Moordstraat

  • 0

“Moordstraat” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Moordstraat

Dis skemer. Iewers raas daar ’n kriek. Dis koud. My sigaretrook vlieg weg in die donker en die as verdwyn voordat dit die grond raak. Daar waai ’n ligte wind en ’n mens hoor die gekraak van droë takkies. Weerligstrale spat deur die lug, miskien sal dit vanaand reën. Pretoria se strate ruik altyd vars na die reën. Iewers baklei twee persone; een skree harder as die ander.

Aan die oorkant van die straat is Wilhelm besig om ’n paar swart sakke buitentoe te dra. Die bottels daarin klink-klink teenmekaar ... alkoholiste. Henry, Henry! ’n Herinnering kom teruggeflits: die dag toe die suster die nuus gebring het dat my vrou dood is.

Nou sit ek hier op die stuk grond, halfpad haweloos en heeltemal stukkend. Vakansies het ons op Stilbaai se duin krieket gespeel, en toe, met haar dood, toe sien sy ’n ander strand in haar laaste oomblikke, miskien die hemel. Die huis met die blou hekke se sproeiers spuit tot in die pad.

Jakarandablommetjies spoel in die straat af soos dit reën. Die weerlig klap hard teen die grond vas, en ’n groep mense is besig om te lag en te braai. Hulle dink seker ek is waansinnig, want ek bly in ’n tent op ’n leë erf. Dit geld nie as “squatting” as dit jou eie grond is nie. Die straat is stil.

Ons droomhuis sou hier gestaan het as dit nie vir die dekselse kanker was nie ...

“Henry! Martie is dood.”

Wilhelm verdwyn in die huis nadat hy al sy drankbottels buite gesit het. Ons almal weet hy is lief vir die bottel.

’n Fiets kom verby, iemand met ’n geel reënjas en die geluid van die getrappery verdwyn in die donker. Die huis op die hoek is pikdonker, nie een lig wat brand nie. Ek wonder of die weerlig nie weer die dekselse krag uitgeslaan het nie. Bougainvillablommetjies lê die hele straat vol. Iemand is in die vroeë 2000’s doodgery in die straat, ’n tipiese tref-en-trap-ongeluk ... die straat is vol geheime. My tent voel klam binne; hopelik kan ek vanaand slaap sonder die nagmerries.

“Henry! Hoor jy wat ek sê? Martie is dood.”

Ek skrik wakker. Dit is 04:50. Die huis met die blou hekke se sitkamergordyne is oop, ’n televisieskerm is te sien. Iemand fluit ’n hartseer deuntjie. Henk loer deur die gordyne; ’n hond blaf aan die ander kant van die straat. ’n Wit BMW ry stadig in die straat af. Dis al vroegoggend. Coca-Cola-trokke blaas stof rond soos wat hulle ry.

By die huis met die blou hekke staan Henk, aangetrek in blou werksklere. Ek ken Henk al sedert ek by die Huisgenoot gewerk het. Hy hoes aanhoudend en probeer sy sigaret aan die brand steek. Hy blaas die rook weg saam die koue en klim in sy kar. Iemand groet by die deur en skree vaagweg iets. Henk is een van daai mense wat net een dag sy lewe heeltemal omgedraai het, nadat hy vir jare die pad byster was. Die dag gaan vinnig verby en ek gaan besoek vir die eerste keer in jare die monument. My oupa sou ons skoolvakansies daarheen neem; ons sou piekniek hou en perd ry.

Die Uber laai my teen laataand by my tent af. Die liggies van Pretoria spoel soos magma oor Daspoort. Ek sit heelaand wakker buite my tent. Tien koppies koffie later en die donker hardloop weg en die son skyn deur ’n paar blare. Kinders speel rugby in die pad, en twee dogtertjies sit op ’n grasperk op die hoek met ’n pophuis. Twee fietsryers verdwyn in die straat af. Ek besluit om by die publieke swembad te gaan stort.

Ek stap in die straat af. Tannie Lenie langs die ou begrafnisonderneming spuit alweer haar roostuin nat. Die res van haar erf is vaal; die vorige winter het dit verwoes. ’n Mens kan sien sy woon alleen. Hopelik maak die reën nou ’n verskil – ek glo haar rose sal weer binnekort pronk. Ek stap na die publieke swembad en gaan stort in die ablusieblok en dink terug aan die Gert van Rooyen-kinders. Die geheime wat saam met Gert gesterf het ... Miskien het die straat ook ’n storie. Na my stort gaan sit ek vir ure in die biblioteek en lees oor party van Suid-Afrika se onopgeloste moorde, totdat die ou tante oor haar bril loer en later sê: Kom, ek wil sluit, meneer.

