Moenie drink en bestuur nie (of saam met iemand ry wat drink en bestuur nie)

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

                

’n Dame met die van Lampert het in die vroeë 1950's saam met ’n man - ene Hefer - gaan motorfiets ry. Die motorfiets het ’n sykarretjie (die goeie Afrikaans is glo “syspan") gehad. Sulke driewiel-gevaartes was in daardie dae nogal gewilde vervoermiddels. Me Lampert het in die sykarretjie gery en 'n erg besope Hefer het bestuur. Die rit het rampspoedig geëindig toe Hefer teen ’n boom gebots het. Hy self is op slag gedood en me Lampert is ernstig beseer.

Volgens getuienis wat later gelewer is, was dit nie die eerste keer dat die tweetjies so dronk-dronk met die driewieletjie gaan ry het nie. Me Lampert het dus deeglik besef waarvoor sy haar inlaat toe sy op die betrokke – helaas, noodlottige - dag saam met Hefer gaan ry het.

Lampert het daarna ’n skadevergoedingseis teen Hefer se boedel ingestel, maar haar eis het nie in die hooggeregshof van Pretoria geslaag nie, om die eenvoudige rede dat die hof beslis het dat Hefer ten tye van die botsing sterk onder die invloed van drank was en dat me Lampert daarvan bewus was voordat sy saam met hom gaan ry het.

Me Lampert het haar daarna na die appèlafdeling in Bloemfontein gewend, en op 30 Maart 1955 het appèlregter HA Fagan – wat in 1957 hoofregter geword het – die hof se uitspraak gelewer.1 Vandeesweek is dit al 58 jaar later. Me Lampert het ook in dáárdie hof met haar eis misluk.

Die eksekuteur van Hefer se boedel het ’n ou verweer teen Lampert se eis geopper. Die Romeine het gesê: volenti non fit iniuria. Dit beteken dat die toestemmende persoon nie ’n eis het nie; die toestemmende persoon aanvaar dus vrywillig die risiko van benadeling. Oor hierdie leerstuk is al baie in ons howe en in akademiese kringe geredekawel, en wat hier onder volg is my persoonlike – volstrek nie-akademiese – verstaan daarvan.

Daar is twee vorme van toestemming tot benadeling. Die eerste een is toestemming tot ’n spesifieke vorm van benadeling of "besering". ’n Mens ontwikkel byvoorbeeld probleme met jou blindederm en jy stem toe dat die dokter jou mag opereer. Hy mag jou dus oopsny – jou “beseer” – om die ontsteekte blindederm te verwyder. Gewoonlik stem jy skriftelik tot so 'n operasie toe en is jou toestemming dus 'n beding van jou ooreenkoms met die hospitaal.

’n Ander voorbeeld is ’n voorspeler in rugby wat deur sy deelname aan die spel toestem dat daar teen hom geskrum mag word - met ander woorde, hy stem toe dat, telkens wanneer die skrum bind, die ander span se voorspelers taamlik hard teen sy kop, nek en skouers mag stamp. Normaalweg, as iemand ongevraagd teen jou kop, nek en skouers stamp, sou dit regstegnies die misdryf aanranding daarstel, maar ons rugbyhelde stem toe dat daar so met hul gehandel word - en niemand het dáármee 'n probleem nie.

Tweedens kry ’n mens ook toestemming tot die risiko van besering of benadeling. Of jy wél beseer of benadeel gaan word, weet niemand vooraf nie, maar jy stem tot so 'n risiko toe. Kom ons kyk weer na die voorbeeld van die blindederm-operasie: as ek toestem dat die dokter my mag oopsny en my blindederm mag verwyder, dan stem ek ook toe tot sekere risiko's wat inherent is aan die spesifieke prosedure en wat, sou dit wel intree, bepaalde ongunstige gevolge vir my mag inhou.2 Sou sulke gevolge intree, behoort ek nie met 'n skadevergoedingseis te kan slaag nie.

Iemand wat aan kontaksport deelneem, stem, by noodwendige implikasie, toe tot die risiko dat hy beseer mag word tydens die wedstryd. Die voorspeler in rugby aanvaar byvoorbeeld die risiko van besering ingeval sy opponent dalk per ongeluk die skrum sou "laat val", of dat 'n opponent hom sou duik en hy daardeur beseer kan word. Dit, sou 'n mens kon sê, is risiko's wat inherent aan die spel rugby is. Sou 'n speler dus onder sulke omstandighede beseer word, behoort hy eweneens nie met 'n skadevergoedingsaksie te slaag nie.

