Moeilik om te begryp, gelees teen hierdie landskap

  • 1

Die 2005 Suid-Afrikaanse film deur Ian Gabriel getitel Forgiveness sluit af met ’n aanhaling van Desmond Tutu: “Having looked the beast of the past in the eyes, having asked and received forgiveness, let us shut the door of the past, not to forget it, but to allow it not to imprison us.”

Die film vertel van Tertius Coetzee, ’n voormalige lid van die polisie, wat ’n reis onderneem na Paternoster om die familie van Daniel Grootboom, ’n jong man wat hy onder die apartheidsbewind vermoor het, om vergifnis te vra. Coetzee, wat amnestie ontvang het tydens die Waarheid-en-Versoeningskommissie, sukkel om vry te word van die verlede. Die film gee ’n blik op die pynlike proses van vergifnis. Dit laat iets blyk van hoe lank dit die slagoffer en die gewelddoener neem om die menslikheid in mekaar raak te sien en hoe hoog die prys is wat die lewe weer moontlik maak. Die intrige ontwikkel eerlik, stadig in ’n gestroopte landskap. Lank na die kyk van die film is dit dan juis die wyd-uitgestrekte landskap van die Weskus en die Karoo wat ’n mens bybly. Hoewel die landskap nie kan praat nie en nie een reël dialoog in die film uiter nie, bly ’n mens wonder wat hierdie land sou sê as sy kon praat. Hoeveel geweld het hierdie land al gesien, hoeveel vernietiging, hoeveel ontmensliking?

Woorde van verset teen die diskriminerende bestel van apartheid lê nie ver terug in die verlede nie. Dalk op ’n stil nag, iewers op ’n donker plek, sou ’n mens nog die woorde van Nelson Mandela hoor vibreer in die lug: “Never, never and never again shall it be that this beautiful land will again experience the oppression of one by another.”

Die taal van verset en die profetiese oproep tot ’n alternatiewe werklikheid vind in die kerk ook treffend neerslag in die Belydenis van Belhar. Die Belydenis, wat in 1986 die lig gesien het in ’n sogenaamde Status Confessiones, bely die fundamentele waarhede van die Evangelie teenoor apartheidsideologie. Die belydenis roep gelowiges op om vredemakers te wees en versoening na te streef. Dit bevestig die inherente diversiteit van die Liggaam van Christus en getuig van die God vir wie geregtigheid ononderhandelbaar is. In die woorde van Belhar bely gelowiges ’n geloof in dié God wat op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is.

In ag genome ons kollektiewe herinnering aan hierdie tyd, hetsy as slagoffers of as bevoordeeldes/skuldiges/bedrywers van apartheid en ons daaglikse pynlike bewussyn van die nalatenskap van ’n bestel van onderdrukking en ontmensliking, bly die diskriminasie, marginalisering en geweld teen gay mense ’n bykans onverstaanbare werklikheid. Hoe is dit moontlik dat Suid-Afrika die geboorteplek van “corrective rape” is? Hoe is dit dat soveel van ons leiers, van nasionale vlak tot universiteitskoshuise se huiskomiteelede, homofobiese haatspraak kan besig? Hoe is dit dat die kerk wat geboorte gee aan die taal van Belhar, nie daardie taal kan verruim om ook plek te maak vir gay mense nie? Het ons dan alreeds die les verleer van die menslikheid van “die ander”1? Het die God van die arme en die noodlydende dan alreeds weer net “my God” geword wat koud staan teenoor hulle wat nie gemaklik by my inpas nie?

Homofobie is egter nie ’n uniek Suid-Afrikaanse aangeleentheid nie. Ons is nie die enigste land wat voorvalle van geweld beleef as gevolg van diskriminasie gegrond op seksuele oriëntasie nie. Ons beveg nie alleen haatspraak nie en ons is nie ’n geïsoleerde konteks as dit kom by ’n weerstand teen gesprekke rakende seksuele diversiteit nie. Wêreldwyd, selfs in die mees liberale en gesekulariseerde kontekste, blyk die gesprek oor homoseksualiteit kompleks te wees.2Ons kerkgenootskappe se worsteling oor hierdie aangeleentheid is ook nie uitsonderlik nie.3

Hoewel die redes vir hierdie kompleksiteit ’n hele konstellasie van interafhanklike faktore insluit, soos dit gewoonlik die geval is met komplekse aangeleenthede, sou ek in die res van hierdie essay graag die lig wou werp op twee belangrike aspekte in ’n poging om iets te probeer verwoord van waarom dit so moeilik is om oor homoseksualiteit te praat (veral in die kerk) en waarom die woordeskat vir protes teen homofobie dikwels ontbreek.
Waarom is dit so moeilik om hieroor te praat?

