Moedertaal: bemagtig of bemoeilik?

  • 0

Vir ouers met jong kinders

Internasionale Moedertaaldag, ’n inisiatief van die Verenigde Nasies, word reeds vanaf 2000 wêreldwyd op 21 Februarie gevier. Die doel is om bewustheid te skep van taal- en kultuurverskeidenheid en veeltaligheid.  Vanjaar se tema is: “Bevordering van veeltaligheid vir insluiting in opvoeding en die gemeenskap.”

Lukas Hanekom, fasiliteerder van die Moedertaalinisiatief van SAOOT (Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust), deel met jong ouers inligting oor taalkeuses van belang vir hul kinders se insluiting in opvoeding en ’n veeltalige samelewing.

Ouers en onderwysers vergeet dikwels dit is die kind wat:

  1. afhanklik;
  2. hulpbehoewend;
  3. onselfstandig; 
  4. onbekwaam; en 
  5. onkundig is.

Vir hierdie opvoedingstaak beskik ouers en onderwysers oor ’n belangrike gawe, naamlik die taal wat hy of sy die beste besig – hulle moedertaal. Die moedertaal bemagtig die opvoeders en gee onder meer aan die gesagsfiguur die vertroue om met die nodige gesag op te tree.

Ouers wat besluit om hul kind groot te maak in ’n taal waarmee hulle self sukkel, ontmagtig in der waarheid hulself en kan gevolglik nie hulle opvoedingstaak met gesag uitvoer nie.  Sulke ouers het dikwels ook ‘n gebrek aan selfvertroue. Hoewel hulle van huis uit Afrikaans is, besluit hulle dikwels om hul kinders in ’n Engelsmediumklas te plaas, maar vind dit dan moeilik om tydens ’n ouervergadering vrae te stel of om te sê wat hulle by die skool pla.

Elke ouer wil hê dat sy of haar kind uiteindelik:

  1. met begrip kan lees;
  2. gedagtes helder kan formuleer;
  3. logies en krities kan dink; en
  4. selfstandig kan werk.

Met ’n swak taalfondament sal die kind hierdie doelwitte moeilik bereik. Slegs moedertaalonderrig bied die soliede taalfondament wat hiervoor nodig is.

Ouers en opvoeders wil ook toesien dat die volgende aan kinders oorgedra word:

  1. kennis;
  2. ervaring;
  3. kultuur; en
  4. tradisies.

Taal is egter die voertuig vir die oordrag van kennis, en kinders met gebrekkige taalvaardighede sukkel om begrippe te vorm en om akademies te presteer. Dit is omdat die kind die opvoeder goed moet kan verstaan om ’n antwoord op vrae te kan gee.  Taal en denke is immers onderling afhanklik van mekaar. Hoe meer, beter en sterker die woorde by die kinders gevestig is, hoe beter vind die oordrag plaas.  Hiervoor bied moedertaal die stewigste fondament.

’n Nuwe tragiese neiging is besig om in sekere gesinne pos te vat: ouers praat een taal met mekaar maar ʼn ander met hul kleintjies. Hulle probeer die kinders in ’n ander taal grootmaak omdat hulle dink dit is beter vir die kind. Wat ʼn ramp!  

Gedurende die COVID-19-grendeltyd is baie van hierdie ouers deeglik ontnugter hulle uitgevind hoe moeilik dit is om hul kinders met tuiswerk te help – in ’n taal waarmee hulle self sukkel. Hierdie ouers het ironies genoeg die strop om hulle eie nekke geplaas en sukkel nou met die gevolge daarvan.

Kinders met ’n goeie fondament in hul eie moedertaal leer ander tale makliker aan. Dit is dus sinneloos om jou sterkste taal - jou moedertaal - weg te gooi om te verseker dat jou kind ʼn ander taal aanleer.  Dit maak veel meer sin om jou sterkste taal as ʼn waardevolle hulpbron te behou, en om daarop te bou om ander tale stelselmatig aan te leer. Elke kind behoort daarom daarna te streef om die tale van die provinsie waarin hulle leef te leer sonder om die moedertaal – die sterkste pyl in die koker - agterweë te laat.

Ouers kan gerus kennis neem van die volgende skokkende feite:

  1. Meer as die helfte van die RSA se kinders wat met graad 1 begin, val voor graad 12 uit die skool uit - die sogenaamde “dropouts”; en 
  2. Byna 8 uit 10 graad 4-leerders in Suid-Afrika kan nie met begrip lees nie – hulle verstaan nie wat hulle lees nie, wat leer feitlik onmoontlik maak. 

Hierdie realiteit hou grootliks verband met die leerders se swak taalfondamente. Hieroor is daar geen twyfel nie:  die moedertaal is ’n vlymskerp instrument in die ontwikkelingsarsenaal van die kind. Hiermee kan die uitdagende oerwoude van die lewe makliker oopgekap word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top