Muiter aan boord RMS Exempli Gratia

  • 0

Foto: Pixabay.com

Iewers in ’n uithoek van hierdie land lê die nanag se oorskot met gebarste binnegoed op die versengende droë middaghitte en wag. Oorkant die bouvallige sokkerstadion kon ’n brandmaer straatbrak dalk die middel haal, en ’n verminkte, harige affêrinkie – danksy ’n wanhopige sprong – selfs die oorkant. ’n Gesette ou vrou, bont kopdoek en wit voorskoot, sal vroegoggend stoffies met ’n grasbesempie oor die kaal sypaadjie buite haar huis begin opjaag. Plek-plek sal smeulende hopies blare, rommel en rubber se rook met die alomteenwoordige rooi poeierstof vermeng om smorend bo ’n ongelyk wêreld te bly hang. ’n Afgeleefde bakkie sal aankruie oor ’n spoedwal, onverwags die straat kruis, halflyf oor die sypaadjie parkeer en onverklaarbaar begin toet.

Ek weet dit.

*

Die langverwagte prinsipaal se titel sal voortaan “uitvoerende hoof (executive head) heet, het strategies-geplaaste baniere aangekondig. Wit markiestente i’s vroeg die vorige week reeds opgeslaan en belanghebbendes na die stuurman se inhuldiging genooi: stamhoof, pastoor, voorsitter en eienaar van die skool (doctor), direksielede, ouers en kinders. Die te waterlating is swierig gevier.

Reusagtige kospotte het vroegdag vertroostend begin prut, koeldrank is yskoud uit staalbaddens bedien en lofprysing het in die vertes oor skroppende hoendertjies teen die koppe weergalm. Pastoor het met die nodige élan voorspel dat nie ’n enkele kind in hierdie skool sal druip nie. Een na die ander het sprekers agter die mikrofoon ingeskuif. Tradisie (en protokol, het die doctor verklaar) dikteer dat die vorige skoolhoof (interim head) ook hartlik vir haar harde werk bedank moet word. Tydens háár spreekbeurt het sy skewekop geprewel, binnensmonds gemompel en afwesig na haar voete in haar goue sandale gestaar. Toe gaan plof sy aangedaan in haar stoel neer.

Máár onthou net, het ’n direksielid later oor ’n opgehoopte bord kos terloops vir my geglimlag, kinders is oulik en die toekoms en alles is goed en wel, maar dis hoog tyd dat hy wins sien. Hoe meer dinge verander, sê hulle, hoe meer bly dit dieselfde. En alles wat was, sal weer wees.

Amen.

*

“We have to turn this ship around,” het die uitvoerende hoof met presiese panache tydens een van vele werksessies benadruk en die skip se nuwe koers geolie uitgestippel. ’n Gedeelde missie. Die interim head het dikmond toegekyk; sy het die executive head met broeiende agterdog bejeën. Bundeltjies dokumente is uitgedeel: 16 Habits of mind, Growth mindset, Teaching higher order thinking. Ensovoorts. Kollegas, daar is rede tot kommer: Sweedse kindertjies loop los voor. Ons is myle agter. In Swede assesseer hulle nie onnodig nie en onderwysers verdien net soveel soos die regters. “You can’t fatten a cow by weighing it,” het iemand filosofies opgemerk. “Praise Jesus,” ’n ander, die onderwys ís waarlik ’n professie. Net daar, tóé, aan die begin van die tweede termyn, het ’n opgewondenheid in die personeelkamer posgevat. Dit het selfs begin reën ‒ ’n gewisse teken van ’n koersvaste, voorspoedige reis. Wiskundiges het fluks probeer bereken hoeveel water verlore gaan omdat die geute nie in tenks inloop nie en dít sal stop, is plegtig onderneem. Die slagspreuk “’n honderd persent wedersydse respek ten alle tye” is gebaar, omarm en as mantra aangeneem.

’n Vars bries van verandering het kom lawe.

*

Nie lank daarna nie het die wind koud gedraai, kan ek onthou – dit was ’n onstuimige dag op die oop see.

“Oukei ...” nou effens op die agtervoet, “die verandering aan die rooster, ekstra na-uurse vergaderings en langer ure is bloot ’n tydelike maatreël ... tot ek hierdie skip omgedraai het.” Weer meer in beheer: “Kyk ... niemand sal summier ontslaan word nie, nie nou al nie, maar as jy ons gedeelde visie ... nie deel nie ... as jy nie inskakel nie ... dan is dit dalk eerder tyd vir jou om aan te beweeg – shape up or ship out. I expect everyone to be on board.”