How is it that in a society like ours, sexuality is not simply a means of reproducing the species, the family, and the individual? Not simply a means to obtain pleasure and enjoyment? How has sexuality come to be considered the privileged place where our deepest “truth” is read and expressed? For what is the essential fact: Since Christianity, the Western world has never ceased saying: “To know who you are, know what your sexuality is.” Sex has always been the forum where both the future of our species and our “truth” as human subjects are decided. (Foucault 1988:110-11)

Om die waarde en belangrikheid van hierdie aanhaling as voorbeeld van die Franse filosoof Michel Foucault se denke te begryp, is dit nodig om iets te verstaan van sy besondere intellektuele program. Sy aanvanklike Argeologiese4benadering word prosesmatig vervang met Genealogie5. Genealogie staan in kontras met die model van “wetenskaplike” kennis.6Foucault definieer die mag-kennis-verhouding as volg:

Knowledge is inextricably entwined with relations of power and advances in knowledge are associated with advances and developments in the exercise of power. Thus for Foucault there is no disinterested knowledge; knowledge and power are mutually and inextricably interdependent. A site where power is exercised is also a place at which knowledge is produced. (Smart 1985:64)

Daar is dus ’n intieme verhouding tussen mag en kennis. Kennis word moontlik gemaak deur mag, en mag is effektief as gevolg van kennis. Genealogie is dus ontwerp

to excavate patterns of power: not who has power but rather the patterns of the exercise of power. Foucault’s genealogy was a method and project which rejected the search for origins and took as its object and subject the relations between knowledge and power: The exercise of power perpetually creates knowledge and, conversely, knowledge constantly induces effects of power. In fact, the fused appellation power/knowledge has become associated with Foucault. (McNeil 1993:149)

Foucault meen seksualiteit is ’n besondere area vir sosiale organisasie en die ontwikkeling van kennis, identiteit, ervaring en individuele en kollektiewe “waarheid”. Na aanleiding van Foucault se genealogiese analise word seksualiteit in Westerse kulture primêr omskryf aan die hand van die homoseksuele/heteroseksuele binêre verbinding.7Foucault werp lig op die dominante diskoers van heteroseksualiteit wat in stand gehou word deur onder andere georganiseerde godsdiens, die mediese wetenskap, wetgewing, politiek en die familie. In ’n heteronormatiewe samelewing word voorrang gegee aan heteroseksualiteit deur ’n proses van normalisering. Heteroseksualiteit word as “normaal” beskou en beslaan langsamerhand eienskappe soos reg, goed en ideaal. Enige alternatief vir of variasie op die dominante beskouing word noodgedwonge getipeer as afwykend, vuil en sondig. Yep (2003:24) omskryf die proses van normalisering as volg:

The process of normalization of heterosexuality in our social system actively and methodically subordinates, disempowers, denies and rejects individuals who do not conform to the heterosexual mandate by criminalizing them, denying them protection against discrimination, refusing them basic rights and recognition, or all of the above.

Gesien in die lig van die magtige dominante heteronormatiewe narratief is dit verstaanbaar dat daar nie ruimte vir ’n alternatiewe storie is nie. Foucault se magsteorie kom nuttig te pas in ’n poging om die eksklusiewe, dikwels gewelddadige, diskoers van heteronormatiwiteit te verstaan.

