Moedertaalonderrig in die kollig

  • 1

Onderstaande is ’n uitgebreide weergawe van ’n inset gelewer deur Ria Olivier tydens die AON (Afrikaanse Onderwysnetwerk) en RSG se radioseminaar Moedertaalonderrig: ’n kind se hupstoot tot sukses in die lewe wat op 23 Februarie uitgesaai is.

Ria Olivier (Foto: verskaf)

Daar is ’n Arabiese uitdrukking wat sê ’n persoon se krag lê in sy verstand en in sy tong. Die verband tussen hierdie gesegde en die belangrikheid van moedertaalonderrig is vanselfsprekend. Dit is immers deur jou moedertaal dat jou denkvermoëns ontwikkel asook jou vermoë om jou denke te verwoord.

Die onkunde, in sommige gevalle selfs vermetelheid, onderliggend aan die bewering dat daar geen intrinsieke waarde in moedertaalonderrig steek nie, met ander woorde dat die moedertaal nie noodwendig vir ’n kind ’n hupstoot tot sukses in die lewe is nie, is verstommend. Dit is ’n stelling wat mens nogal dikwels hoor by Engelssprekendes wat self ál die voordele van moedertaalonderrig geniet het, maar nou daarop aandring dat dit nie net goedkoper sou wees nie, maar ook doeltreffender om kinders met ’n ander moedertaal in Engels te onderrig.

By die Afrikaanse Taalraad se Onderwyskonferensie in 2010 het Neville Alexander hierdie soort redenasie bestempel as (en ek haal hom aan): “een van die brutaalste drogstories van die 20ste eeu”. Hierdie befaamde ridder van moedertale, soos na Alexander verwys is, het spesifiek verwys na die mislukking van dekades van Engelsmediumonderrig aan leerders wat ’n Afrikataal as moedertaal het  – inderdaad ’n bankrot beleid en praktyk wat deur die droewige statistiek bevestig word. Dít terwyl die moedertaal die basis vorm van onderwys in die meeste lande in die wêreld, en kan ek met nadruk byvoeg, die meeste welvarende lande in die wêreld.

Dat moedertaalonderrig die effektiefste instrument is vir persoonlike ontwikkeling, selfverwesenliking en die vermoē tot ’n volhoubare lewensbestaan word deur die statistiek, wêreldwyd en ook hier plaaslik, bevestig. Die teenoorgestelde geld egter in situasies waar kinders of studente nie hul mees bemagtigende instrument vir lewensvordering kan benut nie.

Die Taalraad kry daagliks te doen met die ontmagtigende ervarings van jongmense wat gekonfronteer word met onderrig en leer in ’n ander taal as hul moedertaal. Ek self was voorheen betrokke by ’n bemagtigingsprojek vir landelike gemeenskappe waar ek eerstehands die volslae teleurstelling beleef het van toppresterende matrikulante afkomstig van Wes-Kaapse plase wat nie in ’n Engelse leeromgewing die mas kon opkom nie. Die reddelose hartseer van die ouers wat vir hul kinders ’n beter lewe begeer het as wat hulle self gehad het, sal my altyd bybly.

Wat sê die navorsing?

Navorsing wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, het onomstootlik bewys dat moedertaalonderrig vir leerders en studente deure tot sukses oopsluit, met ander woorde dat dit vir hulle ’n hupstoot tot sukses bied. Dit toon ook dat wanneer moedertaalonderrig vir jongmense ontsê word, dit vir hulle deure tot sukses toeklap, hulle kniehalter. Derhalwe is daar oor die wenslikheid van moedertaalonderrig, veral in die eerste skooljare, by taalkundiges en opvoedkundiges geen twyfel nie.

Wanpersepsies oor Afrikaanse moedertaalonderrig en -opleiding:

Daar is baie Afrikaanse ouers wat meen dat hulle hul kinders ’n hupstoot tot lewenssukses kan gee deur hulle Engels groot te maak. Die wanperspepsie hier is dat Afrikaansmediumonderrig en -opleiding die kanse op lewenssukses verskraal. Dis egter al oor en oor bewys dat ouers se keuse vir niemoedertaalonderrig en -opleiding juis hulle kinders kniehalter. Talle leerders pluk die wrange vrugte van hul ouers se oningeligte keuses.

Gekniehalter deur gebrekkige taalvaardigheid, in sommige gevalle selfs taalverwardheid, ondervind sulke kinders dikwels erge leeragterstande, wat tot vroeë skoolverlating lei, met laag besoldigde werk of werkloosheid as die treurige gevolg. Baie van hierdie vroeë skoolverlaters wend hulle tot anti-sosiale gedrag, en sommige word deel van die misdaadstatistiek. Daarteenoor is daar die talle suksesverhale van leerinstellings waar leerders die hupstoot van Afrikaanse moedertaalonderrig geniet.

Illustrasie: Pixabay.com

Vir Afrikaanse ouers wat hul kinders graag Engels wil laat leer weens die voordele daarvan, bv. in die werkplek, het die Taalraad ’n duidelike boodskap: Bemeester Engels deur Afrikaans. Want dis bewys dat moedertaalvaardigheid die basis vorm vir suksesvolle verwerwing van ’n ander taal of tale. So gesien, bied die moedertaal ’n dubbele hupstoot tot sukses in die vorm van veeltaligheid, wat ’n vereiste is in ons veeltalige samelewing en sekerlik ’n voorsprong bied wanneer om werk aansoek gedoen word.

Daar rus myns insiens ’n dure verpligting op Afrikaanssprekendes wat self ál die voordele van moedertaalonderrig geniet het, om hulle te beywer om wanpersepsies oor moedertaalonderrig in die algemeen, en Afrikaanse moedertaalonderrig en -opleiding in die besonder, met alle mag tot hul beskikking teen te staan.

Die Taalraad het daarom met waardering kennis geneem van prinsipale van skole in die Kaapse Metropool wat in die belang van hul leerders Afrikaansmediumonderrig heringestel het – in weerwil van die ouers se aandrang op Engelsmediumonderrig. Die gevolg hiervan? ’n Onmiddellike verbetering in leerderprestasie. Kniehalter moedertaalonderrig? Allermins. Dit bied eerder ’n allemintige hupstoot tot sukses – leersukses op alle vlakke, en uiteindelik lewenssukses – soos talle van ons kan getuig.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top