
Moerasperd deur die nag deur Louis Jansenn van Vuuren (Naledi, 2023)
Moerasperd deur die nag
Louis Jansen van Vuuren
Uitgewer: Naledi (2023)
ISBN: 9781991256249
Louis Jansen van Vuuren is in 1949 in Middelburg in (die ou) Transvaal gebore en het nou reeds internasionaal as skilder en skrywer naam gemaak. Hy debuteer in 2010 as digter met Tempermes, uitgegee deur Quellerie. In 2020 verskyn Amper Frans by Jonathan Ball. Dit is ’n prosaversameling vertellinge van sy verblyf op die Franse platteland. Verskeie kortverhale van hom word gepubliseer, onder andere in die Woordfees-kortverhaalbundel van 2022. There’s a vegan on my verandah (ook in Afrikaans as Daar’s ’n vegan op my verandah), die kosboek wat geskryf is saam met Isabella Niehaus, en wat in 2022 verskyn, word in 2023 met die Gourmand Beste ter Wêreld-toekenning bekroon. En in 2023 verskyn ook die digbundel Moerasperd deur die nag by Naledi.
Die bundel se buiteblad is ’n treffende blou, soos dié van Tempermes, en die twee bundels is pasmaats op ’n rak. Stalperde as’t ware. Maar Moerasperd deur die nag is amper twee keer dikker, met 95 bladsye.
Hierdie bundel kan ’n mens nié in een sitting deurlees nie. Dit sal wees soos om die hele Louvre in ’n middag te probeer sien. Daar is net te veel om in te neem. En in my geval was daar ook heelwat wat ek moes of wou naslaan. Ek het die bundel basies gelees met my foon in my hand, oop by Google.
........
Hierdie bundel kan ’n mens nié in een sitting deurlees nie. Dit sal wees soos om die hele Louvre in ’n middag te probeer sien. Daar is net te veel om in te neem.
........
Dit behoort die voornemende leser egter geensins af te skrik nie – ek wóú sien hoe elke skildery lyk, wou luister na musiekstukke waarna verwys word. Daarom het ek uiteindelik die ganse Desember so stuk-stuk aan die bundel gelees. Dit is nie ’n voorvereiste nie, maar toe ek selfs betekenisse van Afrikaanse woorde begin naslaan, het ek besef die bundel vra navorsing van my kant af. So het ek my woordeskat kon uitbrei – byvoorbeeld nooit geweet daar is iets soos ’n “komhalertjie” nie! (Dis ’n adamsappel!) Ook het ek plaaslike plantname bygeleer: froetang, kalossiebos, teringblom en fonteinbos (“altydbessie” kon ek egter nie vind nie). Die toespeling op liedere, flieks, die Bybel, ander tekste, rympies en gedigte verken die taal verder.
Jansen van Vuuren skryf in volklank en in volkleur. Al die sintuie deurentyd paraat. Hierdie belese en berese visuele kunstenaar en skrywer neem die leser op ’n soms dolle rit wat deur die verlede en hede vleg. Soveel dat dit by my opgekom het om hom ’n tipe Barokdigter te noem. Want skoonheid lê ook in ekstase en oorvloed.
(’n Barokdigter en sy werk sou gekenmerk word deur ’n uitgesproke rykdom, dramatiese uitdrukking, en ’n oorvloed van ornamentele elemente. Barokdigters is dikwels deur die gebruik van ryk ornamentiek en versierings in hul taal gekenmerk. Dit sluit in beeldspraak, metafore, en vergelykings wat die taal van die poësie ryker en beeldryker maak. So som ek internetinligting baie simplisties op.)
Die oorvloed van klanke, die beker wat oorloop, spreek van ’n lewensdrif wat aansteeklik is, maar dalk ook uitputtend kan wees. ’n Gedig soos “Noot vir noot” is so ryk en dig verpak, veral op klankvlak, dat ek dit ’n hele paar keer moes lees om ’n greep daarop te kry.
En tog is daar afwisseling, is daar orde. Die digter kan die leisels intrek wanneer nodig. Op bl 40 vind ons ’n geslaagde villanelle, “Dame en die eenhoring ii”. Dit het my verder aan die dink gesit oor hoe gedig en kunsinspirasie mekaar ondersteun in die bundel. Vir ’n tapisserie is ’n vormvaste gedig ’n perfekte pasmaat – elke stekie op sy plek, herhaling, herhaling. “Dame en die eenhoring i” op bl 39 bestaan dan ook net uit koeplette.
Ons vind ’n goeie sonnet op bl 54, “Tamatie tableau ii”, na ’n skildery van Picasso. Hierdie digter ken sy konvensies. Ek verkeer onder die indruk dat elke oordaad bedink is en bewustelik gekies is, juis omdat vormbeheer teenwoordig is, al is die strenge snoeiskêr dalk nie.
