
Boekomslag: Tafelberg Uitgewers
Titel: Moord op Pofadder, die skokkende verhaal agter Suretha Brits se meesterplan en die kontrak op haar man
Skrywer: Charné Kemp
ISBN: 9780624092667
Uitgewer: Tafelberg
Skoonheid en boosheid is ’n dodelike kombinasie. In Moord op Pofadder, wat pas verskyn het, herinner die slinkse planne wat Suretha Brits beraam het om op die wreedste manier denkbaar van haar man, Leon, ontslae te raak, aan ’n rillerfliek.
Mens kan skaars glo dat dit werklik gebeur het, maar nou ja, fiksie kan die werklikheid nie altyd naboots nie. Die motief agter huurmoord is dikwels wraak, geldelike gewin, siekte, geestesonstabiliteit, verbrokkelde verhoudings en selfverdediging.
'n Huurmoord word deur kenners beskou as 'n moord wat deur 'n persoon of intieme maat, 'n mededinger, ’n sakevennoot of 'n bendeleier geïnisieer word wat 'n huurmoordenaar of 'n groep mense huur om iemand anders in ruil vir geld te vermoor.
..........
Huurmoorde word ook gekenmerk deur beplanning, die feit dat die oortreder die slagoffer as 'n hindernis beskou wat verwyder moet word, ongeërgdheid oor die metode van moord, 'n gebrek aan berou, en ontkenning van verantwoordelikheid.
...........
Huurmoorde word ook gekenmerk deur beplanning, die feit dat die oortreder die slagoffer as 'n hindernis beskou wat verwyder moet word, ongeërgdheid oor die metode van moord, 'n gebrek aan berou, en ontkenning van verantwoordelikheid.
In die boek vra die knap skrywer en gesoute en bekroonde joernalis Charné Kemp, wat bogenoemde duidelik uitbeeld, wat ’n beeldskone vrou en jong ma van drie kinders daartoe dryf om haar man te laat vermoor. Die paartjie het dan oënskynlik ’n idilliese gesinslewe gehad. Leon was ’n uiters suksesvolle sakeman en daar was geen tekort aan materiële welvaart nie. Hulle was boonop al 10 jaar lank getroud.
Maar ongelukkig kry sommige mooi vrouens dikwels meer aandag van die teenoorgestelde geslag as ander. Daarmee saam kom daar seker ook maar versoekings. Buitendien is Suretha op ’n bloedjong 20-jarige ouderdom met die heelwat ouer Leon (toe 31 jaar oud) getroud.
Kemp, wat haarself voorheen reeds met boeke soos Moord op Griekwastad en Bloed dunner as water bewys het, het baie moeite gedoen om gegewens rondom hierdie opspraakwekkende gebeure te kry.
Sy het nie net die hofsaak bygewoon nie (en hofverhore kan uitmergelend wees en nimmereindigend voel), maar sy het ook talle onderhoude gevoer om agter die kap van die byl te probeer kom. So het sy inligting van die binnekring van vriende, familie en mense ná aan die polisie-ondersoek verkry om die tergende raaisels agter die legkaart op ’n nugter wyse te ondersoek.
Hierdie boek beskik oor al die elemente wat dit vir ’n blitsblaaier laat kwalifiseer. Geld, diamante, Krugerrande, seks, verraad, interessante karakters, verliefde mans en ’n grootskaalse geliegery. En dan die kontrakmoord, wat meer gewetenloos is as byvoorbeeld ’n mesmoord wat impulsief deur ’n keelvol vrou op die Kaapse Vlakte gepleeg is nadat sy jare lank deur haar bendelidman verrinneweer en mishandel is.
’n Kontrakmoord soos dié wat Suretha laat uitvoer het, word vooraf in die fynste besonderhede beplan. Ander mense word gemanipuleer en betrek om betrokke te raak. Sodat die baasbrein agterna haar hande in “onskuld” kan was. Kamma rein soos lenteblomme. Sy laat ander mense haar vuil werk doen, want sy wil asseblief tog nie bloed op háár hande hê nie. En so verontskuldig sy haarself en pleit bewusteloos. Met so ’n fynbeplande moord is daar meer as genoeg tyd om kop uit te trek – as jy enigsins ’n gewete het. Maar sy was vasberade om dit te laat uitvoer.
