Moontlikheid en werklikheid: Repliek op Bernard Lategan se LitNet Akademies-artikel

  • 0
John van Breda van die Universiteit Stellenbosch lewer repliek op Bernard Lategan se artikel, “Moontlikheid en werklikheid. Waarom kan Suid-Afrika (nog) nie die droom van ’n inklusiewe samelewing verwesenlik nie?” wat in LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling verskyn het.

John van Breda (Foto: verskaf)

In die onlangse LitNet Akademies-artikel met die titel “Moontlikheid en werklikheid. Waarom kan Suid-Afrika (nog) nie die droom van ’n inklusiewe samelewing verwesenlik nie?”, lewer Bernard Lategan ’n sterk pleidooi om die vertrekpunt van ons handelinge te neem in moontlikheid eerder as werklikheid, aangesien eersgenoemde die voordeel het om met fundamentele nuwe insigte en handelinge (creatio ex nihilo) na vore te kom, terwyl laasgenoemde inherente beperkinge het om gewoon maar net die verlede (met sy foute) te herhaal, en dus die gevaar loop om nie met enige nuwe denkrigtinge en handelinge na vore te kom nie – iets wat inderdaad broodnodig is vir die rigtinggewing van ons “nuwe” post-apartheid, demokratiese samelewing in Suid-Afrika.

Die gevaar met hierdie argument is dat dit ’n mens in ’n soortgelyke – omgekeerde – binêre slaggat kan laat vasval deur moontlikheid meer ontologiese status te gee teenoor die werklikheid. Die gevolge hiervan is tipies teologiese benaderings wat die hede in terme van die toekoms (dit wat nog nie bestaan nie) benader – ’n kenmerk van die sogenaamde “strategiese bestuur”-benadering met hoogs idealistiese en normatiewe toekomsverwagtinge, gewoonlik in die vorm van sekere scenario’s wat so ver verwyder is van die realiteite van die huidige konteks dat dit prakties onmoontlik is om ’n werklikheid te word.

Die iShack-projek is in Kayamandi gevestig (Foto: John van Breda, iShack)

’n Ander benadering sou wees om ’n belangrike ontologiese skuif te maak deur gelyke ontologiese status aan beide moontlikheid en werklikheid te gee en sodoende hierdie dubbele binêre slaggat te vermy waarin die een meer voorrang geniet as die ander. Dit kan vermag word deur onder andere die sentrale konsep van die “included” of “emergent middle” te inkorporeer in ons abstrakte denke oor hierdie komplekse denkrigtinge. Dit is ’n konsep van wat sistematies deur die Roemeense filosoof Stéphane Lupasco in 1951 ontwikkel is (Brenner 2008; Lupasco 1951; Morin 2008; Nicolescu 2002) – om te dien as teenvoeter vir dominante Aristoteliaanse binêre denke, waarin A versus nie-A altyd wedersyds eksklusief is.

Die konsep van die included/emergent middle is veral in die kwantumfisika deur denkers soos Nicolescu gebruik om die sogenaamde “wave versus particle duality” mee op te los. Die uitdagende vraag is of hierdie konsep, met gepaardgaande ontologiese skuiwe, ons ook sou kon help om die moontlikheid-werklikheid-verhouding te herdefinieer op sodanige wyse om enige dualiteite in hierdie verband te omseil. Om dit te kan doen, sal dit baie help om met ’n nuwe waardering van die tydsdimensies onderliggend aan die konsepte van die werklikheid en moontlikheid na vore te kom. Met ander woorde: wat nodig is, is nuwe sienings van die verlede, hede en toekoms, waarin die werklikheid nie eksklusief geassosieer word met ’n tipe van “ver-anker-ing” in die verlede nie, en soortgelyk, moontlikheid met sekere konsepsies van die toekoms as slegs dit wat nog nie bestaan nie. Sodanige denke loop beslis die risiko om in die genoemde A versus nie-A-binêre slaggat vas te val.

