By die 2012 Franschhoekse Boekefees is ’n interessante debat gevoer oor waarom misdaadfiksie deesdae so gewild is in Suid-Afrika. Die titel van die gespreksitem op die program was “Is misdaadfiksie die nuwe politieke roman?”, maar die gesprek het allerhande draai geloop, soos oor wat die betekenis van romans is en oor persoonlike eienskappe van die sprekers, en geen werklike gevolgtrekking is gemaak aangaande die gegewe tema nie. Sommige vrae is wel beantwoord en nuwes is voorgestel, maar ander, soos hoekom die kwessie van ras so min aandag geniet in misdaadfiksie, is blatant omseil.
Op die verhoog (van die kerksaal) was Lynda Gilfillan as fasiliteerder, met gespreksgenote Margie Orford, Leon de Kock en Imraan Coovadia. Gilfillan het ná die aanvanklike bekendstellings die sprekers toegelaat om self vrae te stel en stellings te maak – ’n potensieel gevaarlike strategie, maar nie een van hulle het die toneel oorheers nie, want al drie het sterk persoonlikhede én respek vir mekaar se menings en werk.

Interessant was die afskop-stelling (wat ook op die feesprogram aangedui was), naamlik dat Gilfillan die “genre-snobs” op Universiteit Stellenbosch se webwerf SLiPnet vooraf aangevat het (dus hoofsaaklik op die internet) en met hierdie nuwe debat die kwessie verder gevoer het. Hoewel die sprekers by haar ook akademiese agtergronde het, het hulle hul by Gilfillan geskaar teen die sienswyse dat misdaadfiksie – en eintlike enige genre – werke van minderwaardige gehalte en statuur is; as ’t ware literatuur met ’n klein “l” is, teenoor Literatuur. Orford het selfs verklaar dat sy nie van digters hou nie en dat, wat haar betref, poësie as genre sommer kan verdwyn. Orford se (oor)reaksie was tipies van haar algemene houding. Hierdie bitsige aanmerking was ontlok deur Coovadia se vraag: “Wat sou ons mis as alle romans, dus ook misdaadromans, skielik sou verdwyn?” Coovadia het op sy beurt deurgaans uitlokkende stellings gemaak, en De Kock het (van die drie) ’n meer gematigde, hoewel geensins terughoudende houding nie, ingeneem.
Die gesprek was meesal gemaklik-skertsend en veral Orford het nogal duidelik vir die gehoor gespeel, terwyl haar gespreksgenote, soos Gilfillan self ook, speelse maar nie aanvallende nie, kommentaar op Orford se werk gelewer het. Waarop sy op haar beurt aspekte van De Kock en Coovadia se werk aangespreek het – soos dat Coovadia “kadawers laat rondlê, maar nooit die aandadiges aan die pen laat ry nie”.
Orford het haarself weerspreek deur te verklaar dat terwyl slegs 10% van moordsake in Suid-Afrika opgelos word, en dit dus die misdaadfiksieskrywers se plig is om minstens in hulle boeke meer moordenaars te laat boet, sy tog reken (later in die gesprek, wat sowat een uur geduur het) dat skrywers van misdaadfiksie nie skryf hoe Suid-Afrika behóórt te wees nie, maar dat hulle skryf hoe Suid-Afrika werklik ís. Dít klop egter nie: hoekom skryf hulle dan nie hoe ongelooflik pateties en onaanvaarbaar die misdaadsituasie in werklikheid is nie? Die antwoord hierop is deur De Kock verskaf toe hy beweer het dat dinge nie regtig so erg is as wat in die media voorgehou word nie. Coovadia het daarteenoor gesê dat “For the last 350 years South-Africa has been one big crime scene.”
