
In hierdie opwindende reeks skryf ’n gepubliseerde skrywer ’n kortverhaal oor ’n ander gepubliseerde skrywer se karakters.
Dibi Breytenbach gebruik ’n karakter van Jaco Wolmarans vir hierdie verhaal.
*
Môre is nog ’n dag
Angola, 1983
Die son kom vinnig op. Te vinnig.
Markus Gerlach staar na die massiewe eskarpement van die Serra da Leba wat bokant hom uittoring. Die berg se skadu is skuilte, beskerming. Sodra die son aan die spits kruin raak, moet hulle beweeg.
“Anders is ons gefok,” sê hy hardop.
“Com licença?” vra Carlos Viyera sag in Pretoguês. Afrika-Portugees, die lingua franca van spesmagte-operateurs in Angola en Mosambiek.
“Ons moet beweeg,” herhaal Markus sy woorde.
“Si.” Viyera is ’n gesoute soldaat. Hy wéét.
’n Bobbejaan blaf teen die berg. Markus skreef sy oë, kyk of hy beweging kan sien in die area waar hulle die oortollige voorrade – proviand en ekstra water, ammunisie en plofstof, genoeg vir ten minste 14 dae – in die vallei onder die pas versteek het. Die cache sal ook dien as RV-punt, indien nodig. Markus en sy span van drie verkenningsoperateurs is in hierdie woesterny ver agter vyandige linies afgelaai om die spoorlyn tussen Moçamedes in die weste en Menongwe in die ooste van Angola te saboteer. Fires van Vuuren en Tony dos Santos het dit eerste reggekry, het vir weke lank ’n uitgebreide sabotasieveldtog teen die Angolese spoordiens gevoer terwyl hulle aan die voet van die Serra da Leba-pas geskuil het. En iemand in Pretoria het gedink dat as twee operateurs so effektief was as wat Fires en Dos Santos was, vier van hulle dubbeld so effektief gaan wees.
Twee klein spanne: Gerlach en Domingos Magadzi en die jong operateur Tex Texeira en Carlos Viyera, sy kil en afsydige spanmaat. Infiltrasie per helikopter, laag om die vyand se radar te ontduik, die landingsone versigtig gekies om kontak met die plaaslike bevolking te vermy. Die aankarwei van toerusting en proviand van die wegsteekplek in die vallei teen die berg uit om ’n basiskamp te vestig van waar die spoorlyn aangeval sal word.
Harde werk.
Dodelike werk.
Drie dae se werk.
En toe, die insident met die man op die trapfiets.
’n Trapfiets. Markus skud sy kop. Hy kan dit steeds nie glo nie. So eenvoudig. Soms het die noodlot ’n gemene sin vir humor. Ten spyte van al die beplanning, al die voorbereiding, ’n man op ’n fiets en dít die heel eerste keer dat hulle van die berg na die vallei genavigeer het om die teikens vir vernietiging voor te berei. Dit het hulle amper ’n hele dag geneem om die spoorlyn te bereik terwyl donderwolke op die horison saampak. Toe hy hulle sien, het die man sy mond oopgemaak om alarm te maak, maar Domingos het hom uit die heup geskiet. Voortydig, in Markus se opinie, maar dit is wat dit is. Die hemele het om hulle oopgemaak en dit het rondom hulle gebliksem en gedonder. Daarby moes die FAPLA-soldate in die omgewing die knal gehoor het, want skielik was daar geweerskote tussen die donderslae deur. Die soldate was nader aan die area van operasie as wat Markus-hulle wysgemaak is tydens die missievoorligting.
Etters.
Hy wonder wat van Domingos en Texeira geword het. Hy en Viyera het skuiling gevind in die klein spelonk wat as nood-RV moes dien. Domingos en Texeira het soos skimme in die reën verdwyn.
Waar hulle nou is, is ’n raaisel.
“Dink jy hulle is oukei?” vra Viyera sag.
’n Rare vraag vir ’n man met ’n reputasie vir min woorde.
