Monument herdenk Kaapse rebelle

  • 5

By Laborie in die Paarl het vroue in 1900 twee keer van regoor die Kaapkolonie vergader om teen die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog beswaar te maak. Dit is ook hier waar een van die mooiste monumente wat die Kaapse rebelle herdenk, opgerig is, skryf Elsabé Brits.

Die manlike figuur (links) en die vroulike figuur (regs) van die Anglo-Boereoorlogmonument op Laborie (Foto: Carel Stander)

Dié monument, die simboliek daarvan, en die mense van die Kaapkolonie wat betrokke was by dié oorlog in die Transvaal en die Oranje-Vrystaat, is onlangs bespreek op 'n byeenkoms van Orde van den Prince se Kaap de Goede Hoop-afdeling, by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere in Kaapstad.

Tussen stukke graniet van verskillende teksture en groottes wat die verskillende mense verteenwoordig, kan besoekers by Laborie opstap na die monument. 'n Plek wat 'n mens nie in een foto afgeneem kan kry nie.

Carel Stander, 'n stigtertrustee van die monument, verduidelik: “Die manlike figuur beeld die Kaapse rebel wat die burgers in die Noorde gaan steun het, uit. Sy naaktheid impliseer hy is gestroop van die toevallige, oppervlakkige verskille tussen individue en omstandighede en beklemtoon daarmee die essensie van die Kaapse rebel.

“Hy staan met sy rug teen 'n muurhoek van pantsergraniet. Die granietpanele agter hom is simbolies van die ondeurdringbare beperkings waarmee die owerheid deur die genadelose krygswet die rebel se voortbestaan en menswees ontwrig en hom in 'n hoek dryf.”

Oorkant die man staan 'n vrou. Andries Domberg, 'n argitek, verduidelik dat net soos die man se kop kaalgeskeer is, is die vrou s’n ook. Dit is simbolies van rou. Sy is toegedraai in wat na doeke lyk tot by haar voete. Volgens hom moet die monument jou emosioneel betrek en laat dink. Dit is 'n ervaring. Die toedraai van haar liggaam is simbolies van wette en voorskrifte wat haar vasgebind hou. Sy is sonder stemreg en dus polities geneutraliseer. Haar gesig en liggaam is redelik androgenies.

Sewe reliëfpanele beeld elemente van die oorlog uit, soos die konsentrasiekampe, die verskroeide-aarde-beleid en die eikewoud waar die vroue vergader het.

Die glasmure is ook simbolies van die Afrikaners se lojaliteit teenoor hulle volksgenote in die Boererepublieke. Dié in die Kaapkolonie was gedwing om 'n keuse te maak tussen onderdanigheid en lojaliteit aan die Britse koloniale regering en lojaliteit aan hulle gees- en bloedverwante in die republieke. Die rebelle het laasgenoemde gekies, vertel Stander – dié mense het vryheid en reg kies.

Die monument aan die voet van Paarlberg is in 2005 ingehuldig. Deesdae is dit omhein, omdat daar vandalisme was. Mense kan die sleutel by die wynproesentrum gaan haal om dit te besoek.

Vanjaar is dit 120 jaar ná die begin van die Anglo-Boereoorlog (ABO). Bertus Steenkamp, 'n afgetrede generaal-majoor, het vertel hoe dié oorlog en die besluite wat daarna geneem is “tot vandag nog 'n invloed op ons het. Dit was werklik 'n groot oorlog.”

Daar was sowat 16 000 Kapenaars wat hulle by die Boeremagte aangesluit het, het hy gesê; baie onder vals name om hulself teen vervolging te beskerm. Aanvanklik het die rebelle vyf jaar tronkstraf ontvang, maar later kon hulle die doodstraf ontvang en 44 is só tereggestel.

“Van die beloftes wat aan hulle gemaak is ná die vrede gesluit is, het niks van gekom nie. In 1903 het hulle (die rebelle) tydelike amnestie ontvang en in 1905 algehele amnestie.” Hy het bygevoeg dat die rebelle nooit behoorlike erkenning vir hulle rol ontvang het nie, ook nie die vroue nie.

Die letterkundige Dorothea van Zyl het vertel hoe twee van die belangrikste vergaderings by Laborie plaasgevind het. Op 27 Junie 1900 het sowat 550 vroue van heinde en verre gekom en 52 telegramme van steun is ontvang. Elizabeth Roos, die vrou van die destydse saakgelastigde van die NGK in die Kaapkolonie, het 'n vurige toespraak gelewer teen die verwoesting van die oorlog en die swak behandeling van die rebelle.

Daar is op 10 November dieselfde jaar weer 'n vergadering op Laborie gehou, en dié keer was daar  1 500 vroue en Roos was die voorsitter. Leipoldt het in 'n nuusbrief skryf, vertel Van Zyl, hoe vroue uit alle dele van die Kolonie onder die blaarryke eike vergader het. Daar was selfs 'n oorvol, spesiale trein uit die Kaap en karre het vroegdag al opgedaag.