Ek het lanklaas oor so ’n wrede moord gelees. Die gewelddadigheid herinner aan dié van plaasaanvalle. Die twee trawante (die derde een het die vervoer verskaf en was nie fisiek betrokke nie) het met ’n knuppel, bofbalkolf en Okapi-mes by die niksvermoedende slagoffer se huis opgedaag en hy is herhaaldelik daarmee aangeval. Na die aanval is ’n hondeketting om sy nek gebind en is hy swembad toe gesleep, waar hy ingesmyt is. Hierdie moord was, om die minste te sê, uiters grusaam.
Selfs baasbrein Suretha het haar “menslikheid” getoon toe sy gesê het hulle moes haar man eerder net geskiet het. Waardevolle items is uit die kluis verwyder sodat dit na ’n huisrooftog moes lyk. ’n Huisrooftog op Pofadder van alle plekke.
In die proses is die kontrakmoordenaars ingelig presies watter deure in die huis oop is, waar hulle moet wegkruip en hoe hulle die honde moes stil maak. ’n Tipiese geval van inside information. Groot geld sou aan die drie mans betaal word. En natuurlik was Suretha geslepe genoeg om in haar onderhandelinge met die mans gebruik te maak van ’n foon wat by ’n Somaliese winkel gekoop is en wat nie ge-Rica was nie.
Soos talle vroue wat hul mans laat vermoor het, was Suretha se toneelspel daarna van Oscar-gehalte. Mense se harte op Pofadder, wat skielik om al die verkeerde redes op die landkaart gekom het, het vir die gebroke weduwee gebloei. Of sy nou sonder trane gehuil het soos Amber Heard in die Depp-Heard-hofsaak, weet ek nie, maar sy het genoeg mense se simpatie gewen. Selfs haar swaer, Leon se broer Tokkie, het aanvanklik alles vir soetkoek opgeëet. Maar later het hy en ander snuf in die neus gekry omdat dinge net eenvoudig nie gerym het nie.
Sommige mans wat op die skone weduwee verlief, of vermoedelik verlief, was, se name het later opgeduik – soos dié van Denton Nienaber, haar minnaar (hy het erken dat hul affair na die moord voortgegaan het), en haar orige lyfwag met die oorneemhouding van wie nie juis ’n vleiende prentjie geskilder word nie. Die twee mans het egter niks met die moord te doen gehad nie.
Suretha het presies geweet wie om te teiken om haar vuil werk te doen. Jacques van Vuuren, die middelman in die komplot om die moord te laat uitvoer, het geldelike probleme gehad en sy vrou het hom gelos. Hy was op moedverloor se vlakte. Buitendien kon hy dit nie verdra dat ’n vrou, soos wat Suretha beweer het, deur haar man mishandel is nie. Sy was glo vir hom soos ’n suster. Hy het vir Enrich Williams en Amantle Bareki wat die moord uitgevoer het, en duidelik net geldgierig was, rondgery.
Jacques het later oor alles gebieg.
Suretha se bewerings dat haar man haar mishandel het, is ten sterkste deur diegene naaste aan hom ontken. Maar hoe sal ons ooit werklik weet wat in ander se binnekamers aangaan? Sou dit waar wees, skei jy mos net.
Suretha het later vertel dat sy op 14 op Leon se aandrang ’n aborsie moes laat uitvoer toe sy ’n tweeling verwag het. As dit waar is, dan praat ons mos nou hier van ’n misdaad, want seks met ’n minderjarige is mos taboe. Leon was toe 25. Hoe trou en bly mens dan ook met so ’n man vir tien jaar lank?
Mens se hart gaan uit na Suretha se onskuldige kinders. Mag sy agter tralies tot ander insigte kom. Dit gebeur dikwels dat sulke vroue rehabiliteer, maar dan wonder mens altyd of dit ware berou is of net ’n manier om gouer parool te kry. Veral as jy tot 25 jaar lank gevonnis is.
...........
Ek het baie onderhoude met vroue gevoer wat hul mans self vermoor het of iemand anders gekry het om dit te doen. Dit was amper elke keer vir my opvallend dat hulle jammerder vir hulself as vir die slagoffers gevoel het. Dan het die krokodiltrane behoorlik gespat!