When Foucault discusses power, he does not mean by this idea a fixed quantitative, or physical force, something innately possessed or held by individuals or institutions. He acknowledges that power often is channelled through people or institutions, but this is not due to the inherent “power” of such people or institutions. Rather, Foucault understands power as a force, something present throughout the world and in all people. Power is therefore something distinct from authority. Everyone has power, whether they exercise that power individually, in groups or through institutions. (George 2000:92)

Foucault beskou mag nie as iets gesetel in ’n instansie of struktuur nie, maar eerder as ’n komplekse strategiese situasie. Die strategiese funksionering van mag het ten doel om mag te vermeerder. Heteronormatiwiteit en instansies wat hierdie diskoers in stand hou, sal dus altyd so optree ten einde bedreiging te minimaliseer en mag te behou.

In die kerk vertoon hierdie diskoers selfs sterker in die binding tussen ’n patriargale sisteem8en ’n heteronormatiewe bestel om sodoende ’n dominante heteropatriargie tot gevolg te hê. Die manlike heteroseksuele posisie vorm hiermee die onbevraagtekenbare norm. Hierdie bevoordeelde groep se leierskap word dienooreenkomstig nie bevraagteken nie en gee noodgedwonge aanleiding tot eksklusiewe eendimensionele Bybelinterpretasie.
Foucault se analise en omskrywing van die dominante patriargale heteronormatiewe kulturele bestel dra by tot ’n verklaring van waarom dit so moeilik, bykans onmoontlik, is om weerstand te bied teen hierdie narratief. Sy analise help om te verklaar waarom dit vir sommiges, veral dié wat diep ingebed in die kultuurraamwerk funksioneer, onverstaanbaar, onmoontlik of selfs ongeoorloof kan wees om enige ander perspektief te hê. Hoewel dit veel doen om dit te beskryf, keur Foucault nie hierdie eksklusiewe gedrag goed nie. Foucault wys daarop dat die heteronormatiewe bloot ’n konstruksie is. Een uit ’n lang en wisselende lys van dominante konstruksies. Dit is nie die absolute nie en nie die laaste woord nie. Daar is ook ander alternatiewe.

Om ruimte te laat vir ’n ander ervaring
Twee instrumente wat sinvol kan meewerk tot die ontmaskering van heteronormatiwiteit en die skep van alternatiewe werklikhede is Queer-teorie in die algemeen, enersyds, en verantwoordelike Bybelinterpretasie, andersyds, wanneer daar ’n gesprek in die kerk gevoer word.

Queer-teorie is ’n dissipline wat ontwikkel vanuit die werk van Michel Foucault en wat ten doel het om heteronormatiwiteit te ontmasker en te ondermyn. Dit bevraagteken die normaliteit van heteroseksualiteit deur te wys op die pluraliteit, ambivalensie en vloeibaarheid van seksuele konstruksie. Queer-teorie funksioneer vanaf die periferie en het ten doel het om dít wat as algemeen aanvaarbaar en normatief funksioneer in terme van seksualiteit te destabiliseer. Queer-teorie het verder ten doel om diversiteit en verskeidenheid te bevordering en te weerspieël.

Queer-teorie bereik hierdie doelwitte deur gebruik te maak van ’n aantal strategieë:

  1. Kritiese refleksie van heteronormatiwiteit en die ontmaskering van die ontmensliking en ongeregtigheid wat voortspruit uit hierdie bestel.
  2. Ontwikkeling van ’n woordeskat vir gay/queer mense om te praat oor die ervaring van hulle seksualiteit.
  3. Soos in die geval van ander bevrydingsteorieë word die belang van alternatiewe narratiewe naas die dominante een beklemtoon.

Queer-teorie blyk ’n nuttige instrument te wees ten einde die status quo in die gesprek rakende homoseksualiteit te destabiliseer en bereik hierdie doel deur die ontmaskering van dominante normatiewe diskoers en deur ’n ruimte te bied vir alternatiewe ervarings en verhale en die inherente bevordering van diversiteit.