Indien die hede benader word as die included/emergent middle – die “T-state” (in die woorde van Lupasco) – dan sou dit kon beteken dat die huidige situasie(s) waarin ons ons bevind terselfdertyd toekoms en verlede “is” – in die sin dat die hede beide dit “is” wat nog werklikheid “moet word”, asook dit wat alreeds sekere bestaande aspekte het, waarop voortgebou kan word om ’n nuwe werklikheid tot stand te bring. Met ander woorde: die hede “is” nie een of ander gefikseerde/vaste punt of permanente eindtoestand nie met dieselfde sekure verankeringe vir ons handelinge soos wat die idee van ’n onveranderlike verlede vir ons wil offer. Inteendeel, die hede “is” die emergent outcome van ’n dinamiese wordingsproses (Whitehead 2010) – die wisselwerkinge tussen die verlede en toekoms – iets wat maar voortdurend (her-)onderhandel moet word. Die slagspreuk “discovering the evolutionary potential in/of the present” vat dit nogal baie mooi saam (Snowden 2020).

Hierdie idee van die hede as dinamiese wordingsproses (Whitehead 2010) het verreikende en riskante implikasies nie net vir tipes van handelinge wat ons in die hede verrig nie, maar ook vir die rigtinggewendheid van ons handelinge. In ’n dinamiese wordingsproses is daar gewoon geen waarborge dat selfs die edelste intensies van ons dade noodwendig sal uitloop op dit wat oorspronklik bedoel is nie. Inteendeel, binne dinamiese wordingsprosesse is sulke liniêre verwagtinge en sieninge van die verhouding tussen oorsake (intensies) en gevolge (uitkomste) net te onrealisties om vol te hou en na te streef. Ons sal dus beter daaraan af wees om die hede eerder met nie-liniêre denke en opvattinge te benader.

Bogenoemde beredeneringe is doelbewus op ’n baie abstrakte vlak gevoer om sekere van die fundamentele konsepte in ons denke en benaderings hieroor te verduidelik. Die groot vraag is natuurlik of ons dit ook op ’n praktiese vlak sal kan verder voer om sodoende hiermee te probeer rigting gee aan ons jong, ontwikkelende demokratiese bestel in SA. Waardevolle ervaringe en insigte is in hierdie verband opgedoen gedurende die Enkanini-transdisiplinêre navorsingsprojek, wat in 2011 in Stellenbosch geloods is (Van Breda en Swilling 2018) – wat in die volgende hoofpunte gedeel kan word:

  • Een van die hoofdoelstellings van hierdie navorsingsprojek was om ondersteuning te gee aan ’n relatiewe klein groepie (± 400–500) huisgesinne wat ná baie jare in Kayamandi as agterplaasbewoners woonagtig was, en in 2010 besluit het om nie langer die haglike woonomstandighede te verduur nie, maar om eerder met ’n nuwe informele nedersetting – “Enkanini” – reg langs Kayamandi te begin. Dit is baie belangrik om hierdie gebeure te sien en verstaan binne die vroeëre apartheidpolitiese konteks met die ideologiese strategieë om tydelike “swart” townships in ’n “wit” SA so vinnig moontlik te vestig. Kayamandi (wat ironies genoeg in isiXhosa beteken “nice home”) was bedoel om as een van die eerste “model” swart townships te dien – waarin die destydse Departement van Stads- en Streeksbeplanning aan die Universiteit Stellenbosch’n groot rol gespeel het.

Eksaptasie, aanpassing en innovasie: By die Enkanini-navorsingsentrum word werkswinkels aangebied wat studente in staat stel om kennis eerstehands by inwonders op te doen. (Foto: John van Breda)

