Die altyd onvoorspelbare, uiters gewilde musiekgroep Mr Cat & The Jackal het pas ’n nuwe album, Set, bekendgestel. Gertjie Besselsen van dié groep beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Gertjie. Hoe’s dinge?
Lekker man. Ek het vir my ’n groot glas bier geskink, het Beck wat jam in die agtergrond ... ek is reg vir die ding.

Mr. Cat & The Jackal as 4-piece
Geluk met die onlangse vrystelling van Mr Cat & The Jackal se nuwe album, Set. Hoe het julle benadering tot hierdie album verskil van die voriges, wat betref die skep en saamstel van snitte, en dan ook die opneemproses? Hoe voel jy en die res van die groep nou, postnataal, oor die album, en hoe lyk die terugvoer?
Dankie. Ja, Set is uit. Ek dink wat skryf en samestelling aanbetref, was dit baie dieselfde proses as ons vorige albums. Ek en Jacques het ’n klomp songs geskryf oor ’n periode van tyd, en dit dan bymekaargegooi en gekyk waarmee ons sit. Van daar vul ons dan die gaps in. Ek dink ek en Jacques beïnvloed mekaar in ons skryfstyl alhoewel ons apart skryf. Daar is altyd ’n deurlopende thread wat ons saam ervaar ... en dis dan op die ou end hoekom die album saamgesit kan word as een ding. Wat die materiaal self aanbetref is dit nogal baie anders as ons vorige werk. Kyk, daar is ’n goeie drie jaar tussen Set en Sins & Siren Songs, en met tyd sal ons vanself verander. Maar dit is definitief ’n meer gesofistikeerde inslag, as ek dit dit mag noem ... ek dink ons het geSETtle in die styl waarmee ons besig is. So dit voel nie so eksperimenteel nie, maar meer natuurlik. Ons het baie gewerk met soundscapes, en die tekstuur onder sommige songs. Ek dink dit gee die album baie diepte, klankgewys. Ons het ook die meeste van die drums record by Stellenbosch University Studios, deur ons eie Pierre Arnold Theron, en dit het baie goed uitgekom ... ’n drumsound is ’n belangrike ding. Dan het ons saam met Nick Mathews gewerk aan die mixing. Hy het al die instrumente baie mooi laat uitkom ... en waar dit vir ons te veel gevoel het, kon ons dit ook dan terugtrek. Toe is dit gemaster deur Tim Lengfeld wat ’n baie goeie job gedoen het. Ek dink ons almal voel baie goed oor die album ... Ons is nie maklik tevrede met hoe die musiek klink nie, omdat dit so anders is ... Jy weet, daar is nie vasgestelde reëls oor die "sound" nie, maar ek dink ons het dit baie goed vasgevang op Set. Die terugvoer tot dusver was nog net ook baie goed.
Dit voel of daar ’n ietwat “donkerder” streep deur die album loop as met jul vorige werke – asof daar ’n meer direkte konfrontasie met die harder elemente van die lewe is, wat reeds so vroeg as met die tweede snit, “Why won’t you love me”, verskyn. Is dit ’n korrekte waarneming? Indien wel, of nie, hoe beskou jy die koers wat Mr Cat & The Jackal ingeslaan het met die album, en waar kom dit vandaan?
Daar is definitief ’n donker streep aan die outjie ... Lewe was nie noodwendig te vriendelik met ons gewees die afgelope drie jaar nie, en mens reflekteer mos maar jou omstandighede. Ek is drie jaar terug, uit die bloute, met diabetes gediagnoseer. My pankreas het net ewe skielik besluit hy gaan nou ophou insulien afskei, en ek moes leer hoe om my liggaam se tekortkominge te aanvaar, en te aanvaar hoe kwesbaar ek ewe skielik geraak het. Dit het my fyner laat kyk na dinge as voorheen. Ek dink dit het ’n persoonlike aanslag na skryf toe gebring wat ek nie regtig voorheen verken het nie. Ek dink ek speel ook selfs sagter.
Dan is die meeste van ons instrumente ook gesteel uit ons van uit, en dit los nogals ’n fokken suur smaak in jou mond. Ek dink ook die droom van ’n musikant wees is nou ’n werklikheid, en dit is glad nie so glamorous soos mens aanvanklik voor gehoop het nie.