Die debat in die kerk sou naas die insigte van Queer-teorie kon baat by die praktyke van verantwoordelike Bybelinterpretasie. Daar blyk konsensus te wees in die refleksie op die gay-gesprek in die kerk dat die manier waarop mense die Bybel lees en toepas, grondliggend is tot die problematiek. Gesprekke bereik dikwels ’n dooiepunt wanneer dit in die interpretasie van die Bybel oor homoseksualiteit gaan. Sommige gelowiges lees die Bybel as letterlik die Woord van God waarvan elke woord onfeilbaar en waar is en lynreg van toepassing is op die realiteit waarin ons in die 21ste eeu leef. Ander meen die Bybel praat van ’n verwyderde wêreld en indien ons enige iets daarvan wil verstaan, moet ons dit lees teen die kultuurhistoriese agtergrond van daardie wêreld. Nóg ander meen die Bybel is irrelevant en het niks vir moderne mense te sê nie.

Die verskeie standpunte is nie noodwendig die probleem nie, maar eerder die feit dat hierdie standpunte dikwels in uitsluitend onverdraagsame isolasie funksioneer. Bybellesers word sodoende in kampe verdeel wat teenoor mekaar stelling inneem eerder as om in gesprek met mekaar te wees.

Jeremy Punt (2002:425) skryf treffend oor die stryd wat ontstaan ten einde ’n bepaalde interpretasie van die Bybel as dominant te vestig en te behou:

Attempts to say what the Bible “really means”, to get the meaning, always stood in service of purposes determined by ecclesial, socio-political, ethical, nationalistic or other such concerns. Attempts to subvert existing claims to the Bible and its meaning often served similar, if opposing, interests. Although the very notion of the meaning of the biblical texts are denied by some today, it has to be acknowledged that many people continue to find the Bible a valuable guide for their lives. The Bible as site of struggle involves, however, more than difference of interpretive opinion. The Bible is involved in the discourse of power and is drawn into a struggle for interpretive control as well as eventually, ownership thereof.

Ten einde enige sinvolle ontwikkeling te sien in die debat oor homoseksualiteit in die kerk is dit nodig om met groter omsigtigheid en verantwoordelikheid om te gaan met die interpretasie en gebruik van die Bybel. Die proses van verantwoordelike Bybelinterpretasie sluit die volgende in:

  1. Die Bybel het ’n komplekse ontstaansproses wat plaasvind in ’n verwyderde kultuurhistoriese wêreld. Om sinvol met die Bybel om te gaan beteken om verantwoordelik aandag te gee aan die wêreld wat agter die teks lê. Wie die skrywer van die teks is, die sosiopolitieke posisie van die skrywer, die sosiokulturele raamwerk waarbinne die skrywer funksioneer, die kulturele praktyke van die dag is van die vrae wat hier ter sprake kom.
  2. Elke vers/perikoop wat gelees word en gebruik word om moderne argumente te staaf, is ingebed in ’n bepaalde literêre konteks. Om die Bybel verantwoordelik te lees sou beteken om die genre van tekste te respekteer en om dele te lees in terme van die geheel; om dus in diepte aandag te gee aan die wêreld van die teks. Dit beteken nie net dat verse gelees word as deel van hoofstukke wat weer inpas in bepaalde boeke nie, maar dat die algemene boodskap of hart van die teks ook in ag geneem word. Oor wat hierdie boodskap of hart van die teks is, verskil gelowiges natuurlik, maar dat die Bybel vertel van die God wat neerbuig na mense en graag met hulle in verhouding wil staan, is sekerlik ’n moontlike opsie.
  3. Meer onlangse nadenke oor die proses van Bybelinterpretasie plaas veral die klem op die sogenaamde wêreld voor die teks. Hier kom die leser en die wêreld van waaruit die leser die teks benader, in fokus. Feminisme en bevrydingsteologiese benaderings beklemtoon die sentrale rol van die ervaring van die Bybelleser in die proses van interpretasie. Die rykdom en diversiteit van ons persoonlike en kollektiewe ervarings funksioneer as’t ware as die wegspringplek in die interpretasieproses. ’n Patriargale heteronormatiewe paradigma ontken dan juis enige ander soort ervaring deur die heteroseksuele manlike perspektief as die norm te beskou. In die NG Kerk bestaan die Bybelinterpretasie van wit, heteroseksuele mans dus dikwels steeds as die dominante diskoers. Deur Bybellesers bewus te maak van die belang van hulle eie ervaringswêreld en die reg tot ’n standpunt of opinie vanuit daardie kontekstuele plek word die interpretasie van die Bybel verruim en verryk. Dit is egter nie genoeg om ’n verskeidenheid interpretasies in isolasie te laat funksioneer nie. Afrika hermeneutiese benaderings wys op die belang van die gemeenskap. Die uitdaging van verantwoordelike Bybelinterpretasie is dus om te midde van verskillende posisies die Bybel in gemeenskap met mekaar te lees. Diversiteit van interpretasies is nie iets wat gevrees of vermy moet word nie, maar eerder iets wat opgesoek moet word ten einde Bybelinterpretasie te verdiep. Die proses van interkulturele Bybellees, waar diversiteit voorop gestel word, bied ’n sinvolle spasie vir die gesprekke rakende die interpretasie van die Bybel.

