In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Kort na middernag van die aand van 10 Januarie 1963 het ene mnr Bowden van Durban hom op ’n sypaadjie byna disnis geloop teen 'n oop hek by die motoroprit van ene mnr Rudman se woonhuis iewers in dié hawestad.
Voordat die Rudmans die aand teen halftien se kant bed toe is, het mev Rudman nog seker gemaak dat die hek toe was. Hoe dit gedurende die nag oopgegaan het en oor die sypaadjie geswaai het, kon niemand later sê nie.
Feit is dat mnr Bowden sy linkerbeen sodanig beseer het toe hy in die donker teen die oop hek vasgeloop het dat hy 'n aksie om skadevergoeding teen mnr Rudman ingestel het.
In sy dagvaarding het mnr Bowden onder meer beweer dat mnr Rudman nalatig was deurdat hy onvoldoende maatreëls getref het om te voorkom dat iemand die hekke oor die sypad kon oopmaak.
Mnr Bowden se aksie het in die landdroshof misluk, en hy het na die Natalse provinsiale afdeling van die hooggeregshof geappelleer.
In sy uitspraak1 wys regter Caney daarop dat om in ons reg te slaag met 'n aksie gegrond op nalatigheid, onder meer bewys moet word dat die redelike mens onder die omstandighede die moontlikheid van skade sou voorsien het en maatreëls sou getref het om dit te voorkom. Hy het beslis dat 'n redelike mens in die posisie van mnr Rudman nie die moontlikheid sou voorsien het dat iemand gedurende die nag die hekke sou oopmaak nadat hul teen slapenstyd behoorlik toegemaak is nie. Buitendien, het die hof beslis, mnr Bowden het in sy getuienis toegegee dat die hek wel in die donker sigbaar was, en dat hy maar net sy oë moes oopgehou het.
Maar mnr Bowden se advokaat was 'n kanniedood. Hy het betoog dat selfs al kon sy kliënt nie bewys dat mnr Rudman nalatig was nie, hy nogtans aanspreeklik was op grond van 'n aksie direk uit die Romeinse reg teen die okkupeerder van 'n gebou waaraan een of ander voorwerp oor 'n openbare pad hang, op so 'n wyse dat 'n verbyganger daardeur beseer sou word as dit op hom sou val. Vir die verbyganger was dit nie nodig om te bewys dat die bewoner van die gebou nalatig was nie. Dit was 'n vorm van skuldlose aanspreeklikheid wat voortgevloei het uit die blote feit dat die betrokke gebou deur die besondere persoon – die okkupeerder, dus – bewoon of besit is.
Regter Caney het, nadat hy hierdie aksie noukeurig ondersoek het, tot die gevolgtrekking gekom dat dit nie op mnr Bowden se eis teen mnr Rudman van toepassing was nie. Die hekke het nie aan die gebou gehang nie, en daar was ook nie sprake dat hul op mnr Bowden geval het nie.
In die alternatief het mnr Bowden se advokaat gesteun op 'n ander aksie uit die Romeinse reg teen die okkupeerder van 'n gebou waaruit 'n voorwerp gegooi is, en waardeur iemand skade berokken is. Klaarblyklik was dié aksie ook nie op mnr Bowden se saak van toepassing nie.
Wat egter interessant is van regter Caney se uitspraak, is die feit dat hy in beginsel die bestaan van hierdie eeue oue aksies in die moderne Suid-Afrikaanse reg erken het. Dit is anders in byvoorbeeld die Skotse reg. Ek lees êrens dat 'n elfjarige seun in 'n straat in Glasgow by 'n gebou verbygeloop het toe iemand "a vessel of urine" – soos die Engelse teks dit so elegant stel – bo vanuit 'n venster op sy kop leeggemaak het. Hy het nie met sy skadevergoedingseis geslaag nie, omdat die hof beslis het dat die betrokke aksie uit die Romeinse reg – wat wel, volgens die Bowden-saak, in ons reg erken word – egter nie in die Skotse reg geld nie!2
1 Bowden v Rudman 1964(4) SA 686(N)
2 Vgl PMA Hunt se humoristiese artikel "Gardy-Loo!" in (1963) 80 SALJ, ble 273 ev.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

