Mooi aand vir jou

  • 0

Foto: Canva

Mooi aand vir jou

 

Sy verlaat die saal en die gedagte aan die lou tee en die nuuskierige blikke en die openlike vyandigheid eers teen skemeraand. Sy is feitlik die laaste mens om te gaan. ’n Beampte sluit die deur agter haar voor hy stadig terugkeer na sy stoel en tafel waar hy ’n poniekoerant aan die lees was. “Doktor moet sterk staan,” het hy haar onverwags toegevoeg. “Hy is kwaad, want hy is séérgemaak. Dis ook net julle twee wat ...” Maar sy het ergerlik gegroet.

 

Dis beter hier voor die gebou as daar binne waar sy die deel van haar lewe wat saak maak, deurbring. Sy moet iets eet. Gaan lê. Of net sit. Dis egter nog ’n blok se stap na die parkeergarage en dan die twintig minuut rit na die voorstede voor sy sal kan ontspan. En wat lê by die huis voor? ’n Pak drukwerk wat sy voor môre moet deurgaan. Sou eerder ’n moordverhaal wou pak, maar nou ja.

 

Op die steentrap na die straat staan sy en kyk na weerskante. In die lig van die lampe wat elke aantal meter na benede skyn, is daar net ’n bedremmelde mansfiguur wat teen die muur leun, onder die metaalbord wat lees “Administrasie”. Geen teken van mense in netjiese drag nie. Geen kollegas, geen beamptes, geen joernaliste nie. Vir die eerste keer vandag is sy alleen.

 

Die berg toring bo die stad uit, donker behalwe vir breë stroke spreibeligting wat sekerlik nie die natuurlewe tot voordeel strek nie. Moontlik iets om van kennis te neem, ’n aantekening te maak vir ’n volgende beleidstruweling. Maar laat sy vir eers daarvan vergeet. Nou net hier staan en sterker voel.

 

Die wind waai plantgeure uit die nabygeleë park. Sy voel die lug teen haar wange en keel. Na links en regs strek die straat grou weg, die eenselwige kleur te danke aan argitektoniese eenvormigheid, sowel as die tyd van die dag en die gehalte van die lamplig. Die skakering wat daar wel is, is in die glans van vensters en die ligter steen van die geboue teenoor die donkerder grys van die teer en die nou kleurlose donker van die bome, en dan is daar die groot ou bleek blokke wat die geskiedkundige randsteen uitmaak. Dis waaroor die bedremmelde mansfiguur struikel toe hy vorentoe tree, blykbaar om die straat oor te steek. Hy val hard, kry skaars gekeer met sy arms, en ’n onaangename golf besorgdheid prikkel oor haar. Sy gaan na die man en buk oor hom.

 

“Meneer, is alles reg? Is jy oukei?”

 

Sy ruik hom. Ou wyn, ongewaste lyf. Verrassend ligte oë kyk uit die donker, geplooide en bebaarde gesig na haar.

 

Hy draai op sy sy en sit orent in die lamplig, vieserig op sy eie skaduwee asof in ’n plas afvalwater. Sy skoene is aan flarde. Daar is seerplekke aan sy kaal voorarms en gesig. “Alles is reg, dankie, mevrou,” antwoord die man. Hy druk teen die teer en sukkel orent. Sy staal haar vir ’n versoek. Trouens, sy vat al aan haar beursie in haar baadjiesak waar sy verblyfbewyse vir die nagskuiling hou. Maar dit lyk of die man nie sin in haar het nie. “Dankie, dankie,” prewel hy en slaan ’n rigting in, een skoensool slepend onder hom, een arm met minder van ’n swaai daaraan as die ander.

 

Dis onverwags, hierdie negering van haar. Hier is iemand wat nie belang by haar het nie. “Meneer,” sê sy. “Meneer!”

 

Veertig treë weg gaan staan die man en kyk na haar terug. Sy stap na hom. Hy kyk bedaard na haar. Steeds wil hy nie iets by haar hê nie.

 

“Is alles reg?” vra sy hom.

 

Die wind voel sterker. Ineens raas iets in die straat ’n entjie van hulle af. ’n Koeldrankblikkie rol in die dowwe lig oor die teer en teen die randsteen vas. Die ligte oë kyk terug na haar.