Albei stellings is effe skeefgetrek: eerstens, ten spyte van die haas onbeskryflike gemors wat ons wel beleef, is daar tog nog talle ander groter “crime scenes” dwarsoor die wêreld. Met wie word ons vergelyk en in welke gevalle is dit regverdige vergelykings? Om te veralgemeen is nooit korrek nie, daarom sal mens kan saamstem as kommentaar oor spesifieke misdade soos moord, kindermishandeling en verkragting gemaak word, maar in ’n land soos Noord-Korea, waar miljoene mense al vir dekades lank deur hulle eie weermag geïnterneer en vermoor word, gaan dit (selfs) veel erger as hier. Dink mens aan die onderdrukking van minderheidsgroepe soos die inwoners van Oesbekistan (met ’n kultuur wat meer as ’n duisend jaar oud is), al geslagte lank deur die Russe verdruk is, en onlangse gevalle van massamoorde in Meksiko (bendes wat byvoorbeeld tientalle mense onthoof), en ag, soveel ander gevalle in menseheugenis, is ons situasie allermins uniek of eens uitstaande. In die algemeen gesien, dus. Relatief. Verder word dit plaaslik meer tóégelaat om so te eskaleer weens apatie, korrupsie en onbevoegdheid, terwyl ons ou SAP amper té effektief was – slegs ’n dekade of twee gelede.
Weer eens: alles relatief. En tog het die misdaadprobleem eers betreklik onlangs haas onbeheerbaar geraak – dit was beslis nie vir 350 jaar so nie. Waar veral die Britte vir kolonisasie moet pa staan, en die NP vir apartheid, is die huidige misdaadkwessie meesal te wyte aan die huidige regering se onvermoë om die “sosiale kontrak” met hulle mense te eerbiedig.
Nietemin, hierdie gespreksessie het ’n kykie na die denkprosesse van skrywers gebied – en mens laat dink oor hoe hulle vir hulle lesers skryf en waarom hulle dit so doen. Volgens Orford skryf sy so na as moontlik aan die werklikheid en (spot sy) lieg sy weens haar agtergrond as joernalis heel maklik dan die res by. Sy dink ook dat skrywers van misdaadrillers alles uitlaat wat die tempo van hulle verhaal kan vertraag en daarom is die fokus nie op karakterontwikkeling en realistiese milieu-omskrywings nie.
De Kock reken akademici en misdaadskrywers het botsende sienswyses, want hulle fokuspunte verskil, maar dat misdaadfiksie wel algaande deur middel van studies daarvan ’n sekere status verwerf. Misdaadfiksie verkry dus ’n verhoogde akademiese profiel via die insette deur akademici, wat nogal ironies is.
Die vraag waarom misdaadfiksie tans so gewild is, is wel kortliks aangespreek en die antwoord, à la De Kock, is dat dit optree as “mediator van die heersende sosiopolitieke diskoers”. Daarmee bedoel hy dat mense antwoorde soek op kwellende vrae wat veral die middel- en armer lae van die samelewing angstig maak. ’n Soort roetekaart word verskaf, beweer hy. In hierdie opsig weerspreek hy homself dus ook, aangesien hy dit vroeër in die gesprek gestel het dat dinge glad nie so erg is as al die verontrustende statistieke ons wil laat dink nie.
Ek dink nogal die feit dat ons tans die onbetwiste wêreldkampioen in verskillende afdelings van geweldsmisdaad is, hoewel nog nie in alles nie, is tog genoeg rede tot angs. Miskien is daar nog talle eilandjies van ontkenning, bewoon deur ou liberale, maar ek kan sweer daar is baie meer onrustige bewoners van banggatparke en ander veiligheidsgebiede in voorheen normale residensiële areas. Trouens, hierdie skisofreniese neiging wat veral die Engelssprekende intelligentsia steeds openbaar, vind ek verstommend oneerlik, en by sodanige byeenkomste van diesulkes tref dit mens telkens in watter teenstrydige denkwêrelde so baie van ons nasie steeds leef.
Misdaadfiksie is inderdaad gewild – die groot bywoning van hierdie debat, die robuuste deelname aan die gesprek hieroor op die internet (soos die SLiPnet-geval), en bowenal die goeie verkope van boeke is bewysstukke A, B en C vir die betoog dat ontkenning van die redes tot vrees vals is. Nogtans kon Coovadia dit nie weerstaan om te sê hy verstaan nie hoekom daar enigsins ’n debat is oor die legitimiteit en status van enige genre nie – wat is dié ding oor genre-afbakening? wou hy telkens weet. En of hy reg of verkeerd is, dis ’n gegewe: daar ís genres (dink net hoe sou bibliotekarisse die Dewey-sisteem andersins kon toepas – daar sou dan sekerlik ’n meer ingewikkelde vindsisteem wees!) en dis ’n feit. Nes daar onaanvaarbare vlakke van misdaad is, of jy dit wil erken of nie. Ek verstaan weer nie waarom hy eens die vraag vra nie. Behalwe as hy die ontstaanredes van genre-indeling wil ontleed, maar hy het dit daar gelaat.
