Muilbandwet se grondwetlikheid nie gewaarborg

  • 0

Met die stoeiery tussen die ANC aan die een kant en opposisie partye en die burgerlike samelewing aan die ander kant oor die muilbandwet wat onlangs in die parlement aanvaar is, word nog groot drama verwag.

Sedert die indiening van die eerste weergawe van die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting in die parlement in 2008 was die vet in die vuur. Opposisiepartye en die burgerlike samelewing het die ANC daarvan beskuldig dat hy die kernvryhede – naamlik die vryheid van spraak en ook vryheid van die media – soos verskans in die Grondwet wil vernietig.

Dié argument het meriete, veral teen die agtergrond van wat ’n Amerikaanse kommentator lankal gesê het: “If I had to choose between democracy without a free media and a free media without democracy, I would choose the latter.”

Vryheid van spraak en vryheid van die media vorm die hoekstene van enige grondwetlike demokrasie. Sonder dié vryhede kan daar nie demokrasie of vryheid wees nie.

Toegegee, die ANC moet geprys word omdat hy sedert 2008 meer as 800 amendemente ná sowat 100 vergaderings aan dié wet aangebring het. Na vyf jaar is dit ’n baie beter wet, maar die gevaartekens is nog daar.

So ook is die redelikheid van die ANC se regverdiging van die wet baie vaag. Daar is steeds meer vrae as antwoorde. Die fundamentele probleem met die wet is oorklassifikasie. Die staat kan sekere inligting ’n geheim verklaar, veral as dit by staatsinligting kom. Alhoewel dié gebruik slegs tot die kabinet en die veiligheidsdienste beperk is, kan staatsdepartemente en ondernemings ook nog inligting klassifiseer, mits hulle dit kan regverdig. Die verweer dat inligting in die openbare belang kan wees, word ook beperk.

Boonop word aanmelders van korrupsie (fluitjieblasers) nie voldoende deur die wet beskerm nie.

Die wet bepaal byvoorbeeld dat geklassifiseerde dokumente wat inligting oor misdaadverwante optrede bevat, in openbare belang gepubliseer mag word. As dit egter inligting oor wanbestuur en onbevoegdheid bevat, kan dit maar geheim bly.

Dit maak nie sin nie, want misdaad, wanbestuur en onbevoegdheid behoort teen die agtergrond van ons historiese ongelykhede met dieselfde erns bejeën te word. Dit is reeds arm gemeenskappe wat sedert 1994 as gevolg van wanbestuur en onbevoegdheid nog steeds op die buiterand van die ekonomie wandel.

Die kern van die probleem is dat die wet oop is vir misbruik, want enige inligting kan nou geklassifiseer word. As joernaliste byvoorbeeld geklassifiseerde inligting publiseer, loop hulle nie net die gevaar om vyf tot 25 jaar tronkstraf opgelê te word nie, maar ook om gedwing te word om hul bronne bekend te maak.

Dit sal ondersoekende joernalistiek se rug breek, omdat moontlike bronne bang sal wees om inligting aan joernaliste te verskaf. Dit sal die einde beteken van ’n vry media – wat sedert 1994 die gesondste pilaar van ons demokrasie is.

’n Mens hoop president Zuma stuur die wet terug stuur na die parlement omdat die grondwetlikheid daarvan nie gewaarborg is nie. Anders sal die grondwetlike hof die grondwetlikheid daarvan moet toets.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top