My broer Japie

  • 4

Foto: Canva.com

My broer Japie

Dit is die laaste periode van die dag in die standerdseweklas. Pythagoras se stelling is reeds oor en oor verduidelik – hopelik tot almal se bevrediging. En vandag word daar ’n paar meetkundeprobleme gebaseer op dié stelling in die klas gedoen. Die leerlinge is opgewonde oor al die toepassingsmoontlikhede.

My gedagtes dwaal na Japie. Ek wonder of hy weer vandag daar onder staan. Ek het hom al menigmaal daar gaan oplaai en huis toe geneem. Dan het hy geëet, homself versorg, net ’n paar dae gebly en is dan maar weer vort.

Japie is omtrent vier jaar ouer as ek, so vyf-en-twintig. Hy was ’n aantreklike jongman op sy dag. As derde oudste van ons ses kinders was hy baie beskermend teenoor ons jongeres: ek, die tweede jongste, my suster, wat twee jaar ouer as ek is, en my jonger broer.

Voor die klok lui vir die einde vir die skooldag net weer ’n laaste aankondiging vir die klas: “Reg, klas, die probleme waarby ons nie uitgekom het nie, is vir huiswerk. Môre sal ek geleentheid gee vir diegene wat die moed het om hul oplossings voor die klas op die bord te kom doen.”

Daarop word die klas verdaag.

Ek sal weer in die hoofpad af ry tot daar heel onder waar die pad ’n T-aansluiting maak met die verbypad. ’n Mens kan daardie omgewing die sentrale sakekern noem – immers van diegene duskant die spoorlyn. Aan die ander kant van die spoorlyn is die wit gebied met die werklike sentrale sakekern. Die hoek by die T-aansluiting word sommer in die volksmond Gabby’s Corner genoem – so vernoem na die winkel daar. Aan die een kant hoop ek ek vind nie vir Japie daar nie; aan die ander kant, as hy nie daar is nie en ook nie by die huis nie, sal dit weer ’n nuwe onrustigheid in my gemoed ontketen.

Toe Japie nog nie afgedwaal het en hom by die groep haweloses aangesluit het nie, was hy ’n bron van plesier in ons huishouding. Snaaks genoeg was hy die enigste kind wat in sy volwasse jare vir ons pa “Pa” begin sê het. Ons ander het “Derra” bly sê. Vir my het hy Djig genoem, en soms spottenderwys Bene. As kind was ek glo baie maer.

Dit was ook Japie wat my en my suster vir die eerste keer aan die bioskoop blootgestel het toe ons nog op laerskool was.

“Dit is ’n Bybelprent wat speel. Ek sal sê ons gaan na ons tante toe. Mamma en Derra sal nie vir ons kwaad wees nie,” het Japie verduidelik.

Die prent was Ben-Hur. Charlton Heston was Ben-Hur, oftewel Judah Ben-Hur. Die prent was nagenoeg drie ure lank en het dele van Jesus se aardse lewe bevat. Halfpad deur die prent is daar onderbreek vir interval. Dan kon die fliekgangers ’n bietjie bene rek en ’n verversing koop. Japie het vir ons tjips gekoop. Na interval is die ligte weer uitgedoof om die tweede helfte van die prent te vertoon. Ons het dit geniet.

By die huis het ons vir Mamma en Derra van ons ekskursie vertel. Watter storietjie Japie opgemaak oor waarom ons in die bioskoop beland het, was sy geheim. Hoe dit ook al sy, in ons kinderlike opgewondenheid het ons ons ouers van die prent vertel, maar merendeels uitgebrei oor die gedeeltes van Jesus se kruisiging. Ons ouers, wat gelowige mense was, kon nie vir ons kwaad raak nie, al wou hulle. Japie is net ernstig vermaan om nooit weer so onder valse voorwendsels vir ons bioskoop toe te neem nie.

