
Foto: Canva.com
My generasie
as kind was ek geleer om gehoorsaam te wees
eerbiedig te wees
“maak soos ek sê, of ...” het my vlytig opdragte laat uitvoer
maar vandag het die olie op die vuur uitgebrand
ek is bevrees my gene-rasie is tot
as
as dít, sal ek dát, sê ons so graag
Refentse noem ons die “liefde generasie”
liefde
so ’n eenvoudige woord
met so komplekse betekenis
meer ’n leefwyse as uitdrukking
maar sê, sê ons dit so graag
dié kits-generasie waarin ek myself bevind
ons soek
alles
hier.
nou.
God behoede, ons kry dit nie
vloek, brand, breek gee ons ons sin!
ons is ongeduldig
ons preek omgee
maar
ons leef so selfsugtig
in die woorde van Parow;
soek ons onsself in drank en leë verhoudings
voordurend opsoek na iets
’n sinnelose gejaag na wind, sou die ouer gaarde sê
ek is dit ook eens
ek stem saam
O, Here, Meester, Skepper van die aarde
sal U U tog oor ons ontferm,
want
die skrif is aan die muur
sal U ons kom bedien in die tyd van onbekendheid
sal U, O Koning bo konings
onbaatsugtige, onvoorwaardelike Genade aan ons skenk
sal u, om Hemelsnaam,
ongeag ons goddeloosheid
nie maar steeds
planne aangaande ons koester nie
want in planne ken ons u glad nie
U, O Heer,
is verlore op ons
ons maak staat op U vergewensgesindheid
ons ken U Woord
verkondig dit ook nogal soms
maar óns realiteit is tog so wyd
verspreid
“soos die ooste van die weste”
wees ons genadig, Heer,
want ons weet wat ons doen;
ons is net salig onbewus
ons leef net vir hier
vir
nou
my gene-raas-nie:
die skrif is aan die muur

