Motorrepubliek: Elektriese motors, stroomop in die duurste stilte

  • 1
 

Foto deur Akuray studio van Unsplash

Motte maal om singende fluoresseerligte. Brian Adams roggel deur ’n gekraakte dakluidspreker.

Net die sporadiese gedruis van suisende swaarvoertuigbande in die verbygaan kan hierdie donker stilte tydelik onderbreek.

Die gekletter van ’n bakkiedieselenjin; en die modder-en-olie-reuk van rou diesel: Suid-Afrika se bloukraagsweet.

Die petrolstasie is die mees beligte struktuur in enige Karoodorp. ’n Baken; ’n terminus. Vir húlle op pad na iewers – ’n oase. En die bedelende swerwer: dalk ’n kans om te ryloop, of nog wanhoop.

’n Beenstrekkans tussen êrens en nêrens, moedverloor en moontlikheid.

Almal móét ry.

En tog, meer as ’n duisend kilometer weg, noordwes of suidoos van die N1, waar sirenes looi en die glas-en-staal-plantasies die wolke geel en oranje bevlek, is daar ’n rytuig wat immuun is teen die ghries-en-pis-reuk van ’n vervloekte vulstasie met gekraakte toilette vol sigaretstompies.

Hy raas nie. Hy suip nie oktaan nie. En as jy hom tuis laai, hoef jy nie met die gepeupel by die pomp te praat nie. Jy wíl ook nie, want elektriese voertuie in Suid-Afrika verpersoonlik ’n eksistensiële paradoks – jou sielkundige se geselskap is tog ontelbaar keer meer gesout.

En gesog.

Foto deur JUICE van Unsplash

Vir elke regverdigbare rede waarom ’n e-motor in Suid-Afrika sin maak, verpersoonlik dit die middelklas se ontvlugtingswens. Nie net van hemelhoë petrolpryse nie, maar sekondêr die verpligte bydrae tot die verdoemde Padongelukkefonds en die Tesourie verskans in elke liter brandstof se prys. As jy die pitte het om ’n sewesyfer-inpropmotor te bekostig, gaan jy tien teen een ook die sonkrag hê om hom verniet te kan laai. Solank die son sý deel doen.

Ons is ’n nasie met protes in ons DNS. Elke oorbelaste Suid-Afrikaner fantaseer om die taksman te fnuik. Daarom, selfs net om jou gewete te stil, is ’n elektriese motor ’n wettige uitdrukking van belastingontduiking. Wat die werkersklas laat met die stank van fossielbrandstof en hemelhoë pryse opgeblaas deur die legio lae heffings. Meer as ’n derde van elke liter brandstof se prys word aan SARS toegewys.

Só word die passiewe protes gebore uit die geluidloosheid van ’n e-voertuig in Stellenbosch, Sandton en Silver Lakes se jongste sosiale geldeenheid. ’n Uitdrukking van jou identiteit as ryk rebel, met jou aan die ontvangkant van ander se goedkeuring in ruil vir ’n koddige koopkeuse.

Histories was die gegrom van die binnebrandenjin mobiliteit se groot gelykmaker. Met e-karre is dit van die baan. Is die streelsagte, klimaatbeheerde, tegnogedrewe Eerste Wêreld-ervaring met sy hoë toegangsprys dan nie maar ’n manifestering van ’n sensories gedrewe sosiale distansiëring net met ’n groen Gucci-baadjie nie?

Trump se muur – nie meer gekonstrueer uit staal en sement nie, maar van litium en silikoon – word nou die setel van die sonpanele by Greta Thunberg se geïdealiseerde visie van ’n stille, koolstofneutrale toevlugsoord.

Suid-Afrika se stratosferiese ongelykheidsyfer maak hierdie Moët-versus-maas-scenario uniek.

Foto deur MarluxProd van Unsplash

Bygesê, e-motors bly gepolariseerd, veral in die VSA, waar daar ’n tasbare skakel tussen politieke ideologie en die koopbesluit rondom diesulke motors bestaan. Omtrent die helfte van alle elektriese motors word in die top 10% van Demokraties-beheerde streke verkoop, berig Nber.org.

