Moenie vir jou langverlof wag om Annemari Coetser se jongste te lees nie

  • 0

Titel: Langverlof
Skrywer: Annemari Coetser
ISBN: 9780624046646
Publikasiedatum: 31 Augustus 2008
Prys (BTW ingesluit): R 140.00
Formaat: Sagteband
Aantal bladsye: 256 pp

Klik hier om Langverlof nou by Kalahari.net te bestel!

As jy volgende keer by jou plaaslike biblioteek instap en jy sien die dames agter die toonbank wat gereed is om hul ergernis te onderdruk omdat jou boeke alwéér laat is, bekyk hulle mooi ... Een van hulle het dalk dieselfde drome en planne as Kari Beyers, ? bibliotekaresse van die dorpie Komga in die Oos-Kaap. Kari is die heldin in Langverlof, Annemari Coetser se tweede liefdesverhaal ná Oop kaarte.

Kari kon - anders as die meeste bibliotekaresses - wegkom van die dorp waar sy grootgeword het vir ? droomvakansie op die eksotiese, romantiese Mauritius, die eiland wat vir Kari werklik lyk "net soos die beskrywing in die biblioteekboek".

? Droomvakansie? Nie heeltemal nie. Kari is uit meer as vyf honderd inskrywings in ? kompetisie op die internet gekies om ? week lank saam met die wildvreemde Hagen van Tonder in Mauritius te gaan vakansie hou. Sy meisie het hom gelos nadat hy reeds vir hulle ? romantiese week by ? eksklusiewe, peperduur vakansieoord bespreek het. In sy telefoniese onderhoud met Kari probeer hy seker maak dat sy nie ? leëkopflossie is wat net heeldag op die strand sal wil lê en bruin brand nie. Kari is nou wel nie ? leëkop nie, maar hy weet nog nie dat sy, in haar pa se woorde, ? warkop is nie.

Alles is egter nie net helder sonskyn, palmbome, blou see, silwer strande en ? luukse suite in ? hotel nie.

Daar is byvoorbeeld die herinnering aan Gottfried Schmidt met die hartseer blou oë wat saam met Kari op skool was - Gottfried, die skynbaar onwillige minnaar wat weet van haar vakansie en wat op sy plaas buite Komga op haar wag.

Die dalk te lang en uitvoerige beskrywings van die omgewing in Mauritius is die agtergrond vir ? skrikwekkende ervaring wanneer Kari verdwaal toe sy en Hagen die besige mark in Port Louis besoek. Tog is dit uiteindelik ook ? verrykende belewenis, omdat sy meer leer oor die Hindoegeloof en -tradisies. Aan die moederlike Saras, wat nie eens Engels kan verstaan nie, verduidelik sy haar dilemma: Moet sy besluit of sy saam met ? boom (Gottfried) wil wees, ás hy haar weer sal vra, of moet sy van hom vergeet en haar hoop vestig op die aantreklike Hagen van Eeden, haar vakansiemaat?

Sake word ook gekompliseer deur Kari se fobies:

"Ek weet die wêreld is 'n donker en gevaarlike plek [sê sy vir haar vriendin Sanet voor haar vertrek na Mauritius] - ek lees koerante. Net in hierdie een week het hulle beweer dat dagga die risiko's verhoog om psigose te ontwikkel en dat medisyne teen suikersiekte jou hart kan aantas. Wat nog?" Kari tel op haar vingers af. "O ja, dieseldampe kan jou are laat verstop, vetsug is oorerflik en as jou kolesterol laag is, kan jy kanker kry."

Sy maak gereeld lysies. Dis ? manier waarop sy haar vrese probeer oorwin:

"Dis al ? lang lys [weer aan Sanet]: misdaad, moord, verkragting, terroriste, korrupsie, amptenare, fundamentele (sic) godsdienstiges, rook, drank, slangbyt, vergiftiging ..." Sy glimlag, want sy vrees nie regtig al hierdie dinge nie. Daar is eintlik net een ding ...

Hierdie een ding (redelik onwaarskynlik, aangesien sy in Suid-Afrika woon) is haar dodelike vrees vir siklone: sy ly aan lilapsofobie. En Mauritius lê in die sikloongordel. Sal daar iemand wees wat haar kan troos? wonder die leser natuurlik.