En Coovadia gooi toe nog ’n knuppel in die hoenderhok: Wat, vra hy, wil misdaadskrywers eintlik hê? Nobelpryse? Jy moet kies, reken hy – óf erkenning (al sê skrywers hulle verpes pryse, en Orford sê nee, hulle haat dit net om te verlóór) óf geld. Wat hy nie gesê het nie, is dat plaaslike skrywers bitter min van enige van hierdie opsies geniet, maar hy as skrywer sal dit weet, so alles word uiteindelik relatief bedoel. Daarop het De Kock geantwoord dat skrywers binne die raamwerke van ’n “prestige-ekonomie” werk. Met ander woorde, die verwerwing van ’n naam is allerbelangrik, en indien jy ’n paar pryse kan wen, des te beter.
Ja’ k, die titel “bekroonde skrywer” word nie verniet gedurig oral soos ’n fakkel in die literêre duisternis rondgewaai nie. Of eerder soos ’n sigaretaansteker in ’n reddingsbootjie – “Flick your Bic Marsha, there must be a ship within a thousand sea miles!” De Kock noem die akkumulasie van pryse “reputational protection”, en toe werp hy sy brood op die water met ’n dik laag ironie daarop gesmeer: “Misdaadfiksie is die enigste leesbare vorm van politieke fiksie.” Onmiddellik volg die vraag toe: “Wat is politieke fiksie?”, waarop Orford vinnig antwoord: “Ons politieke toneel is ons nuwe misdaadfiksie.” Applous uit die volgepakte saal ... Nee, ek was verkeerd: De Kock het, via Orford, ook erkenning gekry – nes skrywers via akademici. Soms.
De Kock reken die nuwe generasie misdaadfiksieskrywers skryf beter as hulle dungesaaide voorgangers (Gilfillan meen plaaslike misdaadfiksie het eers in 1971 ontstaan ... Hè? Dalk in Engels, maar selfs Langenhoven en Leipoldt het dit al lánkal gepleeg!). En De Kock beweer selfs (tot die ongeloof van sommige toehoorders) dat Nadine Gordimer se teks “onleesbaar is en heelwat redigering benodig” – heiligskennis: in dié geselskap is dit asof mens op Loftus lag oor pienk! – maar duidelik wil dié (relatief) Jong Turke nou letterlik en figuurlik hulle plek op die verhoog volsit. Hy sê voorts die ouer politieke romans is “mesmerisingly unreadable”. Maar of hy buite orde was of nie, hy was wel van die punt af – dis nie waaroor die gesprek moes gehandel het nie.
Hierna verander Coovadia die onderwerp en spreek ’n ware woord deur te verklaar dat misdaadfiksie nie ’n akkurate weergawe van ons gemeenskap is nie. Hy het gesê dis meer soos televisie-sitkoms – bloot gemaklik en vermaaklik, terwyl slegs op sekere aspekte van misdaad gefokus word. Orford het saamgestem: “Ons skryf binne ’n spesifieke konvensionele raamwerk en daar is ook nie klem op karakterontwikkeling nie, terwyl die invalshoek anders is as by ander genres.”
Die rede, het sy gesê, is dat mens nie kan sukkel met vaste konvensies nie, dat daar ’n gevoel van afsluiting (“closure”) moet wees, wat nie noodwendig by ander genres teenwoordig hoef te wees nie. Boonop moet ons misdaadfiksie verduidelik hoe Suid-Afrika is. Maar aan wie? Een van die gehoor het tydens vraetyd beweer dat al wat buitelanders oor Suid-Afrika lees, is Long walk to freedom, en Orford se werk. En as dít waar was, sou ek dit nogal verontrustend gevind het, maar Deon Meyer se naam is ook ’n paar maal genoem, nogal met respek, en sy werk word immers in etlike tale vertaal, so nee, buitelanders lees darem wyer as wat die persoon beweer het. Tog is dit steeds beklemmend dat enkele menings oor ons politiek en misdaadsituasie doer buite gelees word. Of dalk is die drie sprekers reg dat ons misdaad en ons politiek eintlik een en dieselfde ding is! De Kock het hieroor tereg gesê: “The erstwhile underground of South Africa is now the underbelly.”
