My geliefde: Liefste Clarah

  • 0

30 Junie 1940
Nairobi
Kenya
Liefste Clarah

Ek hoop dit gaan goed met jou en ons ouers. Het Ounooi al gekalf? Ek hoop Jacob kon haar mooi help. Jy weet dat ek ongelukkig ’n man van min woorde is. Jy verstaan my, en jy weet ek is oneindig lief vir jou.

Ek mis jou en ek haat die feit dat ek iemand anders se oorlog moet help veg in die lug. Ek is lief vir jou. Die Italiaanse lugmag is baie sterker en soms voel ek asof ek in die middel van ’n oorlog is wat niemand wou gehad het nie.

Ek dink aan julle elke aand voordat ek slaap. Julle gesigte en julle laggende stemme gee my krag om die volgende môre op te kan staan.

My vliegtuig het gister baie skade opgedoen; vandag moet ek weer gaan veg. Daar is nie plaasvervangervliegtuie nie, so ek weet nie hoe vandag gaan verloop nie. God sal my help. Jou gesig en Ferdinand se haasbek-glimlaggie sal my help.

Ek is moedeloos. Ek is bang. Ek wens ek was by julle.

Vanoggend is tot dusver stil, té stil. Al die Suid-Afrikaners hier wag vir die knal van bomme, hulle wag vir die bevel om weer te gaan veg. Hulle verwag ’n groot aanslag.

Ek onthou nog toe jy my gesê het dat jy my altyd sal liefhê. Ek onthou ook die trane in jou groen oë toe ek gekies was om hierheen te kom. Elke keer wanneer ek daaraan dink, vorm ’n knop in my keel. Wat het ek gedoen? Hoekom het ek besluit om hierheen te kom? Hoekom het ek julle gelos?

Vir hierdie vrae het ek geen antwoord nie. Ek het net berou. Ek mis jou nou.

Ek is bang my vliegtuig gaan dit nie maak nie. Ek is bang my moegheid gaan my affekteer. Ek is bang die Italianers is vandag sterker as ek.

Ek voel net dat ek vir jou moet skryf, want vandag mag miskien die laaste keer wees wanneer ek vir jou kan skryf.

Die bevel het so pas deurgekom. Ek moet gaan.

Onthou: Ek is lief vir jou en Ferdinand en sal vir altyd wees.

Met al my liefde
Petrus

Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top