My ouma – die bakker, die bokser

  • 0

LitNet se Stemme | Voices | Amazwi is ’n reeks van 15 kort, kragtige monoloë deur gevestigde en opkomende dramaturge geskryf, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, NATi en die ATKV.

In Dean Balie se monoloog My ouma – die bakker, die bokser vertolk Elton Landrew die rol van ’n man wat herinneringe oproep aan sy ouma, ’n broodbakker wat die lewe met bokshandskoene aangepak het. Dean Balie was in die regisseurstoel.

In hierdie kort video gesels Dean Balie en Elton Landrew oor y ouma – die bakker, die bokser:

My ouma – die bakker, die bokser

Ek het gedink ek is die skeidsregter! Sy was my lewe se kampioen. Wat meer moet ek dan sê? Daarna is sy dood! Weg … en ... en ... niks gaan dit verander nie. Wie besluit anyway? Wie slaan die laaste klok? Hm?

Ek onthou haar hande … klein, maar sterk. Haar kneukels so hard en opgeswel soos iemand wat haar hele lewe lank nog baklei het. Later het die klein vuisies so beginne bewe … onseker, amper skaam om te wys hoe swak hulle geword het. En tog … as sy die deeg so geknie het, sou mens sweer sy verstaan die hele wêreld. Die suurdeeg het sy gemaak van meel, water, aartappelskil en skaapderm. Alles in een blikkie, toegedraai en gelos om te rys. ’n Klein blikkie ... um … ek weet nie. Jamblik of ’n boontjieblik, miskien. Daarna die groot geel skottel, meel, water en visolie, of vet as daar nie olie was nie. Haar hande … haar ou klein hande blink gesmeer van die olie.

Alles ter voorbereiding van die groot geveg. Dit het nooit gevoel soos n taak wat sy doen nie. Ek kan nie eens vir jou sê of sy dit geniet het nie! Dit was maar net wat sy geweet het, gedoen het, want dit is wat mens doen. Jy bak brood en jy baklei, en dit is beide vir die lewe en die dood.

Ek het op my tone gestaan. Die bokskryt was bedek met ’n plastic tafeldoek, en die groot skottel het soos ’n reus daarop gesit. Hulle het mekaar verstaan, die skottel en my ouma. Haar oë het so rustig geword. Sy’t my so gekyk asof ek die skeidsregter is. Ek moet net die vadoek agter my vir haar aangee en die geveg kan begin. Die ses panne was al uitgesmeer, en ek het geweet: My ouma slaan uit die heup uit!

Eerste ronde was maar altyd die “uitvoelronde”. Ouma jab so bietjie … ’n bietjie water, ’n bietjie olie. Die meel wat nog so in en uit beweeg. My ouma het soos Muhammad Ali in daai klein kombuisie gedans. Soms misgevat maar vinnig herstel! Met elke hou wat sy slaan, beaam die tafel onder haar soos ’n coach.

“Dis reg!”

“So moet hy lyk!”

“Slaan hom!”

By die derde en vierde ronde het sy geweet of daar genoeg deeg sal wees vir ’n vaal Piet of ’n plat brood. Ek het nie eens daaraan gedink nie. Ek was in vervoering oor die toorkrag in haar hande.

Die vyfde ronde is die ketel op die stoof. Dis nou end game wat wag. Daai water is vir die tee as Ouma uiteindelik tevrede in haar corner sit en oor die teetjie blaas.

Die sesde ronde was sy en haar opponent so nat gesweet, al wat oorbly is die deeg in die panne, die grys kombersie voor die buiteoond en ’n kleiskoorsteentjie wat die einde van die geveg met ’n fluitjie rook aankondig. Sy’t nooit oorwinnings gevier nie. Geweet volgende week Woensdag is dit maar weer so. Ook nooit gekla nie. Daardie brood was haar lewe, en haar kinders en kleinkinders se lewe ook. Sy het die bakker in haar jammer gekry, want die bokser in haar sou nooit tou opgooi nie.

Ek het gedink ek is die skeidsregter. Die een wat my ouma se arm hoog sal lig as ek haar keer op keer as kampioen sal aankondig! Ek was verkeerd … Ek was die déég wat sy so mee baklei het! So geknie het in ’n vorm. Olie aangesmeer het as ek teen die skottel wil vassit. Ek was in voorbereiding vir haar brood! Ek was die suurdeeg en ek het gerys. Gerys tot ver bo die jamblikkie van die lewe!

Maar hoe sê hulle? Brood wat nie geëet word nie, word oud. Ek is nou al vir ’n hele paar jaar verkrummeld … en … die moeilikste ding van dit, Meneer, is dat ek te laat besef het dat my ouma ’n bakker was, ’n bokser … maar toe het ek alreeds die krag om te baklei verloor.

***

Stemme | Voices | Amazwi is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die monoloë is op hierdie blad beskikbaar:

Stemme | Voices | Amazwi

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top