Skeepsreg.

*

Een oggend is die pad skielik verlate, maar dít gebeur nie volkome onverwags nie. Die vorige termyn was daar óók so ’n onaardige stilte, maar het die verhuurder my betyds teen die dreigende opmars gewaarsku. Ongelukkig het ons verhouding intussen versuur en soek ek dringend nuwe blyplek. Die twis het ontstaan toe ek daarop aangedring het dat vele gebreke (geiser, yskas, vensters, watertoevoer – dis ’n lang lys) onmiddellik herstel word. “Jy is inkompetent!” het ek geskel. “Don’t think you can speak to me like that just because you are white!” het sy teruggekap. Anders as wat protokol vereis, is daar nie formeel aan die einde van die gesprek gegroet nie. Jy betaal ieder geval te duur aan huur, het my kollegas my verseker: “It’s because you are white.”

*

“Hey uMlungu!” roep een van ’n groepie skoolkinders en slenter laggend aan: selfone, oorfone, langbroeke te kort, wit kouse hoog opgetrek en hemde wat uithang. Die kinders neul dikwels hulle is honger. “Sharing is caring,” sê hulle. “Feed your mind,” sê ek. Dis onmoontlik om op ’n leë maag te konsentreer. Of as dit so warm is. Óf hulle so pas ’n toets afgelê het – ’n common test. Dis boring ─ alles is boring. “It’s abuse,” kla hulle – om dag in en dag uit so in ’n klaskamer te moet sit – presies soos dit vyftig jaar gelede was. Ek glimlag nostalgies. Steek op jou hand – hoeveel van julle gaan eendag ’n onderwyser word?

Nie een nie.

“Chillax,” sê hulle, daar is geen rede om ’n muggiesifter te wees nie.

*

Daardie spesifieke oggend, onthou ek, was nog erger as gewoonlik: die bokke buierig, die beeste traer as gebruiklik en die moedswillige donkies soos altyd kop in een mus ‒ al wat ’n dier is was dwars. Noag sou dit moeilik op ’n ark sonder anker gehad het. Tesame met die talle ongelisensieerde bestuurders, onverskrokke huurmotors, pap wiele, slaggate en slentergangers belemmer hulle die verkeersvloei. Desnieteenstaande bespeur die executive head dadelik ’n doelbewuste traagheid onder sy personeel om betyds op te daag en groet stug. Muitery onder die matrose sal nie geduld word nie. Name sal voortaan neergeskryf word, skeepsrol sal stiptelik bygehou word, stappe sal gedoen word. Van nou af: Sodra die oggendvergadering afgehandel is, sal die klok lui en onderwysers en kinders moet onmiddellik na hul mentorklasse beweeg. “I am the boss ... am I not the boss!” het hy handewringend verneem en verbete na sy lugverkoelde kantoor onder in die gang gevlug.

Maar buite, onder die genadelose son op die oop see, gaan die lewe sy eie gang.

*

Ontvangs lyk ondertussen effens anders: Daar is plakkate van Madiba, Jeugdag en foto’s van die skoolkinders. Van die stoele is ook rondgeskuif. Die skool kry ’n weeklikse nuusbrief en die doctor herhaal sy belofte aan die executive head van ’n splinternuwe huis.

*

Pas na ek getrek het, daal die soetste stilte een môre weer oor die hoofpad neer. Helaas, duskant die eerste bult lê ’n hoop afgekapte boomtakke, verder aan versper klippe die roete en in die verte dreig ’n swart rookkolom. Hiérdie slag gaan die protesaksie oor die gebrek aan watertoevoer. Rykes het water, maar húlle wat reg langs die dam woon, moet met dromme loop skep.

“Dit is ’n EFF-betoging,” verseker Elisa, my verhuurder, my. Sy is aan die ANC-vroueliga verbonde, ’n formidabele vrou. Sy stel voor ek bied omkoopgeld aan. R50 sal waarskynlik die wa deur die drif trek. Sy glo die klomp kwaaddoeners soek bloot genoeg geld vir drank en dagga, dan sal hulle tot rus kom.

