Titel: ’n Kwessie van tyd
Skrywer: Doc Marten
ISBN: 9781776352258
Uitgewer: LAPA
Tydens ’n stormagtige nag word ’n naamlose jong vrou koelbloedig in ’n afgeleë Engelse herehuis vermoor. Die moordenaar is eweneens ongeïdentifiseer, maar leidrade word wel verskaf – dis ’n manlike persoon wat onlangs plastiese chirurgie ondergaan het en vooraf deeglik beplan het om sy ware identiteit te laat verdwyn deur finansieel daarvoor voorsiening te maak in geheime buitelandse bankrekenings. ’n Tydsprong van twintig jaar en ’n ruimtesprong na Parys, Frankryk, vind dan plaas en die toneel verskuif na ’n gesogte perdewedren waar ’n karakter, Henry Clarke, voorgestel word. ’n Skokkende waarneming deur hom lei daartoe dat hy in Suid-Afrika die hulp van ’n privaatspeurder inroep, maar laasgenoemde word vermoor en sy semi-bevrore lyk val letterlik op Henry se voorstoep.
Die toneel is nou gereed vir die hoofkarakter van die roman om sy verskyning te maak. Jan Brand word uitgebeeld as die tradisionele hardkoppige, bruingebrande held: ’n hartebreker wat sonder inspanning vroulike aandag trek, met ’n ysterkaak en ’n onverbiddelike kyk in die oë. Hy is ’n gewese rugbyheld wat in ’n administratiewe hoedanigheid by die polisie gewerk het (alhoewel hy een keer inderdaad per ongeluk ’n rower gearresteer het), maar het vroeg (hy is 29 jaar oud) afgetree en speel nou rond op sy plaas, wat hy in ’n weddenskap gewen het, naby die Botswana-grens. Henry se broer, Nigel, is sy buurman. ’n Formele ete-uitnodiging, ’n vyfster-affêre kompleet met ’n butler en silwer eetgerei, het sy betrokkenheid by Henry se probleme tot gevolg en, wat hy gehoop het hom ’n vinnige paar rand in die sak kan bring, blyk lewensgevaarlik te wees wanneer hy op die speelplekke van die super rykes begin krap en onwelkome aandag trek.
“Doc” Marten van der Merwe is ’n afgetrede mediese dokter en hierdie roman is sy debuutwerk. Die beoordeling van enige roman, maar ’n debuutwerk in die besonder, is ’n uitdagende taak wat ’n fyn balans tussen opbouende kritiek en ’n eerlike waardebepaling vereis. In soverre dit die sinopsis en die kernverhaal betref, is hierdie roman ’n welkome bydrae tot die spanningsverhaal-genre in Afrikaans. Die agtergrond van perdewedrenne is deeglik nagevors en word oortuigend genoeg aangebied om ’n bekeerde dobbelaar in die versoeking te lei. Daar is ongelukkig etlike probleme met die skryfstyl en karakterontwikkeling wat uitgewys kan word.
Die taalgebruik is van meet af aan oormatig beskrywend en word gekenmerk deur die oorgebruik van byvoeglike naamwoorde en taalfossiele. Die openingstoneel verskaf verskeie voorbeelde: “Opeens skeur weerlig deur die lug…”; “[s]y tuur deur die ruit…”, en “’n [k]ontrasterende kalmte heers kortstondig…” (9). Ook: “Die ongereëlde flikkering van weerlig verlig die bekende trappe”; “[h]ierdie verskriklike vrees in haar maag is werklik”, en “[i]nstinktief probeer sy wegbreek deur blindelings sywaarts te tree en die sambreel woes te swaai” (11). Die formele taalgebruik word boonop nie konsekwent toegepas nie; op bladsy 16 word byvoorbeeld na vragmotors as “groot lorries” verwys.
Inversie en die aanwending van die passiewe eerder as die aktiewe stem lei dikwels tot ’n ontoeganklike en moeilik-vloeiende teks, byvoorbeeld: “Vreemd lyk hy bekend” (34); “[r]eeds herken hy Pete van sy rugbydae…” (51), en “[b]elangrik is om Pete ontvanklik te kry…” (52).