  • Van meet af aan, van die eerste pogings om die nuwe inwoners van Enkanini te betrek by die transdisiplinêre navorsingsproses, het dit baie duidelik geword dat die navorsingsprojek die oorgangservaringe van Kayamandi na Enkanini sal moet ondersteun met sekere tussentydse maatreëls – eerder as om met sekere “permanente oplossings” vorendag te probeer kom. Dit was inderdaad van kardinale belang dat ons van die begin af nie na ons eie navorsingspogings en uitsette moet kyk as “finale” oplossings nie, maar om dit eerder te sien as dit wat in die hede tot stand gekom het, en as sodanig onderhewig was aan enige voorsienbare asook onvoorsienbare kontekstuele veranderinge binne en buite Enkanini.
  • Prakties gesproke het hierdie tussentydse maatreëls neergekom op die mede-ontwerp van sekere sosiotegniese innovasies, veral in die vorm van die nuwe iShack. In beide die ontwerp en installering hiervan was dit egter nie nodig om met die hewige voorvereistes verbonde aan die beginsel van creatio ex nihilo te werk nie, maar eerder met ’n drievoudige benadering van: eksaptasie, aanpassing en innovasie. Die kern hiervan was egter om erkenning te gee aan dit wat alreeds in die hede aan die ontwikkel was en om praktiese maniere te vind hoe om hierop voort te bou – as a means of discovering and working with the evolutionary potential of the present situation in Enkanini.
  • ’n Behulpsame konsep om die ontwerp en veral situering van die iShack mee te konseptualiseer, kom uit die evolusieteorie, naamlik die idee van “aangrensende moontlikhede” (Kauffman 2017/1993; Snowden 2016). In kort het dit neergekom op die besluit om die iShack te midde van die konteks van Enkanini te vestig met die tweeledige doel om: (a) die verskille met die omringende shacks so prakties moontlik te demonstreer en ook terselfdertyd (b) te fokus op die moontlikheid/potensiaal van die iShack as dit wat juis nog nie bestaan het in die Enkanini-konteks nie, maar nog verder ontwerp en geïmplementeer moet word.
  • Wat begin het as ’n klein navorsingsprojek het intussen gegroei tot ’n mini-elektrisiteitsnetwerk wat, onafhanklik van die staat, basiese elektrisiteitsdienste aan ± 2000 individuele iShack-inwoners verskaf en bestuur word deur ’n dinamiese groep jong entrepreneurs wat nog steeds bekend staan as die iShack-projek – die netto effek hiervan was die totstandkoming van ’n nuwe sosiotegniese netwerk van deelnemende mense wat beslis nie betrokke was voor die inisiëring van die transdisiplinêre navorsingsprojek in 2011 nie, en wat sedertdien tot verdere samewerkingsprojekte – skepping van soortgelyke en nuwe werklikhede – gelei het.

Die slotsom: in hierdie repliek is daarin gepoog om so kort en bondig moontlik sommige van die kernpunte in Bernard Lategan se oorspronklike artikel aan te raak, en is dus net die spreekwoordelike punt van die ysberg hiermee aangeraak. Hopelik sal dit nog meer indringende vrae en gesprekke in die toekoms ontlok, met nog meer geleenthede om bogenoemde kernpunte verder te bespreek en te illustreer met relevante (empiriese) gegewens, foto’s, video’s, ensovoorts.

 

Bronne

Brenner, J.E. 2008. Logic in Reality. Springer.

Kauffman, S. 2017. The ‘Adjacent Possible’ is Relational, in: 43 VISIONS FOR COMPLEXITY. World Scientific, 23–24.

Kauffman, S.A. 1993. The Origins of Order: Self-organization and Selection in Evolution. Oxford University Press.

Lupasco, S. 1951. Le Principe d’antagonisme et la logique de l’énergie (The Principle of Antagonism and the Logic of Energy). [Internetbron].

Morin, E. 2008. On Complexity. Hampton Press.

Nicolescu, B. 2002. Manifesto of Transdisciplinarity. SUNY Press.

Snowden, D. 2016. The adjacent possible. [Internetbron].

Snowden, D. 2020. Cynefin. Cognitive Edge Pty Ltd.

Van Breda, J. en Swilling, M. 2018. The guiding logics and principles for designing emergent transdisciplinary research processes: Learning experiences and reflections from a transdisciplinary urban case study in Enkanini informal settlement, South Africa. Sustainability Science, (14):823–841.

Whitehead, A.N. 2010. Process and Reality. Simon and Schuster.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top