Nog ’n geldige vraag wat geopper is, was of daar ’n hiërargie van genres bestaan. Gilfillan het geantwoord dat daar selfs in een genre ook onderafdelings bestaan, en De Kock het daarop gewys dat genres verskillend gebruik word deur verskillende skrywers – soos Deon Meyer, wat hoofsaaklik die vrese van die nasie uitstippel, maar uit die middelklas se oogpunt. Diegene wat Meyer egter krities lees – en mens kry die gevoel daar is nie baie van diesulkes nie – moet erken dat hy ook ’n rooskleurige bril opsit wanneer hy die SAPD beskryf – hulle faal die nasie soos die gewraakte misdaadstatistieke aandui, en het agteruitgegaan – soos die SANW, wat nie ook meer die landsgrense kan beskerm nie.
Toe Coovadia weer vra: “Maar wat is die dóél van romans?”, het De Kock geantwoord dat dit oor mediasie gaan, terwyl Orford gereken het dat vermaak tog die belangrikste bly, hoewel baie skrywers mettertyd meer op hulle inkomste (“to make a buck”) konsentreer.
Die een stelling deur Orford wat my die langste sal bybly, is dat sy vir ’n polisieman gevra het hoekom sekere moorde meer aandag geniet, waarop hy antwoord: “Ons doen die e-TV-toets.” Wat glo beteken hulle fokus op watter moorde op TV sal verskyn, aangesien daar te veel sake is om op te los. Sy sê toe dis hoe skrywers ook werk: om (net nóg) ’n manlike karakter te laat sterf is nie opspraakwekkend genoeg nie, en daarom sal skrywers eerder ’n “jong blonde meisie laat sterf”. Verder het sy gebieg dat die katarsis-aspek ook vir haar belangrik is – om oor misdaad te skryf laat haar in werklikheid haar vrees vir misdaad verloor: skrywers dryf hulle demone uit deur hulle vrese weg te skryf. Daar is mense wat glo skrywers skryf eintlik vir hulself. In sekere gevalle seker, ja, maar ek glo eerder hulle skryf vir mense sóós hulself. En in Suid-Afrika is die meeste mense skytbang en smoorkwaad: die konstante bekommernis oor misdaad ontlok die veg-of-vlug-reaksie. Sommiges kan emigreer, maar dié wat agterbly, is soos rotte in ’n hoek.
Om die mees relevante punt deur enige van die sprekers te kies is moeilik. Wat ons weer by die ou olifant in die kamer bring. Coovadia het die geneigdheid getoon om vrae rondom ras by te sleep, en vra op een stadium waarom die kwessie so min aangespreek word in misdaadfiksie. Geen antwoord van sy gespreksgenote nie en daarom vra ek toe tydens vraetyd of die uitgewers hierdie tema dalk teenstaan, waarop Orford die vraag half minagtend afmaak deur te antwoord: “Die uitgewers doen wat ons hulle sê om te doen.” Wel, indien dit die geval is, beny ek, en sekerlik miljoene skrywers, haar/hulle hierdie verstommende magsposisie. Intussen, in die werklike wêreld, wat Orford veronderstel is om te beskryf, maar juis nie doen nie, moet uitgewers daagliks veg om voortbestaan – en vermy hulle kleinlike politiekery en hofsake wat die gevolg daarvan mag wees. Ongelukkig kan groter en relevante kwessies ook om dieselfde rede vermy word.
Toe ek terugry huis toe, het die pragtige Bolandse landskap en die koel wintersluggie deur die oop venster tegelykertyd ’n gevoel van rustigheid én onwerklikheid oor my gespoel. Alles lyk en voel so idillies: die motorbande suis strelend oor die teerpad, die ondergaande son blerts die berge rooi en geel, in simpatie met die blare van bome en wingerde, die verkeer is gangbaar ... en net ’n paar kilometer wes lê die townships soos massiewe gestrande ruimteskepe uit District 9.