Ek vat ’n kans. Ek moet by die werk kom. Daar is ’n skip om om te draai.

“If you come here again, you’ll be sorry. Do you understand me? Turn around!” snou die woedende betoger my minagtend met ’n dreigende wysvinger toe en kyk skaars na die R20 in my hand. Ek slaan my oë op na die polisiebeamptes wat met gevoude arms loom teen ’n bakkie aanleun en gaap die brandende vlamme wat die teer opslurp geskok aan. Daardie aand skryf ek ’n klag aan die stasiebevelvoerder en e-pos dit aan die plaaslike polisiekantoor. Ek wys ook op die onrusbarende middernagrumoer van die charismatiese kerke wat soos paddastoele opskiet.

*

Ek is gestrand en die betoging duur voort. Die executive head is onsimpatiek en geïrriteerd – van die ander personeellede is wel deur die blokkade, laat hy kortaf per WhatsApp weet – hy verwag (expect) dat almal by die werk moet wees. Daarom stuur Elisa douvoordag haar seuns om my met ’n agterpad werk toe te begelei en spreek ek af om hulle namiddag weer te ontmoet.

Ek word stug in die personeelkamer begroet ‒ ’n matroos met rotkoors besmet.

Ná skool wag Peter met vyf van sy vriende agter op ’n bakkie my reeds by Shoprite Usave in en verklaar die staking tot iets van die verlede. Ek moet net kort op sy hakke bly, adviseer hy. Nietemin, iewers tussen die bondel betogers sak ’n splintergroepie op my toe en klap venynig op die kar se dak, meslemme glim, donker gesigte druk teen die toe ruit. Peter en sy vriende verwilder genadiglik die anargiste.

*

Die soter staan geanker in die stuurkajuit, kompas in die hand, oë onwrikbaar op die sterre.

“Do you know the difference between an animate and inanimate object?” vra hy laat een Vrydagmiddag aan die week se oortreders wat detensie uitdien. Niemand antwoord nie – gaap ons net in stilte aan. “Snags kry die bakstene voete en loop hulle rond. So julle straf is om die bakstene wat rondlê terug op hul plek te besorg. En rommel op te tel.”

Die ewige, nimmereindigende rommel.

Om een of ander rede het my gedagtes pal terug bly draal na die ry afgekapte, omgedopte en bloedgevulde beeskoppe wat ek in die vleisafdeling van ’n kettingwinkel gesien het. Dit het my nogal ontstig.

Veral die reuk het bly kleef.

*

“Your brother is killing our matric dance,” verwyt ’n graad 12-kind my.

“My brother?”

“Yes, the principal.”

“Executive head.”

“Jy moet asseblief met hom praat,” pleit ’n onderwyser by my; “hy raak ’n diktator, ’n outokraat, maar hy sal jou verstaan.” Hy het nie langer tyd om na te sien of voor te berei nie, kla hy.

“Hoekom sê jy nie self wat jou pla nie?”

“Ek het ’n vrou ... kinders ... by die huis.”

*

’n Smeltdraad by my nuwe blyplek flakker uit en vir die soveelste keer het ek nie krag of water nie.

*

Die skool moet beter bemark word en daarom gaan ’n Ope Dag gehou word, kondig die uitvoerende hoof een oggend fleurig aan. Terloops, prestasie-assessering van opvoeders is spoedig op die agenda. Hy het sy grys baard afgeskeer en glimlag begeester. Saterdag 1 September is die gekose dag en hy verwag (expect) van almal om teenwoordig te wees.

Almal móét daar wees.

’n Ongemaklike stilte kry lêplek in die skeepsruim. Die interim head proes verontwaardig agter ’n hand. Die kinders gaan nie kom nie, waag ’n senior bestuurslid eindelik. In húl kultuur word op Saterdag begrafnis gehou ‒ familietyd is belangrik en daar is bowendien ’n aanbiddingsfees by die stadion. “Nee-nee. Álmal!” Dié wat nié daar is nie kry detensie. “Dit gaan pret wees. Julle sal sien. Ek ... ons het teikens wat gehaal moet word. Ons moet bemark. Ek kan hierdie skip nie alleen omdraai nie. Gooi kole. New York, here we come!” Die doctor sal ook daar wees.

“Gaan die skool darem kos voorsien? Dit was altyd die gebruik ...”