........
Ek verkeer onder die indruk dat elke oordaad bedink is en bewustelik gekies is, juis omdat vormbeheer teenwoordig is, al is die strenge snoeiskêr dalk nie.
........
Konkrete poësie word suksesvol aangewend in die treffende “cedrus libani” (seder van Libanon) op bl 59.
Kyk maar ook hoe noukeurig die volgorde van die gedigte is, dwarsdeur die bundel. Telkens verbind ’n woord of gedagte een gedig aan die volgende een. Geen lukrake sameflansing hier nie.
Verdere toonbeelde van beheer is die paar lieflike korter gedigte, waarvan die twee wat Matisse as ingewing het, my gunstelinge is. Die eenvoud pas by Matisse se styl in “stillewe met lemoene”. As goeie beeldgedig bly dit natuurlik nie by blote beskrywing nie, maar word dit ’n sensuele onthouvers met slim woordkeuses:
stillewe met lemoene
na ’n skildery van Henri Matisse
in ’n erdebak op ’n bont stuk lap
sewe lemoene: die kleur van Spanje
se boorde waar ons post-impressionisties
liefde maak in blouswart buitelyne
die skadu’s op die vrugte is onhebbelik
onverwags: die chroma van jou oë – ’n
plas damwater waarin die hemel kaats.
As ek ’n digitale kopie van die bundel gehad het, sou ek kon tel hoeveel keer die woorde “kyk” en “oë” voorkom – nou kan ek net sê dit is báie en ek het tred verloor. Perde se oë, duiwe se oë, die huiskat se oë, geliefde se oë, Rembrandt se oë en selfs “Oerman onse Vader” se oë. Dit spreek seker vanself dat hierdie sintuig so ’n sterk rol sou speel wanneer ’n visuele kunstenaar skryf. Sterre en hemelliggame word ook dikwels genoem, beskryf en beleef. Natuurlik vind ons verskeie variasies perde. Meer hieroor verderaan.
Ruik en proe bly nie agterweë nie. Die besonderse gedig oor parfuum het my laat dink aan die klein parfuummuseum in Franschhoek, aan die fliek Perfume en sommer ook aan my kinderjare, my ouma en die geur van Worth. Ek dink dis wat ’n goeie gedig kan doen. Lees gerus “Ruik terugkom na iets? R-CH=O” op bl 76.
........
Moerasperd deur die nag bevat gedigte oor kos en veganisme, oor Parys in sy vele gedaantes, oor Afrikaverblyf, liefdespel en naglewens, verlies en verdriet, miasma en die noodlot.
........
Hier is dan kongruensie en bindingselemente met die ander tekste uit die Jansen van Vuuren-pen. Moerasperd deur die nag bevat gedigte oor kos en veganisme, oor Parys in sy vele gedaantes, oor Afrikaverblyf, liefdespel en naglewens, verlies en verdriet, miasma en die noodlot.
Humor, soos gevind in sy boek Amper Frans, is ook ligweg in die gedigte te bespeur. Veral die erotiek word soms tong-in-die-kies (!) aangebied – en wie kan stry dat hierdie oeraspek van die mens inderdaad komies is. Wrang humor vind ons ook, soos in “Dante se komiek”. Moeras vir die moerasperd, ja, nagmerrie en apokalips-hings vir die mens. Soos Louis heerlik met homself die spot dryf in Amper Frans, skerts die digter ook in Moerasperd deur die nag.
Die bundel bestaan uit agt afdelings sonder titels, maar elkeen met ’n afdelingmotto. Die inhoudsopgawe verskyn agterin. Ek is onseker of al die afdelingmotto’s funksioneel is en dink nog hieroor na. Op die oomblik meen ek dat die gedigte heeltemal goed kan bestaan sonder al die aanhalings. Dit is ook my mening by sommige individuele gedigte waar aanhalings bygetrek word. Ek dink hier byvoorbeeld aan die gedig op bl 91, “Twaalfdenag of Psalm 51:8-5”, waar die hele Shakespeare-verwysing onnodig is. Ek kan egter nie agterkom of die verwysing dalk nie deel van die gedig is nie en bloot onderaan die bladsy verskyn – die spasiëring fop my dalk hier. So ook die vetgedrukte “[met groot verlof]” onder die titel – is dit deel van die titel, of moet dit as erkenning eerder in skuinsskrif gedruk wees? Op ander plekke in die bundel skiet die teksversorging tekort wat betref leestekens (ble 70 en 66 byvoorbeeld). Hierdie is egter mindere klagtes in ’n genotvolle bundel.
