Mielies ry

  • 0

Mal Thysie se pa het begin as ’n bywoner. Arm maar bereid om te werk. Want as jy sewe klogoete het wat opkyk en kyk na die tafel dan moet jy werk of hulle moet honger loop slaap. En werk het hy, van bywoner homself uitgeboer en losgeboer tot hy later voorman was en later huurgronde bewerk het en later kon trots kyk na sy eie lappie grond. Vorder van donkiekar en enkele melkkoei en twee skape en paar hoenders en ganse tot ’n redelik besige melkery en later die trotse eienaar van ’n ou afgeleefde platbak ryding met ’n Ford-enjin. En ’n afgeleefde Massey trekkertjie wat met genade en baie gebede en vloeke aan die loop gehou word.

Maar dis daai platbak Ford (hy word bloot Ford genoem omdat hy ’n Ford-motor in had) wat die trots was van die familie. Dis soos die nuwe lotto-miljoenêr wat mos heel eerste vir hom een van daai plat Italiaanse karre bestel lank voor hy dink aan ’n plek om hom te parkeer. Nietemin. Mal Thysie se pa het die bestuur besigheid genadiglik onder die knie gekry om dorp toe en terug te kon sonder om homself te verongeluk. Enigste probleem: Mal Thysie se pa het ’n probleem gehad met die Boereblits. Of Witblits. As hy moet dorp toe vir mielies en die nodige dan moes hy mos maar altyd vashaak en vasbly. Tot dit rytyd is en hy die Ford druk tot die arme ding se limiet. Want as jy reeds gesuip is lol dit maar as jy nog laat ook is om te verduidelik.

Mal Thysie se pa is dorp uit met die vrag mielies en langs die pad laai hy maar die twee manne op want hy herken hulle en mens los mos nie bekendes langs die pad nie. Netnou moet hulle koud slaap as niemand hulle oplaai nie? Plek voorin was daar nie so dis maar agterop. bo-op die sakke mielies. Dis platlê al is platlê nie regtig nodig nie. Nie aan die begin nie. Want Mal Thysie se pa begin stadig maar voorin lê die boereblits en dit gaan mos maar proe-proe en as mens ’n glas tussen jou bene moet vasklem kan jy nie vinnig nie. Tot die blits regtig begin trek en die krag te voorskyn kom.

Mal Thysie sê hy kan onthou die dag wat sy pa by die plasie aankom. En uitgehelp moes word. Die huismense vra hom na die vrag en dis toe hy hom tot verhaal skrik. Want van die vrag mielies was daar geen sprake nie. Platbak jy sien. Dit het gekos die spoor vat terug om die spul mielies te loop optel. Van die twee rylopers was daar geen spoor nie. Die buurman vertel later dat die twee vol stof en skrape by die plaas opgedaag het en gesweer het dat hulle eerder plaas toe sal loop as om weer verniet op ’n vrag mielies te ry.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top