MoP6: Designing Destiny

  • 0

Tanisha Bhana, Cold Shoulder

Kaapstad se sesde maand van fotografie het op 15 September begin en duur tot 31 Oktober 2014. Lees nog inligting omtrent MoP6.

Lien Botha deel haar indrukke.

Vir ses weke is die stad omskep in ’n paradys vir fotovrate met ’n verskeidenheid tentoonstellings, werkswinkels en besprekings wat in en om Kaapstad plaasvind.

Hierdie knap inisiatief is in 1999 deur die destydse fotografiedosent aan die Michaelis Kunsskool, Geoff Grundlingh, van stapel gestuur, en deesdae is die onstuitbare fotograaf Jenny Altschuler aan die hoof van sake.

Dit was ’n haas onbegonne taak om ’n lys van tien gunstelinge saam te stel, maar hier volg ’n skamele poging daartoe:

David Lurie: Morning After Dark, Commune 1, Waalstraat 64, Kaapstad, 021 423 5600.

Lurie se dokumentasie van stedelike landskappe in en om Kaapstad, gedurende die vroeë lig van dagbreek geneem, is skreiend gestroop. Hy beskryf dit as ’n visuele essay en ’n meditasie van tyd, plek, herinnering en persoonlike geskiedenis – ’n kombinasie van reis en droom wat die politiese, filosofiese en poëtiese saamsnoer. Dit is inderdaad ’n “fotografiese joernaal waar die uiteenlopende beelde en simbole van ontnugterende moderniteit verwant is aan verhale en ervarings van toenemende chaos, verplasing en ontheemding in ’n ontstellende en swymelende naasbestaan”.

David Lurie, We All Have Bad Days, near Blue Downs, Cape Flats, Cape Town, 2014

Barry White: These Pebbles, The Little Cape Photocentre / Mogalekwena-galery, Kerkstraat 3, Kaapstad, 021 424 7488.

White het sommige van die kwartsklippies wat deel vorm van Tafelberg se ryk geologiese geskiedenis vasgelê met sy iPhone op die plek waar hy hulle gevind het. Daarna het hy hulle een vir een in sy ateljee gefotografeer deur middel van makrotegnieke wat die oppervlak sowel as die interne struktuur van elkeen van hierdie juweeltjies belig. In die uitstalruimte is die oorspronklike klippies sorgvuldig geïnstalleer neffens die fotografiese dokumentasie, sodat dit soos planete in die ruimte vertoon en die kyker noop om verbintenisse te maak tussen die skaal, tyd en ruimte van die klippies se herkoms 450 miljoen jaar gelede.

Ander fotograwe wat ook in hierdie ruimte uitstal, sluit in: Natalie Payne, Sanele Moya, Tracey Derrick, Thom Pierce, Shani Judes, Claudia Emanuel, Dirk Scheerlinck, Michelle Loukidis, Masixole Feni en Mia Loomba.

 

Barry White, pebble_33
Twee pigmentinkafdrukke en klippie in pasgemaakte kokerraam. Afdruk 1/1.

Alastair Whitton: Glimpse, Barnard-galery, Hoofstraat 55, Nuweland, 021 671 1666.

Whitton se gesofistikeerde oeuvre omvat foto-objekte, skilderkuns, beeldhou sowel as unieke kunsboeke. Hy is bekend vir konseptuele werk wat sorgvuldig geslyp is en in wese fokus op gedagtes van strukturele komposisie en die wyse waarop ons die wêreld om ons herken, herroep en navigeer. Hy ontgin bronne soos die letterkunde, geskiedenis, kuns en die Bybel. Die werke in Glimpse (vlugtige kyk) funksioneer as gedenkbakens en ontgin dus die idee van die foto as aandenking. As bewys van ’n lewe “boekstaaf” hierdie versameling foto’s aspekte van liefde en verlies, herinnering en geografie en is dit in wese ’n meditasie van verganklikheid en die verloop van tyd.

