Mooi letters vir ’n nuwe begin

  • 0

ooi letters vir 'n nuwe begin!

 

Die nuwe ontwerp van LitNet is iets wat mens vrolik stem. Mooi letters vir ’n nuwe begin. Letters is die basis van elke woord, van elke sin en vervolgens van elke aaneenskakeling van woorde. Daarmee word sinne gemaak en nuwe wêrelde geskep. Kunstenaars, illustreerders, grafiese ontwerpers en tipograwe kan van letters iets verhewe maak.

'n Bladsy met die letter C vir Colletie uit die boek Mode van A tot Z

 

A staan vir Accessoires

Bo in die Van Abbe-Museum in Eindhoven hang seker die bekendste onderdeel van die HiHa-versameling. Dit is die kunswerk Hi Hi Ha Ha (1992) van John Körmeling. Niemand kan daarna kyk sonder om ten minste te glimlag nie. Körmeling het intussen wêreldroem verwerf as argitek en beeldhouer in die openbare ruimte. Vir die Expo 2010 in Sjanghai het hy die Nederlandse pawiljoen Happy Street ontwerp.

Ander mooi letters wat onlangs in Nederland bekend gestel is, is Piet Paris se mode-alfabet. Piet Paris is ’n skuilnaam van die mode-illustreerder Pieter ‘t Hoen. Die skuilnaam pas pragtig by sy beskouing: mode is ’n droom. Die Amsterdamse koerant Het Parool het op ’n weeklikse basis een getekende letter plus ’n bypassende teks van die modejoernalis Georgette Koning gepubliseer. Hulle onafhanklike samewerking was vir albei net stresvol genoeg om as inspirasie te dien. Paris het elke Vrydag een letter, byvoorbeeld A of F vir Koning gestuur. Oor die naweek het hulle dan geteken en geskryf. Sondagaande het hulle dit, nog steeds onafhanlik van mekaar, ingestuur, en Dinsdag het hulle die eindresultaat in Het Parool gelees. Soms het die tekening en teks verrassend by mekaar aangesluit, andere kere nie. Met die bundeling van al 26 letters in die publikasie Mode van A tot Z deur Piet Paris en Georgette Koning, kom die skoonheid van die modewêreld op ’n vars manier onder die publiek se aandag.

Die opspraakwekkendste letter sedert Novembermaand is egter die nuwe letter wat spesiaal vir disleksielyers ontwerp is. Die grafiese ontwerper Christiaan Boer (30), wat self ’n disleksielyer is, het die alfabet vir hierdie mense toeganklik gemaak. Daarmee kan hulle nou gemaklik lees. Boer sê in NRC-Handelsblad: “Je moet voorkomen dat de letters zweven … de onderkant zwaarder maken” (11 Nov 2011). Die klassieke verwarring tussen b en d los hierdie (letter-) Boer op met: “By de b heb ik de bolling aan de bovenkant afgevlakt, bij de d aan de onderkant.” Die agterstand wat disleksie kon veroorsaak in die leerproses, word daarmee nek om gedraai. Sagteware-reuse toon belangstelling om die lettertipe in hulle sagtewareprogramme op te neem. Die eerste boek in “de dyslexie” het al by Uitgewery Bruna verskyn: David Baldacci se De Provocatie.

Van letters in die kuns-, mode- en gesondheidswêreld verskuif die blik na letters vir die rekenaar. Reeds in 1967 werk die tipograaf Wim Crouwel aan ’n geometriese lettertipe. Sy letters bly onleesbaar en hoofsaaklik ’n teoretiese eksperiment. Plakkaatontwerpers in Londen pas 30 jaar later hierdie letters aan. Nou is dit leesbaar en modern.

'n Alfabet vir disleksielyers

 

Die mooiste letters kom egter van Crouwel se mededinger, Anthon Beeke. Beeke ontwerp sy Body Type (1969) na aanleiding van die lettertipe Baskerville Old Face. As grafiese ontwerper het hy die alfabet uitgedruk in ’n reeks swart-wit foto’s van dartelende meisieliggame. Die fotograaf was Geert Kooiman. Dit het dadelik die aandag getrek en legendariese status verwerf – pragtig as selfstandige ontwerp en konfronterend as ’n uitdrukking van die sestigerjare in Nederland. Body Type was ’n uiting van bevryding teen seksuele taboes. Terselfdertyd het dit van groot klassieke skoonheid getuig en, bo alles, van onskuld. Omdat dit net so onprakties was as die letters van Crouwel, het dit ook vir meer as 30 jaar ’n verborge skat gebly.

 

 

F staan vir Folklore

Totdat René Knip Body Type die afgelope Oktober weer uitgegee het in die vorm van ’n boks met los kleurfoto’s van Arjen Benning. Die alfabet is sedert 2009 stelselmatig uitgebrei met syfers. Die ranke meisielywe is aangevul deur stewige, swart mansliggame – as uitdrukking van die tyd waarin ons leef. Dit is op die onderstaande You Tube-filmpie duidelik dat Beeke dit baie geniet het om nuwe lewe in sy menseletters te blaas. Met ’n Frank Sinatra-agtige stem word die bypassende video van Guus van Waveren amper ’n liefdesverklaring.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top