Maar wat van gevalle waar 'n speler sy opponent met opset beseer? In Roux v Hattingh,3 'n onlangse uitspraak van die hoogste hof van appèl, beslis appèlregter Brand soos volg:

The late tackle of an opponent after he has parted with the ball, or a tackle from an offside position or running into the opponent in a dangerous way, may break the rules of rugby and may result in a penalty, but it will not necessarily lead to the imposition of delictual liability, even if that conduct were intentional. This is so, I believe, because public and legal policy will accept this kind of conduct as a normal incident of the rugby game or inherent in the game … At the other end of the scale, I believe that conduct which constitutes a flagrant contravention of the rules of rugby and which is aimed at causing serious injury or which is accompanied by full awareness that serious injury may ensue, will be regarded as wrongful and hence attract legal liability for the resulting harm. To illustrate this point, (in the) English case of R v Billinghurst 1978 Crim LR 553 … it was held that a scrumhalf who hit his counterpart with a fist in an off-the-ball incident and broke his jaw was liable for the resulting damages. Another example … is that of the rugby player biting his opponent. I have little doubt that in these situations our courts can be expected to impose delictual liability.

Die uitdrukking volenti non fit iniuria het dus ’n tweeledige betekenis: dit kan beteken dat ’n mens toestem óf tot ’n spesifieke vorm van besering (bv 'n operasie) óf tot die risiko van besering wat 'n inherente gevaar van byvoorbeeld so 'n operasie of 'n bepaalde sportsoort is. In sulke gevalle kom die verweer volenti non fit iniuria daarop neer dat die persoon wat aangespreek word vir skadevergoeding, 'n regverdigingsgrondtot sy beskikking het; dit “kanselleer” as’t ware die onregmatigheid aan die kant van die dokter of sportman wat die gewraakte besering of nadeel veroorsaak het. Die reg vereis dat die slagoffer se "toestemming" aan sekere vereistes moet voldoen, waarop ek nie nou en hier sal ingaan nie.

Maar dit is nie waarmee die appèlhof te make gehad het in die eis van die dame Lampert teen die boedel van mnr Hefer nie. Lampert kon nie regsgeldiglik - soos ’n rugbyspeler of ’n pasiënt voor ’n operasie - toestem dat sy deur 'n besope motorfietsryer beseer kon word nie. So ’n vorm van toestemming sou contra bonos mores wees - met ander woorde, dit sou indruis téén die goeie sedes, die goeie orde, teen "public and legal policy", waarna appèlregter Brand in die Roux-saak (hier bo) verwys het.4 Waar ’n persoon goed bewus is van ’n gevaar, maar hom nogtans vrywillig daaraan blootstel, tree hy opsetlik op; sy gedrag is bewustelik onvanpas en dit is nie gerig op die bereiking van ’n wettige doel nie.

Dit lyk vir my die vorm van opset wat hier ter sprake is, is dolus eventualis: opset-by-moontlikheid-bewussyn. 'n "Slagoffer" – soos me Lampert – voorsien subjektief die moontlikheid dat om saam met 'n hoogs besope man in 'n driewiel-motorfiets te gaan ry, op 'n botsing kan uitloop waarin sy beseer kan word, en versoen haar met daardie moontlikheid. Dis in wese 'n "ek gee nie om nie"-ingesteldheid. So 'n persoon kan nie later regsgeldiglik op vergoeding weens beserings aanspraak maak nie - en dít "bevredig" stellig mens se "regsgevoel", nie waar nie?

Daarteenoor: gestel iemand steek met opset 'n gebou aan die brand. Binne lê 'n baba en slaap. Iemand wat dan opsetlik en erg waaghalsig sy lewe aan gevaar blootstel ten einde die baba uit die brandende gebou te red, tree nie onregmatig op nie en stel hom nie in gevaar ter bereiking van ’n onwettige doel nie. As hy later 'n skadevergoedingseis teen die brandstigter sou instel, sou laasgenoemde nie met die verweer van "vrywillige aanvaarding van die risiko van benadeling" kon slaag nie. Die dapper ou wat die baba se lewe gered het, sou hom op sy beurt van 'n "regverdigingsgrond" kon bedien – en wel dat hy in 'n noodtoestand opgetree het.

Maar gestel iemand stel homself nou nie opsetlik bloot aan die risiko van benadeling nie, maar hy bevind hom nogtans oplaas in omstandighede waar hy redelikerwys moes voorsien het dat daar ’n gevaar van besering was. Hy is dus nie opsetlik nie, maar bloot net nalatig. Wat sou dán van sy eis word? Wel, in so ’n geval sal die hof waarskynlik bevind dat hy “bydraend nalatig” was – dat sy eie nalatigheid bygedra het tot die nalatigheid van die persoon wat die besering veroorsaak het – en sy eis proporsioneel verminder ingevolge die bepalings van die Wet op die Verdeling van Skadevergoeding.

Vandeesweek se Regsalmanak is moontlik ietwat tegnies en taamlik ingewikkeld, maar dít is die soort dinge waarmee prokureurs, advokate, landdroste en regters daagliks in ons Howe worstel.

Verstaan jy nou waarom ons so vroeg grys word?


1 Lampert v Hefer, NO 1955(2) SA 507(A)

2 Santam Insurance Co Ltd v Vorster 1973 (4) SA 764 (A)

3 2012(6) SA 428 (SCA)

4 Vgl in die algemeen ivm ongeoorloofde kontrakte: Sasfin (Pty) Ltd v Beukes 1989 (1) SA 1 (A)

 

  

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top