Wat die koers aanbetref, is ons besig om onsself bietjie uit die "rock scene" uit te kry. Iets wat ek voel het maar net vanself gebeur, en ewe skielik is ons net nog ’n band, en dit was nooit die plan nie. Kyk, moet my nie verkeerd verstaan nie, ons almal love rockmusiek – luister definitief te veel Queens Of The Stone Age – maar ons liefde lê in teater, en dit is waar wat ons doen die meeste sin maak. As jy kan sit en luister na wat ons doen, en die fyn nuanses in die musiek kan waardeer, eerder as om nog ’n tequila by die bar te gaan kry ... So daar is verskillende maniere hoe ons hierdie skuif wil maak, maar ons sal steeds die festivals speel, en altyd ’n rowwer set hê ... Ek bedoel, ons het laas maand Oppikoppi gespeel op ’n moerse stage voor ’n fokken see van mense, en dit sal ek nie sommer verruil vir enige ander gig nie. Dis ’n ongelooflike ervaring, maar dit gaan oor plasing. Waar plaas ons onsself binne die bedryf?
’n Paar instrumentale snitte – sonder sang of lirieke – verskyn ook op Set. Hoe besluit julle wanneer ’n musiekstuk beter sal werk as ’n instrumentale stuk, en wanneer dit in ’n lied omskep moet word? Wat is die uitdagings daaraan verbonde om ’n snit te laat werk sonder die sang en lirieke, en hoe besluit ’n mens waar dit inpas in die ruggraat van ’n album?
Dit gebeur baie organies. Ek weet dadelik of iets gaan lirieke nodig hê of instrumentaal gaan wees. Dis gereeld ook ’n idee – ek het hierdie idee vir ’n instrumental, of ’n song. Ons is nog altyd mal oor instrumentals, en daar is op al ons albums ten minste drie. Natuurlik as dit ’n instrumentale stuk is, moet die musiek meer sê as wanneer daar woorde by is wat baie sê. Ek dink dis hoekom ons so baie van instrumentals hou – dit gee nie voor om iets te wees of om iets slim te sê nie, dis net ’n stuk musiek wat ’n universele gevoel oordra. Dit is ook ’n goeie manier om in ’n album songs aanmekaar te vleg, ’n goeie manier om die "gaps" in te vul.
Interessant genoeg het dié instrumentale snitte almal Afrikaanse titels – die enigste snitte met Afrikaanse titels op die album. So volg die instrumentale snit “Die storm” heel gepas op “Die kalmte”. Is daar enige spesifieke motivering hieragter? Hoe voel jy en die res van die groep in die algemeen oor die in-sneak van Afrikaanse elemente op albums en snitte? Ek dink byvoorbeeld aan die refrein van die herhalende lirieke “My moedertong, my moedertong” in “Mother tongue” van ’n vorige album.
Die Afrikaanse titels van die instrumentals is om krediet te gee aan die feit dat ons Afrikaans is – en ons is ... baie Afrikaans. Maar Mr Cat & The Jackal is ’n Engelse projek, en dit was die uitkyk van die begin af. Ons mik op ’n universele mark. Ons het grootgeword met Engelse musiek. Al die musiek waarna ek geluister het, was Engels! So, om Engels te sing klink net vir ons almal meer natuurlik ... Ek het eers meer onlangs ’n liefde vir Afrikaanse musiek ontwikkel. En ek skryf ook Afrikaans, maar sal dit onder ’n ander projek doen.
Ek dink almal hou van die idee om erkenning te gee aan die feit dat ons Afrikaans is, die r’e rol ens, maar dit tog in die universele taal Engels doen. Ek dink ook sodra jy Afrikaanse musiek maak, mik jy op ’n baie kleiner mark ... jy is dadelik ’n “Afrikaanse” band, nie ’n rock, jazz, alternative, folk, whatever nie, maar Afrikaans ...
Mr Cat & The Jackal is nog altyd bekend as ’n eksperimentele groep … Voel julle in hierdie opsig soms druk om julself te “top”, veral met die vrystelling van ’n nuwe album? Met ander woorde, is daar ’n bewustheid van ’n verwagting om luisteraars met elke vrystelling uit te boul, en hoe hanteer julle dit? Hoe is dié element vir julle ’n uitdaging wat live optredes betref?
Ons daag onsself definitief uit om aan te hou verander, maar tot ons voordeel is daar geen voorskrif op watse rigting ons moet inslaan nie – ons kan volgende ’n acoustic hip hop album uitbring as ons so sou voel. Maar daarin lê die belangrike ding, en dit is: ás ons dit sou voel. Sonder om nou spiritual te wees daaroor, dink ek ons volg ons gevoel oor die musiek en die rigting waarin dit moet beweeg. Dit gaan natuurlik hand aan hand met die eksterne elemente, jou omgewing, waarna jy luister, wat die lewe jou kant toe gooi. Op die ou end is dit ’n baie organiese proses. En al wat ons uitdaag is onsself – vir die mense is ons klaar weird genoeg.
