Met oorvloed gevul

  • 4

Fotobron: Canva

Met oorvloed gevul

Selfs satellietfoto’s snags
wys waar Sandton City gloei:
aardse stimulante
wat massas boei.
Video’s en musiek
vreemde wysies en reuke
malende menigtes
Coke empowers!-spreuke
duisende flikkerligte
met gekleurde kettings bo
suig Jan en Sonja in
weerkaats in hulle oë.

Gustave le Bon
se skare stroom
meegesleur deur ’n on-
willekeurige droom.
Miere in tallose
malende bendes
stamp ’n oomblik neuse
teen kitsbekendes:
Haai Surita! Haai Sarel!
pronk hulle blink
voor elkeen weer gou
in die maalkolk versink.

Iets vir elke ouderdom
en elke soort lyf
botsende strome
om saam in te dryf:
Col’Cacchio bak
kitspizza vir die maag
Pick ’n Pay se uitverkoping
het selfs koekpryse verlaag
Shoe City kan met
jou voete goël
en Truworths se vere
toor ’n nuwe voël.

Omhelsende sensasies beur
van liggaam deur gees
Selfs antwoorde op vraagstukke
kan almal sáám lees.
Hoe salig kan kollektiewe
vertroue wees:
saam met Mail and Guardian
glo Jan en Sonja gewis
dat ’n Palestyn in Israel
’n vryheidvegter is
maar ’n Tibetaan in Sjina
is ’n terroris.

Die jongste flieks
het elkeen gekultiveer
soos Alice in Wonderland
volslae gestimuleer
nes by Centurion Mall
aangetrek, gemagnetiseer
en by Canal Walk
ingetrek en meegesleur.
Soms sal ons tuis alleen
sonder hulp verkeer
maar ons móét môre terugkeer
vir meer en meer en meer …

Kan Jan en Sonja
ontsnap uit dié web
om in die Kalahari
ongestoord, ongerep
vir ’n oomblik te
gaan asemskep?
Albei brom ongeduldig
oor ver weg gaan ─
hoe kan welvarendes
in die natuur bly bestaan? –
totdat die weerstand
hulle daar ontgaan
en oë begin rondsoek
na die stand van die maan
na die ewige ritme
wat kom en gaan
en gebruiklike frustrasies
in onderlyf en kop
saam met wilde elande
inglip in die trop.

Hoekom ruik hulle biltong
snuif kameeldoringgeure
streel ’n skilpad se dop
proe die smaak van pere
loop kaal en kaalvoet:
maak die voël hiér die vere?

Sonja sien Jan raak
met warm genoeë
toe hy saam met die gemsbok
spring deur haar oë.
Sy sien hul lewensloop
bo Woensdag se bestaan
met familie en vriende
binne-in die maan
wat opkom, reis
en ondergaan.

Luister hoe versamelvinke
en blinkende spreeue
se roepstemme klink
deur eeue en eeue.
Geen horde wat ons
van ander beroof nie
niks oorverdowends
of horende doof nie
geen hoorbeeld wat ons
vir die veld móét verruil:
in die skemer land die wysheid
geruisloos met die uil.

Waar kameelperde waggel
leeuwelpies loop
trap elkeen sý koers
op die lewenspad oop.
Waar’s die verslawing
deur chroniese pyne
weeklikse inspuitings
van medisyne
kollektiewe bystand
en blitsstimulante
in hierdie ruimtes van
uitlokkende rante?

Die heelal fluister
die skares nou stom
as my eie woorde
tot verhaal kom
as ontelbare skitter-
sterre daarbo
weerkaats in met-
geselle se oë
as binne mý –
so oneindig klein –
onbegrenste vlaktes
en dieptes verskyn.

Hoe kan uitspansel,
ruimtes en lug
mens só genees
bevry, bevrug
dat jy onherroeplik
swanger word
gevul met oorvloed
om uit te stort?

  • 4

Kommentaar

  • Margaret Cordier

    Puik!
    Terugkeer in dankbaarheid na eenvoud en verwondering vir die skepping en dit wat waaragtig is en waarlik verryk.
    Die oplossing vir die globale menslike kondisie.

  • Louis du Plessis

    'n Kerntendens van eietydse samelewings is dat lede graag verstedelik en daar in massas groepeer. Tog, as mens hierdie kollektiwisme 'n oomblik kan oorwin, ter wille van hegter ervarings saam met een of meer lyfgenote en geesgenote, veral in die natuur, word jy voelbaar "verryk" – soos jy tereg opmerk Margaret.

    Min waarnemers gryp die primitiewe uitwerking van grootstedelike massagedrag so skerp vas soos Gustave le Bon (genoem in die tweede strofe). 'n Vorige kansellier van US, John Vorster, het in dié verskynsel belanggestel, en, met 'n deurdagte inskrywing voorin, sy persoonlike kopié van Le Bon se "The crowd – A study of the popular mind" aan die universiteit geskenk.

    Ek hou daarvan Margaret dat jy so instinktief aanvoel watter vryheid daaruit spruit om uit die skare weg te breek, om "verryk" te word!

  • Margaret Cordier

    Louis
    Baie dankie vir die mooi uiteenstting van gedagtes en redevoering vir jou gedig – dit is kosbaar. Ek leer die waarde van “afsondering”; die belangrikheid van waarheid omtrent die “self”; die refleksiwiteit van ’n mens se gedagtes; die vermoë om nuwe breinpaadjies te vorm deur vernuwende denke ens. (bosskuiling#bome#blou lug)
    NP van Wyk Louw se “aristokratiese ideal” waar in kuns en wetenskap gestreef word na ’n hoër geestelike lewe waar die wette van skoonheid en die waarheid eerbiedig sal word, en daar van die massa se onmiddellike goekeuring of invloed afgewend moet word (skare denkwyses).
    Afsydigheid #afsondering #individualiteit #eiesoortigheid – moet as iets voordelig beskou word, wat nodig is vir outonomiteit/kreatiwiteit; emosionele en intelektuele ontwikkeling. (Ook die vashou aan geestelike oortuigings en waarheid.)
    Soos NP van Wyk Louw gesê het: “sonder die aristokraat(sout) sal die massamens soos ’n stuk verotte vleis wees”.
    Almal onder massahipnose sal dieselfde praat; lyk; skryf en doen.
    Kunstenaars, digters/skrywers ens. is almal profete, wagters op die mure van die samelewing, en moet getrou bly aan hul eie stem en nie geneutraliseer word tot eentonige enkelvlakkigheid nie.
    Elke mens is waardevol en moet met hierdie oorvloed gevul word.
    Breek weg uit die skare!
    (Ek het ’n gediggie hieroor geskryf by LitNet. “Bevryd bly” om na hierdie isolasie, hopelik bevryd van die skare se invloed – bevryd BLY in die skare (BLY het 3 betekenisse nl.woon/vreugde/handhaaf).
    Vriendelike groete
    Margaret

  • Louis du Plessis

    Inderdaad Margaret! Jou aanvoeling word só waardeer. Eers wanneer ons wel bereid is tot, wat jy tereg noem, “outonomiteit” en “eiesoortigheid” kan ons iets probeer aanraak van wat NP van Wyk Louw as die “aristokratiese ideal” visualiseer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top