27 April 2020
(wie praat van laissez-faire?)
so stap ek straataf enkel dan om die hoek
op na die hoofstraatwinkel
en sien hierdie Maandagmôre om my heen
net skaars ’n ietsie van ’n ou vroegherfs
my oë bespreek dit al langes die pad
twee-en-twintig tarentale dit bondel soos note op ’n balk
een kat wat van naby staar en verder vier afgewende honde
twee ganse rumoer vroeg platvoets wit
vyf hoenderhenne trap-trap weg met ’n haan(-tjie)
vyf perde die kou lippe by die grond
tot selfs ’n twaalf-verstilde-skape-tablo
wag op ’n afstand nog organiese beweging eers een
’n tweede en ook ’n derde … dubbelpunt
verlore burgers van ons dorpie platsak gemuteer
ja van ons eie dorpie