 

“Als reg, mevrou,” sê hy.

 

Hulle staan ’n oomblik. Sy weet nie wat om te sê nie. Moet aanloop, maar na wat?

 

“Is alles reg met mevrou?” vra die man.

 

Hulle is van dieselfde lengte, sy wel swaarder as hy. “Ja,” sê sy vir die man wat nie dreigend voorkom, ergerlik praat, of haar wil voorsê nie. “Het jy al geëet vanaand?” vra sy dan.

 

Sy gesig vertrek. Dis asof hy ’n bietjie lag vir die vraag. “Ek het vanmiddag, dankie.”

 

“Waarheen ... Waar sal ’n mens nou iets te ete kry?”

 

Hy beskou haar. “Daar by Furious Chicken hier oorkant. Dis spicy kos daar.”

 

“Sal hulle ons toelaat?” wil sy weet. “Vir my?” Sy glimlag.

 

“As jy betaal, laat hulle enigiemand toe. Maar jy moet loop wanneer jy klaar is.”

 

“So dis soos ’n restaurant?”

 

“Jy koop jou hoender op die grondvloer by ’n toonbank en dan gaan jy met die trap op en sit op die eerste vloer by ’n tafel en eet klaar.”

 

“Is daar baie mense? Dit maak nie saak nie. Kom wys my. Ek koop vir jou aandete.” Sy neem die besluit met ’n ligte hart. Dit is wat sy nodig het, nou, hierdie aanraking.

Die man lyk of min dinge hom nog kan verras. “Vrou van die groot gebaar,” sê hy.

 

“Wys my waarheen,” sê sy.

 

Hulle begin loop; hy aanvanklik ’n paar treë vooruit wat hom aanmekaar laat terugkyk asof hy verwag sy gaan verdwaal of wegglip. Dan word die voetverkeer meer en hy raak blykbaar selfbewus, want hy laat sak sy kop of draai sy gesig weg of verdiep hom in ’n winkeluitstalling, en hou nou teenaan haar figuur.

 

“Wat is jou naam?” vra sy. “Ek is Elize.”

 

“Joe.”

 

“Joe!” sê sy skerp. “Ag, nee. En waarvoor is dit kort?”

 

Hy kyk weer weg toe twee mans van voor kom. “Karel,” sê hy wanneer hulle verby is. In die kleurvolle ingang na Furious Chicken gaan hy staan; sy voete byna presies op die eerste twee van ’n reeks groot hoenderpote wat op die vloer geverf is en na die toonbank lei. Die lug ruik na vet en speserye. “Karel Janszoon Berggersen.”

 

Sy knik asof dit vir haar soveel saak maak as wat hy blykbaar verwag. “Sal ons iets kry, Karel? Ek dink ek wil een van die burgers probeer. Hallo,” groet sy die vrou anderkant die toonbank, wat huiwer terwyl sy van die onnet, riekende Karel na die netjiese Elize draai.

 

“Wat sal dit wees, Karel?” vra Elize.

 

“Hoenderburger. Dieselfde.” Die man is ongemaklik. Sy steek haar hand uit en druk dit teen sy voorarm. Hy voel koud. “Sy lyk halsstarrig,” prewel hy, oor die vrou agter die toonbank.

Elize sê ferm en vriendelik: “Ek en my gas wil graag van jul heerlike hoenderburgers eet.”

Die vrou gee met ’n sak van haar gesig gehoor. Elize betaal. Buite is die verkeer aan die optel. Hulle kos is gou gereed. Die vrou agter die toonbank loer na Elize. Die plek is stil.

“Dis nog vroegaand,” sê Karel wanneer hulle met die trap opgegaan het, elk met ’n warm hoenderburger in ’n boksie. “Later kook dit hier bo. Mense wat van die drinkplekke af kom, is honger.” Hy praat duideliker as voorheen. Miskien is dit die vooruitsig van iets om te eet. Miskien die geselskap, wat iets vir háár beteken.

 

Hulle gaan sit. “Jy ken die strate,” probeer Elize ’n kompliment. Sy moet ferm praat, want musiek speel hard in die leë vertrek. Daar is ’n tiental tafeltjies en drie keer soveel stoele in die area; alles ordelik rangskik.