 Vir die kerk om sinvolle vordering te maak in die gesprek oor homoseksualiteit is die skep van veilige spasies noodsaaklik, sodat alternatiewe verhale gehoor kan word ten einde die heteronormatiewe te destabiliseer en om te midde van diversiteit verantwoordelik saam te besin oor God se Woord. Verantwoordelike Bybelinterpretasie impliseer ’n diepgaande proses waar veral aandag gegee word aan die wêreld agter die teks, die wêreld van die teks en die wêreld voor die teks. Ten einde hierdie proses sinvol te bestuur het die kerk profetiese visionêre leierskap nodig – leiers wat nie bang is vir diversiteit en verskeidenheid nie en wat leef vanuit die geloof dat, al verskil ons van mekaar, is ons in Christus aan mekaar vas.

Die gesprek oor seksuele diversiteit in ons land en kerk is ’n toetssteen. Dit vra of ons, in die woorde van Desmond Tutu, in hierdie land vry is van die verlede of steeds bang gevangenes daarvan is.

Bibliografie
Ackermann, DM. 2003. After the Locusts. Letters from the Landscape of Faith. Grand Rapids en Cambridge: William B Eerdmans.
Foucault, M. 1980. Truth and power, in Gordon, C (red). Power/knowledge: Selected interviews and other writings. 1972-1977. Sussex: The Harvest Press, 109-33.
—. 1988. Power and sex. In LD Kritzman (red). Michel Foucault: Politics, philosophy, culture: Interviews and other writings, 1977-1984. New York: Routledge, 110-24.
George, MK. 2000. Foucault, in Adam, AKM (red). Handbook of postmodern Biblical interpretation. Missouri: Chalice Press, 91-8.
McNeil, M. 1993. Dancing with Foucault: Feminism and power-knowledge. In Ramazano?lu, C (red). Up against Foucault: Explorations of some tensions between Foucault and feminism. Londen: Routledge, 147-79.
Punt, J. 2002. From re-writing to re-reading the Bible in post-colonial Africa: Considering the options and implications. Missionalia, 30(3):410-42.
Sheridan, A. 1980. Michel Foucault: The will to truth. Londen: Tavistock Publications
Smart, B. 1985. Michel Foucault. Londen: Tavistock Publications.
Yep, GA. 2003. The Violence of Heteronormativity in Communication Studies: Notes on Injury, Healing, and Queer World-Making. In Yep, GA, KE Lovaas en JP Elia (reds). Queer Theory and Communications. From Disciplining Queers to Queering the Discipline(s). New York: Harrington Park Press, 11-60.

 

1Om iemand as “die ander” te kategoriseer lei dikwels tot ontmensliking. “The process of othering creates individuals, groups and communities that are deemed to be less important, less worthwhile, less consequential, less authorized, and less human based on historically situated markers of social formation such as race, class, gender, sexuality, ability and nationality. Othering and marginalization are results of an ‘invisible centre’. The authority, position, and power of such a centre are attained through normalization in an ongoing circular movement.” (Yep 2003:18)

2In die Nederlandse pers het daar onlangs kontroversie geheers as gevolg van ’n behoudende religieuse instansie, Different, wat sekere aansprake gemaak het rakende homoseksualiteit en die moontlikheid om daarvan genees te word. Sien die volgende artikels in dié verband:
http://www.totheildesvolks.nl/nl/different/home.html
http://www.trouw.nl/tr/nl/5091/Religie/article/detail/3124760/2012/01/17/Verzekeraars-en-medici-tegen-christelijke-homotherapie.dhtml
http://www.trouw.nl/tr/nl/5091/Religie/article/detail/3125915/2012/01/17/Homotherapie-Organisatie-Different-noemt-het-liever-begeleiding.dhtml

