Michelle Biddle het by die Universiteit van Kaapstad 'n lesing aangebied oor papier in Afrika. Franci Vosloo het gaan luister.
Op Woensdag 30 Julie 2014 soek ek parkering by die Universiteit van Kaapstad vir die lesing “Paper in Africa” deur Michaelle Biddle, ’n papierargeoloog. Ek voel weer soos die honneursstudent op pad na haar eerste argeologieklas in die Beattie-gebou. Dertien jaar later is daar nog net soveel trappe tot op Upper Campus, en die laning bome in University Avenue is kaal teen klip en mos. Die studente lyk nóg jonger.

Michaelle Biddle is ’n papierargeoloog, hoofargivaris/-bibliotekaris en papierbewaarder/-restoureerder aan die Wesleyan-universiteit, Connecticut in die VSA, waar sy in die vroeg negentigs ’n omvattende boekbewaringsprogram en -laboratorium gestig het waar tien voorgraadse studente en een intern jaarliks opgelei word. Sy is sedert 2008 ook raadgewende bewaarder/restoureerder van die Noord-Nigeriese manuskripversamelings, wat befonds word deur die ambassadeur van die VSA se Kultuurbewaringsfonds, die Fufore-familie van Yola, die Islamitiese Manuskripvereniging en die Ford-stigting. Biddle se kennis en bydrae lê hoofsaaklik in die bewaring van Midde-Oosterse Arabiese tekste en papier, hoewel sy ook belangstel in die kulturele ontleding van die boekmaakproses en manuskripvervaardiging, ink, pigmente, kleursels en watermerke in Nigerië, Wes-Afrika.
Vir enigiemand wat min of feitlik niks van die geskiedenis van papier weet nie, was die wetenskaplike aanslag van Biddle se lesing potensieel vervreemdend; tog, hoe verder die lesing gevorder het, hoe meer verteerbaar en hoe interessanter het die inhoud geword. Verskeie aspekte van die papiermaakproses is uitgelig, wat as basis gedien het vir Biddle se bespreking van oa die verskil tussen Oosterse (haar verwysing na Arabiese en Noord-Afrika) en Westerse (Amerikaanse en Europese) benaderings tot papierbewaring.
Waar die Arabiese lande sterk voel oor die algehele herstel van manuskripte (restourasie) en ’n minder konserwatiewe benadering volg deur verlore teks op ’n manuskrip te “reproduseer”, volg Biddle ’n veel meer konserwatiewe benadering, oftewel “phased conservation”, waar die fokus val op die skoonmaak, hegting en stabilisering van papier slegs waar tekste en skrif die gevaar loop om te disintegreer. Dit is ook hierdie benadering wat sy in haar opleiding van Nigeriese argivarisse volg ten einde die ryk tradisie van manuskripte te bewaar en te beskerm.

Dit was veral Biddle se kort bespreking van die maak en gebruike van Japannese papier (washi), en Shamil Jeppe se voorbeelde, wat die toehoorders se aanspraak op die romantiese bevredig het. Japan is een van die min lande waar handgemaakte papier nog op redelik groot skaal vervaardig word, en weens die syagtige kwaliteit daarvan is dit die voorkeurpapier in die behandeling en herstel van dokumente, manuskripte en boeke. Soos verwag, besit die grondstof vir die maak van papier besonderse eienskappe, wat deur elk van die drie plante se binnebas verteenwoordig word. Kozo (papiermoerbei) verteenwoordig die manlike element, die beskermer, en is dik en sterk. Dit is die mees algemene vesel in die maak van papier en word as ’n meerjarige landbougewas verbou. Mitsumata verteenwoordig die vroulike – elegansie, nederigheid, sagtheid. Die plant neem langer om te verbou, en die papier is gevolglik duurder. En Gampi, een van die vroegste vesels wat gebruik is, verteenwoordig rykheid, langlewendheid en adellikheid. Die uitsonderlike kwaliteit van washi word verkry deur eeue oue tegnieke en tradisie wat, te midde van modernisering, steeds sentraal staan. Biddle verduidelik dat die uniekheid van Japannese papier lê in (1) die manier waarop die binnebas van hierdie plante behandel word voor en tydens die stoom- en weekproses; (2) die slaantegniek (“pounding”, teenoor ’n rasper-tegniek) wat veroorsaak dat die vesels met mekaar sluit ten einde “waterdig” te word; en (3) die noukeurige en tydsame uitsoek van klonte of onsuiwerhede met die hand. Die resultate is merkwaardig:


Michaelle Biddle is een van min deskundiges op haar gebied, soos haar webtuiste getuig. Besoek http://works.bepress.com/mbiddle vir artikels en ander inligting.
Bibliografie
Michaelle L Biddle. 2012. Recent preservation and conservation activities for Northern Nigerian manuscripts in Arabic script. Journal of Islamic Manuscripts, 3(2):211–29. http://works.bepress.com/mbiddle/9.