“Ek glo so.” Die sonstrale glip oor die kruin en stoot die skadu’s verder terug. Die vallei lyk blinkskoon, splinternuut. Klip en boom en struik en bos is in skerp reliëf geëts en ’n arend draai laag in die lug. “Hopelik is hulle bymekaar.”
“Hopelik. Texeira... Hy’s nog jonk. Sy kop is warm.”
Dit is die waarheid. Texeira is te jonk om hier in die bosse rond te neuk en spoorlyne op te blaas. Hy hoort op universiteit. Hy’s slim genoeg daarvoor. Daarby sit die voortvarendheid van die jeug nog vlak onder sy vel. Soms neem hy onnodige risiko’s. Van die twee van hulle is Carlos Viyera die koelkop.
“Hy sal oukei wees saam met Domingos,” sê Markus. “Hulle sal terugsirkel na die cache toe. Soos ons afgespreek het.”
’n Skadu trek oor Viyera se harde gelaat. “Tensy die FAPLA’s hulle jaag.”
“Die reën het vir seker hulle spore weggewas.”
Viyera lyk nie oortuig nie. Sonder ’n woord kruip hy nader aan die bek van die spelonk.
“Sien jy iets?” vra Markus.
Viyera skud sy kop. Die bobbejaanmannetjie blaf weer.
“Húlle sien iets.” Markus skuif ook nader. Hy steek sy kop versigtig by die opening uit. “Maar fok of ek kan sien wát.”
Die son rys geleidelik hoër. Markus lek sy droë lippe nat, hoor Viyera se maag grom. Hulle het gisteroggend laas iets gehad om te eet voordat hulle die pad bergaf geneem het. Die energiestafies en hondebeskuitjies wat in sy rugsak was, het Markus laasnag met Viyera gedeel. Daarby is hulle water gedaan.
“Die terrs gaan jou op ’n myl hoor.”
Viyera kyk na hom met donker, onleesbare oë. “Ons moet laat weet dat hulle ons kom haal. Die operasie is in sy moer.”
Korrek.
“Domingos het die Syncal.” Die Syncal 30, ’n hoëfrekwensieradio wat hulle in staat stel om in morsekode met die taktiese hoofkwartier te kommunikeer. “Die ander een is by die cache.”
“Merda.”
Beweging trek Markus se aandag. 300 meter, indien hy moet skat. Hy en Viyera lig hulle AK47’s se lope gelyktydig.
Geleidelik neem die beweging vorm aan. ’n Reuse-swartwitpens, sy horings soos sabels glimswart in die son. Vir ’n oomblik kan Markus net kyk. Soveel verbluffende skoonheid tussen die siniese detritus van oorlog.
“Geen FAPLA’s nie,” sê Viyera. Hy laat sak sy geweerloop.
Hulle kom stadig orent. Voetjie vir voetjie beweeg hulle in die rigting van die voorraadcache, die een hou aanhoudend dekking vir die ander soos wat hulle geleer het. Kort-kort stop hulle, gaan op hulle eie spore terug om seker te maak dat niemand hulle volg nie. Die proses is langsaam. Daar is geen teken van FAPLA nie. Geen teken van Magadzi en Texeira nie.
Markus hoop hulle lewe nog.
Geleidelik beweeg hulle nader aan die wegsteekplek.
Stop vir die geluid van ’n houtkapper wat ’n gat in ’n boomstam pik. Soos ’n klein masjiengeweer, so vinnig. En so vinnig as wat dit begin het, is dit stil.
Markus kyk na Viyera, Viyera na Markus. Markus knik. Stadig tel Viyera ’n droë tak by sy voete op, slaan daarmee teen ’n boomstam, dieselfde ritme, dieselfde tempo. Die volgende oomblik houtkapperslae in antwoord.
Domingos. Of Texeira. Of albei. Hopelik albei. Markus beweeg voetjie vir voetjie nader aan die cache. Viyera beweeg geluidloos saam.
’n Tak kraak voor hom in die bos.
Markus verstar. Viyera ook.
Toe, Texeira, met Domingos skuins agter hom.
“Kaptein.”
’n Verligting. Markus blaas sy asem stadig uit. “Julle oukei?”
