
Foto: Canva
MUSE
as ek in my opkyk die suikerbosvoël sien
hang aan ’n telefoondraad
en besef sy gee nie om oor vandag nie
gee ek ook nie om nie
gooi krummels uit op die gras
water in die voëltjiebad
en hou haar dop die skaamtelose flerrie
wat flagrant dartel om ander genote
pierewaaiers wat dink hul is aantreklik
lang manelle op die grond
ek gee nie om vir vandag nie
gaan tee drink en ligsinnige verse skryf
alles ignoreer wat pieng en klop
in my kop in my ore
die oorvloed stemme van karakters
wat aan ’n deur bly skop
kyk! daar dip sy haar snawel
teug nektar uit ʼn blom
en flets weg teen die son
ek? ek gooi my lyf oor ’n stoel
donkerbril op arms in die son
sy weet min wat my makeer
en sy gee ook nie om nie
blerts daagliks op my stoep
sy hou my besig
solank ek net nie hoef te skryf nie


Kommentaar
Pragtig!
Daar’s hy! Hou aan liefSus! Jy kon nog altyd skryf en dig.