Die vlymskerp sosiale kommentator Jack Parow is verlede jaar amper tydens ’n vertoning in Windhoek gemoer.
En my vermoede is dat dié amperse eer hom te beurt geval het nie omdat hulle dink hy is nie zef genoeg nie, maar eerder oor sy mildelike gebruik van ’n kragwoord wat met die vroulike anatomie verband hou.
Die meriete van hoe sag, al dan nie, hierdie woord op die, uhm, tong val, neem ons andermaal onder die loep.
Wat my in hierdie stadium laat dreadlock-kop krap, is die zef-strop wat dié onverdraagsame gehoor hul kommin onderrok laat uithang het.
Maar voor ek my eie, arrogante oordeelsweep verder laat klap, moet ek seker seg wat ek as zef beskou.
Is dit dooswyn- en/of brandewyn-drinkende, rassistiese, eenogige geloofsfundamentaliste? Sal ons die PT-broek met ’n ingesteekte oorgroot gholf-hempie en ’n spoegbal in die mondhoek of pruim in die kies daarby insluit? Wat van ’n paar goue, langlok-danstreffers, ’wyl die dik stroop van ’n koeksister die Huisgenoot-bladsye bevlek? Ai, en hoe kon ek amper van ’n help-my-pateties-lyk-Vernon-hempie en ’n skouspelagtige mullet vergeet?
Maar alle grappies vir eers op ’n (suig)stokkie, en die oordeel passek maar aan na die bekwame, gemanikuurde hande van hom of haar in wie ons nie glo nie.
Die Antwoord en die bykans bygedamde jonge heer Parow is weliswaar nie die antwoord op al die vraagstukke van ons vreemde lewens nie. Buitendien wonder ek dikwels of ons nie besef dat die kabaal op vloermoer op hype wat ons gooi en skep net hierdie (vr)ouens al harder Absa toe laat lag nie. Met ander (vloek)woorde – die bok blêr(k) al die pad bank toe en hier sit en bemes ons onsself terwyl die, uhm, kunstenaar nie ’n pouveer omgee oor wie vir wie wanneer verder die verderf gaan inlei nie.
Kom ons neem onsself tog nie so-o-o ernstig op nie en ontspan – met ’n glas spotgoedkoop dooswyn of ietsie uit die meer formidabele Engelbrecht-Els-wingerd– en laat hierdie fenomene op die musiek- en ongekultiveerde kultuurtoneel eerder ’n vertrekpunt wees tot opwindende, volwasse gesprekke.
’Wyl ons die vyfde teelepel wit suiker in ons kitskoffie inroer, kom ons praat met én luister eerder na mekaar en staak hierdie zef-aanvalle wat van ’n konstruktiewe doel geen idee het nie.

