Moet ons waai? Om te emigreer of nie, saamgestel deur Alet Law – ’n lesersindruk

  • 0

Foto van vliegtuig: Pixabay

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Moet ons waai? Om te emigreer of nie: 20 meningsvormers sê
Alet Law (samesteller)
LAPA
ISBN: 978-0-7993-9622-5

Nog ’n boek oor emigrasie. Die keer nogal ’n heel genuanseerde een. Daarvoor hoef mens net die voorwoord te lees, wat alreeds ’n ware lusmaker is. Law lei die leser die emosionele onderwerp van emigrasie in deur opnuut te konstateer dat emigrasie al baie oud is. Ook in Suid-Afrika. Voor 1994 het baie mense gevlug uit Suid-Afrika weens die land se rassebeleid. Die soort mense wat die land verlaat doen so vir verskeie redes, maar anders as wat mens moontlik mag dink, trek die oorgrote gevalle van landsverlaters weens beter “geleenthede en die moontlikheid om op ’n internasionale vlak uit te blink” (bl x). Dit is veral so in die geval van jonger mense. Uiteenlopende faktore dryf mense egter daartoe om hulle wortels uit te trek. Tegnologiese vooruitgang het die wêreld aansienlik kleiner gemaak, en kommunikasie met geliefdes wat agterbly was nog nooit so maklik soos vandag nie. Vir party is die emigrasie egter ’n “enorme emosionele prys” wat sommige “te laat besef en intens worstel om met hierdie verlies vrede te maak” (x).

......

Dit is ’n interessante versameling van bydraers en daar is beslis geen oorhoofse argument vir of teen emigrasie aanwesig nie. Die boek bepleit eerder verdraagsaamheid van verskillende opinies.

.........

Dit is ’n interessante versameling van bydraers en daar is beslis geen oorhoofse argument vir of teen emigrasie aanwesig nie. Die boek bepleit eerder verdraagsaamheid van verskillende opinies.

Dana Snyman is eerste aan die woord en hy skryf oor die ouer geslag blankes en die skuldlas van apartheid. Hy wys, soos so dikwels in sy skryfwerk, op die teenstrydighede van ons samelewing. Dieselfde mense wat  kla dat hulle moeg is om van apartheid te hoor, is dikwels self baie gretig om oor die 1899–1902-oorlog en die onregte van die konsentrasiekampe te gesels. Hy waarsku teen ’n gejaag na kitsoplossings in die lewe, en ook die neiging om oorsee te woon maar steeds bemoeisiek te bly met Suid-Afrika. Hy beskryf Suid-Afrika as “’n virus, ’n koors, ’n onvergeetbare psalm” (5).

Die akademikus Theuns Eloff se bydrae is ’n uiteensetting van die redes hoekom hy in Suid-Afrika gaan en wil bly. Hy onderskei tussen “hartsargumente” en die argumente van die “kop”. Vir beide soorte lys hy vervolgens sewe redes vir sy oortuiginge. Volgens Eloff is sy eie belegging in die land te groot. Hierdie belegging is nie maar net ’n materiële belegging nie, maar veral dan juis ook die emosionele belegging in die land. Van die ander argumente wat hy aanvoer, is familiebande, natuurskoon, die vriendelikheid en humorsin van Suid-Afrika se mense en die Afrikaanse taal. Ten opsigte van die “kop”-redes lys hy onder meer, die afwesigheid van groot natuurrampe in Suid-Afrika (mens neem aan hy sluit droogtes uit), die betreklik lae lewenskoste en die koste verbonde aan emigrasie.

Die joernalis Jan-Jan Joubert stel ’n belangrike punt deur te argumenteer dat by die onderwerp van emigrasie daar nie ’n reg of verkeerd is nie. Dit is nie ’n beginselsaak nie.  Niemand is dit aan die wêreld verskuldig om te verduidelik hoekom jy nou juis gekies het om te trek, of hoekom jy gekies het om te bly nie. Hy is dus nie in beginsel teen emigrasie nie – oorweeg dit nie self nie, maar kan dit moontlik in die toekoms oorweeg. Dit bly egter ’n moeilike besluit, gee hy te kenne, en hy onderneem om mense wat met die regte gesindheid emigreer, te respekteer.

Die realiteite van die lewe onder ’n regering wat skouspelagtig misluk, word goed geskets deur Charles Smith. Op Naval Hill (Bloemfontein se eie Tafelberg) staan ’n reusebeeld van die ikoniese Nelson Mandela, die vader van Suid-Afrika se reënboogdroom, wat ubuntu en versoening versinnebeeld. Maar onder in die strate van die hoofstad van die eertydse boererepubliek ry Suid-Afrika se “kommuniste” rond met peperduur motors terwyl baie inwoners krepeer van ellende. Die innerlike stryd van die skrywer speel ook vervolgens in hierdie essay tussen die bladsye af. Dit is nie die korrupsie, armoede en staatskaping wat hom laat wonder oor emigrasie nie, skryf Smith, maar die arrogante manier waarop dit gedoen word.

Een van die talle redes waarom mense die land verlaat, of oorweeg om die land te verlaat, is die taai toffie van grondonteiening sonder vergoeding. Dit is nie net die kwessie van onteiening sonder vergoeding wat ter sprake is nie, maar ook die bedreiging van die nasionalisering van grond en bates, wat ’n reusebedreiging vir baie mense inhou.

Aan die hand van die grondvraagstuk lewer die bekende regskenner en akademikus Elmien du Plessis ook ’n bydrae getiteld “Onteiening: Aan wie behoort die grond nou eintlik?”. Du Plessis bepleit veel meer genuanseerdheid in die ondersoeke na die verlede en verklaar tereg dat “enige verstaan van die geskiedenis tentatief is” (82). Ook sy argumenteer ten slotte dat emigrasie nie reg of verkeerd is nie, maar verklaar in poëtiese terme dat ’n deel van jou sal agterbly in die “stories en ervarings” van die land.

Hierdie is maar net enkele van die verskeie interessante bydraes. Daar is ook interessante bydraes deur onder meer Rozanne McKenzie, Daniëlla van Heerden, Ralph Mathekga, Melanie Verwoerd en Marita van der Vyver. Die opvoedkundige en akademikus Jonathan Jansen betreur die krimpende middelklas van Suid-Afrika in sy bydrae getiteld “Jongmense moet die land verlaat en sterker terugkom”.

Die politieke kommentator Piet Croucamp som miskien ’n belangrike deurlopende motief in die boek as volg op deur te verklaar: “Daar is niks onpatrioties daaraan om jou geboorteland vir die vreemde te verruil nie” (117). Dit is elke mens se keuse om te bly of te gaan, hoewel baie mense wat eerder sou wou gaan, dit waarskynlik nie kan bekostig nie. Die nasiestaat is per slot van rekening maar ’n baie kunsmatige konstruk, en definieer nie wie ons as mense is nie. Van groter belang is dat mense mekaar se besluite respekteer en mekaar ondersteun.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top