My genesing

  • 1

“Trap, graad agt!” bulder die matriek ou voor my. Eric klap teen die bussitplek. Ek wag dat hy my uit die sitplek gaan ruk. Dit het al voorheen gebeur. “Voertsek! Ons soek jou nie hier nie!”

Binne my rys ’n woedende oseaan op. “Hoekom?” kap ek terug. Ek skrik vir my stem. Dit klink soos onderwatergeluide. Steeds maal die oseaan in my en uiteindelik lek dit na buite.

“Het ons jou opinie gevra?” roep Roshuan, nog ’n matriek.

“Staan op, jou simpel sot!” Christopher slinger my tas met die paadjie af.

Die meisie met die hoë poniestert in die sitplek voor my, kyk vies van haar e-boek af op. Sy lig haar skoolskoene uit die water. Die seewater stroom uit my, spoel oor die vloer en styg al hoër binne die bus.

“Genoeg!” roep ek uiteindelik. “Hier’s géén bespreekte sitplekke nie! Dis ons almal se bus!” My seegolf breek teen die sitplek voor my. Eric kyk my vies aan. Hy spat ’n handvol water in my rigting. Dit drup oor my gesig.

Ek gee nie om nie. Dis lankal tyd dat iemand praat.

“Die niks dink sy het ’n stem?” spot Eric egter. “Het iemand iets gehoor?”

Ek spring regop. “Ek het!” ’n Brander golf deur die skoolbus.

“Ek ook!” sê die meisie met die poniestert. Ook sy staan op. Lig haar ken.

“Ek ook!” roep ander stemme. Almal staan saam met my. Om ons meng en maal die water al hoe feller. Die bus se dak skeur oop. Die vensters bars. ’n Tsoenami woed deur die strate. Ek hoor my stem. My vryheid, my genesing.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top