Op pad na die Moody Blues-konsert by die Grand West-arena in Kaapstad konfronteer ’n reuse-vuurbal ons oë net voor sonsak op die snelweg. ’n Werklik asembenemende skouspel met verskeie rooi strale wat oorkruis deur die blink sirkel klief. My selfoonkamera vaar vrot met die vaslegging daarvan, maar dis al opsie wat ek het. Toe moes ek al geweet het hier kom ’n ding, maar ek kon op daardie oomblik nog nie die gepastheid van die beeld snap nie. Ek was mos in elk geval gereed en lus vir die konsert.

By Grand West sien mens sommer die plek staan reg vir ’n gedoente. Rye personeel doen moeite om die parkering te vergemaklik, ook vir die vertrekslag later. Hulle het natuurlik geweet hoeveel kos die kaartjies! Die waterryke tuine verdien ook applous, maar mens onthou eers later weer daarvan – nou dryf koors jou om deur die sekuriteitsbliepers by die kern van die aksie uit te kom. Geen foute nie, meneer en mevrou, ons sien julle is net middeljarige groupies (goed, bejaard …) wat wil kom rock. Jaaa …
18:15. Ons wil eers gou iets eet, maar binne-in die kompleks is al ’n skare mense wat by die sekonde vermeerder. Hulle sit die eet- en koffieplekke so vol dat ons slegs met ’n gelukskoot ’n tafeltjie in die Wimpy oopsoebat. Brown or white? Geroosterde kaasbroodjies en koffie, dankie. Die koffie kom kokend vooruit en verskroei my tong. Ons sien hoe stroom die mense verby in die rigting van die arena. Dit raas so dat ons byna niks hoor van ’n afkondiging wat gemaak word nie. My man registreer darem dat die vertoning eers 20:00 pleks van 19:00 sal begin. Skielik is daar baie tyd voor 20:00 en was my tong dus onnodig op die brandstapel.
Ek is oor min dinge snobisties, maar warm wyn teen R25 in ’n halfvol plastiekglasie met ’n omkrulrand hoort nêrens anders as op ’n snoblys nie. Voeg daarby dan (maar) ys, en jy het nóg minder wyn teen ’n kwart van R100.
Dis verblydend en onthutsend om te sien die duisende gesigte rondom jou is terugbonsings van dít wat jy elke dag in jou eie spieël waarneem. Grys minderwordende hare, hangkiewe, moeë ooglede, permanente fronse. Maar almal is vanaand hier met dieselfde hupsheid waarmee jyself gekom het. So goed as moontlik opgedollie en geparfuum vir ... my magtig, niemand minder nie as die Moody Blues! Daardie sexy perde wat in die vroeë 1970’s ’n eerstejaarstudent bewusteloos kon sing met “Nights in White Satin”!
By die ingang na die arena word my handsak eers deursoek. Vergeef maar die deurwag wat dalk gedink het dis die wegsleepsak waarin soetgesig Justin Hayward ná die vertoning ontvoer gaan word. Dit ontgaan my nie dat die toegangsbandjies wat om ons polse gebind word, blou is nie. Meer spesifiek, viagrablou.
Een van die twee voorgroepe moes noodgedwonge kanselleer, maar 10cc maak meer as op daarvoor. Hulle klink so goed dat ek benoud begin raak vir die MB’s ...
Teen pouse is die afwagting oral tasbaar. Selfs die toilette bruis ekstra hard en aaneen. Die plastiekkoppietjie pla my ook glad nie meer nie. Al te gemoedelik druk ek saam in die ry in en vra vir nog twee van hulle – met báie ys in, natuurlik.
Die man aan my regterkant wat soos die pous lyk, kom byna iets oor toe die Moodys die verhoog een-een betree. ’n Goed uitgewerkte, noodsaaklike strategie, want as Justin Hayward en John Lodge eers verskyn het, vergeet mens maklik van die ander groeplede. JH se wit klere vang onhebbelikhede aan met my oë, en kapokhaantjie JL se astrante hare en houding sorg dat hy nie ’n halwe kitaarsnaar afsteek teen die visioen in wit regs van hom nie.
Midde-in my eerste vergaping raak ek onverwags hartseer, en ek wens my brillense was dowwer. Want agter die vereringsglans kan ek nie anders as om raak te sien dat hulle darem erg vars gepruik, gebotox en versilwer lyk nie. Laat ek dit maar sê: soos has beens. En daar op my stoel tussen sesduisend ander oueres van dae voel ek sommer ook klaaglik oor die muur.
Maar toe trek hulle los dat die verhoog lugspieëlings begin vibreer. En die ligte skiet sterre uit wat oorkruis strale uitstuur soos die son op die pad. Die ikone speel nog net so knieë-teen-mekaar-knyp kitaar en sing hul mengsel van pop-rock-blues met dieselfde stemme wat deur geen ateljeemanipulering ter wêreld aangehelp kan word nie. Een treffer na die ander kom aan die beurt en die gehoor raak al hoe losser en hul waardering al meer.
“Nights in White Satin” word gebêre vir heel laaste. O. My. Goeiste … Selfs die ou pous wat by tye weggedommel het, vlieg regop en begin saamsing en lyf gooi. Ons is almal weer 19 op ’n reuse-garagepartytjie aan die sy van ’n hartklop-opjaer wat mik-mik om jou vas te druk en te soen. En met elke woord bespreek jy nog ’n lappie hoendervel iewers op jou lyf.
Die Moody Blues of die Moody Viagras? Baie beslis die Blues – 65+ jaar oue KWV wat die verhoog nog eersteklas laat beef.
F*kkit!

