Metusalem se ouer broer bely sy sondes

  • 3

Kobus het ongevraag maar onpartydig en besadig skeidsregter gespeel in my stryd met Wouter (SêNet, 8 deser). Hy het 0 punte aan my en 10 aan Wouter toegeken. Sy spirituele benadering het weer eens vrugte afgewerp. Ek het tot inkeer gekom. Ek besef nou dat ek my naam groot skade aangedoen en swak smaak geopenbaar het. Hoe kan ek my aanmatig om te wil toets of Wouter 'n boek gelees het en of hy daarna 'n mening daaroor kan formuleer? Deesdae word selfs kinders nie meer behoorlik getoets nie. Dit is ongehoord dat 'n bedremmelde bejaarde, wat klaarblyklik nie met die veranderde tye tred hou nie, kan verwag dat 'n ontluikende jongeling aan 'n toets onderwerp moet word wat hy kan druip. Die sielkundige skade aan so 'n onbedorwe gees kan onberekenbaar wees.

Ek moet bely dat ek nie Wouter se DNS afdoende in ag geneem het nie. Hy is wesenlik 'n reaktiewe wese. As iemand iets op skrif stel, kom sy uitgebreide kennis in rat en vee hy die vloer met die skrywer. SêNet-lesers wen in diepte en breedte danksy sy bydraes. Maar dit is onbillik om van hom te verwag om sonder aanleiding spontaan 'n meesterstuk te lewer. Voorheen het ek gedink dat hy en Kobus nie elke dag sê vyf of ses briewe moet publiseer nie, maar dat hulle eerder een brief per dag, of verkieslik per week, moet skryf en iets oorspronklik moet lewer wat goed geformuleer is. Maar ek besef nou dat net soos 'n mens leer loop deur te loop, 'n mens leer skryf deur (te veel) te skryf.

As SêNet daagliks altesaam 'n dosyn bydraes maar van net twee outeurs, Kobus en Wouter, sou plaas, behoort dit in die smaak te val. Dit is so dat Kobus jaar na jaar eintlik net een tema het, naamlik godsdiens, maar hy vergoed met sy besonder eiesoortige vertolking. Die onderwerpe in Wouter se arsenaal dek 'n wye spektrum en kan dus as goeie aanvulling vir Kobus se eensnaarbenadering dien. Daarbenewens stel iedere skrywe van Wouter interessante uitdagings aan die leser. Die gat-oor-kop-inslag bring mee dat die leser self moet probeer vasstel wat bedoel word en hoe om ten beste die inligting te sistematiseer. Maar my beskeie mening is dat Wouter, soos Leibniz van ouds, 'n wandelende ensiklopedie is; met dié verskil dat syne internetgebaseer is. Hy is as't ware SêNet se inwonende Wikipedia.

As iemand wat besig is om grafwaarts te gly, behoort ek my te verootmoedig en in pas met die werklikheid te kom. Ek moet leer om die skitterende pêrels wat die nuwe Suid-Afrika oplewer, te waardeer. Voorheen was ek geneig om foute raak te sien sonder om die groter prentjie in ag te neem. Ek het my gekwel oor bv die slaggate in ons paaie. Maar dit is tog sekerlik moontlik dat daar met Afrika-oplossings voor 'n dag gekom kan word. 'n Klein motor (soos my Uno) kan in so 'n slaggat geplaas word sodat die blouligbrigades, die luukse ampsmotors en die minibusse steeds gemaklik die pad kan gebruik. Ek is in die skuld by die nuwe Suid-Afrika weens al die bevoordeling wat ek destyds ontvang het. Die verlies van my motor sou 'n klein opoffering wees. Wat belangrik is, is die regte gesindheid. Die Zimbabwe-krisis is bv vindingryk met 'n Afrika-benadering opgelos deur te ontken dat daar 'n krisis is.

Vandag se mooi woorde kan môre vergete wees. Religieuse bekering word nie noodwendig volgehou nie. Nie omdat die sondaar in daardie stadium onopreg was nie, maar weens die mens se verdorwe natuur. Omdat ek my bydraes nie tot 'n enkele onderwerp beperk nie, gaan ek volgende keer nie oor Zimbabwe nie maar oor Namibië skryf. Die probleem is dat al my stiksienigheid en arrogansie dan weer na vore kan tree. Vir 'n ou hond is dit bitter moeilik om nuwe toertjies te leer.

Johannes Comestor

  • 3

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Johannes,

    Jy is besig om dit te verloor, Old Timer... nou kom so 'n onwelriekende poespas van smaad en druppende sarkasme ook nog boonop, onder jou andersins minder emosionele hand deur.

    Dit is soos met die ou wêreld se boksers  - op 'n dag kampioen, maar dan kom daar 'n tyd wat hulle moet padgee - en die teken is wanneer dit duidelik word dat hulle besig is om dit te verloor.  Want dan is daar nie meer krag in daardie wankelrige maar-eens-dawerende houe nie, dan soek hulle plek om kinderagtig geniepsig te raak.

    Jy moet dus miskien maar besin , Old Timer, jy moet miskien maar eerder besin...

    Groete, en sterkte vir jou.
    Kobus de Klerk.