Elon Musk se politieke geflikflooi van die afgelope twee jaar het ’n onbedoelde invloed op die markontvangs gehad. In November 2025 het 51% van Republikeinse ondersteuners in Amerika nie meer met die stelling saamgestem dat “e-motors slegs vir andersdenkendes is” nie – 8% minder as in 2023.

Hoewel daar verlede jaar minder Musk-mobiele in Europa verkoop is, het die kategorie egter algeheel gegroei: e-motors mág dus maar, solank daar nie ’n Tesla-teken op die snoet pronk nie. Terwyl China die primêre drywer van elektriese motors is (jaarliks meer as een miljoen verkope), het die wegval van subsidies in Kanada in 2025, wat verkope met 41% laat daal het, en die VSA (49% minder in die derde kwartaal), die markaptyt daarso opmerkbaar versmoor.

Wêreldwyd, oftewel buite Suid-Afrika se grense, word die gewildheid van elektriese motors duidelik eerder deur beleid as om verbruikersredes bepaal.

En hierso? Peperduur invoerheffings (25% teenoor 18% vir gewone binnebrandvoertuie), tesame met die afwesigheid van enige aansporings, ewig stygende elektrisiteitskoste en ’n karige laai-infrastruktuur maak elektriese motors eintlik ietwat onaantreklik. Ook: Wat jy bespaar by die pompe, hoes jy vooraf op die verkoopsvloer.

En die modelle wat jy hier te koop kry, is nie gekies omdat Mercedes-Benz of wie ook al se produkbeplanners hulle dag by die Oktoberfest té veel geniet het met die besluit dat ’n elektriese S-Klas van R3 miljoen wat niemand ooit gaan koop nie, ’n ononderhandelbare vir die plaaslike mark is nie. (Dit het veel eerder te make met die nastreef van wêreldwye emissieteikens.) Veral wanneer daardie S-Klas sukkel om op die langpad sin te maak. Want wat gebeur as jy hierdie naweek die Kaap vir Knysna wil verruil, maar tien ouens voor jou moet almal ook by Swellendam inprop?   

Benewens hulle praktiese en sosiale vraagstukke, is e-voertuie se posisionering aan die voorpunt van tegnologie ook tweesnydend. Batterye se kapasiteitsontwikkeling is die nuwe ruimteresies. Jou 2023-model het oor ’n aangevoerde reikafstand van 350 km beskik; vanjaar is dit 600 km, in moontlik selfs ’n goedkoper weergawe. Probeer dan eersgenoemde inruil of van die hand sit.

Is die sosiosielkunde agter die elektriese motor enigsins anders as wat die geval is met slimfone? Skitterblink en propvol tegnologie, dog oplaas net ’n verbruiksitem kultureel verarm deur globalisasie en identiteitloosheid, waar doeltreffendheid drama oortref?

Die mensdom het aangedring op veiliger voertuie. En is terugbetaal met isolasie. Ons fantaseer oor ekstra gerief. Toe kry ons steriliteit.

Foto: Tiaan van Deventer

Die stille tragedie van wat werklik verdwyn het (nie net in elektriese motors nie), is nie vaardigheid nie – allermins – maar die vereiste dat ’n menslike inset nog enigsins vereis word.

Tolbos. Windpomp. Versamelvoëlnes.

Bestuur jy nog, of is jy net ’n passasier?

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Dippenaar

    Ek stem nie saam met al die bewerings wat gemaak word nie. Die feit oor die die duur motors in SA is ook gedeeltelik waar en, soos gesê word, dra die hoë belasting daartoe by. Daar is arm lande wat Ev's meer en meer koop omdat hulle die Chinese produkte kan koop wat goedkoper is as luukse motors. Dit is tegnies beter en ook luukser as duurder motors. In SA kan jy ook minstens 2 modelle koop, BYD, Geely en ek dink ook binnekort Cherry vir onder R400 000. Daar is ook die Ora van GWM , maar die prys het my ontgaan. SA sal moet vinnig aanpas, of sy uitvoermark gaan verdwyn. Ethiopië het 2024 die invoer van petrolmotors verbied. Daar lê groot veranderinge vir die motorindustrie voor en vreemd genoeg is die aanpassing van Jappanese vervaardigers die stadigste. Dan praat ons nie eers van Tesla en hul FSD en Robotaxi's sonder stuurwiel en pedale nie. Dit word klaar in sekere stede van Amerika gebruik en brei elke dag verder uit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top