Gepraat van die live optredes – ek het julle al telkemale in kleiner of standaardgrootte venues sien optree, maar in Augustus vir die eerste keer op ’n werklik gróót verhoog – die dome stage by Oppikoppi. Die optrede was wonderlik en te oordeel aan die groep-buigie na afloop daarvan, asook die encore soos aangevra deur duisende gehoorlede, het julle dit ook geniet. Wat geniet jy van kleiner venues en van groter venues speel? Hoe verskil Mr Cat & The Jackal se vibe vir jou in hierdie opsig van venue tot venue, en wat is die verskillende uitdagings wat julle daaromtrent beleef?
Ek dink ek het vroeër bietjie geraak aan hierdie onderwerp. Ons love dit om voor so baie mense op te tree, op so ’n wêreldklas verhoog soos die Wesley Dome by Oppikoppi! Maar as ek sit en musiek skryf, skryf ek dit vir mense (in my kop) wat sit en luister na elke woord en noot ... binne ’n teateropset. Maar ons het ook nou al darem ’n lekker stukkie "harder" musiek ... en só pas ons ons set aan vir elke venue waar ons speel. ’n Festival stage gaan al ons harder meer treffernommers hê, waar ons by ’n kleiner plek uit die aard van die saak baie rustiger gaan.
Ons het ook verskillende set-ups: ons speel soms as ’n duo, net ek en Jakkals, dan is daar die trio waar Pierrie bykom met die perc, dan soms as ’n 4-piece wat dieselfde is as die trio, net met JC op bass by, en dan is daar die vol 5-piece ... die flagship. Pierre se perc set-up is baie anders tussen 3/4-piece en 5-piece. As die dromme by is, kan hy meer melodiese instrumente speel, waar hy andersins moet bly op ritme, en ook dan dromme speel. Dit is iets waarop ons trots is – om so aanpasbaar te wees by ons omstandighede.
Soos jy netnou genoem het, het julle in die onlangse geskiedenis ’n nagmerrie-ervaring gehad toe ’n rits waardevolle en skaars instrumente by julle gesteel is. Wat was die verloop en die uiteinde van daardie voorval? Hoe het dit jou en julle as band geraak, benewens wat jy vroeër gesê het? Hoe “chin-up” ’n mens ná iets soos dit gebeur?
Ja nee, dit was ’n moerse gatslag! Maar in daai tyd het mense ons regtig ondersteun, en dit het ons deur dit gedra. Dit was die eerste keer dat ons kon sien dat mense actually omgee oor ons – die groter publiek, bedoel ek. Byvoorbeeld: ons het die volgende aand ’n show gespeel by Die Boer – gepraat van “chin up” – en dit was nogal moeilik. Ons het back-up instrumente ... ’n tipe B-span ... so ons kon die show afpull ... Kanselleer is nie iets wat ons graag doen nie. Vir die bouzouki (nou dis ’n Griekse familie van die mandolien en dit het agt snare) het ons ’n 12-snaar-kitaar gevat en vier snare afgehaal en hom ingestem soos die bouzouki. Ek vertel toe die hele storie van ons verlies op stage. Na die show kom daar ’n man na my toe en vra oor die bouzouki. Ek vertel hom toe die hele storie van die instrument. Hy gee my toe ’n tjek van R10 000 en sê gaan koop vir jou ’n nuwe bouzouki! En ons het, reguit van Griekeland af. So met die hulp van ’n paar engele, en ’n paar shows speel sonder betaling, het ons weer als terug. Ons het gelukkig toe ons die Lap Steel-kitare gebou het, drie gemaak ... so een is weg iewers heen, maar ons het darem nog twee. As so iets gebeur, kan mens seker opgee ... of jy kan aangaan en sterker aan die ander kant uitkom.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Mr Cat & The Jackal?
Ons wil beweeg in ’n spasie in waar ons onsself sien. ’n Spasie waar wat ons doen vir ons die meeste sin maak ... En natuurlik nog musiek maak, en nog toer ... Dinge is in die pyplyn vir volgende jaar weer oorsee gaan toer.
Wat is die sin van die lewe?
Shit Henry, jy kan my afskil as ek weet ... Ek dink mens voel sin in mens se eie lewe as jy doen wat jy voel jy veronderstel is om te doen.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

