Mundino

  • 0

Mens kry, as jy iemand ontmoet, net daardie gevoel dat jy 'n vriend hier het. Sonder om een woord te spreek. Iemand het nie nodig om vir jou te sê hy is eerlik nie. Want as hy dit vir jou sê dan is hy vir my waar ons banke, ons media, politici en dies meer is. Mundino het net my hand gevat toe hy my sien. Dit was genoeg.

Hy het my al probeer beduie van waar spesifiek hy kom maar ek weet net dit is Ethiopië. Ons praat nie oor sy land nie en ons praat nie godsdiens nie. Beide gaan ons op plekke bring waar hierdie land vir jare al sit en krepeer. Ons praat mekaar. Ons praat besigheid. Ek onthou, jare terug, toe hy hier ingestap gekom het en my pap hand groet op soek na 'n yskas hoe ek sy hand te hard gevat het tot ek moes agterkom hoekom hy my met 'n sagte hand groet. 

Want sien, hy het net hier aangekom en doer by die Ses het hy 'n shack gehuur by 'n plakker van die Oos-Kaap af. Of liewer, die voorkant van die shack. Shack-eienaar het, noudat hy sy shack opgeslaan het op verniet grond en sy krag onwettig aangesit het gesien hy kan lê en versleg in sy drie by drie meter krot genoeg inkomste verdien om heeldag te lê en niks doen en weekliks of maandeliks bande te brand vir gratis krag. Ek het Mundino by sy shack-winkeltjie besoek en gesien die man het 'n plan. Skewe pine-planke het hy sommer gou geruit gespyker, geverf en sentvloer ingesit. Hy bied my uit sy armoedige bestaan 'n Coke aan en ek weier en hy dring aan en ek sluk die ding al is daar nie KWV in nie. Ek beduie hom ek drink nou deesdae net coke as daar alkohol in is en hy bied my sowaar 'n pienk melkie aan. 

Synde hy Moslem is mag ek nie drink nie al bring ek my eie dop. Toe sluk ek maar tot die Coke te louwarm is vir genot. 

Buitelandse winkeleienaars kan jy ken aan hul bakkies. Nee, nie gesigte-bakkies nie, bakkies wat hul ry. As hulle nuut hier aangekom het dan is dit Ford Bantam, met canopy op. Dan Ford Courier met canopy op. Dan sien jy die canopy raak groter en dan vorder hulle na die Vito of daardie Europese Peugeot. Mundino het maar gehou by sy Ford Bantam. 

Dit was nie lank nie toe hy hier instap en beduie hy het nou nog 'n winkel oopgemaak en hy is besig om 'n karwas te koop. Ek beduie hom dat hy moet wag, want met 'n karwas koop jy basies net ou stofsuiers en hy beduie dat hy klaar vir die witman deposito gegee het. Ek loop kyk en sien die bliksem het hom vir 'n Jannie gevat, want hier’s net 'n waterkraan en afgeleefde masjiene. Ek beduie van prosedeer en hy wys my die waarheid dat hy pikgietswart is in 'n DA-wêreld en ek beduie dat ons masjiene sal kry. 

Mundino stop anderdag hier met 'n blinknuwe Volkswagen Kombi. Nuut tweedehands gekoop by 'n werfetter handelaar wat wel 'n maand waarborg gee as die hof dit beveel. Beduie dat die karwas nou begin geld maak. Die winkel doen goed en ons moet nuwe stock en toerusting kry, want hy het 'n familielid wat kan oorkom, want niemand op hierdie aarde vertrou enige Suid-Afrikaner nie. Ons lag want twee dinge wat ons gemeen het is ons wantroue in Suid-Afrikaners en as hulle sê hulle lieg nie nou nie.

Ek hoor vanoggend Mundino is geskiet. Gewapende roof. Lê in een van Oesterland se hellholes wat die Wes-Kaap se regime hospitale noem. 

Vat vir hom 'n pienk melkie en 'n Aëro ... Want hy's Moslem en hulle eet snaakser as ons. Hy vat my hand en ek beduie dat ons probeer en ons nie is soos die bliksems rondom ons nie. Ek vir een is gatvol vir geweldenaars en werfetters en die spul konte wat hulle arms sterk maak met elke verkiesing en op die JSE. Hy verstaan nie wat ek beduie nie en vra hoe dit gaan by die besigheid. 

Die wittes kyk my aan asof ek melaats is oor my pikgietswart Moslem-vriend en vir die soveelste keer is ek dankbaar dat ek melaats is. 

oester

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top