My fok, George

  • 0

Foto: Unsplash.com

My fok, George

Dit is ’n soel oggend in Bryntirion. Oggenddou ontsnap in wasemrige walms vanuit die gemanikuurde grasperk van die presidensiële landgoed. In die knus studeerkamer het die staatsleier so pas stelling agter sy lessenaar ingeneem. Buitekant woer die enorme kragopwekker rustig voort. Hy glimlag vir sy sekretaris wat oorkant hom met ’n dagboek in die hand staan. ’n Goue pen sweefhang oor die bladsye.

“Wat doen ons vandag, George?”

Fronsend lees die sekretaris deur die inhoud voor hom.

“Ons begin vanoggend met die eerste samekoms van die krisisraad, Meneer.”

“Ja, ja,” antwoord die staatshoof terwyl hy sy kennebak nadenkend streel. “Die krisisraad van die ...”

“Wat voortspruit uit die beheerraad, my Heer.”

“Wat nou weer die …”

“Die komitee beheer.”

“O, definitief,” antwoord die staatshoof. “Die komitee van die ...”

“Die kommissie, Meneer die president.”

“Ag, natuurlik. Die kommissie oor die ...”

“Die indaba, my Heer.”

“Ah, die indaba! Amper vergeet ek daarvan. Die indaba oor die ...”

Ietwat onvas verwissel die sekretaris sy gewig van die een voet na die ander terwyl die staatshoof hom vraend aankyk.

“Die vorige beraadslaging?”

“Natuurlik.”

Stilte volg.

“Hierdie ... hierdie beraadslaging?” vra die president uiteindelik.

“Ja?”

“Dit was mos oor die ...”

“Die krisis,” antwoord die sekretaris met potlooddun lippe.

“Ja, die krisis!” sê die president en staan uit sy stoel op. Peinsend stap hy tot by die venster. Woordeloos, en met sy hande agter sy rug vervleg, staar hy vir die swaeltjies wat buitekant op die nat gras rondwip terwyl swart rook in die verte vanuit die kragopwekker borrel.

“Meneer?” vra die sekretaris, onseker as sy baas hom nie verder uitvra nie.

“Hierdie krisis, George ...” sê die president ingedagte. “Hierdie krisis moet aangespreek word.”

“Dit moet, my Heer.”

Die president swaai op sy haak om.

“Het jy die notules van die beraad?”

“Die beraad?”

“Ja, die een ná die indaba?”

“Nie hier by my nie,” antwoord George.

“En die kommissie se bevindinge?”

“Ek is seker dit was saam met die agenda.” Hy vroetel deur die dagboek. “Of dalk in die persverklaring van die indaba daarna? Miskien het die komitee dit.”

“Dalk moet ons die kommissie skakel om duidelikheid te kry. Wat dink jy, George?”

“Of dalk ’n vergadering reël, my Heer?”

“Met wie?”

“Die partye, Meneer die president?” antwoord die sekretaris ietwat oorbluf.

“Wat het hulle voorheen te sê gehad?”

George soek weer deur die dagboek wat duimdikte en swaar op sy handpalm rus.

“Jou adjunk het enkele voorstelle gehad.”

“En dit was?”

“Verban rook. ’n Aandklokreël. Die opheffing van die verkoop van pantyhose.”

“Het die komitee met haar saamgestem?”

“Nie die komitee nie. Die kommissie wel.”

“En die raad?”

“Ek sal moet uitvind, my Heer. Die indaba kon nie kworum bereik nie.”

Kennend en met groot insig knik die staatshoof sy kop. Dan vind die president se wysvinger en duim weer sy kennebak.

“Ja, ja, vind vir ons uit. Of reël ’n groot samekoms dat ons almal dit kan bespreek. Ná alles is dit ’n krisis, jy weet.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top