My gebeurtenis van die jaar 2022: Inskrywings 1

  • 1
Hoe het jou 2022 gelyk? Wat staan vir jou uit wanneer jy terugkyk oor die jaar wat verby is? Wat was jou gebeurtenis van die jaar?

LitNet het lesers genooi om ons te laat weet en  in aanmerking te kom vir ’n kontantprys van R2 500. Lees hier meer oor die kompetisie. Die kompetisie het op 9 Januarie 2023 gesluit.

Hier is die eerste inskrywings wat ontvang is.


 

Sunita Keyser, afgetrede apteker en boervrou

COP27

groei groei groei
eggo dit van ewenaar tot pool
kap dit uit kap uit kappityt
produseer maak steeds meer
die mens moet leef
wyl by COP27 is koppe bymekaar
word in ontsteltenis geskud
luister luister luister
ons is by die punt van geen beheer
klimaatomkeer
hou julle in
die omgewing voel die seer
afval en emissie
onse aarde is nie ’n asblik nie ...
sou jy dan êrens nog
’n stukkie ongeskonde vind
loop ligvoets suutjies
raak dit saggies aan
hierdie maagdelikheid van ongerep
van soos dit altyd was
waar ewewig
die pendulum tot stilstand dwing
lê laag en luister
hoor die vergete frekwensie
die nano-klankies van
“al die veld is vrolik
al die voëltjies sing”
bewaak die eie aard
die vrye gang van elke dier
ieder skilpad ’n ongemerkte een
teug jou longe vol
die gees vervul
met varsheid nuutgevonde
draai verwonderd terug
met agting
vir elke plant ieder boom
skeur op die roetekaart
sodat die mens
nie hierdie oue orde
ook sal penetreer
vooruitgang dit laat bloei ...

en die COP28 Verenigde Nasies-klimaatberaad
sal in 2023 in Dubai gehou word


 

Louise Vermeulen, tuisteskepper

Verlede jaar het my man, Pieter, begin siek raak. Hy is kort-kort in die hospitaal opgeneem vir longontsteking. Hy is die broodwinner en het dadelik begin werk sodra hy uit die hospitaal ontslaan is. In Augustus 2021 het hy begin bloed hoes en die dokter het gewaarsku dat hy hom sou moes verwys na ’n spesialis. In November kon hy nie langer uitstel nie en is na ’n spesialis in Johannesburg wat CT-skandering gedoen het en wat bevind het daar is ’n kol op sy boonste linkerlonglob. Hy het kanker vermoed, maar ’n longbiopsie moes eers gedoen word. Dinge het vinnig gebeur; ons het van prosedures gehoor waarvan ons niks weet nie. Op 2 Desember 2021 is longkanker gediagnoseer wat nie opereerbaar is nie. 

Ons was platgeslaan – want ’n mens verwag die ergste. Die gewas aan die longpyp (naby die aorta, wat die operasie onmoontlik gemaak het) was maar 0,35 mm groot. Die onkoloog het ons verseker dat ons saam die ding sal kan beveg, maar was ook realisties dat die chemobehandeling ook nié kan werk nie. Ons Kerstyd was maar onseker – my man se eerste behandeling was op 28 Desember 2021. Ons het weekliks 130 kilometer Rustenburg toe gery vir die chemobehandeling. Tussendeur het die broodwinner nog gaan werk. In Februarie 2022 het die daaglikse bestraling begin en ons is weereens gewaarsku dat die bestraling naby die slukpyp sluk en eet onmoontlik sal maak. Hy het gelukkig verblyf by goeie samaritane gekry, want 130 kilometer daagliks was nie moontlik nie. Naweke kon hy huis toe kom en rus. Gelukkig was hospitalisasie nooit nodig nie. Hy het moeilik geëet, maar kon darem bly eet. Finansieel het dit moeilik gegaan, aangesien hy vir ses weke nie kon werk nie. In Mei was hy weer vir ’n CT-skandering wat gewys het die gewas is weg. Dit was soos ’n berg van ons skouers af. Hy moes egter in September 2022 vir ’n intenser skandering gaan net om seker te maak dat die kanker nie versprei het nie. Ons het twee weke vir die uitslag gewag. Dit is gelukkig ook skoon. Dit het ons siening oor die lewe baie verander – baie dinge in die lewe is nou ’n nietigheid. Ons het ook geleer dat die dokter se bevinding nie finaal is nie. Ons gaan 2022 se Kerstyd baie dankbaar en meer positief in. 2022 was ’n lang en onseker maar tog positiewe jaar.


