Moenie Afrikaans inperk nie

  • 2

Fotobron: Canva

Afrikaans vier vanjaar tydens die inperking 95 jaar as ’n amptelike taal. Daar kan tereg gevra word wat die rol van taal tydens die inperking is.

Volgens Karien Brits, bestuurder: taal van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), speel taal ’n kardinale rol: “Taal gee vir ons toegang tot inligting en in die geval van ’n pandemie gee dit vir ons toegang tot lewensbelangrike inligting. Dit wat op 8 Mei 1925 met Afrikaans gebeur het, was dus nie maar net ’n simboliese gebaar nie. Dit het deure vir die sprekers van Afrikaans begin oopmaak en dit het ook tot die stigting van ’n Afrikaanse organisasie soos die ATKV vyf jaar later in 1930 gelei.”

Die tema vir Internasionale Moedertaaldag wat in Februarie gevier is, word elke jaar deur UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) vasgestel. Vanjaar se tema klink ietwat ironies tydens die inperking: Tale sonder grense. Ons kan egter steeds ons taal gebruik om grense oor te steek, al moet ons nou tuisbly.

In onseker tye met baie maatskaplike uitdagings moet ons nie die positiewe rol wat taal kan speel onderskat nie. Ons het as Afrikaanssprekendes die verantwoordelikheid om ons taal op te pas en te gebruik. Dit hoef nie reuseprojekte te wees nie. Dit is dalk juis die klein dingetjies wees wat ons elkeen taalgewys doen wat hierdie grense kan oopbreek.

Enkele praktiese voorstelle:

  • Koop jou Afrikaanse boeke en tydskrifte, moenie e-publikasies op WhatsApp-groepe rondstuur nie. Dit is gewoon diefstal en dit kan die Afrikaanse uitgewersbedryf en skrywers groot skade berokken.
  • Ondersteun die Afrikaanse kunstenaars wat aanlyn konserte hou.
  • Laat jou kind steeds in Afrikaans skoolgaan.
  • Gebruik óók Afrikaans in sosiale media. Jou vriende het nie oornag almal Engels geword nie.

Ons beweging is ingeperk, maar die beteken nie al ons regte is van ons af weggeneem nie. Dit sluit ons taalregte in. Eis jou taalregte vriendelik, dog ferm op. Kom ons breek die grense af en moedig ander Suid-Afrikaners aan om hulle taalregte uit te oefen. Dit kan lewens red as ons al die amptelike Suid-Afrikaanse tale gebruik om inligting oor COVID-19 oor te dra.

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Die politiek agter ons staatsmodel steun ongelukkig nie die beginsel van veeltaligheid op praktiese maniere nie. Dit steun 'n een nasie idee met een amptelike taal in die praktyk. Daarom word alles toenemend in Engels gedoen. Die amptelike status van tale in die Grondwet is nie eens die papier werd waarop dit geskryf is nie. Dis maar net mooipraat en sus. Die beginsel van 11 tale word wel erken maar prakties beteken dit nie veel nie. Wat tragies is maar dit is maar die patroon van die dinge. Dit was maar hoe dinge voor 1994 ook gedoen was. Voor 1994 was minderheidsgroepe gladnie juis so begaan oorveeltaligheid soos nou nie.

    Om boeke te koop en Afrikaans op Facebook te praat is die gewone dinge wat mense reeds doen. Mens wens jy kan meer doen. Ek koop boeke maar baie mense kan nie (hulle het kinders om deur skool te kry). Ek hoop dat e-boeke eendag aansienlik goedkoper sal raak. So sal meer mense dit dalk koop.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Die artikel is 'n voorbeeld van goeie Afrikaans. By die vier voorstelle behoort gevoeg te word: Gebruik Afrikaans so suiwer moontlik. Meertaligheid beteken nie dat ek Engels so suiwer moontlik moet besig en van "Afrikaans" maar 'n brousel van Afrikaans en Engels mag maak nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top