  • Chris Dippenaar

    ...sê Kobus terwyl hy klem aan die geroeste stuurwiel van sy Swart-kat-grondboontjiebotter-deksel-wiele-draadkar wat hy stoot deur die stofstrate van sy godsdiens. 

  • Wat sal die volgende in praktyk beteken wanneer Comestor die volgende skryf:

     
     "Maar my beskeie mening is dat Wouter, soos Leibniz van ouds, 'n wandelende ensiklopedie is; met dié verskil dat syne internetgebaseer is. Hy is as't ware SêNet se inwonende Wikipedia". 
     
    Apart van die sarkasme en gemeenheid net 'n paar notas van my kant wat "internetgebaseer" vir my sou beteken. 
     
    Dit beteken ek is elektronies ingeskryf en lees The Financial Times, New York Times, Wall Street Journal, Times of London, Washington Post op die internet. Tesame hiermee laat dit elektroniese inskrywing op New York Review of Books, Times Literary Supplement, London Review of Books, Foreign Affairs, Le Monde Diplomatique, The Nation toe aangesien hierdie publikasies soos deur my gekies is om op in te skryf.
     
    Google Reader het 'n funksionaliteit waarin artikels van ander publikasies versamel kan word indien die artikels gratis is en so versamel kan word. Dus glad nie op 'n vlak van 'n Leibniz nie, maar wel wat enige ingeligte leser behoort te erken. 
     
    Dit bied 'n verwysingsraamwerk wat normaal is tot enige deelnemer hier wat hierdie aspekte ernstig sou opneem. 
     
    Wikipedia is dus nie die bron waarna ek verwys nie. 
     
    Comestor sukkel om te verstaan dat apart van dit wat jy lees in boeke, die letterkundige publikasies 'n uitstekende bron van verwysing is en so nog meer deure opmaak vir boeke wat opgevolg kan word, net soos dit met die dood van Bell 'n uitstekende bestekopname publiseer het. 
     
    Daar word dus eksepsie geneem van hierdie konstante verdagmaking en is dit lank deur my verdra, maar moet dit doodeenvoudig net aanvaar word dat aangesien Comestor ouer is as ek dat hy noodwendig meer moet weet? 
     
    Neem 'n paar voorbeelde. 
     
    Comestor skryf dat Fascisme die val van Kommunisme veroorsaak het. 
     
    Dit is 'n fout wat 'n gemiddelde ingeligte persoon nie sou maak nie. 
     
    Die ellelange relaas oor gelykheid uit sy pen, hoekom is dit ontoelaatbaar dat ek nie die nuutste OECD verslag kan bied as konteks oor sy opmerkings daaroor. 
     
    Die geval van lone in Sjina en sy onkunde oor hoe haglik dit is en die selfmoorde wat dit tot gevolg het en die druk wat die werkers uitoefen vir beter toestande en salarisverhogings.
     
    Die hele relaas oor die toestand in Unisa, waar is sy bronne? Comestor sit in die Kaap indien reg verstaan, geen substansie kan deur hom gebied word oor die stellings gemaak deur hom nie. 
     
    Dit is daarom duidelik dat die oogmerk van debat van Comestor se kant af is nie om 'n gesprek oor idees te voer nie, maar die persoon met wie hy verskil te probeer diskrediteer. 
     
    Dit is normaal, doen wat jy kan om die persoon, in hierdie debat, myself dan, volkome te probeer diskrediteer want dan sal hy nie geglo word nie en die argumente so staande bly. 
     
    Dus heeltemal soos verwag kan word, maar skokkend om dit in aksie te sien.
     
    Niemand publiseer kommentaar oor alles wat oor hulle tafel kom hier nie, maar reageer soos die onderwerpe aangeroer word hier. 
     
    Indien daar sou verwag word om te plaas hier dit wat oor my tafel gekom het dan sou ek kon verwys na: 
     
    Amerikaanse politiek se aanvals veldtogte en die bedryf wat dit geskep het, die superpacs. 
     
    'n Profiel van Mitt Romney
     
    Godsdiens in Amerika in 1776. 
     
    Die revolusie in Sirië
     
    Die ontrekking uit Afghanistan. 
     
    Die stand van die revolusie in Egipte. 
     
    Hoe diktators oorwin kan word. 
     
    'n Bespreking oor die 7 Miljard bevolking en moontlike gevolge daarvan. 
     
    'n Dieretuin waar al die diere ontstap het. (Ongelooflik). 
     
    'n Profiel van Berlusconi. (Dink net 'n profiel oor Bell)
     
    'n Profiel oor Oscar Pistorius. 
     
    Laura Dekker. 
     
    Judith Clarke
     
    Christine Keeler
     
    Sjina
     
    Franse ouers
     
    Moord op Yitzhak Rabin
     
    'n Nazi-familie. 
     
    vertelling van 'n persoon wat amper doodgeskok is. 
     
    Stilte
     
    Versorging van bejaardes
     
    Die "splitting" van atome in jou kombuis, hoe om dit doen
     
    ens ens ens. 
     
    Dus net soos enige ander ingeligte deelnemer hier, niks buitengewoon nie en normaal. 
     
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top