 

Karel sê: “Dis nou nog netjies. Later is dit chaos soos mense stoele rondgeskuif het.” Hy lag, kouend.

 

Elize sê: “Ek kan my voorstel.”

 

Eenkant maak dubbeldeure op ’n smal balkon oop. Sy kan motorligte teen die oorkantste gebou sien speel. Iemand skel van die sypaadjie af en iemand anders koggel terug.

 

“So,” sê Karel. “Jy weet wie ek is.”

 

“Ja. Karel Janszoon Berggersen. Jy het gesê.”

 

“Is dit wat jy weet?”

 

“Dis nie asof jy veel van my weet nie,” voel sy om haar vrolik te verweer. Sy geniet die uitstappie. “Jy weet nie wie en wat ek is nie.”

 

“Wie is jy dan?”

 

“Elize Pennelekker, kan jy sê.” Sy eet terwyl sy na die plakkate teen die mure kyk. Elkeen beeld ’n ander seetoneel in bont en vrolike kleure uit. “Dis hoe ’n mens moet wees, iemand van sulke kleure. Kyk daardie surfer op sy brander.”

 

“Waar werk jy dan?” vra Karel. Hy het gemaklik by haar geraak.

 

“Die miserawiliteit,” sug sy oordrewe.

 

“O! Dan het jy seggenskap oor my. Hulle wil ons van die strate af hê, die munisipaliteit.”

 

“Ja. Dis vir julle eie heil.”

 

“Dis vir die vertoon van die stad. Die skuim moet weggewas word.”

 

“Karel, jy is nie skuim nie.”

 

“’n Dekade of wat sê ek is.”

 

“Wat bedoel jy? Was dit ’n vonnis?” En toe hy knik: “Waarvoor? As ek mag vra.”

 

“Jy mag vra. Almal weet in elk geval. Dis hoekom ek nie skuiling toe gaan nie.”

 

“Moord?”

 

“As my naam nie bekend klink nie, wat van Joe Powers?”

 

Sy moet sluk en wegkyk. Lig het opgegaan. “Jy is Karel Berggersen. Dis jy wat Powers eenmaal met ’n hamer geslaan het.”

 

“Nie dood nie. Hy is nie dood nie.”

 

“Hy was in die hospitaal. Sy wonde het nooit heeltemal herstel nie.”

 

“Hy haat my.”

 

“Hy haat baie.” Sy verduidelik nie. “Hy wou jou nooit vergewe nie. Ek weet. Hy het by elke paroolbespreking geweier dat jy uitkom.”

 

“Hy wou my wel nooit vergewe nie. Lank nadat ek verander het, ’n nuwe mens geword het. Dit kan gebeur, weet jy. Ek kan getuig van mense wat verander. Ek is self een.”

 

“En jy het dit in woede gedoen? Dit was ’n impulsiewe daad?”

 

Karel lyk nog meer afgerem. “Ek was in ’n twis met iemand heel anders gewikkel, by die hotel waar ek gewerk het. Ek was nutsman. Ek het een aand huis toe gegaan met ’n hamer in my belt gedruk. Ek het Powers teëgekom toe ons op ’n sypaadjie in mekaar vasloop. Ek was in ’n slegte bui. Hy was in ’n slegte bui. Daar was ’n hamer.” Hy haal skouers op.

 

Dis ’n gebaar van soveel sprekende aanvaarding, een soos ’n grimmige filosofie, dat sy net knik. Sy wil nie hê hy moet verder praat nie. Hulle sit weerskante van hul tafeltjie, die kos halfgeëet.

 

“Dinge sou anders gewees het,” sê sy, “was hy dood. Ek bedoel nou maar. Die lewe kon anders gewees het.”

 

“Ja. Hy het aangegaan na groot dinge. Aktivisme. Invloed.”

 

Sy vat aan ’n oorbel en sê: “Dis nie dat ek dink dit sal jou laat beter voel nie, maar ek sit self met ’n beskuldiging.”

 

Hy kyk met belangstelling na haar. “Nie vir aanranding nie, is ek taamlik oortuig.”

 

“Geld.” Elize pers haar lippe saam. “Dit word gemeen dat ek geld verduister het.”

