
Foto’s: Hevette Ateş
Boekeboksies, of minibibliotekies, is dalk nie vir almal iets nuuts nie, maar ek het dit nou vir die eerste keer in Amerika gesien.
Ek en my man het vroeg vanjaar in Portland aangekom. Ons het in Seepunt in die Kaap gebly, maar ek is oorspronklik van die Karoo af en hy van Istanboel.

Foto’s: Hevette Ateş
Portland is die grootste stad in Oregon, ’n staat wat bekend is vir sy natuurskoon. Die stad se bynaam is nie verniet Bridgetown nie. Die Willametterivier, wat uit die reuse-Columbiarivier vloei, verdeel die ooste en die weste en 12 eiesoortige brûe verbind dit. (My gunsteling is die St Johns-brug.)

Foto’s: Hevette Ateş
Buiten die ikoniese Mount Hood-berge, so twee uur se ry buite Portland (waar die Multnomah-waterval is en Bigfoot glo oa gesien is ...), is daar verskeie boombedekte heuwels binne die stad wat dien as parke met lieflike wandelroetes. (Forest Park het my laat voel ek is in die Knysnabos.) Maar gaan google self, en lees oor Portland se leaky sky, dat Nike hier gebore en steeds getoë is, dat die skrywer van The Simpsons van Portland af is en dit die reeks geïnspireer het, dat daar verskeie daggawinkels om elke hoek en draai is, ens.

Foto’s: Hevette Ateş
“Keep Portland weird” is die nie-amptelike motto. Dit is aanvanklik gebruik om plaaslike besighede te bemark, maar deesdae moedig dit inwoners aan om hulle individualiteit te vier en kreatief te wees. Na my mening is dit die groot alomteenwoordige kraaie wat die donkerste energie in Portland het. Hulle skreeugeluide en deurpriemende manier van als op straat bekyk gee my spanning. Verder is die ingesteldheid gemoedelik, met min taboes.

Foto’s: Hevette Ateş
Ironies dat dit my gewaarwording is, want in 2020 was Portland in die nuus toe Black Lives Matter-betogings handuit geruk het, en die middestad (oftewel Downtown), so gevandaliseer is dat oudpresident Trump gedreig het om die weermag te ontplooi. Dalk is dit omdat ek van Suid-Afrika af is dat dit my nie afgeskrik het nie. Vandag, amper ’n jaar later, is daardie spanning nie tasbaar nie. Beskadigde geboue in Downtown, en BLM-plakkate in huise se vensters en bordjies op sypaadjies herinner jou wel aan wat gebeur het.

Foto’s: Hevette Ateş
Terug by “Keep Portland weird” en so gepraat van sypaadjies.

Foto’s: Hevette Ateş
Buiten die bedagsame bestuurders wat stadiger ry of in die middel van die straat stop sodat voetgangers die pad kan oorsteek, was een van die eerste weird goed wat ons opmerk toe ons die woonbuurte te voet begin verken, klein houtkassies, staangemaak op pale van so ’n halwe meter lank, opgerig op sypaadjies en tuine. Van nader af het ons gesien dat dit vol boeke is! Eers het ons gedink dis iets wat net ’n paar huise doen, totdat ons hierdie minibibliotekies in verskeie woonbuurte regoor die stad gesien het. Die meeste het ’n interessante verskeidenheid boeke, maar in ander is daar selfs ornamente en kaartjies met motiveringsboodskappe op geskryf. Hiperbewus van COVID 19-protokol het ons soos ander voetgangers draaie om mekaar gestap en nie onnodig aan goed gevat nie. Dis eers onlangs dat ek voor die boekhuisies begin stilstaan het en uiteindelik, te danke aan ’n Little Free Library-naambordjie, agter die kap van die byl gekom het. Little Free Library is ’n niewinsgewende organisasie wat in Wisconsin gebaseer is. Mens kan óf jou eie minibibliotekie bou en met boeke inrig, óf jy kan een by hulle koop en teen ’n afslag boeke bestel of selfs verniet ontvang. Die idee is nie net om geletterdheid te bevorder en ’n liefde vir lees te kweek nie, maar om ’n gevoel van samehorigheid binne gemeenskappe te bevorder. Mens kan enige tyd ’n boek of twee uit so ’n bibliotekie neem, solank jy dit weer terugbesorg, of met ander boeke vervang. Ek het maar pas die vrymoedigheid gekry om die deurtjies oop te maak en vinnig na die boeke te kyk, maar een van die dae neem ek een uit sonder om bang te wees iemand gaan vanuit die huis op my skreeu wanneer ek daar doenig is! (Die inwoners, nie die kraaie nie.)

Foto’s: Hevette Ateş


Kommentaar
Baie oulike idee. In Suid-Afrika, by Stilbaai en Boggomsbaai, word iets soortgelyk toegepas. Wie weet, dalk nog in ander dorpies ook?
Daar is een in Brooklyn, Pretoria ook, 'n pragtige houtkassie in die vorm van 'n huisie. Leen 'n boek, los 'n boek. Bestaan al jare. Lanklaas daar verby geloop, hoop dit is steeds daar.
Besonderse idees om 'n gemeenskap aan die lees te hou. Min mense in die agterblewe gemeenskappe kan boeke bekostig of dis te gevaarlik weens bendebedrywighede om die plaaslike bliblioteek te besoek, so hierdie idee is puik🎁💯