Wenner: My geliefde – Die liefdesbrief

  • 0

(Uit die Khoi vertaal of geparafraseer deur Ollie Olwagen)

 

Langs die Platberg by die See
31 Mei 1665, volgens die wit mense se jaartelling

My liefste, liefste Krotoa (Eva van die Kaap)

Vandag het ek weer gaan soek na jou hartklop tussen die heuningblomme in die strandveld, maar al wat ek daar kon kry, was die grys en leë dreuning van die wilde, wilde see.

Want sedert jy weg is van my en ons mense, Krotoa, is my siel soos ’n verkreupelde bidsprinkaan, weerloos en smekend teen die suidewind wat hom heen en weer pluk op die halms.

Op die strand het ek gekyk na die Eiland van die Robbe, waar jy nou met jou witman-kommandeur Pieter van Meerhoff woon, en die groot verlang wat ineens in my opgestoot het, was byna te erg om te dra.

Ag, Krotoa, my Krotoa, ons was tog so gelukkig, ek en jy vroeër. Ook jou oom, kaptein Herry van die Goringhaikona, het gesê ons pas net so mooi bymekaar soos die sterre van die Suiderkruis, soos die dou en die rosige môrelig, soos die Platberg en sy strome.

Onthou jy, Krotoa, hoe jy daardie dag aan my trou gesweer het juis in die heuningblomme? Die heerlikheid van jou baie-baie-naby-wees sal ek nooit vergeet so lank as ek lewe nie. Hoe skryn dit steeds hier binne-in my om te dink daardie saamwees kan nooit weer wees nie. Dat ek nie naastenby vir jou so belangrik was as jy vir my nie.

Jy het my versaak en al jou mense verlaat, Krotoa, toe jy by die Van Riebeeck-goed gaan woon het. Jou warm, warm hart het bleek en bloedloos geword, net soos die velle van die anderlanders.

Maar ek – ek ’n beesbesitter van die Cochoqua, wat jou met my wou saamneem as my ewige vrou – ek sal nooit kan ophou om vir jou oneindig lief te wees nie. Daarom sal my matjieshuis altyd ongevul bly deur ’n bruid, net soos die blydskap hier in my binnekant nooit weer vervuld kan wees nie.

Ek kan net met my hele hart wens dat jy tog gelukkig sal wees, my dierbaarste Krotoa. Mag daar in jou lewe vorentoe – en in dié van jou nakomelinge – mag daar nooit soveel verdriet wees as wat ek nou ervaar in die donker leegte van die dwaalwind nie.

Jou Gewese Minnaar
wat nou Alleen op die Strande Loop

Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top