 

“Hoeveel?”

 

“Genoeg. Heelwat.”

 

“Vir? Wat wou jy doen daarmee?”

 

“Ek het nie gesê ek is skuldig nie.”

 

“Dis net ons en die hoenders hier en die hoenders gaan nie praat nie. Nie eens Joe praat hier nie.”

 

Sy skuif in haar stoel. “Hy weet ek het ’n seun wat oorsee is. Sy prestasie was nooit so dat hy op beurse of befondsing kon staatmaak nie. Hy het duur belange, is die aantyging.”

 

“Ma moet uithaal?”

 

“Dis wat gesê word.”

 

“Ja?”

 

“Ek moet my verweer. Werk moed op daarvoor. Die saak bespreek.”

 

“Jy het geleerdheid.”

 

“Ek het.”

 

“Moet jou kind ook hê? Dis soos ’n kringloop. Ek wonder oor welaf mense. Wat hulle tot misdaad dryf. Hulle emosies lyk anders. Kalm mense. Al die beleefdheid. Hulle is bang. So sonder fisiese moed. Maar gulsig, ja. Hoe is dit dat ’n mens soveel het en jy wil nog hê?”

 

Sy beduie om hulle in ’n poging om die stad in te sluit, al die werk, al die geleenthede, al die versoeking. “Ek het heelwat geleerdheid. Nie meer seker dit baat my juis nie, want ek beland net in situasies waar ek verantwoordelikheid moet aanvaar.”

 

“Vir mense wat jou nie kon skeel nie.”

 

“Dis seker die kern van die ding. Ek het nie werklik die omgee wat ek voorgee ek het nie. En op my salarisvlak en op my vlak van geleerdheid moet jy dit hê.”

 

“Vir wat nogal kry jy jou salaris?”

 

“Ek is die burgemeester.”

 

Karel se onderkaak sak. Hy sê eers niks, wend sy blik af na die stuk brood en hoender tussen sy vingers, sit dit in die boksie neer waaruit dit kom, vee sy hande aan ’n servet af. Ouer vuiligheid kom saam met die vetterigheid af, kan Elize sien.

 

“En Joe Powers is jou nemesis in die raadsaal,” sê hy. “Ekskuus, ek kry af en toe ’n koerant te lees. Die burgemeester van alle mense. Sit oorkant my en hoender eet.”

 

“Nou gaan jy my vra vir ingryping. Het julle genoeg leesgoed by die skuilings?”

 

“Ek gaan nie skuilings toe nie. Joe Powers is ’n gewilde man onder behoeftiges. En ek het hom amper doodgemaak. Daar is die kwessie van geëien word deur die verkeerde man.”

 

“Jy is paranoïes.”

 

“Iets pla almal. Netnou loop ek my ook in ’n hou vas. Dan eerder ronddwaal, nou terwyl dit warm is. Oor die winter sal ek sien.”

 

“Kom jy jou paroolverpligtinge na?” vra sy.

 

“Nee.”

 

“Wat hou dit vir jou in?”

 

“Ek dink hulle soek na my. Miskien nie baie hard nie, want ek is nou al oud en half gebroke, soos jy kan sien. En ek het nog nie weer iemand iets aangedoen nie. Maar ek verwag dat ek verder aan my skuld teenoor die samelewing sal moet betaal. Die een of ander tyd sal ek moet terug gaan.”

 

“Dus is jy tans op ’n soort vakansie?”

 

“Ek is.”

 

Sy eet ’n stukkie hoender. Sy beduie om hulle en begin praat: “Teen die mure lok en roep die plakkate met die seetonele. Sien jy? Dis die beeld van jeugdigheid. Die oomblik waarin jy jou handdoek van jou lyf af werp. Oor die sand in jou baaikostuum hardloop die koue water in. Die eerste brander stuit jou. Jy dwing jouself om verder te gaan. Altyd verder, deur die water, die brekers, dieper, die volgende uitdaging tegemoet. Waar is die omdraai?”

 

“Voor die punt van verdrink?”

 

“Matriek gepresteer, op universiteit gepresteer, altyd prestasie. Trou met ’n presteerder, bly in ’n argitektoniese prestasie, bevriend presteerders, probeer ’n presteerder grootmaak, maar sit met ’n kind wat blykbaar min wil het om sy stempel af te druk.”