Die son sak. Ek het sommer by die restaurant ’n bak lasagne gekoop. Op die rooi dak skree ’n hadida. Blare waai heen en weer oor die pad en dit raak donker. Lente in Pretoria was nog altyd my gunstelingseisoen. Die straat raak stil. Die wit BMW ry weer in die straat af. Die straatlig flikker, en soos altyd stel die munisipaliteit teleur. ’n Kind skree by die huis met die blou hekke. Ek raak aan die slaap in my kampstoel met die koerant op my bors en skrik om middernag wakker toe ek druppels op my voorkop voel val.

Dit begin kliphard reën. Die huis met die blou hekke se sitkamergordyne is wawyd oop. Die televisie speel ’n film.

Ek wonder hoeveel keer in my lewe het ek al vir antwoorde in die donker gesoek. Toe Martie dood is, het my tyd en geld opgeraak. Na die reën kom iemand uit die huis met die blou hekke gestap.

Die meisie sit buite op die grasperk van die huis met die blou hekke. Sy staar in die straat af nadat sy ’n selfoonoproep doodgedruk het; dan kyk sy na my kant toe en waai effens.

Ek het hierdie stuk grond twee jaar gelede gekoop, maar ek het toe nooit enigiets hierop gebou nie. Party neem aan dis omdat ek ’n liefde het vir die blomme wat wild hier groei, maar die waarheid is dat ek ’n plek nodig gehad het om te bly nadat ek alles verloor het na Martie se dood en die eindelose chemosessies. Aangesien ek niks gebou het nie, het ek een aand besluit om ’n tent op te slaan.

Toe begin ek oor die straat te skryf, bloot omdat ek nie ’n sent op my naam het nie, en deur ’n nuwe boek te publiseer, of ten minste net ’n artikel, kan ek weer my woonstel in die stad bekostig.

Die meisie wat gewaai het, staan op en is op pad na my toe. Sy kom staan voor my waar ek besig is om wors op my gasstoof buite by my tent te braai.

“Hoekom hou jy altyd almal in die straat dop? Ek het jou al baie gesien,” sê sy.

Ek soek vir ’n rukkie antwoorde in my gedagtes en al wat ek toe kan sê, is: “Dink jy nie dis dalk die straat wat my dophou nie?”

Sy kyk vreemd na my ...

“Weet jy wat in hierdie straat gebeur het, Henry?”

“Hoe ken jy my naam?”

“My pa het gesê julle het saam by die Huisgenoot gewerk. Hy sê jy is bankrot en dis hoekom jy hier bly.”

“Ek ontken dit nie.”

“My ouma het my vertel van ’n meisie wat uit hierdie straat verdwyn het. Haar pa is die man wat op die hoek by die ou begrafnisonderneming bly, oom Leon. Sy vrou het sommer van hom geskei toe hulle dogter weg is. Dalk moet jy die verhaal oplos. Ek glo ons almal sal graag wil weet wat van haar geword het. Mense sê Gert het haar gevat. My ma roep my.”

Sy draai om, loop en verdwyn by die voordeur van die huis met die blou hekke.

Leon Geyser oorkant my is die ou afgetrede begrafnisondernemer. Sy dogter was ’n slagoffer van Gert van Rooyen destyds, of so het almal maar aangeneem. Niks is ooit bevestig nie.

Ek het nou tyd om deur Martie se dagboekinskrywings te gaan; ek begin lees ...

Augustus 1988

“Ek het nie meer drome van mense wat in die donker verdrink en mekaar soek nie. Ek verloor nog steeds meer as wat ek wen. My ou lewe bestorm my nog en krap diep snye. Die dinge waarna ek verlang, wil ek eerder vergeet.”

Martie het in haar slaap gepraat van ’n man, ’n man wat haar sou vertel hoekom rose doodgaan en hoekom mense ook dorings het – haar pa oor wie sy nooit wou praat nie.

Januarie 1989

“In die aand hou my drome my wakker. Die dinge wat ek verloor het, kom my weer haal. Die mense in my drome vat my terug Moordstraat toe, en my ma staan weer voor die stoof en troos haar gemoed met ’n glas wyn. Ek wens my pa kan ook net wyn drink en die brandewyn los.”