Tegnieke om tydsverloop aan te dui is aanvanklik veral lomp en kunsmatig. Die voorbeelde hiervan is legio: “Gou is hy so verdiep in wat hy doen…” (106); “[s]o kruip Jan langs haar in die bed…” (140); “[l]ater klim Jan in die Camaro…” (144); “[l]ateraan het sy geen beswaar…” (147); “[d]ie volgende oggend gaan soek Jan…” (149), ensovoorts. Reduksie van sinne waarin onnodige invoegsels wat geen doel dien nie, herhalend voorkom, sou ongetwyfeld ook tot die kwaliteit van die teks bygedra het. ’n Voorbeeld hiervan is die woorde “dan ook” wat gebruik word op bladsy 130: “Beide slaap dan ook laat…”; op bladsy 133: “[V]oor die paviljoen is daar dan ook…” en op bladsy 150: “Oomblikke later het Pete dan ook…”
Jan as hoofkarakter slaag nie wat oortuiging betref nie. Teenstrydighede en onwaarskynlikhede kelder sy geloofwaardigheid. Aanvanklik word hy as ’n “ladies man” uitgebeeld wat geen steen onaangeraak laat om dames se aandag te trek nie – tydens ’n vlug Kaap toe verkry hy twee selfoonnommers en ’n afspraak vir ete op dieselfde aand (40), maar dan ontpop hy meteens in ’n galante heer wat dames se stoele vir hulle uittrek en begaan is oor ’n jong weduwee se reputasie. Op bladsy 144 het hy ’n gewelddadige woede-uitbarsting en is daar ’n vae verwysing na “sielkundige behandeling wat hy destyds vir sy humeur ontvang het”, wat in skrille kontras met sy beeld as onskadelike pasifis is. Die verwysing na die behandeling word ook nie verder geneem nie.
Verdere teenstrydighede kom voor wanneer Jan wil voorgee dat hy dood is. In die gepubliseerde koerantfoto is hy “kwalik herkenbaar” en in die artikel word daar na hom verwys as ’n “onbekende man” (125), maar dis op ’n onverklaarbare wyse voldoende inligting vir die bank om sy rekening te sluit (128). Ook ten opsigte van sy fisiese voorkoms krap die volgende: op bladsy 183 is hy gewoon “langerig”, maar op bladsy 184 laat “sy addisionele hoogte [hom] bo die meeste gaste uitstaan”.
Ten spyte van die vermelde voorbehoude is die idee agter die roman – die raaisel wat Jan moet oplos – vars en oorspronklik. Daar is verskeie humoristiese tonele, veral die ontmoeting en dialoog tussen Jan en die butler Richard: “Sit gerus… Ek kan nie, Meneer… Die stoel is… vol stof, Meneer” (27); die geveg tussen Jan en twee skarminkels waar ’n hooivurk toevallig tot sy redding kom: “Hy skop hom so hard as hy kan waar geen man geskop wil word nie, reg in die ratkas” (177), en sy middernagtelike vlug op ’n skaatsplank: “In die straat gaan hurk hy daarop, nie seker of hy andersins sy balans sal kan behou nie… Dan kies hy koers straat af met ’n paar skoppe op die teer – en tel vinnig momentum op. Te vinnig” (194). Sy desperate byt aan ’n skurk se been (274) is ook hoogs vermaaklik en sommige slottonele, veral Jan se ontmoeting met Sissy (hoofstuk 33) en die sterk epiloog (bladsye 307–10), getuig van bogemiddelde skryfwerk. Die hoop beskaam dus nie dat hierdie debuutskrywer tot hoër hoogtes in staat is en dit inderdaad ook in die toekoms kan bereik nie.
Die roman is uitgegee deur LAPA Uitgewers en is in sagteband (ISBN 9781776352258) en elektroniese formaat (ISBN 9781776352265) beskikbaar.
Kommentaar
Die aanmerking in die resensie het betrekking: "Op bladsy 183 is hy gewoon 'langerig', maar op bladsy 184 laat 'sy addisionele hoogte [hom] bo die meeste gaste uitstaan'."
Dis nie hinderlik nie. "Langerig" word net elders bevestig met "sy addisionele hoogte". Niks fout daarmee nie. Dis somtyds nodig.
Mening: "Teenstrydighede en onwaarskynlikhede kelder sy geloofwaardigheid. Aanvanklik word hy as ’n 'ladies man' uitgebeeld wat geen steen onaangeraak laat om dames se aandag te trek nie – tydens ’n vlug Kaap toe verkry hy twee selfoonnommers en ’n afspraak vir ete op dieselfde aand (40), maar dan ontpop hy meteens in ’n galante heer wat dames se stoele vir hulle uittrek en begaan is oor ’n jong weduwee se reputasie."
VRAAG: Wat is teenstrydig? En wat is onwaarskynlik? Verstaan nie mooi nie?
Volgende opmerking: "Die taalgebruik is van meet af aan oormatig beskrywend en word gekenmerk deur die oorgebruik van byvoeglike naamwoorde en taalfossiele."
VRAAG: Watter van die opvolgende opmerkings is "taalfossiele"? Definieer "taalfossiele" en waarom dit onaanvaarbaar is?
Is hierdie slegs 'n persoonlike mening, of is dit werklik taalkundig, volgens taalreëls, onaanvaarbaar? Miskien moet dit in die resensie self gespesifiseer word?
Naam en van, asseblief. 🤔🤔😏Dan kan 'n mens die debat verder vat. Moet nie agter 'n skuilnaam wegkruip nie.