 

“Sien jy, die siklus is by hom gebreek,” sê Karel. “Miskien is jou kind vry waar jy nie is nie.”

 

“Dit is aaklig, maar ek is verlig dat hy oorsee is. Hier ...”

 

“Sou hy jou kon waarneem in jou pligte? Jou oordeel? Jou kind is vry en jy so ook.”

 

Van die straat en toe die onderste vertrek kom ’n bohaai, mense wat lag en praat.

 

“Dis die einde van ons aandjie,” sê Karel vinnig. “Ek sal moet gaan. Hulle sal my nie hier duld nie.”

 

Elize vou die boksie voor haar toe soos ook Karel s’n en neem beide na ’n groot vullisdrom uitgevoer met ’n wit plastieksak. “Dankie dat jy my die plek gewys het. Sal dit onthou.”

 

“Sal jy?” Maar Karel se aandag is nie heeltemal by haar nie. Hy kyk asof senuweeagtig na die trap. Sy beduie hy moet haar volg. Op die onderste vloer staan agt of tien jong mense luid en praat en stry terwyl hulle kos bestel. Twee van die mans merk die vuil Karel en lyk dadelik op hul hoede. Hy hou teen die muur verby die mense. Elize kyk kalm na hulle en met die een besonder skerpkykende man behou sy oogkontak totdat hy ’n verskonende gesig trek. Dan is hulle by die deur uit en op die sypaadjie.

 

“Ek sal ook moet gaan,” sê Elize. “Huis toe. Ek moet voorberei vir môre. Het ’n magdom leeswerk.”

 

“Ja, ek sal my plekkie moet gaan uitsoek.”

 

“Waar is dit?”

 

“Wil jy regtig weet? Ek stap saam met jou na jou kar.”

 

Sy sê: “Dis nie nodig nie. Ek moet kantoor toe.”

 

“Laat my toe om een halfwas-gentleman-ding in my middeljare te doen. Het vergeet wat dit is om gaaf en vriendelik met ’n vrou te wees by wie ek nie geld in die park bedel nie.”

 

Hulle stap. Die aand is warm en oop. Die stad lewe. Oral ry mense, stap mense, lag mense.

“Soveel afwagting,” sê Elize. “Ek kom te min saans uit. As student was ek oral op straat. Soms in jolyt. Meestal diens gedoen. Kerke, gemeenskapsentrums, uitreike. Ek ken die atmosfeer.”

 

“Glo jy dat dinge teen mekaar kaats? Ek en jy en Joe Powers?”

 

“Nee.”

 

“Dis darem alte toevallig. Vanaand. Jy ...”

 

“Ek is moeg vir die tema van myself. En hier is die gebou. Ek moet gou in.”

 

Hulle staan ’n oomblik op die sypaadjie. Karel wil-wil sy hand lig, lyk dit, en sy hou haar eie na hom uit.

“Dit was goed om te ontmoet,” sê sy. “Ek wens jou voorspoed toe. O, wag,” en sy voel na haar beursie.

 

“Asseblief nie. Dit sal die aand bederf. Ek sal eerder met die herinnering as die honderdrandnoot hier wil weggaan.”

 

“Wat laat jou dink ek sal jou honderdrand gee?”

 

“Jy is die vrou van die groot gebaar.”

 

Sy lag spontaan en wil nog iets sê. Kop onderstebo draai hy egter van haar af, sy een hand weg van sy lyf sodat dit lyk asof sy vingers deur water vee. Sy vou haar arms en kyk hom agterna, die sluipende figuur, sku, weer vreemd. Sy skaduwees rek en krimp onder die vaalgeel lampe. Dan gaan sy na die deur en klop.

 

“Doktor,” groet die beampte haar. “Doktor is laat. Ek hoop als is wel.”

 

“Als is heeltemal wel, dankie.” Sy voel so kalm. “Sê my gou, is meneer Powers nog hier?”

 

“A-ja-a. Die een mens wat later as Doktor huis toe gaan.”

 

Sy glimlag en stap met die stil, blou gang die gebou binne, haar voetstappe eggo’s van mekaar.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top