Alastair Whitton

Urban Wonderland, Nobukho Nqaba, Hayden Phipps, Gaelen Pinnock, Jake Singer, Justin Plunkett, Dave Robertson, Leigh-Anne Crafford, Alice Gauntlett, Tanisha Bhana en Billy Monk se foto’s van nagklubs uit die sestigerjare. Kalk Bay Modern, Hoofweg 136, Kalkbaai, 021 788 6571.

Dit is moeilik om hier ’n spesifieke fotograaf se werk uit te sonder, want daar is iets magneties omtrent elkeen van die betrokkenes se insette.

Teenoor Billy Monk se foto’s as nagklub-uitsmyter vir Les Catacombs-klub in Kaapstad in die laat 1960’s, word ’n jonger generasie se durf ten toon gestel. Urban Wonderland fokus op verbeeldingryke interpretasies van stedelike distrikte in verhouding tot individuele ervaring, met die gevolg dat die werke lees soos hedendaagse stadslegendes.

Billy Monk

   

Nobukho Nqaba

   

    

Kyle Weeks: Ovahimba Youth Self Portraits, Johans Borman Fine Art, Kildareweg 16, Nuweland, 021 683 6863.

Volgens Kenneth Montague van die Wedge-versameling in Toronto, Kanada is daar ‘n “tasbare gevoel van broederskap tussen die sogenaamde Himba mans wat in Kyle Weeks se kragtige reeks uitgebeeld word. Die bande blyk sterk te wees en die mans se gesigte toon universele uitdrukkings kenmerkend van die jeug: selfvertroue, agterdog, kwesbaarheid, pret, verswyging, selfbewustheid en uitdaging. Ons herken hierdie tekens en sien onsself. Maar daar is verskeie lae van ooreenstemming sowel as verskil in al hierdie merkwaardige beelde. Persoonlike styl is oral te bespeur; helder kleure en patrone, bekende korporatiewe embleme wat in ongewone kombinasies gedra word, snymerke op Polo hemde. Vreeslose mode. En die ‘kyk’ is duidelik in die liggaamshouding: ons is lief vir wie ons is. Die geskiedenis rondom soortgelyke uitbeelding is gekompliseerd in Namibië – en elders; ons wis dit. Maar die kunstenaar se besluit om die ontspanner se kabel in die hande van die onderwerp te plaas, verskuif die magsbalans. Ons sien hierdie jong mans soos wat hulle hulself wil sien: tradisioneel, tydgenootlik en trots.”

Kyle Weeks, Nduombe Ndjundja, 18, 2014
Chromogeniese druk op Dibond-bond, vyf afdrukke

Hentie van der Merwe: Selfie, Youngblood Galery, Breestraat 70–72, Kaapstad, 021 4240074.

Selfshots, 2013, is ’n komplekse samestelling van die portret – in ’n postfotografiese, aanlyn wêreld waar algar en dese ’n truspieëltjie geword het. Van der Merwe het hier ure spandeer op die internet op soek na spieëlselfies, wat hy dan beskou as ’n soort selfregulerende fotoargief van fisionomiese template wat universeel beskikbaar en bruikbaar is – dus ideaal vir herinterpretasie, soos wat Van der Merwe doen wanneer hy die beelde verder manipuleer en weer fotografeer. “’n Fassinerende fenomeen in die lig van die medium se historiese alliansie met frenologie.”

POPCAP ’14-wenners: Léonard Pongo, Joana Choumali, Ilan Godfrey, Steketee&Blankevoort, Patrick Willocq – die wenners se werke was in die Kompanjiestuin, Kaapstad, geïnstalleer.

POPCAP verleen erkenning aan eietydse Afrika-fotografie en word jaarliks toegeken aan portefeuljes wat in ’n Afrika-land geproduseer word of te doen het met die Afrika-diaspora. Die inisiatief is in 2012 van stapel gestuur in ’n poging om onbelemmerde gedagtewisseling met betrekking tot die siening van Afrika aan te wakker.