Die executive head lig onmiddellik sy hand, maar swyg tandeknersend onderwyl sy gelaat verkleur. Flertse rooi vlam oor die bleek gelaat. Etlike sekondes tik verby voor hy doodluiters in kenmerkende timbre laat blyk: “That ship has sailed.”

*

Dis windstil.

Amper dertig ouers het opgedaag en ’n tranerige brief vol verwyt word vervolgens uitgestuur – ’n dringende beroep word gedoen: Ouers moet hul kinders ondersteun. ’n Reusesukses, verkondig die nuusbrief, maar tydens die middagvergadering is daar ’n openlike krapperigheid aanwesig. “Luister ... julle beter my goed verstaan! Ek is nie Jan Rap nie, I was headhunted! Hierdie kultuur van mense wat net opdaag wanneer hulle wil, sál verander. En gou ook. Dis nou as jy weet wat goed is vir jou. Meer as dertig jaar ondervinding in die onderwys ... Hulle wat my visie nie deel nie beter aanbeweeg; ek is hier om te bly ... Shape up or ship out. Ek het dit al gesê, I expect everyone to be on board.”

Die interim head het grinnikend toegekyk.

Bly sit, het hy as nagedagte bygevoeg. Hier is ’n verteenwoordiger van die moedermaatskappy wat vir julle gerief begrafnispolisse verkoop.

Ek het opgestaan en uitgestap.

*

Daai aand, met ’n glas koue sauvignon blanc in die hand, vraestelle wat wag om gemerk te word en Elisa se boerbokke wat dreig om op my kar te klouter, dink ek na oor die kuns van skeepvaart en Die Skip. Op my foon lees ek: Not even God himself could sink this ship. – Employee of the White Star Line, at the launch of the Titanic, May 31, 19111 en “If only one or two of the compartments had been opened, Titanic might have stayed afloat.”2 ’n Boodskap maak op die foonskerm oop: “Alle opvoeders moet aanstaande jaar ’n week vroeër van verlof terugkeer sodat oriëntering gedoen kan word.”

Ek sug, sluk my glas leeg, staan op en skink nog ’n glasie.

*

Iewers dryf ’n gletser, glashelder. Of wink rotse daar voor?

Ek onthou nog goed: Op die laaste dag van die termyn daag minder as tien persent van die leerders by die skool op. Die executive head is briesend. Die vermetelheid! Hierdie is nie ’n staatskool nie, spreek hy die teenwoordiges toe en gelas dat alle ouers wie se kinders nie by die skool is nie, hom onmiddellik en persoonlik sal spreek alvorens ’n rapport oorhandig word. Maar meteens is daar ’n ontevrede gemor en nie lank nie toe staan ’n lang ry ouers in die gang en murmureer. Na ’n geskarrel verskyn die kaptein uit sy kajuit en vra opvoeders om die rapporte gou uit te deel.

“Dit was nie maklik nie,” kug die uitvoerende hoof later, “maar ek dink hulle het hulle les geleer ...”

*

“Ja, dit is jammer om jou te sien gaan,” sê hy, oënskynlik afgehaal; “jy verskaf nie redes vir jou bedanking nie.”

“Ek is eintlik ’n skrywer,” antwoord ek. “Hulle sê ’n skrywer skryf omdat hy nie anders kan nie.”

“Mmm.” Hy takseer my van oorkant sy rekenaar af. Een oog dwaal na die skerm ‒ Facebook. “En waaroor skryf jy? Wat is jou planne?”

Ek vryf nadenkend oor my ken. “Ag, enigiets, goed wat met my gebeur. Dalk ’n nuwe avontuur. Asië miskien.”

Hy staan op, kiertsregop, en hou sy hand uit. “Sterkte.”

Miskien maak hy ’n verskil hier op RMS Exempli Gratia, mymer ek. Ons skud blad, soos protokol vereis.

*

Soms dink ek terug aan al die katte en brandmaer brakke op die gehawende paaie daar aan die gatkant van die wêreld – sommige sal die middel haal, of met ’n laaste wanhopige sprong, miskien die oorkant.

Dalk het die skip selfs gedraai, hier in die see van storms.

.......

1 https://www.archives.gov/exhibits/american_originals/titanic.html.

2 https://www.smithsonianmag.com/history/photos-of-the-titanic-tragedy-from-101-years-ago-19446446.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top