Frans, Engels en Latyn, asook kunsterme (alla prima, sfumato …) en musiekterme (legato, scherzo …) kom dikwels voor. Hierdie is kopknikke aan en erkenning van die digter se hibriede wêrelde, maar ook outentieke verwoording van sy realiteit. Die leser kan met groot wins elkeen naslaan. Soms dui sulke versreëls die groter pad deur die bundel aan. Ek meen dit is die geval met die Latynse reëls in “Maak dit ’n dubbel” op bl 24: timor mortis conturbat me en timor mortis morte pejor (“the fear of death disturbs me,” sê die internet, en “the fear of death is worse than death”).
In 2016 sê Louis Jansen van Vuuren in ’n onderhoud aan Ingrid Wolfaardt: “Een van die eerste werke wat ek verkoop het, het die beeld van ’n hobbelperd saam met die woorde, ‘Louis se hobbelperd’. So teks en verf was nog altyd saam.”
Van hobbelperd destyds dus nou na moerasperd, maar ook, in Tempermes, na bleekperd en na stalsiek hings. In hierdie nuwe bundel is dit onder andere: skimperd, pakperd, witskimmelhings, pronkperd, waterperd, merrie en skouperd.
........
Van hobbelperd destyds dus nou na moerasperd, maar ook, in Tempermes, na bleekperd en na stalsiek hings. In hierdie nuwe bundel is dit onder andere: skimperd, pakperd, witskimmelhings, pronkperd, waterperd, merrie en skouperd.
........
Onvermydelik dink ek ook aan die onsterflike Pegasus. Die roerendste gedig in die bundel is vir my die een op bl 65, waarin Napoleon se oorlogperd direk aangespreek word. As die perd in die bundel ’n metafoor is, is hierdie gedig onvergeetlike uitbeelding van die menslike toestand. Die patos, maar ook die onbetwisbare verganklikheid, aftakeling, die banale uitstal van oorskot. Afgesien daarvan is die digter se reaksie op Marengo en die uitgestalde geraamte ’n veel meer emosionele reaksie as byvoorbeeld die (ook puik) gedig oor Rembrandt se selfportret, wat na intellektuele vereenselwiging voel – laasgenoemde ontgin wel die introspektiewe aspek van Rembrandt se latere selfportrette en pas dit op die waarnemende ek toe, maar die dieper delf loop op ’n makliker slot uit as die skrynende inhoud van “Memento Marengo”.
Memento Marengo
hoe klink die runnik in die vroegte se koue
wat word van die klank en wat word van vandag
Boerneef
uit Egipte word jy ingevoer
in Frankryk dra jy die keiserlike kleed
na Londen word jy uitgevoer
nou staan jy verwese daar
geraamte onder museumligte en glas
skouperd vir die skare
jy lig jou voorpoot: ’n skeletale handgalop
hoefloos en veertien hande hoog
(een hoef is ’n versilwerde inkpot,
’n ander ’n asbak vir ’n gentleman)
as dit stil word in die saal
mymer jy onder neonligte
agtergeblewe bondel bene
wat hunker na Malmaison
met sy oop winterse weiveld.
Durf ek ook die digter hier sien identifiseer? Drie gedigte het vir my ’n groep gevorm: dié op ble 55, 65 en 95. Ek haal die kortste een ook hier aan, die een op bl 55, teen ’n blou agtergrond seker Matisse se bekendste figuur, met die passievolle hart:
Icare
Na ’n skildery van Henry Matisse uit die Jazz portefeulje, 1947. Parys
Uit die hemel val jy:
Kobalt ineenstorting
Godsjammerlik
Jou twee vlerke
Skarlakenrobyn
Hart klop steeds
Klapperskootsterre
Spits teen die blou
Jy is my altydbessie
altyd in ligte laaie
altyd in ligte laaie.
Ekfrastiese poësie is ’n literêre genre wat gebruik maak van taal om visuele kuns, veral skilderye of beelde, te beskryf of te interpreteer. Hierdie vorm van poësie fokus op die beeldende aspekte van ander kunsvorme en probeer die emosies, idees en estetiese elemente van die visuele werk in woorde vasvang.
Een van die denkrigtings is dat suksesvolle ekfrase verder gaan as bloot ’n beskrywing van die visuele kunswerk; dit bied ’n emosionele laag of kreatiewe uitbreiding van die oorspronklike beeld.
Ekfrase is Jansen van Vuuren se forté as digter. Telkens gee hy ’n reuse sprong vanaf die kunswerk na ’n persoonlike belewenis, herinnering of waarneming om sodoende ’n hele nuwe raakpunt te aktiveer. Nooit bly hy die passiewe toeskouer nie; hy beskryf ook nie bloot die skildery vir die leser nie. Die skilderye blyk geïntegreer te wees in sy psige – as elemente so alledaags soos brood en plaasdamme. Hierin lê die rykheid van sy digkuns en die geskenk aan die leser.