 

Celine du Randt, huismamma

Twintig twee-en-twintig

Ons is amper in die laaste maand van een van die mees uitmergelende jare wat ek nog ooit in my lewe beleef het. Ek dink terug aan Januarie. Ons besigheid begin stadig maar seker optel. Ons probeer nog ons koppe draai om die feit dat ons die laaste drie maande skaars ’n inkomste gehad het. Hoe ons dit oorleef het, verstaan ek nou nog nie.

Party mense sal sê dis God. “Hy het julle gedra.”

Aan die begin van die jaar was ek Celine. Aan die einde van die jaar voel ek nie meer soos sy nie. Nee. Ek het ’n diagnose gekry. “Jy het outisme.” Wat!? Ek – ’n 31 jarige vrou – is outisties? Wel, dit verduidelik baie. Die diagnose was ’n verligting, tog ook ’n dolk deur my hart. Om as ’n ongediagnoseerde outistiese kind die lewe deur te battle, is traumatising. Jy leer net hoeveel mense jou misbruik het deur jou lewe. Jy besef dat die “gewone” wêreld nie gemaak is vir iemand wie se brein ’n bietjie anders dink nie. Jy besef net hoeveel stigma daar is. Jy leer hoeveel van jou familie en vriende waarlik omgee (daai nommer is maar skrams).

Toe ek 16 jaar oud was, het daar ’n wit-en-swart kat in my lewe in geduik. Ek het hom Kwazimoto gedoop. ’n Kleurvolle seuntjiekat wat my lewe verryk het. Ek het hom in 2022 verloor. My ou man is weggevat net voor hy 17 geword het. In my arms het sy lyfie swaar geword. Ek het my nat gesig in sy warm sagte magie in gedruk en hom vir oulaas gegroet.

Dit is veilig om te sê dat hierdie jaar álles uit my uit gevat het. Ontelbare kere waar ek net nie meer wou nie. Menigte male waar ek gesoek het op die internet: “How much paracetamol do I need to take to end my life?” Heel duidelik het my pogings misluk. Alhoewel ek so graag wou opgee, was die luuksheid nie vir my nie.

’n Ander naam wat ek bevoorreg is om te dra, is “Mamma”. Twee wonderlike kinders deel hulle lewens met my. Die kere wat ek net wou opgee, het hulle pragtige gesiggies in my gedagtes geflikker.

Elke dag staan ek weer op. Elke dag besluit ek om nie op te gee nie. Ek het nie daardie luuksheid nie.


 

Samantha Compton, Transkripsiewerker

My gebeurtenis van die jaar was toe my mamma (wat 60 jaar oud is) geval het en haar arm gebreek het. Sy het op ons stoep geval en haar linkerarm gebreek. Dit was in Maart en sy kan steeds nie haar arm goed gebruik nie. Dit het my hele jaar op die kop gesit en ’n klomp geld gebruik. Ek het tyd af by die werk geneem om vir haar te sorg. Ek is baie bly dat ek hier was om my mamma te help, maar dit was baie werk vir al twee van ons. En nou het ons niks geld vir Kersfees nie, maar dit was die moeite werd om vir haar te help.


 

Marthé Rossouw, student (BCom Internasionale Besigheid, Universiteit Stellenbosch)

