Misdaad in die polisie

  • 3

Ek het ook ’n misdaadjie gepleeg toe ek in die polisie was. Ek gee maar die jaar aan as 1973. Dit is nie die regte jaar nie, maar naby genoeg sodat julle ’n gevoel van die tydperk en die atmosfeer van daardie tyd kan kry. Soekend na wat weet ek nog steeds nie, maar ek het laat in my lewe by die polisie aangesluit. Sê maar ek wou ’n meer manlike ding doen as om elke dag in ’n kantoor te sit, van myself ’n regte Tawwe Tienie maak. Ek was te veel van ’n sagte sissie, het ek gedink, aksie is nodig om my in ’n leeu te verander. Dit het nie eintlik gewerk nie, want vandag is ek steeds ’n saggeaarde outjie, al moet ek dit self sê.

Foto: Pixabay.com

In elk geval, op hierdie stadium slaap ek in die barakke by John Vorsterplein.’n Klomp ouens van verskillende stasies word soort van “opgeroep” om opruimingswerk te doen. Ongewenste elemente trek in leë geboue in, in en om die middestad, en ons moet hulle uithaal. Ons doen ons werk te voet. Ek het net aangemeld, toe slaan ek my eie koers in. In die omgewing van Diagonaalstraat kyk ek deur stegies en ’n leë gebou wat afgebreek word. Ek val amper in die hysbakskag af, maar ’n swart man wat ek daar kry slaap – hy moet die plek oppas – keer my dat ek in die donkerte in die oop skag inloop. Later sluit ek by van die ander manne aan en ons beweeg na Jeppe en ander dele daar naby. Dit is dele wat ek nooit goed leer ken het in my kort tydjie daar nie. My latere besoeke aan Johannesburg was in voorstede deurgebring ver van die middestad af, hoewel ek later jare ’n paar maande in Hillbrow gewoon en daar naby gewerk het.

Nou ek meen, ek is amper seker, dit was in Jeppe. Daar is huis ’n waarvan die deure en vensters toegespyker is met planke, maar iemand in die groep het inligting dat daar dinge aangaan. Ons breek in (nie ek nie) en binne in die huis is daar ’n luik in die plankvloer. Toe dit opgelig word, kry ons ’n groep Boesmans wat daar onder die vloer woon! Regte, egte klein mensies. Daar is omtrent drie volwassenes en seker so vier kinders, as ek reg onthou. Die plankvloer is redelik hoog bokant die grond en ons vind aan die agterkant kan jy onder die gebou uitloop, onder ’n afdak in waar ’n erg verstopte toilet is en dan na buite op die werf. Hoe díe mense daar gekom het, weet ek tot vandag toe nie. Die manne begin redeneer oor wat om met die Boesmans te doen, die welsyn te kry, of wat. Maar dit is al so teen vieruur die oggend en ek is moeg en voel vuil en besluit om terug te loop barakke toe. Daar is nie vervoer vir my nie en ek loop.

En loop en loop, myle der myle voel dit vir my. En ek is moeg en dors, vuil en taai. Ek is nie eers seker in watter straat ek geloop het in die algemene rigting van die barakke nie, dalk Marshallstraat, maar ek loop verby ’n hof. En daar sien ek dit: nektar van die gode, twee bottels melk staan voor die hof se deur! Ek weifel net ’n oomblik, kyk ’n bietjie rond, gaan gryp een en drink hom uit. Dit het my later nogal ’n bietjie gepla. Wat as iemand my gesien het en die magistraat vertel dit is ’n polisieman wat sy melk steel? Ek sou in groot moeilikheid beland het. Maar gelukkig het die Hoër Hand my hierdie keer bewaak.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Tiens, ek dink met al die drank en tabak in store by plaaslike polisiestasies, het die GPF seker al bestellings toonbank? Die “koerier” sal aflewer...

  • Tiens,
    Ek het lank getop oor jou vernederende “artikel” hierbo. Hoe lank was jy in die SA polisie? Sulke dade was en is steeds uit en uit diefstal. Maak ’n houer met melk in ’n supermark oop, ledig dit sonder om te betaal en kyk waar land jy. Deesdae word die Strafregbeginsel oor “verjaring van misdaad” gou-gou ter syde gestel – jy weet hopelik dat jou “kattekwaad” hierbo as 'n erkenning van misdadigheid geag word – en jy “brag” daaroor. Wie weet, miskien is daardie landdros nog met ons.
    Jy doen mee aan die verval van die huidige SAPS waarin sulke misdadigheid as “sports” afgemaak kan word of as ’n siviele aangeleentheid beskou kan word omdat daar nie vir die melk betaal is nie. Sodoende maak jy die werklik goeie, bekwame en opregte lede verdag. Indien jou tyd in die SAP in ’n loopbaan ontwikkel het, wonder ek maar net, of was dit ’n geval van diensplig ontduiking – daardie twee jaar in die SAP? Jou beskrywing van hoe jy alleen in die strate sou invaar, strook nie met die werklike werkswyse nie, nie eens tov van die huidige nie. Duidelik was jy maar net ’n ou klerkie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top