Waar is alles heen? Ek het weer nagmerries. My tent is koud binne en ek is natgesweet. Die wind dreun buite en poog om my tent om te waai. Met ’n swaar hart soos ’n baksteen in my bors het ek daardie Saterdagoggend op die kampstoel gesit. Haar naam het in my hart gegil en my gelos om te weet sy is weg. Al ’n jaar weg, en vir my was tyd ’n geskenk. Tyd saam met haar was ’n stuk goud wat ek voor moes grou.

Die straat het sy naam gekry toe die lykshuis hier gebou is, sowat 45 jaar terug. Die straat was dus nog naamloos en die staat het lyke geassosieer met moord. Toe word dit Moordstraat. Daarna is die lykshuis herbou aan die buitewyke van die dorp, naby die ou begraafplaas. Leon het maar aangebly in die ou begrafnisonderneming.

Leon Geyser, wat op die hoek van die straat bly, het 40 jaar lank daar gewerk met die hoop dat hy nooit die lyk van sy dogter sou vind, wat reeds langer as 33 jaar vermis is, nie. Ek het gehoor sy vrou het hom kort daarna gelos, en die wit BMW wat in die straat afry, is blykbaar sy vrou wat hoop om eendag hulle dogter toevallig daar te kry.

Eensaamheid is ’n vreemde konsep, omdat niemand regtig weet hoe om dit te vermy of te oorkom nie. Ek het baie kere in my lewe al eensaamheid geniet, maar ander kere het dit meer vir my gevoel asof ek deur eensaamheid versmoor word. Ek het, wanneer dinge in my lewe sleg gegaan het, baie gedagdroom. Dit het my van die werklikheid laat ontvlug en my veilig gehou.

Maart 1989

“Donker wolke steek op ... Vandag onthou ek die reuk van my pa, Leon Geyser. Die reuk van brandewyn terwyl Smokey iets in die agtergrond sing. Later het die houtvloere stiller geraak en dan het ek geweet hy slaap. Die dinge waarvoor hy jare gewerk het, het hy afgedrink in ’n bottel.”

Ek kon wel uitpluis dat Martie in Moordstraat gebly het in haar kinderjare. Iets in my verstand het met my geworstel en gesuggereer dat Martie die meisie was wat 33 jaar terug spoorloos uit Moordstraat verdwyn het. Dit is hoekom sy hierheen wou terugkeer. Ek moes haar geheime wat in die koelte gaan lê het, gaan haal. Vir die eerste keer in my lewe het ek die donker kamer van haar geheime gaan oopsluit met ’n sleutel wat ek al jare gehad het: ’n pak papiere wat ’n ou vriend vir my gegee het. Dagboekinskrywings, opnames van sielkundige sessies en briewe ...

Sy wou gevind word nadat sy klaar vir soveel jare weg was en nog vir soveel jare weg sou wees.

Ek het Martie verloor, maar ek sou weer op die trappies van my drome gaan staan om vir haar te wag, om weer net in my drome met haar te praat. Miskien ... miskien sal Moordstraat se geheime my na soveel jare vrymaak en terugneem huis toe, waar die houtvloere al jare lê en huil, want my pa het gegaan sonder om te groet. Tannie Lenie se man was Martie se sielkundige. Kort na haar dood het hy homself geskiet. Dit was ’n Vrydagaand in Pretoria. Die stad was vol lewe en vrolike studente. Hy het die swart rewolwer se sneller getrek.

Die volgende dag se koerantvoorblaaie: “Bekende sielkundige pleeg selfmoord?”

Ek het na Leon toe gestap. Op sy stoep het hy gesit en pyp rook.

“Sy was my vrou, Leon. Martie, en sy is dood aan kanker.”

Verstom, wasbleek, ’n diep teug aan sy pyp.

“Ek moes vroeër in my lewe opgehou drink het.”

Die volgende dag se voorblad: “Sielkundige se selfmoord in 2000 opgelos, vermiste dogter van Leon Geyser en bekende skrywer se vrou, die meisie uit Moordstraat?”

Ek sit die koerant op die koffietafel. My droom is bewaarheid ... Pretoria Nuus se hoofjoernalis. ’n Hadida vlieg oor my dak. My ma is vanoggend oorlede weens al die jare se rook, en vir die eerste keer verlang ek na my pa. Al is hy al jare dood en ek was nie daar nie.

Ek wonder of die hemel toe vir Chris Barnard voel soos ’n Saterdagaand wat vir altyd aanhou; hy was my gunstelingskrywer. ’n Hadida vlieg oor die dak. My ma het altyd gesê ek moet aan haar dink as ’n hadida lag.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top