Gabby’s Corner was die bymekaarkomplek van ’n groepie haweloses. Daar het hulle gewoonlik gebedel vir geld en kos, en hulself aan drank verslaaf. As hulle nie drank kon koop nie, het hulle hulself tot brandspiritus gewend. Vandaar dat mense na hulle as spiritusdrinkers verwys het. Dit is waarheen Japie sy toevlug geneem het toe hy nie meer gelukkig in die ouerhuis gevoel het nie. Hy het ’n spiritusdrinker geword.

Dit sal nie die eerste keer wees dat ek vir Japie oplaai en huis toe neem nie. Soms het hy gewillig saamgery, ander kere was hy stram.

Geeneen van ons kinders is ooit die huis belet nie – ook nie Japie nie. Die orde van die dag soos in menige huishouding van die tyd was: As jy nie meer wil skoolgaan nie, moet jy gaan werk; as jy nie werk nie, kan jy nie eet nie. As jy wel werk het maar nie geld afgee nie, kan jy ook nie eet nie. My pa was baie gesteld daarop. My ouer broer se werkery was later jare maar ’n aan-en-af-storie. So ook hul bydrae tot die huishouding. In haar moederhart kon my ma nooit toesien hoe haar kinders kos geweier word nie. Dus het sy maar altyd skelmpies kos gegee. Gedurende die week sal my pa nie veel praat nie. Dalk net binnesmonds mompel of teenoor my ma in die slaapkamer sy ontevredenheid te kenne gee. Naweke was dit ’n ander storie. Dan het my pa die skuldiges hardop en direk aangespreek.

My ma se skelm kosgee-ery het dikwels spanning en wrywing tussen my ma en my pa veroorsaak. Die aanspreek en onsmaaklikheid het my ouer broer egter nie veel gepla nie. Hulle het net gesorg dat hulle so ver moontlik uit my pa se gesigsveld uit bly. Maar met Japie was dit anders. Hy het alles ter harte geneem. My pa se aanspreek het hom diep ongelukkig gemaak. Toe hy nie meer die verwyte en onsmaaklikheid in die huis kon verduur nie, het hy hom tot die strate gewend. Daar het hy baie gou ’n groepie gekry by wie hy hom kon aansluit.

Eendag in die winter het Japie koud en nat uit eie beweging by die huis aangekom. Maar hy was nie alleen nie. Daar was ’n vrou saam met hom. My ma het toegesien dat Japie en sy metgesel hulself versorg, droë klere aantrek, en vir hulle kos gegee om te eet. Toe dit slaaptyd raak, het my ma vir Japie ’n slaapplek in die kamer berei, en vir die vrou ’n kooitjie in die kombuis gereedgemaak. Japie was nie tevrede nie.

“Ek wil by my vrou slaap, Mamma,” het hy gesê.

“Maar Japie, julle is mos nie getroud nie. Dis sonde. Ek kan nie toelaat dat jy onder ons dak sonde doen nie. Ons het jou mos nie so grootgemaak nie. As julle nie getroud is nie, kan julle nie saamslaap nie,” het my ma volgehou.

“Dan slaap ek en sy maar buite.”

Japie het die kooigoed geneem en vir hom en sy “vrou” buite onder die afdakkie ’n slaapplek berei en daar gaan slaap – die koue en die reën ten spyt. Die volgende oggend vroeg is Japie en sy “vrou” weer vort.

Japie se optrede van daardie aand het my diep ontroer. Terselfdertyd kon ek dit nie verhelp om hom heimlik te bewonder nie. Hy was bereid om sy warm slaapplek binne die huis prys te gee en die koue te trotseer om saam met die vrou aan wie hy gewoond en geheg geraak het te slaap – soos wat hulle daaraan gewoond is daar waar hulle ook al saans hul koppe neerlê.

Ek stop by Gabby’s Corner aan die oorkant van die pad. Op die hoek staan die groepie haweloses. Hulle sien verwaarloos en beteuterd daaruit. Ek klim uit en wink na die groepie. Iemand wat die motor herken vestig Japie se aandag op my. Vol verwagting kom hy nader. Ek klim uit.

“Hallo, Bene. Ek is bly om jou te sien, man. Help my met ’n brood se geld.”