“Ek is besig om skoonheid op my eie terme te ontdek,” sê Louis in die reeds genoemde onderhoud aan Ingrid Wolfaardt. Hy noem verder ook dat die ontdekkingsproses lewenslank (moet) duur.
Die eerste woord van die eerste gedig in Moerasperd in die nag is veelseggend, naamlik: “Kunskenners”. Dit is vir my ’n leidraad in die leesproses. Gesien saam met gedigte wat ars poëties aandoen, merk ek die eggo van Louis se woorde: ’n wens om ’n eie waarheid, ’n eie skoonheidsdefinisie uit te bou. Liggies verborge in die eerste gedig is dan ook die gedagte dat kunskenners partykeer ook maar bespiegel en postuleer.
........
Die mooie en die groteske word omvorm tot kuns; donker humor en speelsheid bring harde waarhede uit die moeras na bo. Moerasperd in die nag is ’n verkenning van menswees, van die individu sowel as van die spesie.
........
Die mooie en die groteske word omvorm tot kuns; donker humor en speelsheid bring harde waarhede uit die moeras na bo. Moerasperd in die nag is ’n verkenning van menswees, van die individu sowel as van die spesie. Daar is enkele pandemiegedagtes, beelde waarmee die wêreld sedert 2020 kan identifiseer, soos die ontstemmende versreël “’n Zoombegrafnis met ’n virtuele klaprooskrans” (bl 90) om maar een te noem.
Die laaste gedig, “Akrobaat” (bl 95), is ’n halfverbloemde selfportret en ook ’n ars poëtiese uiting. Dit móés my skuinsweg herinner aan die bekende begrip van “send in the clowns”, maar tog voel dit nie geyk nie. En hiér, hier ís gestrooptheid. Let op die samehang met “Icare” en selfs “Skimperd”, asook natuurlik “Memento Marengo”. Ek haal die laaste strofe van “Akrobaat” aan:
dog later tuimel hy deur die ruimte
sy broek span rooi
sy hande poeier wit
sy bolyf is kaal
sy oë is oop
sy lippe bloei blou.
Hierdie strofe is ’n verklaring van kuns en lewe wat één is en uitdrukking in mekaar vind. Dit is ’n idee wat dwarsdeur die bundel loop. “die melkweg is ’n driepootesel”, skryf die digter in “Nagsterre”.
Soms dreig woordrykheid om van die pragtige beelde in die bundel te verdoesel, maar by noukeurige lees sien mens hulle is onteenseglik dáár. Die lewe is opgeteken op “die goddelike iPad” (bl 14). Hier en daar sou ek aan ’n gedig wou snoei, soos in “statistiek vir die kroon van die skepping”, wat te swaar dra aan die aanhalings.
In die reeks oor Monet se waterlelies verdwyn die woorddrif en pas die gedigte by die impressionistiese skilderye aan. Die treffende indrukke, die stiller kwashale en korter strofes is ’n wonderlike verwoording van Les Nymphéas uitgestal in l’Orangerie, Parys.
........
Louis Jansen van Vuuren is ’n digter vir wanneer ’n mens wil wegbreek uit minimalisme en liewer die volheid van die lewe wil vier. Die bundel is ’n wilde perd met ’n saal op sy rug. Dit is uitbundig, maar daar is ’n hand wat beheer.
........
Hierdie resensie is langer as beplan, maar raak nog steeds net bolangs aan die bundel. Ek konsentreer op enkele voorbeelde en op die perd as metafoor. Daar is nog veel meer – my eksemplaar is vól potloodnotas en kruisverwysings. Apokalips. Lucebert. Musiek, al die flieks (kyk byvoorbeeld na ontluikende erotiek in “Bloed en sand”, die Rita Hayworth-vers). Die agt Johannesse en hoe dit eggo in die styl van die bloederige vegangedigte wat soos ’n Caravaggio nie wegskram van die realiteit nie. Kyk ook maar na “Wraakdroom van ’n heldersiende veganis”, met sy “bloedbelope bredie”.
Louis Jansen van Vuuren is ’n digter vir wanneer ’n mens wil wegbreek uit minimalisme en liewer die volheid van die lewe wil vier. Die bundel is ’n wilde perd met ’n saal op sy rug. Dit is uitbundig, maar daar is ’n hand wat beheer. Dit het my verruk, verstom, hartseer gemaak en my algemene kennis verbreed. Die perd mag dalk deur die nagmoeras loop, maar in die verlore paradys skitter daar sterre en lig die dier sy kop:
“staar heldersiende
na ’n klaweraas komeet wat vonke spoeg”
(“true north”, bl 84).
Laat die gedigte jou wegvoer.
Lees ook:


Kommentaar
Bohnen se resensie stig, voed op, verruim en inspireer. Dankie!
Dankie Gerard, ek waardeer die kommentaar.