Toe Emily Hobhouse kort hierna in Suid-Afrika aangekom het om te help, moes sy met Alfred Milner, goewerneur van die Kaapkolonie en Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, vergader om toestemming te kry om na die Oranje-Vrystaat te reis om die konsentrasiekampe te besoek. Sy het toe reeds kontak per brief met die vroue van Kaapstad en die Boland gehad. Haar versoek was om verder noord ook besoek af te lê en dat Roos haar op die reis moet vergesel. Beide is geweier. Sy moes alleen gaan.

Die meeste toesprake daardie dag op Laborie was in Nederlands, maar daar was ook enkeles in Engels, soos dié van Mary Sauer, van Uitkijk. Buite die “kring van dames” het die mans gestaan en die vurige vrouesprekers toegejuig. Volgens Leipoldt het die mans geen leiers gehad nie, maar die vroue wel.

Marie Koopmans de Wet het 'n vredespetisie met 16 750 handtekeninge probeer voorlê aan koningin Victoria, maar dié het glo later ontken dat sy dit ontvang het. De Wet en Hobhouse het saam met komitees gewerk om kos, klere en ander middels in te samel en De Wet se huis is as versamelpunt vir die goedere gebruik. Hier is dit verpak en na die konsentrasie- en krysgevangekampe gestuur, en uiteindelik is De Wet onder huisarres geplaas.

Cecil John Rhodes het De Wet voor die oorlog genader met 'n plan om ter wille van 'n tremroete 'n punt van die kasteel af te breek. Haar reaksie was: “Sê aan mnr Rhodes sy neus is ook 'n puntjie van sy gesig. Laat hy dit afsny en dan in die spieël kyk.” Later sou Rhodes sê die vrou is gevaarliker as Onze Jan Hofmeyr van die Afrikaner Bond, vertel Van Zyl.

Verskeie komitees is in die Kaapkolonie binne die NGK gestig om fondse in te samel vir noodleniging, het Van Zyl gesê. Vroue van die drie susterskerke het wyd en syd goedere ingesamel vir veral die agt konsentrasiekampe wat in die Kaapkolonie was.

Van Zyl vertel dat Leipoldt in een van sy “Brieven uit de Kaap Kolonie” oor oorlogsnuus vir die Nederlandse dagblad Het Nieuws van de Dag geskryf het: “Later sal die Boer wel insien dat die vrou 'n plek in die politiek behoort te hê waar sy vir hom baie kan beteken en hoe eerder hy haar hierdie plek gee, hoe beter sal dit vir die toekomstige Suid-Afrika onder eie vlag wees.”

Later het dit tyd geraak om stemreg aan vroue te gee: in 1918 aan vroue in Australië, Brittanje, Noorweë, Denemarke, Ysland en Kanada; in 1919 in Nederland en België; in 1920 in Amerika; en in Suid-Afrika eers in 1930 (net aan wit vroue). “Dit is nogal skandelik dat die teenkanting in die 1920’s gekom het in Suid-Afrika uit die geledere van die Gereformeerde Kerke, dieselfde kerke waarin so baie vroue so 'n enorme rol gespeel het gedurende die ABO,” het Van Zyl gesê.

Dorothea van Zyl, letterkundige, praat oor die vroue van die Kaapkolonie tydens die ABO. (Foto: Elsabé Brits)

  • 5

Kommentaar

  • Agt geslagte lank het Laborie (Laborie et Picardi) as die Louws of ander familie behoort. Naby, by Wellington, het Andrew Murray, (seun van Andrew Murray van Graaff-Reinet) ''n pleidooi aan die Britse regering geskryf om asseblief nie as magtig te land in die wêreld, dié klein Boererepubliek aan te val om hulle grond te vat nie. en eland was woedend en het Murray se neef, Willie Louw van Colesberg, as Kaapse rebel gefusilleer sonder behoorlike verhoor (onskuldig, nogal, aangesien 'n getroude vriend met kind(ers) eintlik die skuldige was). Daar was verskeie Murray- en Louw-familieverbintenisse.

    Andrew Murray van Wellington, was as 20-jarige, die twee Boererepublieke se eerste en enigste volwaardige predikant en was ook betrokke by die Sandrivierkonvensie, waar soewereine onafhanklikheid as 'n dié Transvaalse Republiek (ZAR) erken is deur Brittanje.

  • Avatar
    Eunice Basson

    Helaas, tog baie jammer dat hierdie monument omhein moes word. Kan u asseblief die beeldhouer van hierdie beeldegroep identifiseer.

  • ‘n Boek wat die lot van hierdie rebelle beskryf is “ So het hulle gesterf” wat die tereg stelling van die rebelle en die smart van hul geliefdes beskryf. Onder die Smutsregering was hierdie boek verban. In ons huis was so ‘n ou kopie wat my ouma met bruinpapier oorgetrek het. Dit is later jare weer uitgegee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top