Een van die voordele van ? heldin wat in ? biblioteek werk, is dat sy - dankie tog, in vergelyking met karakters in tipiese liefdesverhale - belese is. Kari se hart begin byvoorbeeld eenkeer so hard bons "oor die aandag van sy oë - soos in die titel van Petra Müller se digbundel - dat sy bang is hy hoor dit."

Sanet, Kari se vriendin van skooltyd af, is haar twyfelagtige raadgewer oor hartsake. Sy is self nie juis gelukkig getroud nie, is die ma van twee kinders, en het steeds die oorblyfsels van die gothkultuur wat sy op skool aangehang het. Haar droë, aweregse kommentaar sorg vir heerlike humor - iets wat ook gewoonlik afwesig is in tipiese liefdesverhale. Sanet laat Kari dink aan Joanna Trollope se roman The best of friends, ? boek wat Kari as bibliotekaresse nie alleen goed ken nie, maar waarvan sy ook presies weet waar dit in Komga se dorpsbiblioteek staan: "heel links op die tweede rak van bo af in die bib se laaste gang".

Langverlof is ? liefdesverhaal, ? ligte liefdesverhaal, maar dit kan nie in dieselfde asem genoem word as die skynbaar nimmereindigende rits omnibusse wat deesdae die een na die ander gepubliseer word nie. Dit het weliswaar ook ? pienk agterplat, maar dit is nie ? sagte babapienk nie, maar ? helder neonpienk, wat klaar ? waarskuwing is vir die voornemende leser. Enige bibliotekaresse sal hierdie boek beslis nie in die kinderafdeling se rakke plaas nie. Kari soen byvoorbeeld een van die twee mans in haar lewe:

Sy lig haar onderlyf na hom en hy druk hom teen haar aan en soen haar met soveel drif en verlange dat sy haar hande loswoel en haar arms om sy nek sit. Sy kan nie anders nie, sy warm tong en sagte lippe maak ou begeertes en smagtinge in haar los, wat sy al geleer het om op haar eie te ontlont.

En dis net ? voorsmakie, want dit gebeur reeds op p 61.

Gelukkig word die heldin - anders as wat die resep of kursus wat liefdesverhaalskrywers skynbaar volg - nêrens beskryf as ? meisie met lang glansende blonde hare, ? guitige mondjie, ? fyn wipneusie, sielvolle blou oë waarin die duiweltjies soms speel, ? vietse lyfie en lang, slanke bene nie. "Ens ens", soos Sanet dikwels haar opmerkings afsluit.

Ook anders as in die meeste liefdesverhale slaag die skrywer daarin om die leser, saam met die heldin, te laat twyfel oor watter man sy moet kies - ás sy die kans sal kry. Sal dit Hagen wees, vir wie sy in die paar dae op Mauritius liefgekry het, of sal sy uiteindelik tog maar vir Gottfried kies? Kari vra uit moedeloosheid vir Sanet of boere dan nie veronderstel is om agter die kraalmuur of die koeistal te vry nie. Sanet se raad is onomwonde: "Gáán vir Hagen!"

Getrou aan haar aard maak Kari egter ? lysie in haar kop, met onder andere:

Hagen is wêreldwys.
Gottfried is so bekend soos Bielies.
Hagen beantwoord nie SMS'e nie en verdwyn gereeld soos ? groot speld.
Gottfried hou van diere, maar hy het ? eks en ? kind in Duitsland.
Hagen maak haar bene lam en haar diep die joos in.
Gottfried ook: ditto en ditto. Soms.

Kari worstel steeds met die probleem toe sy die dag ná die begrafnis van haar geliefde hond Bielies vir Gottfried bel en vra of hulle "'n bietjie langverlof van mekaar kan neem, effens afskaal, mekaar ruimte gee. Toe neem hy haar letterlik op."

Neem die volgende ook letterlik op: as jy nie sinies en lewensmoeg is nie, as jy ? keurig-versorgde liefdesverhaal wil lees met interessante karakters en gevatte dialoog, as jy meer wil weet van Mauritius, as jy rêrig wonder watter soort lewe lei sommige bibliotekaresses, as jy ? ruk lank wil ontspan en vergeet van vrese, soos op Kari se lys hier bo, of as jy lus is vir stomende sekstonele, moenie wag vir jou volgende langverlof nie; skaf Langverlof aan om hierdie naweek te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top