My gebeurtenis van die jaar 2022

Dit was ’n doodgewone Woensdag-winteroggend en behoort nie juis onthou te word nie, maar tog ook die dag waarop ons uit ’n vreemde wetenskapfiksiewêreld kon ontsnap. Werklik, op 23 Junie 2022 kon jy uitgaan en jou longe diep met vars lug volmaak en selfvoldaan vir jou buurvrou glimlag. Wat ’n vreemde gevoel was dit nie om weer vir die eerste keer te gaan inkopies doen en die mense van die dorp te sien en te herken nie. Om na hul gesigte te kyk en net te wéét dat dit ’n goeie dag is. Die verandering was dalk nie so aardskuddend soos toe die nasionale grendeltydperk in 2020 onthef was nie, maar die impak was verbasend en die insig in verhoudings wat daaruit spruit selfs meer. Om – wettiglik! – sonder ’n masker te kon rondloop was ’n voorreg en het emosies getoon waarvan ons na ’n jaar en ’n half byna nie meer bewus was nie. Ek het nie besef watter verskil jou glimlag versteek agter ’n masker kon maak nie. Ons emosies was van mekaar weggesteek en stadig maar seker het elkeen meer in sy eie dop gekruip. Op daardie Woensdagoggend kon dit verander. Ons het mekaar in die oë gekyk en begin om weer op verhoudings, liggaamstaal en gesigsuitdrukkings te fokus. Ons kon weer leef. Ek moes ’n lelike toets by die universiteit gaan afhandel, maar selfs met al my stres kon ek vrylik asemhaal in die lokaal. Ek het hier en daar myself ’n breuk van die Ekonomie-vraestel gegun en bietjie in die lokaal rondgekyk. Ek kon sien wie sukkel en wie vol selfvertroue die toets aanpak. Ek het vir die toesighouers geglimlag as hul my betrap dat ek nuuskierig rondkyk, want hulle moet net nie dink ek kyk af nie. Hulle is dan half onkant gevang asof hulle verwag ek sou hulle nie sien nie, maar ek het. Dan glimlag hulle terug en kan ek in vrede afkyk en weer aangaan met alles oor vraag en aanbod. Vraag en aanbod. Frons en iemand verduidelik, glimlag en iemand voel beter, gluur en almal kruip weg. Ten minste weet ons nou wanneer reaksies nodig is. Ten minste reageer ons nou op mekaar. Ten minste leef ons nou weer saam. En dit was werklik minder alleen en afgesonder – selfs tydens ’n gevreesde Ekonomie-vraestel. Dit was ’n goeie dag.


 

Sonja Pienaar, eiendomsagent

Vandag was ek in die hemel. Het my jongdae-gunsteling weer in persoon gaan belewe. Vir die eerste keer eintlik in persoon. Die Waterboys. My vriendin Sam Savage kan nie verstaan hoekom die hoofsanger se stem na al hierdie jare, hope jare, nog so klink soos die eerste dag wat hy sy eerste liedjie gesing het nie. Oefening is al; wil jy iets vars hou, dan oefen jy dit. Ek het begin swem, want ek het lelik begin oud raak. Nou reverse ek dit, met onmiddellike effek.

Ja, daar sit ek toe, soos die Queen of Sheba in so ’n heerlike gemaklike kampstoeltjie en beloer die scene reg om my. Jou rockhelde, waaroor jy gedrool het, het almal nekplooie. Hulle is maar meestal oud, jy ook. Ons is almal oud; niemand wat oud is, is dood nie. Nog nie.

Ook besef ek, ’n mens het nodig om na konserte te gaan. Net om in te pas. Om een van ’n crowd van like-minded mense te wees. Al die ou swartskape bymekaar. Onder die Afrikason, met ’n plastiekglas yskoue Castle Lite in jou hand om jou niere te suiwer.

Jou siel te suiwer en na die mooiste gedigte, getoonset en gesing deur die suiwerste stem, te luister. Om so teruggeruk te raak na jou jeug, hou jou jonk. Van die tannie met die pers outfit en tekkies en pers hare wat dans heel voor wat vergeet sy is eintlik 70, tot jy wat luister na “This is the Sea” van die Waterboys en in jou brein se oog staan jy weer daar. Op jou woonstel se balkon, 23 jaar oud, in Port Alfred. Jy kyk na die riviermond en luister kliphard na “This is the Sea”, en jy voel niks anderste as jonk nie.


 

Chestlyn Draghoender, Projekbestuurder @ Community Council

Ongetiteld

My skryfwêk het heelwat improve, sien dat ek soe byrie wieklikse nuusbrief betrokke is: Ek’ ni eens gewiet Ravensmead het sy eie mini-koerantjie nie, en hie is ek nou di projekhoof. 

Ek skryf meestal oo social ills en doen interviews met my mense. Anne projekte wat my biesag hou slyt di gemeenskapstuin en di sopkombuis in. 

Virri laaste vier maane doen ek maa wat ek moet om te kom waa ek wil wies. Ek hou my ore oep en my mond toe. Ek lee oek ’n klomp interessante goed, soes om expert research te doen of om voor ’n kamera te staan en praat. 

Maa dinge wassi altyd soe nie ... Sal djy nou sê ek het vroeg in Januarie my ouma anni dood afgestaan?

