Teks: John Kani
Regie: Janice Honeyman
Spelers: John Kani, Susan Danford, Apollo Ntshoko en Buhle Ngaba
Die toneel open met ’n woonkamer wat iets van beide moderne Europa en tradisionele Afrika spreek. Dit is die huis van ’n apartheidstrydveteraan, Robert Khalipa (John Kani), en sy Sweedse vrou, Anna Ohlson (Susan Danford) in Stockholm. Missing vertel die verhaal van ’n anti-apartheid-held wat glo dat hy ná ballingskap deur die “organisasie” in ’n verre land agtergelaat en vergete is. Terwyl Robert in ballingskap ’n professor in Swede word, sowel as voorsitter van die Sweeds Kamer van Handel en Nywerheid, word dié saam met wie hy die stryd geveg het, met hoogstaande politieke posisies in die nuwe ANC-regering beloon. Robert se grootste wens is om na Suid-Afrika terug te keer, maar hy weier om die besoek of terugkeer as ’n toeris aan te pak. Die verlange na sy tuisland bereik ’n klimaktiese spanningspunt in hulle huisgesin. Uiteindelik is dit die verlowing van hulle dogter, Ayanda (Buhle Ngaba), en Robert se behoefte dat sy die tradisionele Xhosa-voorhuwelikse rituele moet deurmaak, wat lei tot die gesin se besoek aan Suid-Afrika. Hier kom Robert egter ontnugterende waarhede teë wanneer hy na meer as ‘n dekade met sy mede-anti-apartheidstryders in gesprek tree. Hy en sy gesin moet uiteindelik nie alleenlik vriendskappe en die vertroue in andere heroorweeg nie, maar ook belangrike gesins- en toekomsbesluite neem.
Missing kyk na die individu se rol in ‘n groter stryd en wat met die psige gebeur indien daardie stryd hom/haar ontneem word. Wat gebeur as jou stryd meer werd was as die eindelike beloning na afloop daarvan? En hoe skep jy ná die voltrekking van die stryd betekenis?
Ten spyte van Eskom se teleurstellende gedrag, met ’n kragonderbreking wat na die eerste vyf minute die spelers en gehoor in die stikdonkerte gelaat het, het die geselskap en Baxter-teater daarvoor gesorg dat die produksie met flikkerende huis- en werkersligte met behulp van ’n kragopwekker kon voortgaan.
Wanneer akteurs op hierdie manier gestroop word van alle hulpmiddels in terme van klank en beligting, word die toneel op alle maniere blootgelê. Die teks en die oordra daarvan word die enigste middel wat die gehoor kan meeneem op die reis van die karakters en die verhaal. Of dit die blootlê van die teks en spel op dié wyse was, of net die teks in die algemeen, het dit geblyk dat die struktuur van die teks ongelukkig te kort skiet. Die verhaal is saamgevleg uit lang, dramatiese en nostalgiese monoloë, waarin karakters aan die gehoor vertel hoe daar in hulle lewens en suksesse skort. Dit is wel verfrissend dat die karakter van Anna geskryf is op ’n manier wat haar die vryheid gee om te sê wat die meeste blanke Suid-Afrikaners nie sal waag nie. Tesame met die feit dat die karakter nie Suid-Afrikaans is nie en dus ook nie die sogenaamde postapartheid “wit skuld” geërf het nie, is die teks natuurlik ook vanuit Kani se oogpunt geskryf. Die gevolg is ’n interessante en eerlike karakter wat waarlik vanuit ’n objektiewe oogpunt oor Suid-Afrika kan kommentaar lewer.
In verband met die spel: dit het by tye gevoel asof dit vir al vier akteurs ’n stryd was om hulle stemme die uithoeke van die teater te laat bereik. Die lang monoloë, soos vroeër beskryf, het veral by Kani verskeidenheid en diepte in ’n emosionele reis laat skort. Al die akteurs moet egter gekomplimenteer word vir hulle professionele hantering van die omstandighede waaronder hulle moes optree.
Ten einde sou ons sê dat Missing belangrike vrae vra vanuit die verwyderde oogpunt van Robert Khalipa (alhoewel die verhaal besaai is met verwysings wat nou verband hou met Kani se lewe). Die karakters, veral Robert, stel belangrike vrae oor korrupsie en die huidige stand van die leierskap wat eens saam met hom geveg het. Hy verwys na ’n ander ANC, wat op ’n gemeenskaplike saak en geregtigheid gefokus was, “not a bunch of idiots calling themselves The Leadership”.
Missing is tot 22 Maart in die Baxter-teater te sien en kaartjies is by Computicket beskikbaar teen R100–R140.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

