n predikant getroud was en verkies om anoniem te bly. “Ons is almal bietjie fucked-up grootmense as gevolg van die kerk,” sê sy.
Dan is daar ook pastoriekinders wat besluit om self die bediening te betree en predikant te word.
Johan Pieters se pa was predikant in die ou NG Sendingkerk, wat vandag die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) is, en later kapelaan in korrektiewe dienste. “Hoe het dit my beïnvloed? Die beeld van my pa wat Bybel lees, is ingegraveer in my geheue en spiritualiteit. Die Evangelie is daarin opgesluit. Verder was hy die een vir wie die ouderlinge (nie die dorpe se dominees nie!) wou stilmaak. Die Evangelie is mos maar ongemaklik. Die kerk was net ’n kultuuruitdrukking en baie belangrik. Tog het ek gevoel sy vriendskap met die "ongelowige" slagter van die dorp was vir hom baie belangriker. Dit is wat ek by hom gekry het. Vandag is ek ook ’n dominee.”
Nog ’n pastoriekind wat self ’n dominee in die NG Kerk geword het, is Albert Cruywagen. Sy pa was ’n evangeliese prediker en nogal streng op moreel-etiese gebied. “Ons het byvoorbeeld nooit drank in die huis gehad nie. Toe ek my eie idees begin vorm het, was daar ’n soort van uitbreek of wegbreek uit die pastorie-kokon – tot my eie reusagtige vreugde en vrede; en tot my pa se teleurstelling! Ek het begin rook aan die einde van my laaste jaar. Ek is aan alkoholiese drank blootgestel. Dit mag sommige sensitiewe lesers grief, maar my vrede en vreugde het nog nie geëindig nie.”
’n Derde pastoriekind wat ook ’n dominee geword het, is Andreas van Rooyen, wat vandag leraar is van ’n NG gemeente in Barberton. Hy sê hy het in ’n pastorie grootgeword en bly nou self in een. “Dit was soos enigiets in my lewe ’n belewenis wat my baie geleer het. Met tye baie aangenaam, maar met tye moeiliker.”
Vir Andreas het sy kinderlewe in ’n pastorie hom nader aan God gebring. “Ek was as kind blootgestel aan die kontras tussen wat mense sê hulle glo en hoe hulle leef en dié van mense wat hulle geloof in stilte net geleef het. Dit het my deernis geleer en gewys hoeveel hartseer en vreugde daar in die lewe kan wees. Dit het my geleer hoe om baie duidelike grense te stel en daarby te bly, selfs al moet jy iemand kwaad of seer maak.
Sy raad is dat mens ’n sterk persoonlikheid moet hê as jy ’n dominee wil word. “En indien jy dit as beroep beoefen, gee baie aandag aan jou kinders en vrou (hulle kan maklik afgeskeep word). As pastoriekind het ek geleer hoe om met amper enige mens oor amper enige iets vir ten minste ’n paar minute te kan praat, hoe om elkeen se uniekheid te waardeer en om elke oomblik te geniet wat jy kan, want die lewe is te kort om dit nie te doen nie.”
Maar nie alle pastoriekinders volg hulle pa’s se voetspore om dominees te word nie. Baie van hulle dink heel anders oor geloof as hulle dominee-pa’s. Hannes Gerber kom al geslagte lank uit ’n pastorie. Sy oupagrootjie, oupa en pa was almal predikante in die NG Kerk. “Ek het meer pannekoek en basaarpoeding as moedersmelk geken voor ek my eerste tande gesny het,” vertel Hannes. “Ek verpes tot vandag toe pannekoek.”
Vir hom was die nadele van grootword in ’n pastorie legio. Die voordeel was egter dat hulle baie aan boeke blootgestel is en toegelaat is om vir hulleself te dink. “Ons was vier kinders, van wie slegs een baie ongereeld kerk bywoon, twee is ateïste, en alhoewel my twee kinders ook gedoop is, het hulle nooit gekatkiseer nie en was ek self seker 15 jaar laas in ’n kerk.
“Nie een van ons vier kinders beskou die Bybel as die woord van God nie en ons verstaan die historiese geskiedenis en ontwikkeling van die kerk as mensgemaakte instelling goed.” Hoewel Hannes homself nie vandag as ateïs kategoriseer nie, het hy ’n renons in kerklike rituele en mensgemaakte dogmas wat as “die waarheid" verkondig word. Hy sê hy is egter oop vir die idee van ’n groter energie wat ons almal saambind.