“Ja, Kaptein.”
Viyera kyk Texeira op en af asof hy wil seker maak dat sy spanmaat in een stuk is, dat alles is waar dit moet wees, dat daar geen beserings is nie.
“Wat het gebeur?” vra Markus. “En waar’s die Syncal?”
Domingos knik na die voorraadcache. “Esta lá.”
“Gebombshell soos ons afgespreek het,” antwoord Texeira.
“Julle was nie by die nood-RV nie.”
“Die weer. Dit het gehelp.” Texeira beduie na die hoë rotse en struike waar hulle die ekstra voorraad versteek het. “Hoe Domingos dié plek in die donker gekry het, sal net hy weet. En wat van die FAPLA’s geword het, weet ons ook nie.”
Domingos se verbintenis met die aarde is bo-menslik. Dit weet Markus goed. Dit is danksy dié vermoë dat hulle twee nog in een stuk is.
“Hou julle oë oop,” beveel Markus.
“Problemas, Capitão,” sê Domingos.
“Watse probleme?”
“Babuinos.”
“Bobbejane?”
“Kom kyk.”
Hulle stap saam na die cache toe. Agter hom kan Markus vir Texeira en Viyera sag hoor praat. Net soos hy en Domingos maak hulle ook mekaar se sinne klaar, dink hulle soos een mens.
“Goeie, liewe bliksem.” Markus kan nie help om te swets toe hy tussen die hoë rotse instap nie. Ten spyte van al hulle pogings om dit te versteek, het die bobbejane dit reggekry om alles oop te breek of te skeur. Daar is aan alles geproe, selfs die PE-4 waarmee die spoorlyn gesaboteer moet word. Rantsoenpakke lê besaai oor die grond, die blikkies groente en vleis vol bytmerke, sommige regdeur die blik.
“Hulle gaan skyt soos reiers van die plofstof,” sê Texeira.
“Fokkers.”
“Gee ’n nuwe betekenis aan plofbare diarree.”
Markus beduie vir Domingos om vir hom die radio te bring wat hy op ’n omgekeerde ammunisiekis neersit.
“Hier is nog baie PE-4, Kaptein. Timers. Ontstekers,” sê Texeira. “Selfs kos. Ons kan nog steeds...”
Die versoeking is groot. Daar is reputasies op die spel. Van Vuuren en Dos Santos se rekord bly ononderbroke. Vier van hulle kon nie regkry wat twee van hulle kon nie.
Die bobbejaan blaf teen die berg in die rigting van die basiskamp. Dit klink asof hy vir hulle lag.
’n Bevelsbesluit.
“Nee,” sê Markus ’n paar oomblikke later. “Nee.”
“Ja, Kaptein.” Texeira klink inskiklik, maar aan die trek om sy mond kan Markus sien dat die jong man nie gelukkig is nie.
Pis en asyn, dink hy terwyl hy in morsekode met die taktiese hoofkwartier kommunikeer: Kom haal ons.
Texeira gaan nog leer. Miskien nie vandag nie. Miskien nie eens môre nie. Maar hy sal leer. In hierdie werk leer almal dit op die een of ander stadium: Die glorie van oorlog lê nie in oorwinning nie, maar in oorlewing.
Môre is nog ’n dag.


Kommentaar
Awesome leesstof. Ook "Buit" gister klaar gelees (biblioteekboek) en wag nou vir "Dolos".
Ek hoop hy daag gou op, @altabooyens!
Nou wil ek Dibi en Jaco se boeke lees. Goeie bemarkingsidee, dankie LitNet.
LitNet, as 'n dame lees ek nie Recce-boeke nie. Maar nou het julle my oortuig om wel vir Jaco 'n kans te gee. Wys jou net, moenie 'n boek oordeel oor sy omhulsel nie.
Ek ken nie die skrywer nie maar julle het my nou oorreed om die skrywer 'n kans te gee.
Amber, Dolos het darem 'n bietjie romanse ook in, nie net aksie nie! Dis nou as jy Tex romanties kan noem. Hy sukkel maar.