Een van die wenners, Joana Choumali, se werk Haabre, The Last Generation van 2013–2014 fokus op die tradisie van inkerwing (scarification). (Hââbré is die woord vir skryf/inkerwing in die Kô-taal van Burkina Faso.) Volgens Choumali is dié praktyk besig om te verdwyn, grootliks vanweë druk deur die owerhede en as gevolg van verstedeliking. Choumali het die templaat van bestaande historiese materiaal gebruik as kontemporêre “studio” om haar dokumentasie te staaf. Sy beskou hierdie onderwerp as “‘n kardinale skakel tussen die hede en verlede wat die kompleksiteit van Afrika- identiteit uitdaag en sien die generasie as die laaste ooggetuies van ‘n Afrika wat besig is om uit te sterf.”

Joana Choumali, Haabre, The Last Generation, 2013-2014

Francki Burger: Battlefields, Kasteel de Goede Hoop, h/v Darling en Buitenkantstr, 021 787 1260.

Burger se werk ondersoek die landskap deur ’n geskiedkundige blik en die wyse waarop politiek, ras en geweld daarin vasgelê is. Sy is veral geïnteresseerd in verskeie veldslae en die rol wat die fotograaf daarin gespeel het ten opsigte van die dokumentasie daarvan. Dit is veral argieffoto’s van die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899–1902) wat sy dan bestudeer en herfotografeer, sodat die hedendaagse landskap ’n dokument word van die wyse waarop geskiedenis en herinnering daar versamel.

Francki Burger, Outside Kroonstad

Three Tierney Fellows: Ashley Walters, Sipho Gongxeka en Shogan Naidoo, Bindery-galery, Ritchiegebou, Hiddingh-kampus, Oranjestraat 31, Tuine, 021 480 7170.

Die Tierney Genootskap is in 2003 deur die Tierney-familie gestig met die doel om opkomende kunstenaars op die gebied van fotografie te ondersteun, deur onder andere die mentorskap van gevestigde fotograwe wat kandidate hulle talent help ontwikkel. Die drie jong fotograwe wie se werk hier ter sprake is, het onderskeidelik te werk gegaan met temas van identiteit, geslag en ruimte. Walters ontgin sy verwysingsraamwerk – die Kaapse Vlakte – in ‘n bewuste poging om “met die teenwoordige tyd in plaas van apartheid-era-dokumentasie om te gaan”.

Ashley Walters, Beauty Pageant, Ravensmead Annual High School Fair, Ravensmead
Uit die Uitsig, 2013-reeks, C-afdruk

New Thoughts: After Time, saamgestel deur Jenny Altschuler, met Robin Bernstein, Lucinda Jolly, Hanna Orlowski, Gaelen Pinnock, Bettie-Coetzee Lambrecht, Frans Smit en Thuli Gamedze, Spinstraat-galery, Spinstraat 6, Kaapstad, 021 461 0666.

Weer eens is dit moeilik om werke uit te sonder in hierdie uiteenlopende samestelling deur Altschuler, maar omdat mens deur die jare al dikwels verby die agterdogwekkende Senator Park-gebou gesluip het, het Robin Bernstein se dokumentasie hiervan tot jou gespreek. Bernstein skryf in sy meegaande verklaring oor Senator Park: The Remnants of Cape Town’s First Problem Building dat hy met sy fotografiese vertelling “die idee van die oorblyfsel ondersoek. Stories is van nature ’n nadenking en dus is die reste van enige verlede die sleutel tot die ontdekking van die verhaal wat dit deurweef.”

“Verandering volhard. Niks is Konstant nie.” Inderdaad.

 

Robin Bernstein, Senator Park Façade

Met dank aan die bydraes van die betrokke fotograwe wat teks en foto’s verskaf het.
Skakel na Popcap: http://popcap14.picturk.com/pages/about
Skakel na MoP6: http://www.capetownmop.com/2014-catalogue

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top