Pastoriekinders wat ander geloofspaaie as hulle ouers kies, is nie noodwendig negatief teenoor hulle ouers nie.
“Natuurlik word mens ‘godsdienstig’ groot wanneer jy in hierdie milieu grootword,” sê Annalize Vermaak. “Dit was nie vir my onaangenaam nie, want ek was altyd lief vir stories. Party van die stories was maar grillerig en gou het ek my afkeer daarvan gewys. My pa was altyd gerusstellend en het ’n morele waarde daaraan probeer heg.
“My liewe predikantpa het my eintlik gewys dat alles ’n ander inslag het as wat gepreek was,” sê sy. Hy was lief vir geskiedenis en filosofie. “Saam met teologie was dit ’n mix en ’n half en ek was maar altyd skepties oor dit wat gesê is en dit wat gedoen was. Liefde en dade wat nie ooreenstem nie, maak mens ewig soekende. So ek het nooit regtig reggekom met die dominees en die ouderlinge en die diakens nie ... en my pa het nooit geoordeel nie. Die gemeente het my egter wel erg geoordeel. Veral toe ek buite die eg ’n baba verwek het en die "ou dominee" in die gemeente die welbehae gehad het om my formeel in die kerk onder sensuur te plaas. Die res is geskiedenis. Dit was vormingsjare en dit was goed, hoewel dit moeilik was in daardie tyd. Rebels have few regrets!”
Vir Annalize was die eerste ernstige reaksie “teen alles” toe sy haar ouers se stryd beleef het met wat gebeur het in die kerklike omgewing en die invloed wat dit op hulle as gesin gehad het.
“Vir ’n rebelse tiener wat openlik en verbaal was, was dit ongemaklik en nadat my ouers deur ’n egskeiding is en my pa die bediening moes verlaat, het dit my totaal ontnugterd gelaat.”
Alna Slabbert is in ’n “gewone huis” gebore. Haar pa is dood net voor haar negende verjaarsdag. Kerk en geloof was "die kombers" van daardie tyd, sê sy. “My ma is later met ’n predikant getroud. Hy was regtig ’n pa vir ons. Tog het die teenstrydighede wat ek in die optrede van mense leer ken het, asook die vooroordeel deur hulle wat juis die liefde moet uitleef, my bitter skepties gemaak teenoor gelowiges. Soveel so dat ek vandag byna nooit in ’n kerk kom nie. Ek het my geloof in mense verloor; gelukkig nie in God nie.”
Nog ’n pastoriekind wat verkies om anoniem te bly, is een van drie kinders wat almal reeds gebore was toe haar pa besluit het om verder te gaan studeer en predikant te word. “Ons het albei wêrelde ervaar – dié van arm tokkelokkinders en daarna pastoriekinders.
“Wat ons geloofslewe betref, was my ouboet die opstandige een. Hy het amper nooit sy voete in die kerk gesit nie. Ek onthou die onderliggende spanning wanneer hy by die huis was. Hy het alles gevlieg wat hy kon, was vier jaar op die grens en het verongeluk op 33 jaar met sy eie vliegtuig waarmee hy lugtoertjies gedoen het. Hy was ’n Springbok daarin. Niemand het ooit geweet waar hy staan in sy verhouding met die Here nie.
“My pa is nou 91 jaar oud en ongelukkig maak hy baie onrustigheid op sy oudag deur. Ek is so jammer vir hom, maar kan niks daaraan doen nie. Siestog, hy wou ons maar net van ’n beter toekoms verseker deur te gaan studeer.”
Uiteindelik lyk dit of daar hoogstens gesê kan word dat daar moontlik geen beduidende verskille is tussen die huweliks- en gesinsfunksionering van pastoriegesinne en gesinne van gemeentelede nie. Elke huis het maar sy kruis.
Kommentaar
As opvoedkundige konstateer ek dat nog steeds die ouerhuis die grootste invloed op die kind het, positief of negatief. 'n Predikant kan nie daardie plekkie sommer inneem nie, hy kom te min aan huis. Dat die kind binne die gemeente saam met gemeentelede en ook predikante rol modelle vind, ja. Die kind het in sy lewe meer samelewingsverbande wat invloed op hom het, positief en negatief. Ouma en oupas speel ook biddend 'n groot rol, afhangende van die familiebande. Êrens is daar fout met die bevindinge. Christelike sustergroete. Annatjie