“Middag, Japie. Hoe gaan dit hier? Ek het jou kom haal. Jy moet huis toe kom.”

“Nei man, Pa is te kak.”

“Derra sal nie weer so kwaai wees nie, man,” probeer ek hom gerusstel. “Mamma het mooi met Derra gepraat. Ons wil almal hê jy moet huis toe kom.”

“Nee man, Bene. Jy sê nou so. Maar dis net ’n paar dae dan begin Pa weer kerm oor werk en geld. En jy weet ’n man kry nie sommer werk nie.”

“Japie, kom huis toe. Alles sal regkom. Jy sal sien,” probeer ek ’n laaste poging aanwend. Maar tevergeefs.

Ek koop vir Japie die brood en gee hom ook ’n paar sente. Toe is ek daar weg. Japie wou nie huis toe gaan nie.

 

’n Paar maande later is ek getroud en woon saam met my vrou by my tante in ’n kamer.

Een Sondagoggend vroeg roep een van my niggies na my in die huis.

“Jan, hier is iemand vir jou by die hekkie. Dis ’n vrou. Sy vra of jy hier woon. Sy sê iets van Japie.”

Ek is dadelik buite. By die hekkie herken ek die vrou wat daai aand saam met Japie by die huis aangekom het. Sy herken my – seker ook oor die kere wat ek vir Japie by Gabby’s Corner kom soek het.

“Meneer,” sê sy, “Meneer moet dadelik kom. Japie is dood.”

“Dood? Hoe bedoel jy? Wat het gebeur?”

“Ek weet nie, Meneer. Toe ek vanoggend wakker word, toe lê Japie stokstyf langs my. Die antie daar naby het die poeliese gebel. Toe kom haal hulle vir Japie.”

“Dankie dat jy kom sê het.”

Intussen het die res van my tante se huishouding kom aansluit en die gesprek aangeluister. Ek maak verskoning by die huismense en sê dat ek moet gaan kyk wat aangaan.

“Kom,” sê ek vir die vrou. “Daar is net een plek waarheen ons nou moet gaan.”

By die lykshuis word ek toegelaat om in te gaan. Ek trap versigtig tussen die lyke deur op soek na Japie. Die uitkenning duur nie lank nie. Die doodsertifikaat sê iets van hartversaking weens blootstelling.

Die hartseer werklikheid dring tot my deur: Japie het in die nag in die oop veld onder die sterrehemel gesterf.

  • 4

Kommentaar

  • Hilton Lawrence

    Jan Daniels, baie goed verwoord en neergepen. Aan al die baie "Japies" wat nog steeds daar buite onder 'n oop hemelruim is, mag julle sommer baie gou en permanent met julle gesinne en families, wat begeesterend uitsien na julle tuiskoms, herenig word.

  • Baie dankie, Hilton. Ek het net gevoel hierdie ervaring moet gedeel word. Mag dit ook ander lesers so ontroer dat hul nooit sal opgee om hul afgedwaalde geliefdes met hulle te herenig nie.

  • Baie goed geskryf. Ek hou van die beweging tussen die huidige en die verlede. As ek dit lees voel dit dat jou geduld met Japie toegeskryf kan word aan die feit dat jy eerder gebore is as so ’n mens, of omdat jy die goeie dae onthou met Japie voor hy sy koers verander het. Die artikel laat mens voel vir Japie en ander net soos hy ... Mens begin wonder hoekom mense wegloop en eerder op straat wil bly of net aan drank verslaaf wil wees. Die noem dat dinge hom hard pla as daar onenigheid is, gee ’n goeie insig waarom sekere na iets hunker wat die pyn of sleg voel verdoof. Die einde met sy dood is vir my ’n bietjie skielik afgerond. Dit voel so vinnig. Sou wou hê dit moet meer emosies by my as leser uitlok.

  • Dankie, Samantha. Ek is bly die verhaal wat 'n greep uit my lewe is, het jou ontroer. Jammer vir die abrupte einde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top