3Braam Hanekom die moderator van die Wes- en Suid-Kaap-sinodes, wys tereg hierop in sy onlangse reaksie in Die Burger, “NG kerk sê nee vir gay vrou as predikant” (30/11/2011) na aanleiding van die debat wat ontstaan het in die pers insake die weiering tot legitimasie van Lulani Vermeulen: “Maar mense moet verstaan dit is nie die NG Kerk wat moedswillig wil wees nie. Ons is in lyn met feitlik alle hoofstroom-kerke.” Sien gerus ook die gesprek oor homoseksualiteit in die Reformed Church in America wat onlangs die Belhar Belydenis aanvaar het by www.rca.org.

4Argeologie, in die sin waarin Foucault die woord gebruik, dui op ’n manier waarop historiese analise gedoen word op ’n sisteem van nadenke of ’n diskoers: “Archaeology seeks to describe the archive, the term employed by Foucault to refer to ‘the general system of the formation and transformation of statements existent at a given period within a particular society’” (Smart 1985:48). Die doel van hierdie sogenaamde analise van diskoers is nie om verborge betekenis of ’n diep waarheid te ontgin of om die ontstaan en ontwikkeling van ’n diskoers te ondersoek nie, maar eerder “to document its conditions of existence and the practical field in which it is deployed” (Smart 1985:49). Argeologie, soos Foucault dit gebruik, verskil van die meer algemene “geskiedenis van idees”-gebruik van die woord. “For Foucault, history – and the ‘history of ideas in particular – is too deeply imbued with notions of continuity, causality and teleology, which stem from modern rationalism and ultimately from the Cartesian notion of constructive subject” (Sheridan 1980:14). Smart (1985:49) meen dienooreenkomstig: “The history of ideas is an ill-defined and imprecise discipline which through the central themes of ‘genesis, continuity and totalization’ addresses the formation, development, and transformation of systems of thought. Foucault’s archeological analysis represent ‘an abandonment of the history of ideas, a systematic rejection of its postulates and procedures, and an attempt to practice a quite different history of what men have said.”

5Foucault (1980:117) omskryf die term as volg: “And this is what I would call genealogy, that is a form of history which can account for the constitution of knowledge, discourses, domains of objects, etc, without having to make reference to a subject which is either transcendental in relation to the field of events or runs in its empty sameness throughout the course of history.”

6“Genealogy as critique stands in opposition to the scientific hierarchization of knowledge about human beings and social relations and the effects intrinsic to their associated technologies of power” (Smart 1985:62).

7Yep (2003:12) beskryf hierdie binêre verbinding as “a symmetrical and oppositional coupling of a marginal category (homosexuality) with a privileged class (heterosexuality). A closer examination of such a binary, however, reveals that heterosexuality is, in reality painstakingly dependent on homosexuality to maintain and reproduce its master status.” Heteroseksualiteit is dus nie ’n onafhanklike en stabiele kategorie nie, maar eerder ’n onstabiele konstruk wat konstant afhanklik is van bevestiging en beskerming.

8Ackermann (2003:30) beskryf die sisteem as volg: “Today we use the word ‘patriarchy’ when we refer to an ideology and a social system that support the dominance of men over women. In patriarchy, men are privileged beings and male experience of reality is made the norm for all persons, including women and children.”

  • 1

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Moeilik om te begryp - dat Suid-Afrika, n land met persentasie gewys so baie gelowiges, en so baie kerkgangers, die land van "corrective rape" is. Die Bybel is inherent n book van geweld, en diegene geskool in hierdie wêreld en op die tekste van hierdie boek word ook n produk van hierdie geweld. Die mees ateïstiese lande van Noord-Europa is ook die mees etiese. En Buddhistiese Japan het die laagste syfer vir moord in die wêreld.

    Stof om oor te dink.

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top