Nietemin, AVBOB Poetry was oek gaaf genoeg om een van my poems virrie sesde nasionale kompetisie in te skryf – ’n puik prestasie as djy my vra! En soe eindig ek alwee my jaar oppe mooi noot en kannik di nuwe jaa met confidence ingan.


 

Barend van der Merwe, argiefassistent

Die jaar 2022 was gekenmerk aan verskeie historiese gebeure, maar een gebeurtenis wat my egter in die besonder sal bybly, was die viering van internasionale museumdag deur die Afrikaanse Taalmonument en -museum op 28 Mei in die Paarl. Die belangstelling was groot veral omdat daar vooraf aangekondig is dat daar tydens die geleentheid ’n gesprek rondom die moontlike naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument sou plaasvind. Die hoofspreker van die verrigtinge was Beverley Thomas, die direkteur van Amazwi, die letterkundemuseum wat voorheen bekendgestaan het as NELM (die National English Literature Museum). Die laaste keer wat ek in ’n kerk was, was in Februarie 2018 toe my pa begrawe is, maar dit was vir my amper ’n heilige oomblik toe Thomas haar Engelse rede eindig met die Afrikaanse gedig “Ma, imagine net” van Clinton V du Plessis:

“Sê nou net jy kon lees, ma
dink net,
dan kon jy met my bundels in die
son sit en spog
‘dié het my laaitie self geskryf,
ek wonder waar kry hy die talent,
aard seker na sy pa – baie gedink’.”

Die saaltjie was gepak en daar was selfs mense van so ver as Mpumalanga, een met ’n “Boer lives matter”-top aan. Ek het gevrees hier gaan dalk plek-plek ’n ingesteldheid van “praat Afrikaans of hou jou bek” deurslaan, maar toe nie. Die meeste van die reaksies van die vloer af tydens die debat wat gevolg het, was grotendeels emosiebelaaide besinninge oor Afrikaans. Weinig daarvan was sinvol, en dit was duidelik dat baie mense sukkel om te onderskei tussen Afrikaans en die Afrikaanse Taalmuseum. Dr Connie Mulder het op die belangrikheid van hierdie onderskeid gewys, en met sy uitgebreide ervaring as politikus het hy besondere sinvolle insette gelewer. Danie van Wyk van die DAK-netwerk was ’n ander spreker wat ook sterk argumente gevoer het en gewys het op die bekwame wyse waarop die taalmonument bestuur word. Een van die ander sprekers wat ook ’n indrukwekkende bydrae gelewer het, was Gerhard Pretorius van die FAK. Pretorius het onder meer aangehaal uit die roerende aanhef van Suid-Afrika se Erfeniswet, en aangevoer dat die regering nie met die erfenis vertrou kan word nie en dit trouens doelbewus probeer ondermyn. Miskien het die emosies tog ’n impak gehad; die idee om die naam te verander is laat vaar, maar die feit dat daar maar min jongmense was, vertel ook dalk ’n storie in eie reg.


 

Wilmari Marx

Oorwinning

Die Here het altyd geweet,
Al het ek dit soms vergeet

Die regte engele het Hy gestuur
Die regte tyd, die regte uur!

Met ongefiltreerde woorde
Omgeestemme in akkoorde

Nog nooit so alleen gevoel
’n Battle hier in my binneste wat woel

Skielik het die antwoord gekom
Die Heer het my weereens verstom

Sy hand het my kom dra
My trane laat kom wat ek so lank al voor vra

Die dag as jou hart oor sy eie ritme val
Jou kop verlore is na die laaste groot knal.

Het Hy my onthou ek mag maar huil,
Ek mag maar treur

Die dag is myne, my oomblik is nou
Hy het my gewys dat niks my in twee kan vou!

Al is die lewe soms vol fyn draadwerk
Nooit moet jy vergeet, orals los jy jou merk!

Hy is altyd daar,
Dra saam aan die swaar

Dankie Here vir wat U doen
Dankbaar vir al die ondersteuning deur my winterseisoen!

  • 1

Kommentaar

  • Die ou liberalis Vannemerwe skryf oor "Connie Mulder" terwyl hy eintlik bedoel "Corné" Mulder. Connie Mulder was natuurlik Corné Mulder se vader, wat ook politikus was in die vorige millenium.

    Verskoon tog maar vir Vannemerwe, die klomp liberale is nou maar eenmaal heeltemal kloelis as dit kom by politieke sake.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top