Mobius-strip
Alfred Corn
’n Onverwagse lenige halfdraai, sy kurktrek-
torsie terug en óm, om blikke te sluit,
die stroom wat wakker skok nét so verrassend –
so … hardkoppig? So sidderend – waar maar vier
of vyf invalle, houdings meeding.
Ek het gewonder of enigiets behalwe ’n stoeierslyf
en nek óp kan heliks om die blos
te ontbloot, die koel duursaamheid van ’n gesig
nog klam van ’n warm stort, en ons
stabiele swaelstertritme laer af kan volhou.
Espresso-krulle rank oor blougroen
oë afgeskerm aan een kant soos ’n filmster,
kaak geklem, en geen geykte f-woord nodig
om die smagting oor te dra, die woedende jubel
wat nie ánders kan as selfsugtig wees nie as dit goed voel.
Toegegee, my keellag was te veel van ’n spog,
dus leun jy terug met ’n soen om my stil te maak,
spanwerk terg die keerpunt tot een springer
boog en aardwaarts stort … Agtergelaat,
toegegee, maar geen klagtes van dié uitsteller.
Soos beide kante van ons vlesige Mobius-
strip elkaar word, sal jy my weldra sien
’n halfdraai maak, en vertrou om jou blik te ontmoet.
[Vertaal deur Johann de Lange]