............
Ek het baie onderhoude met vroue gevoer wat hul mans self vermoor het of iemand anders gekry het om dit te doen. Dit was amper elke keer vir my opvallend dat hulle jammerder vir hulself as vir die slagoffers gevoel het. Dan het die krokodiltrane behoorlik gespat!
Kemp het haar goed van haar taak as ondersoekende joernalis gekwyt. Dis net jammer dat sy nie self met Suretha kon praat nie. Maar nou ja, die tronk se deure swaai nie altyd vir joernaliste oop nie. Ek sou ook graag meer wou weet oor die redes waarom Bushie Engelbrecht, wat sekerlik vir Suretha ’n soort vaderfiguur wou wees, haar oënskynlik goedgesind was.
.........
Kemp het haar goed van haar taak as ondersoekende joernalis gekwyt. Dis net jammer dat sy nie self met Suretha kon praat nie. Maar nou ja, die tronk se deure swaai nie altyd vir joernaliste oop nie. Ek sou ook graag meer wou weet oor die redes waarom Bushie Engelbrecht, wat sekerlik vir Suretha ’n soort vaderfiguur wou wees, haar oënskynlik goedgesind was.
............
Ek sou ook graag wou hoor aan watter persoonlikheidsversteurings/afwykings Suretha na bewering ly, maar dalk is daar nie getuienis daaroor gelewer nie.
Nou wil Suretha glo ’n boek skryf. Maar haar spelling is amper net so jammerlik as dié van gangsters wat nie eers die woorde op hul eie tatoes kan reg spel nie. Dalk kan Kemp haar daarmee help. As sy toestemming kry, of wanneer Suretha dalk eendag ontslaan word.
Kemp word daarvoor geloof dat sy nie sensasie nagejaag het nie. Maar dit was dan ook nie nodig nie. Die feite spreek vanself. Die gebeure was opspraakwekkend genoeg sonder om dit aan te dik.
Die huurmoordenaars gaan ook lank sit. Welverdiend. Volgens kenners is sulke moordenaars se motief byna altyd finansieel en dikwels ken hulle nie eers die slagoffers nie. Hulle bevredig ook geen inherente emosionele of sielkundige motiewe met die moord nie. Hulle is berekend, onemosioneel, en weet presies hoekom hulle die moord pleeg. Hulle voel vere en verdien dit om met hul agterent in die tronk te sit.
Hoewel Suretha soms as ’n liewe en gewilde mens uitgebeeld word (nie iemand wat moordlustig voorgekom het nie), wek Kemp se beskrywings van haar en die kontrakmoordenaars nie simpatie by die leser nie. Mens voel wel ’n bietjie jammer vir Jacques. Die beskuldigdes het immers opgetree in flagrante verontagsaming van die waarde van menselewe. Hulle het die moord op die oorledene beplan en met voorbedagte rade gepleeg. Hulle het saamgesweer en uitdruklik ooreengekom om die oorledene te dood.
Vroue kan uiters wreed wees. Soos een amptenaar van die Departement van Korrektiewe Dienste aan my gesê het: “There are no sweetie pies in Pollsmoor. And the women are the worst.”
My vriendin Sarie Peens wat 20 jaar lank by Korrektiewe Dienste betrokke was, het weer gesê vroue wat gevangenisstraf uitdien, is beslis nie daar omdat hulle Sondagskool gebank het nie.
Dit geld natuurlik vir vroue in alle tronke.
Die feite in hierdie boek spreek dus vanself en laat jou weer eens besef dat hierdie ware woorde is. Kemp word beslis nie ’n rat voor die oë gedraai nie.
............
En sy het die gebeure, soos wat dit ’n goeie joernalis/niefiksieskrywer betaam, op toeganklike, hoogs leesbare, verstaanbare en objektiewe wyse weergegee. Die kort hoofstukke lees ook maklik.
Ek beskou haar as een van ons beste misdaadverslaggewers.
............
En sy het die gebeure, soos wat dit ’n goeie joernalis/niefiksieskrywer betaam, op toeganklike, hoogs leesbare, verstaanbare en objektiewe wyse weergegee. Die kort hoofstukke lees ook maklik.
Ek beskou haar as een van ons beste misdaadverslaggewers.
Lees ook:

